Titel: Om te skryf
ISBN: 978062703950
Uitgewer: Van Schaik
...
Die lekkerste deel van hierdie boek is om dit gewoon soos ’n bloemlesing te lees. Ek het aanvanklik presies dit gedoen.
...
Die beste manier om iemand te leer skryf, is om dit nie te doen nie. Die beste manier om studente te leer skryf, is om hulle te laat lees en nog te laat lees.
Die tweede beste manier om iemand te leer skryf, is om hulle te laat skryf.
Die derde beste manier om studente te leer skryf, is om hulle in ’n groep te plaas wat mekaar se skryfwerk lees en kritiseer.
Om te skryf, wat pas deur Van Schaik bygewerk en heruitgegee is, wys hoe om al die punte wat ek hier bo noem, prakties te laat gebeur.
Die teks beslaan 90 hoofstukke, plus ’n klomp ander (ek sal later verduidelik hoekom ek so sê).
Elke hoofstuk bevat een of meer tekste, dan besprekingsvrae en voorstelle om self iets aan die hand van die voorbeeldtekste te skryf.
Die belangrikste pluspunt van hierdie boek is die wye verskeidenheid tekste van ’n groot aantal uiteenlopende skrywers – sommige so oud soos Plato, ander so jonk en vars soos Carryn-Ann Nel; hier is ook Anaïs Nin en Hanlie Retief, Max du Preez en Thabo Mbeki, TE Lawrence en Dana Snyman ...
...
Hulle beskou die onderskeie skrywers se tekste en die skrywers se tegnieke as diamante en nooi dan die leergierige studente uit om hulleself bloot te stel aan hoe betekenisse geskep word deur die verskillende fasette van elkeen se skryfwerk.
...
Die lekkerste deel van hierdie boek is om dit gewoon soos ’n bloemlesing te lees. Ek het aanvanklik presies dit gedoen. Elke nou en dan het ek die aantekeninge en die vrae en die idees ook gelees, maar heel dikwels was ek te lus vir die volgende teks.
By ’n tweede deurwerk het ek stadiger en versigtiger gekyk hoe die boek gestruktureer is, en kon ek die vrae en die voorstelle beter begin verstaan.
Meng jou met semels, of kaats die lig van diamante
Die boek begin met “Skryf oor jouself”. Dis interessant, veral as ’n mens in gedagte hou dat iemand soos Marlene van Niekerk vir studente sal sê “Skryf weg van jouself.” Tog is hier nie noodwendig konflik met Van Niekerk se siening nie.
Hierdie teks begin by die begin: “Skryfwerk, selfs jou inkopielys vir Pick n Pay, gaan meestal oor jouself.” (Ongenommerde bladsy 1-1.)
Dan wys die samestellers ons wat ons kan leer uit ander se skryfwerk oor hulself.
Die eerste teks in die boek is dié van ’n Chinese hofdame wat meer as 1 000 jaar gelede geleef het. Dit is gewoon ’n lysie goed waarvan sy hou en dan ’n lysie van dinge waarvan sy nie hou nie. Fassinerend, en ontroerend.
Na verskeie vrae wat die leser lei om die teks te ontleed, is daar dan ’n opdrag om ook so ’n lysie vir jouself saam te stel – met idees om hier reeds aan jou tegniek te begin slyp.
Die lys dien as ’n basislyn. As jy ’n inkopielys kan opstel, kan jy die eerste uitdaging in hierdie teks ook slaag. As jy boonop die tegnieke begin toepas wat hulle uitwys in die Chinese vrou se teks, sal jou lysie meer wees as bloot woorde.
Die samestellers sê mense wat hulself met semels meng, kan varkkos word. Mense wat met diamante werk, sal egter verhelder word met lieflike lig. Heel poëties.
Hulle beskou die onderskeie skrywers se tekste en die skrywers se tegnieke as diamante en nooi dan die leergierige studente uit om hulleself bloot te stel aan hoe betekenisse geskep word deur die verskillende fasette van elkeen se skryfwerk.
Op hierdie manier leer ons verstaan dat dit wat ons sê, veel meer verklap as wat ’n mens aanvanklik dink. Dit gaan ook oor die hoe, nie bloot die wat nie.
Poëties tot pretty hectic
Soos in die vorige afdeling vermeld, hou die samestellers van beeldspraak en hulle het dan ook tekste gekies wat soms met beeldspraak speel, ander wat redelik strak is, en nog ander wat baie speels omgaan met die taal.
...
