Izak de Vries (1969–)

  • 0

Gebore en getoë

Izak Daniël de Vries is op 19 Januarie 1969 in Port Elizabeth gebore, die oudste kind en enigste seun van Johan, ’n maatskaplike werker en Marianne (gebore Nienaber), ’n wiskunde- en skeinat-onderwyseres. Izak het twee susters, Willemien wat twee jaar jonger as hy is, en Marianne, ’n verdere tien jaar jonger.

Izak vertel aan LitNet: Toe hy nog baie klein was, het sy pa siek geword en moes sy ma gaan onderwys gee om die pot aan die kook te hou. Hulle is na die weskus, spesifiek Laaiplek en Velddrif waar sy ma ’n onderwyseres was. Izak se eerste skooljaar is op Dwarskersbos, sewe kilometer van Laaiplek af. Daarna is hulle na De Doorns waar hy sy eerste stuk skryfwerk oor die Karoo gepubliseer het, Van die Karoo gepraat, wat in die Hoërskool Hexvallei se kwartaalblad van 1981 verskyn het. Sy pa kry werk by die kerk en vir sakgeld sluit Izak die kerk se deur oop, sit die Psalms en Gesange op die bordjie en lui die kerkklok. Rondom sy tiende jaar probeer sy pa boer en moes Izak twee maal per dag koeie melk – winter en somer. Die boerdery was egter nie ‘n baie groot sukses nie.

Van vroeg af lees Izak – die dorps- en skoolbiblioteek se kinderafdeling draf hy vinnig kaf en hy word opgradeer na die grootmensafdeling waar hy in daardie dae mal was oor onder andere Hammond Innes se avontuurverhale.

Sy ma kry toe ’n pos in Pietermaritzburg waar oupa Stoffel en ouma Miep Nienaber gebly het. Izak is na die Hoërskool Voortrekker in Pietermaritzburg en gryp die geleenthede wat die groter skool hom bied, met albei hande aan. Hy sluit by die fotografieklub aan en is vandag nog ’n kranige fotograaf. Izak praat nou nog net met lof van sy onderwysers by Voortrekker Hoërskool en het veral Engels, Afrikaans en Duits geniet, asook geskiedenis. Sy opstelpunte was ook altyd goed. Benewens fotografie, doen hy ook vryskutwerk in joernalistiek.

“My oupa en ouma Nienaber was letterkundiges en hulle boekery was vir my oop. Alles, ook boeke wat verban was, soos Kennis van die aand en Magersfontein, o Magersfontein! Ek het verwoed gelees. Toe was dit Afrikaanse letterkunde.”

In 1986 matrikuleer Izak aan die Hoërskool Voortrekker en verwerf erekleure vir akademie, fotografie, ekologie, debat, skaak en prefekskap.

Hy vertrek na die Weermag in 1987 vir twee jaar se voetestamp en oortuig die Regiment-Sersant-Majoor van 5-Seinregiment in Pretoria dat hy sy kwartaalblad moet en kan uitgee. Dit is Izak se eerste uitgewerspos – ’n kwartaallikse tweetalige nuusbrief. Gedurende sy weermagjare slaag hy ’n eenjarige kursus in Ekonomie by Unisa.

Verdere studie en werk

Na sy Weermagopleiding is Izak in 1989 na Kaapstad waar hy vir ’n nie-regeringsorganisasie wat met armes, straatkinders en prostitute gemoeid was, gewerk het. Hy het die koffiewinkeltjie in die middestad waar hulle gratis koffie kon kry, help behartig.

In 1990 is hy terug na Pietermaritzburg waar hy aan die Univeristeit van Natal begin studeer aan sy BA-graad met Filosofie en Afrikaans & Nederlands as hoofvakke en Zulu, politieke wetenskap en sielkunde as ander vakke. In 1992 slaag hy sy graad met onderskeiding in Afrikaans & Nederlands. Tydens sy studiejare doen hy ’n jaarlange kursus in vertaling en proefleeswerk en in 1991 wen Izak die Inklingskompetisie se kortverhaalafdeling wat deur die Universiteit van Pretoria aangebied is. In 1992 ontvang hy die JJ le Roux-prys as die beste student in die Departement van Afrikaans & Nederlands, die Perskorprys vir die beste student in Linguistiek, die HAUM-prys vir Letterkunde en ’n sertifikaat van verdienste van die Universiteit van Natal. As ’n derdejaarstudent lewer Izak ’n referaat by die jaarlikse kongres van die Linguistiekvereniging van Suid-Afrika. Sy navorsingsonderwerp was die houding van swart Suid-Afrikaners teenoor Afrikaans.

