ATKV Onderwys: die belang van beheerrade

  • 0

 

Melvina Mason Hearne, projekorganiseerder, Weskaap; Seymour Bothman, senior bestuurder; Natasha Domeyer, hulporganiseerder; Andre Hendricks, projekorganiseerder; Adele Ramsamy, administratiewe beampte; Jerome Steenkamp, projekorganiseerder

“Onderwys is een van die kernpilare van ’n gemeenskap, en daarom is dit van absolute belang dat ouers moet besef hoe belangrik dit is dat hulle betrokke is by hul kind se skool.” Só sê Seymour Bothman, senior bestuurder: onderwys by die ATKV. Bothman het ’n beroep op ouers gedoen om betrokke te raak by die verkiesing van skole se beheerliggame wat landswyd plaasvind in Maart 2015.

“Beheerliggame tree as waghond op om leerderprestasie by skole te moniteer en die belange van die gemeenskap te dien. Ongeveer 100 000 posisies by nagenoeg 25 000 skole moet gevul word, en die verkiesings is die ideale kans vir ouers om aktief betrokke te raak by skole.” Hy het verduidelik dat skoolbeheerliggame as verteenwoordigers van ’n skoolgemeenskap ’n belangrike rol vervul. “Dis ’n skoolbeheerliggaam se verantwoordelikheid om toe te sien dat gehalte-onderwys deurlopend by skole plaasvind. Hulle moet toesien dat ’n gesonde omgewing geskep word wat effektiewe onderrig en leer bevorder.” Beheerliggame verseker ook ’n duidelike rolverdeling tussen die beheerliggaam en die skoolhoof, en is verantwoordelik vir die opstel van ’n verslag oor die professionele beheer van ’n skool. “Dit sluit die akademiese vordering van die skool sowel as die effektiewe aanwending van beskikbare hulpbronne in.” ’n Beheerliggaam het ook sekere wetlike verantwoordelikhede wat in die Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet 84 van 1996, vervat is, onder meer sake soos ’n skool se toelatingsbeleid, taalbeleid en vakkeuses. Dit is ook die beheerliggaam se taak om ’n skoolbeleid te formuleer wat effektiewe onderrig en leer sal bevorder.”

Bothman maan dat ouers ernstig moet besin oor wie genomineer en verkies word vir hierdie belangrike posisies. “Kandidate moet in staat wees om hierdie rolle te vervul of oor die potensiaal beskik om in sulke leiers te ontwikkel. Sentiment moet beslis nie 'n rol speel nie. Dit behoort te gaan oor die kundigheid van die kandidaat.” 

Voorts doen Bothman ’n beroep op alle ouers om gedurende die komende skoolbeheerliggaamverkiesings te gaan stem. “Naas die twee nasionale, provinsiale en die plaaslike verkiesings wat landswyd plaasvind, is dié verkiesing van beheerliggame die derde grootste verkiesing in Suid-Afrika. Net soos dit in landsbelang belangrik is om tydens algemene verkiesings te stem, is dit belangrik dat ouers as stemgeregtigdes in belang van die onderwys van hul kinders moet stem tydens beheerliggaamsverkiesings. Die daarstelling van gehalte-onderrig en -leer is die kernbesigheid wat op die skouers van skoolbeheerliggame rus, en daarom is dit belangrik dat alle ouers hul stemme moet uitbring. Die ATKV doen ook 'n beroep op alle werkgewers om hul werkers die geleentheid te gee om te gaan stem. Geloofgemeenskappe, plaaslike rade en burgerlike organisasies kan ook ’n leidende rol speel om ouers aan te moedig om aan die proses deel te neem.”

Bothman het daarop gewys dat bekwame gemeenskapslede wie se kinders nie ingeskrewe leerders by die skool is nie, wel gekoöpteer mag word, maar dat hulle geen stemreg het nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top