Hierdie gedig uit die bloemlesing Woordenaars en die klanopname word geplaas met vergunning van Naledi en die skrywer. Klik hier om die bloemlesing aan te koop.
Luister hoe Edwina McDonald "laaste stofkreet" voorlees.
Op sommige Apple-toestelle mag dit nodig wees om te stop en die podsending weer te speel voordat dit werk. ’n Alternatiewe opsie: laai die Audiomack-toep af en luister na die podsending op die toep. Klik op die Audiomack-logo op die podsending hierbo om die toep af te laai.
laaste stofkreet
(Nuttaboy mynramp 13 Oktober 2021)
in die dorre Namakwa
waar armoede kaalvoet
oor rykdom loop
met dooie stowe
leë borde
leë mae
ingedoke oë
klippies glinster in donker tonnels
aas vir honger siele
permitteer ons wil nie plunder
refrein
op dowe ore in die soustrein
halsstarrige delwers
spuug venynig voort
hebsug of broodloos
wie gee om
bêre oordeel in jou diep sakke
sand- en lugkastele bou ons nie
beangs in ons skag
dryf die spook
van honger ogies ons voort
opeens onaardse gerammel
tuimelende rotse
bloedstollende gille
dan vou die aarde
haar rokpante toe
grafstil
in die buik van moeder aarde lê jy
diamant in die hand
tog sterf jy arm
jy wou uit die aarde neem
maar die aarde het jou geneem
waar seer oor vlaktes sluip
vertoef verterende vrae
wat was jou laaste gedagtes
begeertes
noodkrete
voordat sand sy hand oor jou mond druk
jou stikkend versmorend tot halt roep
want
van stof is jy ...