Hy raak ook weer betrokke by ’n nie-regeringsorganisasie op ’n deeltydse basis en verleen hulp met die bymekaarkom van verskillende rassegroepe en kulture. In sy eerste jaar doen hy ’n kursus in Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van Natal onder Dietloff van den Berg en aan die einde van sy derde jaar lê Izak van sy werk voor aan prof Etienne van Heerden, wat in daardie stadium verbonde was aan Rhodes Universiteit, om in aanmerking te kom vir die M-Net-Beurs in Skeppende Skryfwerk. Izak vertel dat ’n week voor die akademiese jaar in Grahamstad begin het, kry hy ’n oproep van Etienne van Heerden: “‘Meneer de Vries, het jy al gepak?’ My antwoord was: ‘Nee, moet ek?’ Dit was holderstebolder, maar ons is in my pa se ou rooi Peugeot af Grahamstad toe. My honneursjaar was wonderlik en ek het verskriklik hard gewerk. Die klas onder Etienne was fantasties, want hy’t ons laat werk en werk en het ons aangesê om mekaar te kritiseer. Dit was wonderlik.”

In Grahamstad bestudeer hy ook Taalkunde onder Barbara Bosch, literêre kritiek onder Godfrey Meintjes en Nederlandse poësie onder Tim Huisamen en Nederlandse prosa onder Anton Vorster. Hy ontvang akademiese kleure van Rhodes Universiteit, asook ’n toekenning vir akademiese prestasie.

Izak se vriendin, Elma Erasmus, gaan na Port Elizabeth vir haar huisdokterjaar en Izak volg haar en aan die einde van 1994 trou hulle in Port Elizabeth. Elma gaan werk in 1995 by Grey’s Hospitaal in Pietermaritzburg en Izak sluit weer aan by die nie-regeringsorganisasie. Hulle vertrek in 1996 na Venda waar Izak Afrikaans doseer aan die Universiteit van Venda in Thohoyandu en Elma by Tshilidzini hospitaal werk.

Etienne van Heerden begin aan die begin van 1999 LitNet en Izak lewer op ’n gereelde basis bydraes en toe daar teen die einde van daardie jaar sprake is dat Izak gevra gaan word om te loop by die universiteit, besluit die gesin om Kaap toe te trek sodat Izak vir Etienne kan help om LitNet te help beman. “LitNet was mal maar lekker. Ek het twintig uur ’n dag gewerk. Self geHTML, baie goed self gesub, en baie pret gehad.”

LitNet het egter lewensvatbaar geraak en kon mense begin aanstel, met die gevolg dat Izak besluit het om dit te verlaat, hoewel hy steeds op ’n deeltydse basis daaraan deelneem. In 1999 verwerf Izak sy meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad oor André P Brink se gebruik en misbruik van geskiedenis in sy fiksie.

Hy werk toe vryskut – as skrywer van materiaal, redakteur, vertaler en uitgewer, asook by M-Web se Learning Online. Gedurende hierdie tyd (2001—2002) bied hy ook soms ’n kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Stellenbosch en doen hy ook boekresensies vir Die Burger, Beeld, Volksblad, LitNet en Insig. Hy doen ook fotografie op ’n vryskutbasis.

Met die afskop van die nuwe kurrikulum in die onderwys nader Bateleur Books vir Izak om hulle te help om die oorgang te help bestuur en toe Nasou-Via Afrika Bateleur Books in 2006 koop, besluit hy om sy kragte by Pearson Education in te gooi waar hy spesifiek aan boeke vir die FET College werk.

