![]() Foto: verskaf
|
|
Sêgoed van Izak de Vries “Ek sien ontsettende groot parallelle tussen die Afrikaner, met ’n hoofletter, die Volk, met nog ’n groter hoofletter, en sogenaamde tradisionele Afrika – die kerk, die anti-gay sentiment, nie trou met iemand buite die clan nie. Ek sê dit openlik. I’ve got no hang-ups about that ... Ek probeer nie mense kwaad maak nie, maar terselfdertyd weier ek om PC te wees ten koste van die waarheid.” (LitNet) Izak voel dat die Afrikaanse literêre tradisie nog baie Westers is: “Ek probeer in ’n sekere sin dáái ding ’n bietjie afbreek. Terselfdertyd wil ek nie gelabel word as ’n ‘nuwe Afrikaan’ nie. Ek kan nie namens Afrika praat nie. Ek wil nie die nuwe stem van Afrika word nie. Maar, ek kan en wil nie ontken dat ek bewus is van Afrika nie.” (LitNet) Waar plaas hy homself ten opsigte van teorie versus die blote storie?: “Ek dink nie dat die een noodwendig die ander een hoef uit te sluit nie. Ons is besig om weg te beweeg van eksentrieke verhale na iets wat eerder die leser nader trek. Mense het altyd gedink dat ’n storie wat net ’n professor in Afrikaans sal verstaan, ’n goeie storie is. As jy egter ’n storie skryf wat tannie Koekie van die plaas verstaan, dan moet dit maar vrot wees. Ek sê dis rubbish...” (LitNet) “Vir my is die storie belangrik. Daar was redes waarom mense in ’n stadium op die literêre bandwagon geklim het. Ek dink van daardie redes het verval. Ek is ook ’n bietjie van ’n rebel in daai opsig en ek hou daarvan om stories te vertel. Ek wil baie graag dat normale mense my boeke lees. Ek skryf nie nét vir akademici nie. Maar terselfdertyd skryf ek nie Mills & Boons nie – alhoewel daar ’n plek daarvoor is.” (LitNet) “My stories sal ook vir iemand wat gaan krap, iets oopmaak. Ek probeer ’n balans handhaaf. Of ek dit regkry, is nie vir my om te sê nie.” (LitNet) Het hy as skrywer ’n sosiale verantwoordelikheid? “Vir my is dit belangrik, maar ek kan nie sê dit moet vir ander ook so wees nie ... Ek is in my hart ’n sendeling vir die Afrikaanse boek. Ek bekeer mense tot die boek – die boek met ’n kleinletter. Ek het ’n sosiale verantwoordelikheid. Ek het begin skryf omdat ek begin lees het. Ek skryf omdat ek lees.” (LitNet) In 1999: “Ek is opgewonde oor wat op die oomblik gebeur in Afrikaans as sodanig. Baie van die ouer skrywers is besig om werklik op die mark te kom met heerlike, hoë gehalte stof wat maklik lees. Ek dink baie van die jonger geslag skrywers is nog ’n bietjie vasgevang in die idee dat jy moet literêr skryf ... ek geniet my peers se idees, maar, en dis nie ’n waarde-oordeel nie, ek vind dit net interessant dat die storie as sodanig nog ... wel, selfs Anoeschka von Meck – dis ’n baie verwikkelde verhaal, maar die storie as sodanig is nie die belangrikste ding nie.” (LitNet) Sal daar gepraat word van die jong skrywers as die “negentigers”? “Ek dink nie so nie. Ek persoonlik dink mense gaan terugkyk na die breë Afrikaanse literatuur en die verandering wat gekom het. Wat gebeur het in die sestigerjare – dit was jong bloed wat skielik anders begin skryf het. Ek dink in die negentigs, veral die laat negentigs, het die Chris Barnards, die Elsa Jouberts en daai mense, begin anders skryf. Ek dink dis ’n breë verandering wat plaasgevind het.” (LitNet) Die slegste raad wat hy ooit ontvang het: “Verskillende mense het gesê as ek hard werk op skool, hard leer op universiteit en lang ure op kantoor sit, sal ek ryk word. Ag nee, man. Ek was ’n baie voorbeeldige seun en ry steeds met ’n stokou Honda rond!” (Die Burger, 18 Januarie 2003) |
Gebore en getoë
Izak Daniël de Vries is op 19 Januarie 1969 in Port Elizabeth gebore, die oudste kind en enigste seun van Johan, ’n maatskaplike werker en Marianne (gebore Nienaber), ’n wiskunde- en skeinat-onderwyseres. Izak het twee susters, Willemien wat twee jaar jonger as hy is, en Marianne, ’n verdere tien jaar jonger.
