Toe was SêNet LitNet: Izak de Vries onthou die jaar 1999

  • 0

Hallo Izak, kom ons begin vandag by die Oerknal. LitNet het in 1999 afgeskop. Wanneer het jy aangesluit en briewe begin hanteer? ’n Groot komponent van LitNet het toe bestaan uit briewe. Is ek reg?

Hallo Naomi. Soos met alles in die lewe was ek maar ’n laatslaper met LitNet ook. Ek het die oerknal in Januarie 1999 misgeloop. Tydens die geboorte was ek in Venda. Ek het die knal darem gehoor. Die LitNet-idee is deur Etienne uitgebroei en na 24.com geneem as 'n voorstel en dit het in Januarie 1999 aanlyn gegaan. Ek het eers in Oktober 1999 by LitNet aangesluit. Ek het redelik vroeg reeds twee rubrieke behartig: die een was ’n ruimte vir leeskringe en die tweede was ’n ruimte waar ons met skrywers onderhoude gevoer het. Die hele ruimte is op daardie stadium gekodeer met HTML-skakels (alles is gekodeer, daar was nie template nie). Chutney de Ridder het by tye met die redigering gehelp en ’n ou met die naam van Derrick het geprogrammeer. Van belang is dat die briewe per ongeluk begin het. Daar was nie ’n SêNet nie. Dit was ’n bietjie soos “briewe aan die redakteur” en wanneer iets opgedaag het, kon dit tot ’n maand neem om geplaas te word. So, nee, die briewe was aan die begin baie min en baie dun gesaai. Etienne het hulle ontvang en hulle dan in produksie gestuur by 24.com. Ek het eers in Oktober 1999 voltyds by LitNet ingeval en toe kon ons eers begin kyk na SêNet as ’n ruimte.

Die heel eerste brief op LitNet was hierdie een. Tema: Tegniese kwessies oor LitNet. Hier is ook die eerste brief uit Kleinboer se pen.

Wat is jou heel eerste onthou van SêNet? Hoekom het dit begin – en hóé?

Ja, toe was ek nog nie by LitNet nie. Soos ek reeds gesê het, is die briewe aanvanklik ongereeld geplaas, net een maal ’n week, saam met alle nuwe inhoud. Ek het M-Web oorreed om vir my ’n ruimte te gee waarvandaan ek elke dag briewe kon laai. Etienne het met die naam SêNet vorendag gekom en die briewe is toe as SêNet op LitNet aangebied. Daardie briewe het ek geredigeer en gekodeer (met HTML-kodes), en dan het ek hulle vyfuur in die oggend gelaai, want dan was die net stil genoeg. (Dit was in die dae voor ADSL en ek het met bliep-bliep-modum gewerk.) Dit het ook die voordeel gehad dat mense om agtuur in die oggend gaan kyk het wie nou weer wat gesê het, so ons statistiek het geweldig vinnig gegroei vandat ek dit gedoen het.

Ek voel amper of ek The Reader (Der Vorleser) van Bernard Schlink hierby wil betrek – hoe moeilik is dit om binne vandag se konteks oor die verlede te gesels? Kom ek gebruik jou as geheue van ’n tydperk toe die internetlandskap gans en al verskillend was. Hoe was die internet, wat was dit en wat was LitNet (en SêNet) binne daardie era?

My eerste toetrede tot die internet was in die dae voor Windows. Dit was ’n bietjie soos ’n moerse FTP-ruimte. Mense het goed vir mekaar begin los op plekke waar jy dit kon lees. Met die koms van Windows het HTML gegroei, en daarmee saam die basiese kodes wat vandag nog bestaan. Ons was baie trots op ons kodering. Jy kon ’n goeie programmeerder uitken aan die sorg wat sy/hy getoon het met die kodes. Ons het ook van mekaar geleer deur die ander se kodes te gaan nalees en te kyk hoe die slim ouens dit doen. So, as iemand nostalgies raak oor die gebruik van ’n <p> vs <br><br>, of so iets, dan weet jy die oubaas is oud.

LitNet het ontstaan in daardie tyd toe HTML nuut was, en die gebruikers (soos Dirk Laurie wat daardie eerste brief oor die tegniese goed geskryf het) was gewoond daaraan om die internet te gebruik om inligting te kry. Vir Dirk was dit ’n ruimte waar jy met soveel gemak as moontlik die informasie moes kon opspoor.

Mense soos Kleinboer het egter van die begin af aangevoel dat hier ’n moontlikheid is om sosiale kommentaar te lewer. Ek dink werklik Kleinboer was ’n baanbreker in Afrikaans. Hy het die borste uit die bra gehaal – in meer as een opsig, natuurlik.

SêNet was iets anders, destyds, as wat dit vandag is. Vertel vir ons lesers wat jy onthou en ook wie vir jou uitgestaan het as meningsvormers daardie jare?

Etienne het van die begin af gevoel dat SêNet demokraties moet wees. Ons het dus baie min briewe nie geplaas nie (dit moes erg lasterlik wees voor ons gevra het dat iemand herskryf). Die menings en onderwerpe in daardie tyd was dus so wyd en gevarieerd soos dit vandag nog is.

Kleinboer het destyds die mooi kant van die lewe gebesig, terwyl Dan Roodt die politiek aangespreek het. Hulle twee het altyd kommentaar gelok.

 

 

Behalwe Dan en Kleinboer, wie onthou jy nóg as briefskrywers, as prominente lede van die SêNet-gemeenskap?