In 2003 neem hy en Elma vir Jabu aan – “’n bondel vreugde wat ons lewens kom omdop, maar dis baie lekker.” Hulle het ook ’n dogter, Marchalene, maar noem haar Mashi. Sy is vandag ’n onderwyser en Jabu ’n student in Gqeberha.

In 1998 verskyn Izak se eerste bundel kortverhale, Kom slag ’n bees, by Tafelberg Uitgewers. Hierdie verhale speel grootliks af teen die agtergrond van KwaZulu-Natal en die bedreigende realiteit word geskakel met die Afrika kultuur. Izak sê oor die titel dat beesslag alles te doen het met feesviering, en offerande. “Dit weet boere op die plase en Afrikane in hulle hutte. Kos, offers, feeste, seks – alles loop al sedert die Ou Testament met mekaar saam. Boetedoening is ’n belangrike draadjie wat deur die boek loop, daarom dus die offers,” aan Attie Swanepoel in Vrydag (18 Desember 1998).

Izak verduidelik ook aan Herman Wasserman (Die Burger, 28 Desember 1998) dat hoewel daar sprake van geweld in sy verhale is, hy hard probeer om wel in sy werk na versoening te streef: “Maar ’n mens kan nie daarvan wegkom dat ons in een van die gewelddadigste lande in die wêreld leef nie. Ek voel ook sterk daaroor dat jong skrywers se werk nie te vinnig as bloot donker en terneerdrukkend afgemaak moet word nie. As jy net na die somber kant kyk, lees jy ’n klomp goed mis en onderskat jy jong skrywers gruwelik. Daar is ook ’n soeke na oplossings.”

Wasserman wou ook by Izak weet of hy as wit Afrikaanse skrywer die vrymoedigheid het om oor ’n ander kultuur te skryf soos in Kom slag ’n bees. “Ek is bewus van die problematiek daarvan,” antwoord Izak hom. “Hoe meer ek deel word van ‘Afrika’, hoe meer besef ek hoe Westers ek grootgeword het. Tog probeer ek om myself te vrywaar deur bewustelik te vertel, deur nie pretensies te hê nie. Maar tog hou ek nie van die term ‘Die Ander’ nie, om mense in sulke blokke te plaas nie. Wat is ‘Die Afrikaner’, byvoorbeeld? En ‘Die Zoeloe’? Daar is soveel subkulture en totaal verskillende mense. ’n Mens moet die verskille erken, maar dit nie buite verhouding opblaas nie.”

Oor hierdie bundel skryf Hennie Aucamp in Insig van Februarie 1999: “Izak de Vries se bundel getuig nie net van ’n ingrypende politieke ommeswaai in Suid-Afrika nie dit getuig ook, en stil-stil, van ’n seksrevolusie. (...) Kom slag ’n bees van Izak de Vries is ’n besonder sterk debuut.”

Abraham de Vries sê oor Skrywers en Boeke oor RSG (18 Oktober 1998): “Daar het die afgelope ruk in Afrikaans geen bundel verskyn waarmee belangrike temas en verteltegnieke van die afgelope deritg jaar op so ’n virtuose wyse bevestig word as in hierdie bundel nie” en Hans Ester skryf in Zuid-Afrika van Februarie 1999 as volg: “In de eerste plaats is De Vries een zeer aards schrijver. Hij heeft een scherp oog voor de bijzondere eigenschappen van daelijkse dingen in en om het huis en voor de fijne nuances in de gesprekken die hij mensen laat voere. (...) Izak de Vries is een veelbelovend talent.”

Volgens Joan Hambidge (Die Burger, 7 Oktober 1998) is “Izak de Vries op sy beste as hy ’n streng-konvensionele verhaal vertel. (...)Kortom hier is talent. Miskien plek-plek nog te selfbewus as die skrywer wat wil vertel, maar tog ’n interessant perspektief op Afrika.”

