’n Nuwe asemteug vir Afrikaanse beginnerskrywers

  • 0

’n Boekbekendstelling die afgelope Saterdag by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederlands en Vlaams (SASNEV) in Pinelands in die Skiereiland, het die gedagtes laat terugflikker na eens op ’n tyd, nou al by die drie dekades gelede, toe ’n groep (meestal bruin) beginnerskrywers in die geselskap van meer gevestigde (wit) skrywers ’n welkome tuiste by dieselfde plek (toe nog bekend as die Huis der Nederlanden) gevind het.

Dit was ’n tydperk, gekenmerk deur die politieke seisoensverandering in die land, dat eweneens onthou sal word vir die opbloei in boeke uit ’n voorheen verlate deel van die Afrikaanse leef- en denkwêreld. Skielik was dit anders. Ons kon nou die werke lees – spesifiek danksy goudhartige uitgewers soos Hettie Scholtz (Queillerie) en Annari van der Merwe (Kwela Boeke) en natuurlik andere ook – uit die pen van skrywers soos Abraham Phillips, AHM Scholtz, EKM Dido, Karel Benjamin, Loit Sôls, Kirby van der Merwe en SP Benjamin. Ander skrywers se werk, talle van hulle nou ook huishoudelike name in die Afrikaanse kreatiewe skryfwêreld, sou in versamelbundels verskyn: Diana Ferrus, Joseph Marble, Willem Fransman (jnr), Elias P Nel, Leonard Koza, noem maar op.

Saam met die staatkundige draaipunt het dus ook ’n letterkundige draaipunt posgevat, ’n oopmaak van eens geslote uitgewersdeure en ’n oopskryf van eens versweë lewenservarings. Daar is ook voorgelees uit eie werk, gepraat, geluister, gedink en (hoe anders?) ook die produk van die wingerd, wat die ink vir sommige beter laat vloei, was teenwoordig. Waar daar byeen gekom is, op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland of by die Sentrum vir die Boek in die Moederstad of op ’n dorp aan die Weskus of in die Boesmanland, was daar op die tafels borde vol kombuiskos bedien. Terwyl geëet en gekuier is, is stories vol deernis en humor vertel, wat almal laat lag het tot die trane rol en die mae pyn.

In die koerante en tydskrifte is daar geskryf oor hierdie nuwe skrywersbeweging – hierdie samekoms van bruin beginnerskrywers en wit gevestigde skrywers, maar in hul diepste net mense vir mekaar. ’n Ontmoeting ook van verskillende generasies, bepaald na aanleiding van die totstandkoming van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV); en op die radio en televisie is onderhoude gevoer met van die skrywers (Willem Fransman, Marzanne Leroux-van der Boon, George Weideman) en die leiersfigure (Patrick Petersen, Abraham H de Vries).

Jy kan ook in Elsa Joubert se memoire Reisiger, die tweede deel van haar outobiografie, daaroor lees. Eintlik behoort daar nog ’n paar boeke daaroor geskryf te word. In die SAUK se Afrikaanse radio-argiewe is materiaal beskikbaar van onderhoude van daardie tyd wat – om “oom AHM” se Vatmaar aan te haal – “nie meer is nie”.

Nou tien jaar gelede was SASNEV ook die plek waar ’n huldigingsbyeenkoms in 2012 gehou is vir die twintigjarige viering van die “geboorte” van ’n eerste “kind” uit hierdie ná-apartheid letterkundige tydvak. Dit was naamlik die verskyning van Phillips se eerste boek, Die verdwaalde land, wat deur André P Brink beskryf is as ’n “klein boekie met ’n groot hart”.

Waar Phillips verbitterd kon wees in die opteken van die verhaal oor die verdwyning van sy broer en die slegte behandeling wat sy familie van die plaaslike polisie op Worcester ontvang het, het hy in die gees van oudpres FW de Klerk se Februarie 1990-toespraak vergifnis en versoening as tema gekies. Brink het nie die moeite ontsien om die geleentheid by te woon nie, en De Klerk het ingestem om ’n brief van waardering en gelukwensing aan Phillips te skryf, wat toe saam met die boek se voorblad geraam is en deur Brink aan die skrywer oorhandig is.

Sowel Brink as De Klerk is nie meer met ons nie. Ook die ASV het jammerlik iewers langs die pad tot hier op hierdie Saterdagoggend aan die begin van November 2022 verdwaald geraak, en die gees van daardie bloeitydperk het in die afgelope klompie jare vergete begin raak in die aangesig van ’n nuwe(r) groep skrywers wat na vore begin tree het.

Hulle maak veral naam as die gebruikers van “Kaaps” of “Afrikaaps” om hul ervarings as die generasie van nou te verwoord – vloekwoorde tussenin gee skynbaar ekstra plofkrag; en die res, wat hulle voorafgegaan het, word weinig genoem, erkenning gegee, asof hulle nooit bestaan het nie, nie die weg voorberei het nie, of geleenthede geskep het nie. Nostalgie is seker wat hulle betref ’n emosie wat in die era van “woke”-wees, gekanselleer moet word.

Behalwe dat daar nog “iets goeds uit Verneukpan” kom, outentiek en met ’n omgeehart vir ander – dit is die leermeester Elias P Nel, ’n vorige ASV-voorsitter, wat steeds die goeie stryd stry om aan beginnerskrywers ontwikkelings- en publikasiegeleenthede te bied. Dit is deur sy toedoen dat Saterdag se geleentheid by SASNEV plaasgevind het, in ’n volgepakte vertrek, waar ’n nuutste bundel – in dié geval nie verhale nie, maar gedigte – bekend gestel is. Die titel is Woordenaars, ’n bundel wat Nancy H Kleinbaum (Dead Poets Society) se stelling vergestalt dat mense nie poësie lees en skryf omdat dit “oulik” is nie: “We read and write poetry because we are members of the human race.”

Menswees in al sy fasette kom in die honderd stuks gedigte deur 24 digters voor – die mooiheid en die pyn van die liefde, die skoonheid en die vernietiging van die natuur, die las en verstotelingskap van persoonlike besluite of deur sosio-politiese omstandighede meegebring – en die digters ’n sigblad van ras, geslag en ouderdom, maar van alles is dit die diverse vorme van Afrikaans wat hier ’n platform vind. “Woordenaars is ’n potpouri van uiteenlopende stemme, temas, fokusse, nuanses en taalvariëteite wat op die rykheid van Afrikaans dui,” skryf Nel in die “Voorwoord”.

Ook in dié woord vooraf, is daar ’n betugtiging van diegene “wat grootpraterig hul bekommernis oor die stand van Afrikaans aan die groot klok hang”. Dié “bekpraatjies” moet laat staan word, meen Nel, sodat daar gewerk kan word “om gemeenskappe aan die lees te kry”.

Wat uit sy eie pen (en mond) kom, is allermins “bekpraatjies”, want by dieselfde geleentheid Saterdag is ’n nuwe skrywersorganisasie – ASEM, oftewel Afrikaanse Skrywers en Mentors – bekend gestel. ’n Nuwe seisoen vir die bemagtiging van beginnerskrywers het hiermee, soos met die verskyning van Woordenaars, aangebreek te midde van die politieke gety wat teen Afrikaans begin draai. Toemaar, Elias P Nel weet steeds – ten spyte van sy eie verswakkende sig in albei oë – hoe om ’n (woord)spoor te sny.

> Kyk hier na die boekbekendstelling van Woordenaars by SASNEV.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top