Uit Woordenaars die bekende man

  • 0

Hierdie gedig uit die bloemlesing Woordenaars en die klanopname word geplaas met vergunning van Naledi en die skrywer. Klik hier om die bloemlesing aan te koop.

Luister hoe Roeline George "die bekende man" voorlees.

Op sommige Apple-toestelle mag dit nodig wees om te stop en die podsending weer te speel voordat dit werk. ’n Alternatiewe opsie: laai die Audiomack-toep af en luister na die podsending op die toep. Klik op die Audiomack-logo op die podsending hierbo om die toep af te laai.

die bekende man

opgewonde in my kindervreug en vry wees
kuier ek gereeld by my tannie
onskuldige ongekunsteld 
maar soos mis voor die son
verdwyn vreug en onskuld
         toe die bekende man verskyn

ritmies bons my hart hard en wild
’n wurggreep om my keel
benoud lê ek kop toegetrek
en hoor die deur saggies oopkreun
want ek weet wat gaan kom
naderende voetstappe
drankbenewelde asem
my bloed stol
willoos lê ek
sy vroetelende hande
en skurfheid skuur my teerheid

ek word betas bevoel
sy harde hand oor my mond
geluidloos skree ek HELP!
maar die gil bly ongehoord
in die lug hang

nog ’n deur kraak oorverdowend
hy spring op en verdwyn
stil glip hy uit die kamer
my verstand skree maar my mond swyg
in die verskuilde kamers van my hart
lê jare se misbruik toegesluit

ek gaan gebuk onder vrees
maar soos die verlore een
sal ek opstaan
’n vrou sonder vrees
’n vrygemaakte vrygekoopte vrou!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top