Herman Wasserman skryf kortliks in De Kat (September 1998) oor Kom slag ’n bees: “Soos legkaartstukkies word die leidrade in dié kortverhale een-een aan die leser gegee en dit verg dus fynlees. Die verhale beeld meestal ontmoetinge uit tussen Westerse en tradisionele Afrika-kultuur in KwaZulu-Natal. Hoewel sommige vertellings strompel en party ook kon doen met strenger inkorting en suggestie, is daar ’n paar wat ’n roerende of uiters ontstellende blik bied op die hedendaagse sosio-politieke landskap. Dit raak rof by tye, maar mens weet teen die tyd dat Afrika nie vir sissies is nie.”

En in Beeld (14 Desember 1998) is Willem Burger die resensent en hy begin sy resensie só: “Ná blootstelling aan die toneel waar ’n rituele moord plaasgevind het, vra die verteller aan die slot van die eerste verhaal in Kom slag ’n bees homself af: ‘Moet ek nou die hele tyd met dié storie saamleef?’ Dit is waaroor die bundel gaan: die stories (uit die verlede) waarmee ’n mens moet saamleef. In bykans elkeen van hierdie verhale is daar die een of ander storie, ’n verlede, waarmee vrede gemaak moet word. (...)

“In talle verhale is daar ’n gemoeidheid met tradisionele Afrika-gebruike en word mites uit die Venda- en Zoeloe-kultuur betrek. (...) Wanneer Afrika-tradisies en -mites betrek word, kan dit maklik bloot ’n modegier word. In De Vries se bundel is daar egter geen eenvoudige, reënboognasie-versoening wat verval in ’n politieke korrektheid nie. (...)

“De Vries se bundel is in ’n groot mate ’n soektog na pogings om met die (persoonlike en kollektiewe) verlede saam te leef, in die konteks van die negentigerjare. Dit is ’n opwindende debuut met knap vertelde verhale.”

Na die verskyning van die eerste bundel is Izak ’n gereelde bydraer tot ander bloemlesings soos Die mooiste liefde is verby, Liefde, natuurlik, Kruis en dwars, Die melkweg het ’n ster laat val, Biltong en Barakat, Alles goed en wel en Storiejoernaal. Hy is ook die samesteller van In ’n neutedop (Bateleur Books, 2006) en die skrywer van Spesiale dae wat vertel van dae soos die Chinese nuwejaar, die Joodse Pesag, die Hindus se Diwali en ander spesiale dae met wonderlike illustrasies deur Alida Bothma. Sy eerste bundel is in 2004 vertaal deur DZ van den Berg onder die titel Rites of the ox en deur Brevitas gepubliseer.

Ná tien jaar verskyn Izak se tweede bundel kortverhale Byna liefde in 2008. Op die webwerf http://graffitibooks.co.za word die bundel beskryf as “kortverhale op die snykant van die liefde. Wesenlik gaan hierdie verhale oor twee kompulsies: die liefde en skryf oor die liefde. In ’n sekere sin gaan dit oor die soeke na die volmaakte liefdesverhaal – op papier sowel as in die lewe.”

Izak se mede-skrywer Tom Dreyer wou in ’n gesprek met hom weet watter soort mense of wêrelde hy in sy skryfwerk probeer belig: “Beslis mense wat interessanter as ek is!” was Izak se antwoord. “Maar ja, ek het hard probeer om lekker stories oor alledaagse mense te skryf. Uit my navorsing, in boeke, en in persoonlike gesprekke, het geblyk daar is heelwat meer stories wat ons koppe woer as wat ons dink. En, snaaks, mense hou daarvan om oor die liefde te praat. Al wat ek moes doen, was om ’n stukkie fiksie te gryp om sommige mense se identiteit te beskerm, hier en daar ’n karakter in toom te hou wat té uitspattig wil raak, en verder moes ek maar net luister. Liefde en hormone laat die wêreld wentel. Dís waaroor Byna liefde gaan.”

Cecile Cilliers (Rapport, 26 Oktober 2008) het die steeds onvervulde begeerte na ’n ander lyf en die begeerte om dit in woorde te omskep as ’n kernaspek van Byna liefde beskou: “Om die twee benaderings te balanseer, gebruik De Vries interessante en hoofsaaklik suksesvolle werkwyses. Sonder dat die bundel ooit romanmatig aangebied word, laat hy sy karakters deurlopend in meer as een verhaal voorkom, waardeur ’n groter eenheid aan die teks verleen word. Hiersonder sou dit maklik te episodies kon word.”