Izak vertel aan LitNet: Toe hy nog baie klein was, het sy pa siek geword en moes sy ma gaan onderwys gee om die pot aan die kook te hou. Hulle is na die weskus, spesifiek Laaiplek en Velddrif waar sy ma ’n onderwyseres was. Izak se eerste skooljaar is op Dwarskersbos, sewe kilometer van Laaiplek af. Daarna is hulle na De Doorns waar hy sy eerste stuk skryfwerk oor die Karoo gepubliseer het, Van die Karoo gepraat, wat in die Hoërskool Hexvallei se kwartaalblad van 1981 verskyn het. Sy pa kry werk by die kerk en vir sakgeld sluit Izak die kerk se deur oop, sit die Psalms en Gesange op die bordjie en lui die kerkklok. Rondom sy tiende jaar probeer sy pa boer en moes Izak twee maal per dag koeie melk – winter en somer. Die boerdery was egter nie ‘n baie groot sukses nie.
Van vroeg af lees Izak – die dorps- en skoolbiblioteek se kinderafdeling draf hy vinnig kaf en hy word opgradeer na die grootmensafdeling waar hy in daardie dae mal was oor onder andere Hammond Innes se avontuurverhale.
Sy ma kry toe ’n pos in Pietermaritzburg waar oupa Stoffel en ouma Miep Nienaber gebly het. Izak is na die Hoërskool Voortrekker in Pietermaritzburg en gryp die geleenthede wat die groter skool hom bied, met albei hande aan. Hy sluit by die fotografieklub aan en is vandag nog ’n kranige fotograaf. Izak praat nou nog net met lof van sy onderwysers by Voortrekker Hoërskool en het veral Engels, Afrikaans en Duits geniet, asook geskiedenis. Sy opstelpunte was ook altyd goed. Benewens fotografie, doen hy ook vryskutwerk in joernalistiek.
“My oupa en ouma Nienaber was letterkundiges en hulle boekery was vir my oop. Alles, ook boeke wat verban was, soos Kennis van die aand en Magersfontein, o Magersfontein! Ek het verwoed gelees. Toe was dit Afrikaanse letterkunde.”
In 1986 matrikuleer Izak aan die Hoërskool Voortrekker en verwerf erekleure vir akademie, fotografie, ekologie, debat, skaak en prefekskap.
Hy vertrek na die Weermag in 1987 vir twee jaar se voetestamp en oortuig die Regiment-Sersant-Majoor van 5-Seinregiment in Pretoria dat hy sy kwartaalblad moet en kan uitgee. Dit is Izak se eerste uitgewerspos – ’n kwartaallikse tweetalige nuusbrief. Gedurende sy weermagjare slaag hy ’n eenjarige kursus in Ekonomie by Unisa.
Verdere studie en werk
Na sy Weermagopleiding is Izak in 1989 na Kaapstad waar hy vir ’n nie-regeringsorganisasie wat met armes, straatkinders en prostitute gemoeid was, gewerk het. Hy het die koffiewinkeltjie in die middestad waar hulle gratis koffie kon kry, help behartig.
In 1990 is hy terug na Pietermaritzburg waar hy aan die Univeristeit van Natal begin studeer aan sy BA-graad met Filosofie en Afrikaans & Nederlands as hoofvakke en Zulu, politieke wetenskap en sielkunde as ander vakke. In 1992 slaag hy sy graad met onderskeiding in Afrikaans & Nederlands. Tydens sy studiejare doen hy ’n jaarlange kursus in vertaling en proefleeswerk en in 1991 wen Izak die Inklingskompetisie se kortverhaalafdeling wat deur die Universiteit van Pretoria aangebied is. In 1992 ontvang hy die JJ le Roux-prys as die beste student in die Departement van Afrikaans & Nederlands, die Perskorprys vir die beste student in Linguistiek, die HAUM-prys vir Letterkunde en ’n sertifikaat van verdienste van die Universiteit van Natal. As ’n derdejaarstudent lewer Izak ’n referaat by die jaarlikse kongres van die Linguistiekvereniging van Suid-Afrika. Sy navorsingsonderwerp was die houding van swart Suid-Afrikaners teenoor Afrikaans.
Hy raak ook weer betrokke by ’n nie-regeringsorganisasie op ’n deeltydse basis en verleen hulp met die bymekaarkom van verskillende rassegroepe en kulture. In sy eerste jaar doen hy ’n kursus in Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van Natal onder Dietloff van den Berg en aan die einde van sy derde jaar lê Izak van sy werk voor aan prof Etienne van Heerden, wat in daardie stadium verbonde was aan Rhodes Universiteit, om in aanmerking te kom vir die M-Net-Beurs in Skeppende Skryfwerk. Izak vertel dat ’n week voor die akademiese jaar in Grahamstad begin het, kry hy ’n oproep van Etienne van Heerden: “‘Meneer de Vries, het jy al gepak?’ My antwoord was: ‘Nee, moet ek?’ Dit was holderstebolder, maar ons is in my pa se ou rooi Peugeot af Grahamstad toe. My honneursjaar was wonderlik en ek het verskriklik hard gewerk. Die klas onder Etienne was fantasties, want hy’t ons laat werk en werk en het ons aangesê om mekaar te kritiseer. Dit was wonderlik.”
