Mymeringe oor my dae by SêNet

  • 2

Ek was webmeester van SêNet, LitNet se brieweforum. Ek dink dit was van laat 2003 tot einde 2004. Dit was, wat my betref, ryke tye op die werf. ’n Handjievol briefskrywers het my geleer hoe om te skryf, hoe ’n mens jou, op die oog af moeiteloos, duidelik en verbeeldingryk uitdruk. Daar was wonderlike skrywers soos Kleinboer en Katvrou. Ek was ’n streng webmeester, want woorde en kommunikasie is my passie. Ek het by die gesprek betrokke geraak. Ek was nie onpartydig nie. My duidelike gunstelinge was Waldemar die Beskeie en Buiteperd. Was daar al ooit weer twee sulke skrywers op een webwerf? Hul briewe was verbeeldingryk, snaaks, dromerig en het my deur die dae gedra. Ek het aanvanklik gedink dit moet dieselfde persoon wees, maar ek het altwee later ontmoet (Waldemar net oor die telefoon en internet, die Buiteperd in lewende lywe). Waldemar woon nou in die VSA, het ’n vrou en kind en bou ingewikkelde ruimteskepe uit Lego-blokkies. Ons is Facebook-vriende. Buiteperd gee klas by UCT en speel in bands.

Die Buiteperd het my eers sommer net daar op die brieweblad begin sjarmeer en beflankeer. Ons het daarna vir jare lank intense vonkposse verwissel. Omdat hy so ongelooflik mooi skryf, het ek in ’n stadium vermoed dis Etienne van Heerden wat soms aspris spelfoute maak om sy ware identiteit te verdoesel: hy wou nooit instem tot ’n ontmoeting nie, en het dit duidelik gemaak dat ons hartstog net vir papier en skerm bestem was. Tot hy hom een aand by ’n funksie aan my kom voorstel – ’n perd van ’n ander kleur as wat ek vermoed het. Daarna het ons vir twee jaar of so saam deur die strate van die Kaap gegalop, en op afdraaipaadjies en strandbospaadjies, tuinroetes en bergpasse, altyd klandestien, gesteelde ure en dae.

Buiteperd het mettertyd my hele horison gevul met sy swaar stewels, sy kamer vol musiekinstrumente, sy rasperstem, sy rum en sigarette, sy blouselblou oë en onweerstaanbare lag. Tot hy voor ’n keuse gestel is en besluit het sy lewe soos dit was – ’n bestaan vol struktuur en roetine waaruit hy ’n paar maal per week heerlik kan wegbreek – is onontbeerlik vir sy geestelike welstand. En my afgegooi en weggegalop het. Hier is ’n greep uit ’n brief een maal: "Ek het kak vinnig Kaap toe gery met ’n wilde musiek. Die nag was mooi, so mooi. Ek is nou maar eenmaal ’n wilde perd my Liefling – ek sê dit nie om te spog of af te show nie, maar soms voel ek hoe ek uit die kampie breek en eindeloos galop op pad na nêrens. Ek hou van myself as dit gebeur."

Hier is nog ’n uittreksel uit ’n brief: "Ek steel nou maar op hierdie Woensdagoggend, want my eie woorde lê uitgespoel na jare se reise in die wit sand op Calypso se strand. Daar staan hulle in die hoogmiddaguur op en strompel dronk van liefde na die water se soom. Woorde soos droom en loom sak op hulle knieë neer en baai vir naai en poegaai wat baldadig oogknip vir versadig. Stadig glimlag lui en verdwyn om die hoek met ’n goeie bui. ’n Mens mag maar die woord asuur daar misbruik mits jy dit met goudgeel papajasap afsluk. Daar het ek eendag vir vier jaar lank op die strand gesit en wag op die fratsgolf wat my sou meesleur na fosforberge en kastanette. Toe ek wakker word na strome van see, het ek opgekyk in die oë van ’n feë. My hande wat soos bome uit my groei, en hoog in die takke het ek bedwelmd besef, later, heelwat later – het ek regtig vir jou vasgehou. Daar is ander kleure ook wat deur my vingers glip soos jy, die kleur van ’n bos se water, die kleur van lower, van betower. Oewers vol rooi papawers. Die vaagblou van ’n aandwind as die bokkies daaraan begin snuif. In die middel van die nag, die kleur van ’n kreun."

Tyd het die spore in die sand toegewaai, maar een maal het iemand só vir my geskryf: "Hallo my Lief, my Lief hallo. Dis nou middag, dis ’n helder sonskynmiddag in die Kaap. Ek het so pas ’n bordvol spaghetti geeet. Liefling, onthou jy een aand toe ons hand aan hand deur die strate van die Kaap geloop het. Ek het soos ’n hoërskoolseun gevoel op ’n eerste date met die mooiste girl in die skool – skaam, bok en broosverlief."

Buiteperd is ’n swerwer met ’n nine to five job. Hy en my sigeunergeen het dawerend gekonnek. So skryf hy oor onbeplande reise: "As mens al so verbysterend die afdraai van vele hoofpaaie gemis het, en jou dikwels in klein kafeetjies op vreemde dorpies bevind, wyl jy ietsie olierigs bestel en hoop dat Coke die kieme sal doodmaak, dan kyk jy maar op en af in die stofstrate. Loop staan op die hoek met een been opgetrek en steek ’n sigaret aan. Netnou netnou sal ’n hond kom snuffel aan jou stewels. As jy lank genoeg daar staan, net doodstil staan in jou eie skaduwee, sal iemand wel in die agtermiddag om die hoek kom en jou onverwags en uit die blou van die middag soen." 

Ja, die mooiste woorde is nie myne nie. Ons korrespondeer nie meer nie. Die meeste van sy woorde het verlore geraak tussen motherboards wat in duie stort en inboxes wat oorloop en tot niet gaan, hierdie is maar ’n paar snarse wat ek op my rekenaar kon opspoor. Al wat ek oorhet, is ’n geroeste perdeskoen en ’n handvol herinneringe. Dankie SêNet (I think).

Deborah Steinmair

Naskrif: Deborah, ek sien jou naam op die Bookerlanglys ... O nee, verkeerd gekyk. Maar ken jy die ander Deborah?

En hier’s ’n brief om vir jou, Katvrou en die Gemaskerde Sopbeen te laat terugverlang. Groete, Naomi M

Lees wat Izak de Vries van SêNet onthou.
Lees Melt Myburgh se herinneringe aan SêNet.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top