Cilliers het egter gemeen dat die gebruik van die elektroniese media minder suksesvol is: “Terwyl die gebruik van elektroniese media ’n natuurlike en onafwendbare uitvloeisel van ons tegnologiese wêreld is, is dit weens die staccato aard daarvan ’n bleek vervanging van insiggewende en openbarende dialoog. Moontlik as gevolg daarvan is daar feitlik geen waarneembare groei by die karakters nie. (...)

“In ’n ander interessante werkwending gee De Vries sy karakters die ruimte om hulle eie intrige te skep. Die karakters (ook uit verhale buite hierdie bundel) nader die skrywer om verhale te voorsien wat hulle in ’n draaiboek wil omskep. Dit is niks nuuts in die literatuur nie, maar boeiende, tergerige spel tussen skrywer en karakters maak dit hier vars en geloofwaardig. Wat ongelukkig nie die hele bundel geld nie.

“Ondanks grafiese seksbeskrywings en in sommige verhale baie kru taal loop daar ’n dik streep sentimentaliteit deur die boek wat vraagtekens oor die geloofwaardigheid plaas.”

Cilliers het haar bespreking van Byna liefde afgesluit: “Helder oomblikke ten spyt het ek die boek met ’n gevoel van onvervuldheid toegemaak. Die titel som dit goed op: Byna liefde. Byna in woorde vasgevat. Byna bevredigend. Maar durf mens dit liefde noem?”

In Beeld van 3 November 2008 skryf Theo Kemp as volg oor Byna liefde: “Alhoewel nie alle verhale ewe sterk staan nie, is Byna liefde een van die beste bundels in die hedendaagse Afrikaanse kortverhaalkuns wat so gemoeid met ’n bepaalde tema omgaan. De Vries skryf gedronge sodat ’n mens nie anders kan as om meegesleur te word nie. Ek kan aan ’n handjievol Afrikaanse boeke dink waarin die liefdesverhaal so knap gedekonstrueer word, en dit alleen maak die tien jaar wag sedert De Vries se debuutbundel die moeite werd.”

En Joan Hambidge sluit haar bespreking af: “Verskeie van die verhale het reeds elders verskyn, soos onder meer in Die mooiste liefde is verby (1999), wat destyds verpulp is weens ’n plagiaat-aanklag teen ’n verhaal in die bundel. Verhale saamgesnoer in ’n bundel kry egter ’n nuwe betekenis in ’n bundel wat maskuliniteite op gedurfde en sensitiewe maniere ondersoek. Daar is kragwoorde, maar dit pas in die mond van die karakter of spreker. In die slotverhaal tree karakters uit verskillende verhale saam op in ’n ‘after-party’ om die manipulasie rondom skryfwerk te beklemtoon.

“Dis ’n versameling kortverhale waarin etlike verhale lank ná die lees in jou gemoed nawerk. By ’n handvol sou ’n mens selfs briljant kon skryf.”

Izak is ’n kranige langafstandatleet en in 1993 het hy alreeds die Comrades-marathon vier keer voltooi. Hy het ook ’n aktiewe belangstelling in die uitvoerende kunste en in 1991 speel hy die hoofrol in Die trommel van André P. Brink met Dranus Vermeulen as regisseur. Gedurende die vroeë 1990s speel hy ook in ’n paar films – as ’n ekstra in Choices in 1992, ’n klein naamrol in The graveyards of creation – asook in Songs my lover stole, ’n kabaret en Rainbow Afrikaans, waarvan hy ook die mede-outeur is. Izak doen ook vrywilligerwerk vir die Suid-Afrikaanse Biblioteek vir die Blindes in Grahamstad.

In Beeld (24 Januarie 2000) het Izak meer vertel oor ’n boek wat sy lewe verander het: “Daar is bykans duisend boeke op my rak en ná ’n onlangse trek moes ek weer begin met die liefdestaak om hulle te orden alfabeties volgens outeur se van. So, al pakkende, was dit wonderlik om ’n oomblik te huiwer by elkeen, ’n bietjie te onthou, vinnig te loer na ’n gunstelingpassasie.