In Grahamstad bestudeer hy ook Taalkunde onder Barbara Bosch, literêre kritiek onder Godfrey Meintjes en Nederlandse poësie onder Tim Huisamen en Nederlandse prosa onder Anton Vorster. Hy ontvang akademiese kleure van Rhodes Universiteit, asook ’n toekenning vir akademiese prestasie.
Izak se vriendin, Elma Erasmus, gaan na Port Elizabeth vir haar huisdokterjaar en Izak volg haar en aan die einde van 1994 trou hulle in Port Elizabeth. Elma gaan werk in 1995 by Grey’s Hospitaal in Pietermaritzburg en Izak sluit weer aan by die nie-regeringsorganisasie. Hulle vertrek in 1996 na Venda waar Izak Afrikaans doseer aan die Universiteit van Venda in Thohoyandu en Elma by Tshilidzini hospitaal werk.
Etienne van Heerden begin aan die begin van 1999 LitNet en Izak lewer op ’n gereelde basis bydraes en toe daar teen die einde van daardie jaar sprake is dat Izak gevra gaan word om te loop by die universiteit, besluit die gesin om Kaap toe te trek sodat Izak vir Etienne kan help om LitNet te help beman. “LitNet was mal maar lekker. Ek het twintig uur ’n dag gewerk. Self geHTML, baie goed self gesub, en baie pret gehad.”
LitNet het egter lewensvatbaar geraak en kon mense begin aanstel, met die gevolg dat Izak besluit het om dit te verlaat, hoewel hy steeds op ’n deeltydse basis daaraan deelneem. In 1999 verwerf Izak sy meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad oor André P Brink se gebruik en misbruik van geskiedenis in sy fiksie.
Hy werk toe vryskut – as skrywer van materiaal, redakteur, vertaler en uitgewer, asook by M-Web se Learning Online. Gedurende hierdie tyd (2001—2002) bied hy ook soms ’n kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Stellenbosch en doen hy ook boekresensies vir Die Burger, Beeld, Volksblad, LitNet en Insig. Hy doen ook fotografie op ’n vryskutbasis.
Met die afskop van die nuwe kurrikulum in die onderwys nader Bateleur Books vir Izak om hulle te help om die oorgang te help bestuur en toe Nasou-Via Afrika Bateleur Books in 2006 koop, besluit hy om sy kragte by Pearson Education in te gooi waar hy spesifiek aan boeke vir die FET College werk.
In 2003 neem hy en Elma vir Jabu aan – “’n bondel vreugde wat ons lewens kom omdop, maar dis baie lekker.” Hulle het ook ’n dogter, Marchalene, maar noem haar Mashi. Sy is vandag ’n onderwyser en Jabu ’n student in Gqeberha.
In 1998 verskyn Izak se eerste bundel kortverhale, Kom slag ’n bees, by Tafelberg Uitgewers. Hierdie verhale speel grootliks af teen die agtergrond van KwaZulu-Natal en die bedreigende realiteit word geskakel met die Afrika kultuur. Izak sê oor die titel dat beesslag alles te doen het met feesviering, en offerande. “Dit weet boere op die plase en Afrikane in hulle hutte. Kos, offers, feeste, seks – alles loop al sedert die Ou Testament met mekaar saam. Boetedoening is ’n belangrike draadjie wat deur die boek loop, daarom dus die offers,” aan Attie Swanepoel in Vrydag (18 Desember 1998).
Izak verduidelik ook aan Herman Wasserman (Die Burger, 28 Desember 1998) dat hoewel daar sprake van geweld in sy verhale is, hy hard probeer om wel in sy werk na versoening te streef: “Maar ’n mens kan nie daarvan wegkom dat ons in een van die gewelddadigste lande in die wêreld leef nie. Ek voel ook sterk daaroor dat jong skrywers se werk nie te vinnig as bloot donker en terneerdrukkend afgemaak moet word nie. As jy net na die somber kant kyk, lees jy ’n klomp goed mis en onderskat jy jong skrywers gruwelik. Daar is ook ’n soeke na oplossings.”
