Hierdie gedig uit die bloemlesing Woordenaars en die klanopname word geplaas met vergunning van Naledi en die skrywer. Klik hier om die bloemlesing aan te koop.
Luister hoe Ansie van der Merwe "nog ’n kans" voorlees.
Op sommige Apple-toestelle mag dit nodig wees om te stop en die podsending weer te speel voordat dit werk. ’n Alternatiewe opsie: laai die Audiomack-toep af en luister na die podsending op die toep. Klik op die Audiomack-logo op die podsending hierbo om die toep af te laai.
nog ’n kans
sigsag val jou kleure oor vandag se gisters
sing ons lied saam met winde deur kranse
eggo woorde van gister se melodieë
tussen bome en klowe se groen gematte rante
verbloem onder swaar donker wolke
lê jou nagtelike aasvoël gekras
diep deurdrenk in psige
geplant en ontkiem
deur reënneerslae gespuug
oor duister valleie van die dood
lê die mis van woordesproei
oor die groei van my denke
oggendson se strale
omarm ’n gebroke liggaam
verarm van trane gestort
oor dalende aorta paaie
loeiend na poorte van die hel
les ’n laaste doudruppel
in sonneskyn haar dors
met hitte silhoeëtte voor
haar aangesig drapeer
vou sy haar laaste wilskrag in
saam met boodskapper se stem
as die wind haar drome oor bergpieke dra
na waar liefde wag
om haar nog eenkeer
’n kans te gee ...