“Chinua Achebe: my jare in Venda het gemaak dat ek Things fall apart kon leer waardeer. Waar sou ons sonder Bertolt Brecht gewees het? Fanny Hill, nee wag nou! A! Zlata’s diary, ’n onvergeetlike ware verslag oor die oorlog in Sarajewo, geskryf deur Zlata Filipovic, ’n veertienjarige meisie.

Magersfontein, o Magersfontein is skelm gelees in die dae toe dit nog verbied is. Chaim Potok se My name is Asher Lev het soveel te sê oor my eie keuses om die kuns te beoefen, dat dit ’n sterk aanspraakmaker sou kon wees op ’n lewensveranderende teks.

“Jan J van der Post het my die geheime van Afrika leer ontdek, Oscar Wilde, Donald Woods, Zapiro en Lin Zimbler vorm die agterhoede hier in my studeerkamer. Al hierdie boeke het iets aan my gedoen, het my nou weer laat huiwer: moet ek een van hulle uitsonder?

“Maar nee, ek weet wat ek gaan kies. Dit staan op my vrou se rak. Binne in Kenneth Newman se Voëls van Suider-Afrika staan: ‘Elma & Izak, met liefde, Lizette’. Lizzie se geskenk het die voëls van die hemele aan my geopenbaar. Aanvanklik was dit baie moeilik om ’n kanarie van ’n janfrederik te onderskei.

“Vandag val die blaaie al uit, maar op feitlik elkeen van daardie vuilgevatte blaaie sit ’n voëltjie wat ure se vermaak aan my en my wederhelf verskaf het.

“’n Goeie boek laat jou altyd op ’n nuwe manier kyk na die wêreld om jou, literêre tekste ook. Ek lees ontsettend veel letterkunde. Newman se boek het my gedwing om my neus by die deur uit te steek en die werklikheid van vooraf te leer waardeer.”

Publikasies

Publikasie

Kom slag ’n bees

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036715 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur DZ van der Berg 2005

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: Stille getuienis van ’n seksrevolusie. Insig, Februarie 1999
  • Burger, Willie: ’n Opwindende debuut. Beeld, 14 Desember 1998
  • De Roubaix, Elizabeth: Kom slag ’n bees. Kaapse Bibliotekaris, November/Desember 1998
  • De Vries, Abraham: Radioresensie: Izak de Vries se Kom slag ’n bees. RSG: Skrywers & Boeke, 18 Oktober 1998
  • Ester, Hans: Sterk debuut van Izak de Vries. Zuid-Afrika, Februarie 1999
  • Hambidge, Joan: Beurs lanseer weer debuut van belofte. Die Burger, 7 Oktober 1998
  • Kortliks [Rites of the ox]. Beeld, 25 Julie 2005
  • Le Roux, André: Kom slag ’n bees. Sarie, 10 Februarie 1999
  • Ontspan die vakansie met ’n lekker leesboek. Die Burger, 26 November 1998
  • Pieterse, HJ: De Vries se debuut beïndruk. Rapport, 27 Desember 1998
  • Sterboek. Huisgenoot, 11 Maart 1999
  • Wasserman, Herman: Kortliks. De Kat, September 1998

 

Publikasie

Spesiale dae

Publikasiedatum

2003

ISBN

0625033485 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou Via Afrika

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Ook beskikbaar in Engels

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Douspoor: ’n handleiding

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624039404 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou Via Afrika

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Byna liefde

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624046844 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Izak de Vries as samesteller

  • In ’n neutedop: agtien verhale oor Suid-Afrikaners deur Suid-Afrikaners. Saam met Karen Simpson. Kaapstad: Bateleur Books, 2006 [ISBN 1869155653 (sb)]
  • Pretorius, Willem: “Neutedop” se pitkos lekker maar min. Die Burger, 30 Oktober 2006

Artikels oor Izak de Vries

Artikels deur Izak de Vries

Izak de Vries se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2008-11-10 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
  • My dank aan Izak de Vries vir die inligting wat hy gestuur het.

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top