Wasserman wou ook by Izak weet of hy as wit Afrikaanse skrywer die vrymoedigheid het om oor ’n ander kultuur te skryf soos in Kom slag ’n bees. “Ek is bewus van die problematiek daarvan,” antwoord Izak hom. “Hoe meer ek deel word van ‘Afrika’, hoe meer besef ek hoe Westers ek grootgeword het. Tog probeer ek om myself te vrywaar deur bewustelik te vertel, deur nie pretensies te hê nie. Maar tog hou ek nie van die term ‘Die Ander’ nie, om mense in sulke blokke te plaas nie. Wat is ‘Die Afrikaner’, byvoorbeeld? En ‘Die Zoeloe’? Daar is soveel subkulture en totaal verskillende mense. ’n Mens moet die verskille erken, maar dit nie buite verhouding opblaas nie.”
Oor hierdie bundel skryf Hennie Aucamp in Insig van Februarie 1999: “Izak de Vries se bundel getuig nie net van ’n ingrypende politieke ommeswaai in Suid-Afrika nie dit getuig ook, en stil-stil, van ’n seksrevolusie. (...) Kom slag ’n bees van Izak de Vries is ’n besonder sterk debuut.”
Abraham de Vries sê oor Skrywers en Boeke oor RSG (18 Oktober 1998): “Daar het die afgelope ruk in Afrikaans geen bundel verskyn waarmee belangrike temas en verteltegnieke van die afgelope deritg jaar op so ’n virtuose wyse bevestig word as in hierdie bundel nie” en Hans Ester skryf in Zuid-Afrika van Februarie 1999 as volg: “In de eerste plaats is De Vries een zeer aards schrijver. Hij heeft een scherp oog voor de bijzondere eigenschappen van daelijkse dingen in en om het huis en voor de fijne nuances in de gesprekken die hij mensen laat voere. (...) Izak de Vries is een veelbelovend talent.”
Volgens Joan Hambidge (Die Burger, 7 Oktober 1998) is “Izak de Vries op sy beste as hy ’n streng-konvensionele verhaal vertel. (...)Kortom hier is talent. Miskien plek-plek nog te selfbewus as die skrywer wat wil vertel, maar tog ’n interessant perspektief op Afrika.”
Herman Wasserman skryf kortliks in De Kat (September 1998) oor Kom slag ’n bees: “Soos legkaartstukkies word die leidrade in dié kortverhale een-een aan die leser gegee en dit verg dus fynlees. Die verhale beeld meestal ontmoetinge uit tussen Westerse en tradisionele Afrika-kultuur in KwaZulu-Natal. Hoewel sommige vertellings strompel en party ook kon doen met strenger inkorting en suggestie, is daar ’n paar wat ’n roerende of uiters ontstellende blik bied op die hedendaagse sosio-politieke landskap. Dit raak rof by tye, maar mens weet teen die tyd dat Afrika nie vir sissies is nie.”
En in Beeld (14 Desember 1998) is Willem Burger die resensent en hy begin sy resensie só: “Ná blootstelling aan die toneel waar ’n rituele moord plaasgevind het, vra die verteller aan die slot van die eerste verhaal in Kom slag ’n bees homself af: ‘Moet ek nou die hele tyd met dié storie saamleef?’ Dit is waaroor die bundel gaan: die stories (uit die verlede) waarmee ’n mens moet saamleef. In bykans elkeen van hierdie verhale is daar die een of ander storie, ’n verlede, waarmee vrede gemaak moet word. (...)
“In talle verhale is daar ’n gemoeidheid met tradisionele Afrika-gebruike en word mites uit die Venda- en Zoeloe-kultuur betrek. (...) Wanneer Afrika-tradisies en -mites betrek word, kan dit maklik bloot ’n modegier word. In De Vries se bundel is daar egter geen eenvoudige, reënboognasie-versoening wat verval in ’n politieke korrektheid nie. (...)
“De Vries se bundel is in ’n groot mate ’n soektog na pogings om met die (persoonlike en kollektiewe) verlede saam te leef, in die konteks van die negentigerjare. Dit is ’n opwindende debuut met knap vertelde verhale.”
Na die verskyning van die eerste bundel is Izak ’n gereelde bydraer tot ander bloemlesings soos Die mooiste liefde is verby, Liefde, natuurlik, Kruis en dwars, Die melkweg het ’n ster laat val, Biltong en Barakat, Alles goed en wel en Storiejoernaal. Hy is ook die samesteller van In ’n neutedop (Bateleur Books, 2006) en die skrywer van Spesiale dae wat vertel van dae soos die Chinese nuwejaar, die Joodse Pesag, die Hindus se Diwali en ander spesiale dae met wonderlike illustrasies deur Alida Bothma. Sy eerste bundel is in 2004 vertaal deur DZ van den Berg onder die titel Rites of the ox en deur Brevitas gepubliseer.
Ná tien jaar verskyn Izak se tweede bundel kortverhale Byna liefde in 2008. Op die webwerf http://graffitibooks.co.za word die bundel beskryf as “kortverhale op die snykant van die liefde. Wesenlik gaan hierdie verhale oor twee kompulsies: die liefde en skryf oor die liefde. In ’n sekere sin gaan dit oor die soeke na die volmaakte liefdesverhaal – op papier sowel as in die lewe.”