Koos Bekker vat egter die koek, die melktert en die bord kos met sy beskrywing van SJA de Villiers, die formidabele vrou agter Kook en geniet.
...
Thabo Mbeki se lieflike toespraak “Ek is ’n Afrikaan”, wat hy gemaak het toe die Grondwet op 8 Mei 1996 deur die Nasionale Vergadering aanvaar is, is deurspek met poëtiese woorde en frases. Jukstaponeer dit met Haidee Muller se “Tjek’t yt, hier kom die bryt” en Dana Snyman se heerlike “Ouma ni gr8, so Roi_^ gan ky-ir”, dan kan ’n mens sien hoe die lig uit verskillende diamante sal val.
Die moeilikste teks is beslis JC de Wet se akademiese artikel oor ’n regspunt, “Die stipulans, die promittens en die derde”. Hemel. Hierteenoor plaas die samestellers twee hofuitsprake deur Johann Kriegler wat so helder en so duidelik is, enige een kan dit volg.
James S Trefil, ’n fisikus, se verduideliking van hoe samesweringsteorieë ontstaan, is eweneens helder en totaal toeganklik.
Deur sulke tekste af te wissel laat die skrywers ’n mens agterkom watter woorde en frases werk, ook hoe jou skryfwerk soms meer vertel oor jouself as oor jou onderwerp (vergelyk die bespreking oor die self hier bo).
WEB du Bois se “Die geloof van die swart volk” lees oënskynlik asof dit deur ’n AWB-omie aanmekaar getimmer is. En tog ... Is dit rassisties? Of is Du Bois erg slim om ’n wit gehoor se aandag te trek?
’n Soortgelyke vraag moet gevra word, en wórd ook gevra, oor Edward C Banfield, ’n politieke wetenskaplike, se sienings oor die werkersklas.
Later kom Jonathan Swift aan die woord met ’n essay getitel “’n Beskeie voorstel”. Swift se werk is skrynend – hy maak basies ’n “beskeie voorstel” dat die Britte moet begin om Ierse kinders te eet. Dit is walglik. En juis daarom so effektief. Swift word deur die samestellers vergelyk met Bram Fischer en Emily Hobhouse – denkers wat teen hul eie mense opgestaan het en vir die “ander” in die bresse getree het. Swift, ’n Brit, het veel gedoen om die Iere se lotgevalle onder die aandag van Britte te bring, ook soms deur die absurde gevolge van ontmensliking uit te wys. Show, don’t tell.
Hannelie Booyens doen dit meer kaalvuis. Haar “Terroriste moor en regses ‘knak’” ondersoek die maniere waarop Afrikaanse mense na hul eie situasie verwys teenoor diegene wat skynbaar anders dink as hulle.
Hanlie Retief, wat nog nooit geskroom het om ’n ligte satire te handhaaf in haar onderhoude nie, se “Oorgehaal soos ’n .38 Special” beskryf Mike Bolhuis se karakter met ’n tikkie spot, sonder dat enige een, selfs Bolhuis, anders sou kon as om van die beskrywing te hou.
Etienne van Heerden se verteller in 30 Nagte in Amsterdam, daarenteen, het geen sweem van liefde vir die Engelse “Lord-in-waiting” nie.
Koos Bekker vat egter die koek, die melktert en die bord kos met sy beskrywing van SJA de Villiers, die formidabele vrou agter Kook en geniet. Bekker maak dit baie duidelik dat sy “moed sak” toe “die gryswit antietjie met ’n bril” langs hom aan tafel geplaas is.
En toe.
Bekker deel die storie stap vir stap, feit vir feit. Teen die einde is De Villiers steeds “die gryswit antietjie met die bril”, maar niemand kan meer twyfel dat Bekker haar bewonder nie.
Show, don’t tell.
...
Dit is die room van ’n bepaalde era uit ons joernalistiek wat hieraan meegewerk het vir die eerste uitgawe.
...
Die boek se ontstaan
Hopelik het die leser reeds agtergekom ek as resensent is taamlik in my noppies met Om te skryf, want ek is. Daarom is ek ook bereid om op enkele vreemde kwessies te wys.
Die eerste is dat geen outeurs of samestellers se name op die boek se omslag verskyn nie. Die voor- en agterblaaie het ’n vreemde, erg generiese prentjie van Gallo Images op.
Op die kolofonblad word al die teksversorgers en selfs die proefleser gelys, maar ... Waar kom hierdie boek vandaan?
Wie het dit saamgestel?
Vir wie moet ’n mens dankie sê?