Behalwe vir Dan en Kleinboer, was daar wyle Chris Louw wat ’n gereelde deelnemer was. Die hele Boetman-sage het eintlik op LitNet begin. Moet ook nie die onvolprese Koekie Ziervogel vergeet nie.

Ek self onthou die dae met die Commodore 64, rekenaarspeletjies op kassetspelers en maatjies wat koeldrank gaan maak het op die gaskoeldrankmasjien terwyl die speletjie terugspeel ... Die tegnologie het dramaties verander. Wat het in die virtuele wêreld verander? As dit te omvangryk is om te beantwoord, noem dan net ’n paar van die mees prominente veranderinge.

Ag, ja, alles het verander. Ek dink die virtuele wolk (cloud computing) is waarskynlik die opwindenste, en gevaarlikste, van wat vandag gebeur. Opwindend, want dit maak data soveel meer toeganklik. Gevaarlik, om presies daardie rede. Krakers het nou soveel meer maniere om jou privaatheid binne te dring.

Die werklike revolusie lê natuurlik in die spoed van ons internetlyne. Suid-Afrika is steeds ontsettend agter. In Europa blaai jy deur ’n webblad soos jy deur ’n koerant blaai. Ten spyte van Suid-Afrika se agterstand is ons snelheid reeds geweldig as jy dit met die dae van die modums vergelyk. Ek kan vandag enorme hoeveelhede data met enigiemand deel – of sy langs nou my sit, of in Pole of in die VSA. Wat meer is, ons kan die data deel en dan daaroor gesels – van aangesig tot aangesig.

 

 

Facebook – daar noem ek ’n verandering wat my opval. En blogs. Die sosiale media. Hoe ’n groot impak het veranderinge soos hierdie op ’n ruimte soos LitNet?

Ek wil dink dat SêNet ’n voorloper was tot die sosiale media. Mense soos Kleinboer het op SêNet kom kuier en kom gesels. Dis dalk nie so erg soos op Twitter of Facebook waar mense aankondig dat hulle gou gaan piepie nie (en dan ook dat hulle klaar is). Ek is dus ook onseker of hierdie media werklik ’n enorme impak gehad het op LitNet.

Van belang is dat blogs (en daarmee saam Twitter) ’n groter aantal tekste tot gevolg gehad het. Mense kon dus nóg meer hulle eie stempel afdruk as op ruimtes waar ’n redakteur steeds die wag hou, maar dit het ook weer gemaak dat meer mense kon gesels oor goed wat op LitNet gebeur. LitNet, daarenteen, kon weer reageer op dit wat elders gebeur.

Ten spyte van die veranderinge, waar dink jy lê LitNet en sy briewe se krag? Wat maak SêNet anders? Of ís dit nog anders? Neem ook as voorbeeld die kommentare op al die 24.com-werwe – hoe word LitNet onderskei van die res?

Jong, soms wonder ek of SêNet soveel anders is as ander ruimtes.

LitNet se doelwitte is natuurlik makliker om raak te vat. Van die begin af was die droom om kunste in die wydste sin te betrek, en deesdae is LitNet natuurlik ook ’n akademiese ruimte.

Ten spyte van hierdie veranderinge het SêNet steeds ’n lewe van sy eie. Daar word dikwels maar snert gepraat word op SêNet, maar dit gebeur op alle ruimtes waar mense hulle opinies kan lug.

Wat is egter erger as ’n openbare ruimte waar mense hulle name kan krater maak? Eenvoudig: die gebrék aan ’n openbare ruimte waar mense hulle opinies kan uitspreek.

Ek kan kies of ek LitNet se openbare opinies wil lees, al dan nie. Maar ek het ’n keuse. Daar is talle lande in die wêreld waar hierdie keuses nie toegelaat word nie. As ek moet kies tussen mense wat hulle name krater maak en ’n land waar ek nie daardie voorreg het nie, dan kies ek enige tyd die reg om mense te laat dink ek is ’n idioot.

Is SêNet ’n mors van energie? Is SêNet ’n plek waar dieselfde soort mense wat briewe vir Die Burger skryf, aanlynbriewe skryf? Is SêNet iets anders?

Nie alle briewe aan SêNet is iets wat die wêreld ’n beter plek gaan maak nie. Dit is inderdaad so dat sommige mense verskriklik baie tyd het om kommentaar te lewer. En hulle doen dit oral. Ek vrees die kommentaar van mense op Facebook, Media24 en elders is dikwels maar beroerd. Selfs YouTube spring dit nie vry nie Ek dink SêNet is darem nog effens beter, aangesien daar ’n webvoet is wat darem deurwag speel.

Wat dink jy kan by LitNet se briewe verander en vernuwe, of op LitNet as interaktiewe ruimte?

Ek het van die begin af gesê skuilname is die grootste gemors wat ons kan toelaat. As almal gedwing word om onder ’n eie naam te werk en te skryf, dan sal die gesprekgehalte onmiddellik verhoog. Maar nou is dit interessant dat Google+ die model van geen skuilname nie volg, maar Facebook nie. En raai wie wen?

Wie en wat het jy ná LitNet en SêNet geword?

Ek het ’n pa geword. En ek is deesdae ’n konsultant vir ’n aantal uitgewers.

Hieronder is LitNet se oertuisblad. So lyk LitNet in Maart 1999.

 

 

Lees Deborah Steinmair se mymeringe oor haar dae by SêNet.
Melt Myburgh onthou SêNet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top