Izak se mede-skrywer Tom Dreyer wou in ’n gesprek met hom weet watter soort mense of wêrelde hy in sy skryfwerk probeer belig: “Beslis mense wat interessanter as ek is!” was Izak se antwoord. “Maar ja, ek het hard probeer om lekker stories oor alledaagse mense te skryf. Uit my navorsing, in boeke, en in persoonlike gesprekke, het geblyk daar is heelwat meer stories wat ons koppe woer as wat ons dink. En, snaaks, mense hou daarvan om oor die liefde te praat. Al wat ek moes doen, was om ’n stukkie fiksie te gryp om sommige mense se identiteit te beskerm, hier en daar ’n karakter in toom te hou wat té uitspattig wil raak, en verder moes ek maar net luister. Liefde en hormone laat die wêreld wentel. Dís waaroor Byna liefde gaan.”
Cecile Cilliers (Rapport, 26 Oktober 2008) het die steeds onvervulde begeerte na ’n ander lyf en die begeerte om dit in woorde te omskep as ’n kernaspek van Byna liefde beskou: “Om die twee benaderings te balanseer, gebruik De Vries interessante en hoofsaaklik suksesvolle werkwyses. Sonder dat die bundel ooit romanmatig aangebied word, laat hy sy karakters deurlopend in meer as een verhaal voorkom, waardeur ’n groter eenheid aan die teks verleen word. Hiersonder sou dit maklik te episodies kon word.”
Cilliers het egter gemeen dat die gebruik van die elektroniese media minder suksesvol is: “Terwyl die gebruik van elektroniese media ’n natuurlike en onafwendbare uitvloeisel van ons tegnologiese wêreld is, is dit weens die staccato aard daarvan ’n bleek vervanging van insiggewende en openbarende dialoog. Moontlik as gevolg daarvan is daar feitlik geen waarneembare groei by die karakters nie. (...)
“In ’n ander interessante werkwending gee De Vries sy karakters die ruimte om hulle eie intrige te skep. Die karakters (ook uit verhale buite hierdie bundel) nader die skrywer om verhale te voorsien wat hulle in ’n draaiboek wil omskep. Dit is niks nuuts in die literatuur nie, maar boeiende, tergerige spel tussen skrywer en karakters maak dit hier vars en geloofwaardig. Wat ongelukkig nie die hele bundel geld nie.
“Ondanks grafiese seksbeskrywings en in sommige verhale baie kru taal loop daar ’n dik streep sentimentaliteit deur die boek wat vraagtekens oor die geloofwaardigheid plaas.”
Cilliers het haar bespreking van Byna liefde afgesluit: “Helder oomblikke ten spyt het ek die boek met ’n gevoel van onvervuldheid toegemaak. Die titel som dit goed op: Byna liefde. Byna in woorde vasgevat. Byna bevredigend. Maar durf mens dit liefde noem?”
In Beeld van 3 November 2008 skryf Theo Kemp as volg oor Byna liefde: “Alhoewel nie alle verhale ewe sterk staan nie, is Byna liefde een van die beste bundels in die hedendaagse Afrikaanse kortverhaalkuns wat so gemoeid met ’n bepaalde tema omgaan. De Vries skryf gedronge sodat ’n mens nie anders kan as om meegesleur te word nie. Ek kan aan ’n handjievol Afrikaanse boeke dink waarin die liefdesverhaal so knap gedekonstrueer word, en dit alleen maak die tien jaar wag sedert De Vries se debuutbundel die moeite werd.”
En Joan Hambidge sluit haar bespreking af: “Verskeie van die verhale het reeds elders verskyn, soos onder meer in Die mooiste liefde is verby (1999), wat destyds verpulp is weens ’n plagiaat-aanklag teen ’n verhaal in die bundel. Verhale saamgesnoer in ’n bundel kry egter ’n nuwe betekenis in ’n bundel wat maskuliniteite op gedurfde en sensitiewe maniere ondersoek. Daar is kragwoorde, maar dit pas in die mond van die karakter of spreker. In die slotverhaal tree karakters uit verskillende verhale saam op in ’n ‘after-party’ om die manipulasie rondom skryfwerk te beklemtoon.
“Dis ’n versameling kortverhale waarin etlike verhale lank ná die lees in jou gemoed nawerk. By ’n handvol sou ’n mens selfs briljant kon skryf.”