Goed, tyd om te bieg: Ek is nie die slimste nie en dit het my maande geneem om die antwoord te kry. Dit staan op bladsy viii.
’n Groepie van ons wou iets skep oor hoe om in Afrikaans te skryf. As grondslag het ons Kane en Peters se klassieke Writing prose geneem. Oxford University Press was so vriendelik om toestemming te gee. Sommige van die beste tekste is vertaal terwyl ander vervang is deur Afrikaanse voorbeelde met dieselfde strekking.
Writing prose deur Thomas S Kane en Leonard J Peters is inderdaad klassiek; na my wete het die eerste uitgawe in 1959 verskyn. Ook in die Engelse wêreld word die bron gereeld bygewerk. In Kanada is daar byvoorbeeld in 2003 weer ’n bygewerkte weergawe uitgegee, dié keer met Maurice Legres as medesamesteller – ook, terloops, met ’n erg generiese voorblad, ’n blom. (Die samestellers word wel genoem.)
Maar wie is dié “groepie van ons” wat hierdie Afrikaanse weergawe die lig laat sien het? Die antwoord word as ’n voetnota verskaf: 30 van Media24 se slimkoppe word genoem.
Dit is die room van ’n bepaalde era uit ons joernalistiek wat hieraan meegewerk het vir die eerste uitgawe.
Dalk wou die samestellers baie opsetlik nie dat een mediahuis se naam te sterk hieraan gekoppel word nie, ek moet dit respekteer. Dit bly egter vreemd om so ’n massiewe boek op te neem en dan te moet soek na die mense wat dit moes maak werk.
Om te skryf is helaas ’n boek wat nie op sy generiese, oninspirerende baadjie getakseer moet word nie. Maak dit oop en begin lees. Dán sal jy die krag van hierdie teks verstaan.
Ek wil ’n ander ding noem. Hier is tientalle slim, oorspronklike Afrikaanse tekste in, maar die vertalings is eweneens uitstekend. Hulle lees nie soos vertalings nie. Tekste wat in antieke tale soos (ou) Chinees of Grieks geskryf is, sou byvoorbeeld uit Engels in Afrikaans vertaal word, maar dan verwerk word om seker te maak die oorspronklike tale se intensies kan in Afrikaans gedemonstreer word. Bertie du Plessis word byvoorbeeld genoem as die een vertaler in Afrikaans van ’n teks wat oorspronklik in Grieks geskryf is, met Dan Sleigh en PJ Conradie (beter bekend as Piet Grieks) wat as konsultante opgetree het in die skaaf van die finale Afrikaans.
Die Afrikaanse Om te skryf word, soos Writing prose, vars en op datum gehou. Die tweede weergawe waarmee ek nou werk, bevat meer moderne tekste as die eerste; ook tekste om skryf vir die internet-omgewing te ondervang.
Die boek bestaan uit modules
Die boek bestaan uit elf modules waarin verskeie aspekte van skryf aangepak word aan die hand van voorbeeldtekste, en ’n twaalfde wat definisies en teorie bevat.
Elke module se bladsynommers begin weer van voor af. Allan Boesak se teks verskyn byvoorbeeld op bladsy 2-13, die dertiende bladsy dus van module twee. Of Martinus Versfeld se skrywe staan op bladsy 9-5 (die vyfde bladsy van die negende module).
Oor die elf modules heen is daar is altesaam 90 genommerde hoofstukke, maar aan die begin van elke module is ’n inleidende hoofstuk wat deksels oulike inligting bevat. Daardie module-oopmakers se bladsye is ongenommer en die modulenommers en sommige hoofstukke se nommers is dieselfde. Module 4 is “Skryf oor plekke en dinge”, maar hoofstuk 4 is Jeanne Goosen se verhaal “Brief” – ’n lieflike stuk oor ’n skrywe van haar ma aan haar.
Dit maak uiteindelik alles sin, maar Dofkop de Vries het aan die begin gesukkel om dit alles te verstaan.
Dit is ook baie moeilik om na iets op ongenommerde bladsye te verwys.
Op ongenommerde bladsy 11-4 staan daar byvoorbeeld hierdie mooi sinne:
Wat presies skep styl? ’n Behoorlike antwoord moet alle tegnieke van uitdrukking omvat, en lê dus bo ons vuurmaakplek.
Lieflik, en een van die sterk punte van hierdie boek. Al is van ons land se beste breine hierby betrokke, en al staan hulle op die skouers van reuse, probeer hulle nie voorgee dat hulle alles weet of kan verduidelik nie.
