Uit Woordenaars: hierie kjent

  • 0

Hierdie gedig uit die bloemlesing Woordenaars en die klanopname word geplaas met vergunning van Naledi en die skrywer. Klik hier om die bloemlesing aan te koop.

Luister hoe Shanell Brandt "hierie kjent" voorlees.

Op sommige Apple-toestelle mag dit nodig wees om te stop en die podsending weer te speel voordat dit werk. ’n Alternatiewe opsie: laai die Audiomack-toep af en luister na die podsending op die toep. Klik op die Audiomack-logo op die podsending hierbo om die toep af te laai.

hierie kjent

ek is mos toekadae se kjent
die kjent wat loungoë trane huil
oor mama se leë deegskottel

die stuurkjent
wat in ’n japtrap loop-en-kom
die tande-tel kjent
wat oopbek sit en luuster
na mamagoet se gexhoro.

ek issie droëpram kjent
die kjent vasgexham aan mama se oenerrok
die snotneuskjent
wat xhouhuul assie weeskjeners geborsel word

is hierie kjent wat blinkbek kaaijens vreet
en op sy loei sy lê en wag dattie son water trek
ek is ’n veldkjent
daai kjent wat maklik ’n xhoubank uutklim
die kjent wat jantjie-barend moes suup
vir elke gehoes en geproes
die kjent wat uuntjis en bouroe
mettie kaalkou grou

ek issie kjent mettie sedige bakkies en ondeunde oë
wat pabbe se twaksak oenerie kooi wegsteek
die kjent wat warm derms vleg
en kwiel virrie gwarragoet wat innie wind gestammaak is
die einste wys-neus-kjent wat boung-boung
skaapkop tussen sy oë betjyk

hierie kjent is ek
en hierie kjent sal ek bly.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top