Izak is ’n kranige langafstandatleet en in 1993 het hy alreeds die Comrades-marathon vier keer voltooi. Hy het ook ’n aktiewe belangstelling in die uitvoerende kunste en in 1991 speel hy die hoofrol in Die trommel van André P. Brink met Dranus Vermeulen as regisseur. Gedurende die vroeë 1990s speel hy ook in ’n paar films – as ’n ekstra in Choices in 1992, ’n klein naamrol in The graveyards of creation – asook in Songs my lover stole, ’n kabaret en Rainbow Afrikaans, waarvan hy ook die mede-outeur is. Izak doen ook vrywilligerwerk vir die Suid-Afrikaanse Biblioteek vir die Blindes in Grahamstad.
In Beeld (24 Januarie 2000) het Izak meer vertel oor ’n boek wat sy lewe verander het: “Daar is bykans duisend boeke op my rak en ná ’n onlangse trek moes ek weer begin met die liefdestaak om hulle te orden alfabeties volgens outeur se van. So, al pakkende, was dit wonderlik om ’n oomblik te huiwer by elkeen, ’n bietjie te onthou, vinnig te loer na ’n gunstelingpassasie.
“Chinua Achebe: my jare in Venda het gemaak dat ek Things fall apart kon leer waardeer. Waar sou ons sonder Bertolt Brecht gewees het? Fanny Hill, nee wag nou! A! Zlata’s diary, ’n onvergeetlike ware verslag oor die oorlog in Sarajewo, geskryf deur Zlata Filipovic, ’n veertienjarige meisie.
“Magersfontein, o Magersfontein is skelm gelees in die dae toe dit nog verbied is. Chaim Potok se My name is Asher Lev het soveel te sê oor my eie keuses om die kuns te beoefen, dat dit ’n sterk aanspraakmaker sou kon wees op ’n lewensveranderende teks.
“Jan J van der Post het my die geheime van Afrika leer ontdek, Oscar Wilde, Donald Woods, Zapiro en Lin Zimbler vorm die agterhoede hier in my studeerkamer. Al hierdie boeke het iets aan my gedoen, het my nou weer laat huiwer: moet ek een van hulle uitsonder?
“Maar nee, ek weet wat ek gaan kies. Dit staan op my vrou se rak. Binne in Kenneth Newman se Voëls van Suider-Afrika staan: ‘Elma & Izak, met liefde, Lizette’. Lizzie se geskenk het die voëls van die hemele aan my geopenbaar. Aanvanklik was dit baie moeilik om ’n kanarie van ’n janfrederik te onderskei.
“Vandag val die blaaie al uit, maar op feitlik elkeen van daardie vuilgevatte blaaie sit ’n voëltjie wat ure se vermaak aan my en my wederhelf verskaf het.
“’n Goeie boek laat jou altyd op ’n nuwe manier kyk na die wêreld om jou, literêre tekste ook. Ek lees ontsettend veel letterkunde. Newman se boek het my gedwing om my neus by die deur uit te steek en die werklikheid van vooraf te leer waardeer.”
Publikasies
|
Publikasie |
Kom slag ’n bees |
|
Publikasiedatum |
1998 |
|
ISBN |
0624036715 (sb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Engels vertaal deur DZ van der Berg 2005 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Spesiale dae |
|
Publikasiedatum |
2003 |
|
ISBN |
0625033485 (sb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Nasou Via Afrika |
|
Literêre vorm |
Prenteboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Ook beskikbaar in Engels |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Douspoor: ’n handleiding |
|
Publikasiedatum |
2004 |
|
ISBN |
0624039404 (sb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Nasou Via Afrika |
|
Literêre vorm |
Studiegids |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Byna liefde |
|
Publikasiedatum |
2008 |
|
ISBN |
9780624046844 (sb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Izak de Vries as samesteller
- In ’n neutedop: agtien verhale oor Suid-Afrikaners deur Suid-Afrikaners. Saam met Karen Simpson. Kaapstad: Bateleur Books, 2006 [ISBN 1869155653 (sb)]
- Pretorius, Willem: “Neutedop” se pitkos lekker maar min. Die Burger, 30 Oktober 2006
Artikels oor Izak de Vries
- Amoraal, Lezel: Snelvuur. Die Burger, 18 Januarie 2003
- Basson, Hanneke-Mari: Regtig niks: Izak de Vries se “Mutsuku” maak jou bewus van onreg. Huisgenoot, 10 Junie 2010
- Creative writing bursary awarded. Daily Dispatch, 20 Maart 1993
- De Vries wen M-Net se skryfprys. Beeld, 18 Maart 1993
- “Die engelman” deur Izak de Vries [bespreking]. Huisgenoot, 13 Mei 2010
- Izak de Vries