Tog: Gee hierdie dikke boek vir tien studente, haal ’n stophorlosie uit en sê: “Vind die sin op ongemerkte bladsy 11-4.”
Uhm. Ja.
Tog werk dit (meestal)
Die LitNet-slypskool Om te skryf het pas tot ’n einde gekom.
Van Schaik het aan elkeen van die deelnemers en aan elkeen van die inwoonskrywers ’n komplimentêre kopie van Om te skryf verskaf.
LitNet het ’n boek aan elke deelnemer gestuur, ook aan Anzil Kulsen en Heilna du Plooy. Vir Eben Venter, in Australië, het die uitgewer toegang probeer gee tot ’n e-boek via Snapplify.
Toe een van die inwonende skrywers my vra hoe hulle die studente moet aanspreek in hul skrywes, was my antwoord: “Kyk hoe EM Foster skryf oor intrige, hoofstuk 50.”
Dit is dus moontlik, ook soms maklik, om na die teks se inhoud te verwys.
Kyk ook byvoorbeeld hoe goed het Anzil Kulsen voorbeelde uit die teks aangehaal om studente aan te moedig om sekere goed te gaan nalees. Heilna du Plooy kon dit ook regkry.
Eben Venter se e-boek-toegang was toe nie suksesvol nie. Ongelukkig is Snapplify nie juis toeganklik nie; nóg ek nóg hy kon uitwerk hoe om die boek op die toepassing gelees te kry. Wat jammer is.
Daar is ander
Oor die jare het verskeie ghoeroes hul skryfgeheime op skrif gestel. Selfs CJ Langenhoven het twee boeke geskryf waarin hy raad gee aan ander oor hoe om te skryf. Baie van hierdie ander tekste bevat juweeltjies, maar is meestal ’n gesprek oor die skryfproses.
Om te skryf is anders.
- Hier word niemand geleer hoe om te skryf nie.
- Hier word gelees.
- Hier word studente aangemoedig om na aanleiding van voorbeelde te skryf .
- Hier word vrae geplaas wat as riglyne kan dien vir studente om met mekaar te gesels oor wat hulle lees en hoe hulle hul eie skryfwerk, en mekaar se skryfwerk, sou kon benader.
Om op te som
Dit is maklik om positief te wees oor hierdie teks.
Selfs al koop jy dit bloot om al die tekste te lees, sou dit steeds die geld werd wees.
Soos die samestellers sê: “Daar is verskeie maniere om hierdie boek te gebruik” (bl ix). Hulle verduidelik hoe hulle dit sou kon sien gebeur. Die belangrikste is, volgens hulle:
’n Mens leer vinnig as jy langs ’n goeie ambagsman gaan staan en mooi loer wat hy doen en die tegnieke wat hy benut, dan in jou eie werk toepas.
Hulle sê voorts Om te skryf bevat “’n hele klomp uitstaande vakmense aan die timmer” en hulle wil jou nooi om te sien “hoe jy self die tegnieke kan oefen”.
Sela. Dit is presies wat hierdie boek ’n wenner maak.
Oor ’n paar jaar gaan my kopie nie meer so mooi wit wees nie – ek gaan dit baie gebruik.
Meer nog. Mense vra dikwels hoe hulle kan begin skryf. Van nou af gaan ek hulle van Om te skryf vertel.
Ek gaan hierdie boek eers show aan almal wat wil leer skryf, en hulle dan tell om dit deur te werk. Daarna kan ons verder gesels.
Kommentaar
Dagsê Izak. Na die lees van die monumentale en omvattende resensie, sal ek beslis huiwer om na jou as "dofkop" De Vries te verwys – soos gewoonlik net die beste uit jou pen. Al staan my eie joernalistieke vernuf nie meer in sy kinderskoene nie, sal ek beslis oorweeg om die handleiding vir my kleinkinders en persoonlike biblioteek aan te skaf. Dankie hiervoor!
Hierdie boek het my baie gehelp om my eie skryfwerk te verbeter. Die bladsynommers kan nogals verwarrend voorkom aanvanklik - totdat jy in die ritme kom. Die handleiding is lywig en 'n ander resensent het gewonder of die gewone mens wat wil kennis opdoen oor die skryfproses die geduld en deursettingsvermoë sal hê om deur die boek te werk. Indien jy egter ernstig is om jou skryfwerk te verbeter, sal die baie bladsye nie in jou pad staan nie. Hierdie resensie som die boek baie goed op. Waardevol, net soos 'Om te skryf'.