- Izak de Vries: Boeke
- Izak wen groot beurs. Transvaler, 17 Maart 1993
- Izak de Vries wins writing bursary. Eastern Province Herald, 8 Maart 1993
- kykNET-Rapport-boekresensent van die jaar 2022: Commendatio’s. LitNet, 24 September 2022
- Marais-Nell, Sarie: Boekeman wie se hande vir niks verkeerd staan. Netwerk24, 17 November 2018
- Meyer, Naomi: Hoe om romantiese fiksie te redigeer. LitNet, 3 Mei 2013
- Meyer, Naomi: Toe was SêNet LitNet: Izak de Vries onthou die jaar 1999. LitNet, 13 November 2012
- Oor die speurtog en die liefde [gesprek tussen Tom Dreyer en Izak de Vries]. Die Burger, 13 Oktober 2008
- Senekal, Gerdus: Nuwe stories 2013-onderhoud: Izak de Vries. LitNet, 8 Februarie 2013
- Skryfprys vir Nataller. Oosterlig, 19 Maart 1993
- Steyn, Antonia: Antonia Steyn praat met Izak de Vries oor sy stories
- Swanepoel, Attie: Hierdie is ’n taai bees. Vrydag, 18 Desember 1998
- Wasserman, Herman: Nuwe stemme ondersoek eie werk. Die Burger, 28 Desember 1998
- Wobbe, Anchen: Glashelder: kommentaar op Izak de Vries se resensie [van JM Gilfillan se Glas]. LitNet, 3 Maart 2008
Artikels deur Izak de Vries
- #CrazySocks4Docs celebrated at the Nelson Mandela University [interview with Yoshna Kooverjee]. LitNet, 3 Junie 2022
- Advertensiekopie: Ou Bloed is die Lekkerlitboek vir Augustus. LitNet, 20 Augustus 2013
- Afrikaans en die Bo-Kaap. LitNet, 5 April 2018
- An interview with Greig Cameron, writer and director of Seal Team. LitNet, 22 Desember 2021
- An interview with Siphiwe Gloria Ndlovu, winner of a Windham-Campbell Prize for 2022. LitNet, 20 April 2022
- An interview with Tracy Terblanche, manager of Bargain Books, Walmer Park. LitNet, 30 Augustus 2022
- Are property owners or their security personnel allowed to use force? [interview with Andrew Brown]. LitNet, 14 Julie 2021
- ATKV-Applous: administratiewe rompslomp keer nie die koor se goud nie. LitNet, 11 Augustus 2015
- ATKV Handevat-projek: Laat die kindertjies speel. LitNet, 4 Maart 2015
- ATKV-Kopskuif snoer gemeenskappe saam. LitNet, 28 September 2017
- ATKV-Muziq: The astonishing journey of Junnan Sun. LitNet, 13 Oktober 2015
- ATKV-Muziq: van klein dorpie na wêreldstede. LitNet, 17 Augustus 2017
- ATKV Onderwys: die belang van beheerrade. LitNet, 20 Maart 2015
- ATKV-Sterskool skitter met 100%-slaagsyfer. LitNet, 8 Januarie 2015
- Atlantis pass weer ’ie torch an. LitNet, 19 Desember 2017
- Author in residence: Mphuthumi Ntabeni [interview]. LitNet, 28 Junie 2022
- Berigte te velde: Eben Viktor oor Rusland se nuutste taktiek. LitNet, 15 Desember 2022
- ’n Boek wat my lewe verander het. Beeld, 24 Januarie 2000
- Brink en Van Heerden self ook ‘stelers’. Die Burger, 8 Januarie 2000
- Covid-19: die kliniese bestuurder van ’n 200-bed-veldhospitaal vertel [saam met Elma de Vries]. LitNet, 7 Januarie 2021
- Covid-19: Jeremy Nel on vaccines, returning to normal and ivermectin. LitNet, 15 Maart 2021
- Daar is nog hoop: Eben Viktor berig uit Oekraïne (19 Julie om 14:00). LitNet, 3 Mei 2022
- David Michie: Sold! (By auction)
- Die ander vrou by SASNEV. LitNet, 10 September 2013
- Die engelman [kortverhaal]. LitNet, 4 September 2008
- Die etiek van inentings en toetsings: Izak de Vries as proefkonyn. LitNet, 3 September 2022
- Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n ondersoek deur Izak de Vries. LitNet, 6 April 2021
- Die kruisverhoor van ’n oopkop Nagtegaal
- Die missiele val: Eben Viktor gesels uit Oekraïne (12 Maart om 14:00). LitNet, 12 Maart 2022
- Die (NG) Kerk stoot postmoderne deur oop
- Die Russe is 70 km weg. Hoe berei ’n mens voor? (Oekraïne, 4 Maart om 14:40). LitNet, 4 Maart 2022
- Die s... in my jeans, Madeleine
- Die sielkunde agter samesweringsteorieë. LitNet, 22 Junie 2021
- Do not hesitate is ’n angswekkende rolprent. Voertaal, 29 November 2022
- E-briewe oor Franse briewe: Izak de Vries gesels met Marita van der Vyver. LitNet, 24 September 2008
- Een jaar van oorlog: ons gesels met Eben Viktor. LitNet, 24 Februarie 2023
- Geen nut vir krokodiltrane nie
- Hoekom haal die kinders van apartheid hulle skouers op?
- Humor in die oorlogsone: Eben Viktor gesels uit Oekraïne (21 Maart om 15:00). LitNet, 21 Maart 2022
- In conversation with Jessica Powers, Owner of Catalyst Press. LitNet, 1 Maart 2023
- In gesprek met ChatGPT, ’n kunsmatig-intelligente rekenaartoepassing. LitNet, 13 Desember 2022
- In gesprek met PG du Plessis oor dáárdie boek
- Interview with a former refugee, Karina Szczurek [saam met Naomi Meyer]. LitNet, 13 Maart 2022
- Ivermectin, vaccines and science – a vet explains. LitNet, 3 Februarie 2021
- Izak de Vries gesels met Fanie Olivier
- Izak de Vries oor Woordfees 2001. Insig, Maart 2001
- Izak de Vries praat met Philip de Vos – en vind dit rym!
- Izak de Vries se ses bestes [gunsteling-kuierplekke op www]. LitNet, 1 Maart 2012
- Izak de Vries speaks to an eight-year-old author (Joanna Reid) and an irrepressible granny, cum publisher and teacher (Felicity Keats)
- Izak se blog
- Jeugboeke met Johannes: ’n Zoom-gesprek met Maretha Maartens [Johannes Meyer en Izak de Vries]. LitNet, 26 November 2020
- Jodi Jantjies stel ’n mini-album bekend met ATKV-Crescendo. LitNet, 2 Maart 2021
- Jou geloof het jou genees
- Joy of Books: a new literary festival in East London. LitNet, 14 Julie 2022
- Kabelnuus [kortverhaal]
- Laaste lewe: ’n Zoom-gesprek met Fanie Viljoen [Johannes Meyer en Izak de Vries]. LitNet, 29 September 2020
- Let’s talk about Sex and pleasure [interview with Kim Windvogel and Romantha Botha]. LitNet, 2 Maart 2023
- Liefde is ... oorlogskuns: Eben Viktor gesels uit Oekraïne (12 April om 15:00). LitNet, 13 April 2022
- LitNet Akademies-resensie-essay: Izak de Vries oor Wolf, wolf. LitNet, 16 April 2013
- Major international award for Erika Bornman, author of Mission of malice. LitNet, 26 Junie 2022
- Met ’n bornfree na die stembus. LitNet, 4 Augustus 2016
- Nasionale biblioteekweek: ’n onderhoud [met Zephne Ladbrook en Frouwien Bosman]. LitNet, 13 Maart 2022
- Of dancing beer bottles and talking cartoonists – a chat to Zapiro
- Om te skryf, ’n resensie. LitNet, 15 November 2022
- Ondergoed [kortverhaal]
- Ons moes in die gang slaap: Eben Viktor berig uit Oekraïne (19 Julie 0m 14:00). LitNet, 20 Julie 2022
- Regarding spiritual auto mechanics and healing: in conversation with Klara Ana Rosa. LitNet, 15 Junie 2022
- Samsa-masjien as hibriede film: ’n resensie. LitNet, 12 Julie 2021
- Sonja se nighty [kortverhaal]
- Spraakprobleem? Nee! Spraakoplossing. LitNet, 29 Oktober 2014
- Steeds op soek na die vlugvoetige Chris Coetzee
- Still life, an interview with Zoë Wicomb. LitNet, 25 November 2020
- Suidoosterfees 2021: An interview with Adam Cruise. LitNet, 23 April 2021
- Suidoosterfees 2021: An interview with Thembalethu Seyisi. LitNet, 22 April 2022
- Teen Helderberg, ’n onderhoud met Louis du Plessis. LitNet, 24 November 2022
- Tell me your story by Ruda Landman: a book review. LitNet, 4 Desember 2018
- The prodigious Professor who wrote The prodigal husband
- Three women providing a catalyst for African literature: an interview. LitNet, 2 Desember 2020
- True magic amongst grinding poverty, no fairies: Bridget Krone on her latest book. LitNet, 10 Augustus 2022
- Twee nuwelinge in gesprek: Izak de Vries gesels met Herman Wasserman
- ’n Vergelyking van “Die redding van Vuyo Stofile” en “The magic barrel”
- Wat is op jou bedkassie? Izak de Vries antwoord. LitNet, 21 Desember 2017
- Where was the thin blue line? [interview with Colin Morris]. LitNet, 15 Julie 2021
- Why is Ethiopia at war? A Zoom interview with Caroline Kurtz. LitNet, 10 November 2022
Izak de Vries se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2008-11-10 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bronne:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
- My dank aan Izak de Vries vir die inligting wat hy gestuur het.

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


