Jodi Jantjies die hakkelaar stel ’n mini-album bekend met ATKV-Crescendo

  • 0

Jodi, ’n eerste album. Vertel ons wat om te verwag en wanneer om dit te verwag?

Regstelling, ek bring ’n EP uit, dit is ’n mini-album. Ek weet almal is geneig om te sê hul werk is iets wat niemand nog ooit gehoor het nie, maar my musiek is definitief anders, dit is glad nie mainstream Afrikaanse musiek nie.

Ek dink dit sal verfrissend wees vir die luisteraar om onder andere so bietjie jazzy blues in Afrikaans te hoor.

Die mini-album is maar my gedagtes en hoe ek nou die lewe ervaar. Ek dink soms skryf ek iets, dan lees ek dit en dink: “Jô, is dit rêrig wat hier binne my kop aangaan?” [Sy lag.]

Ek is so ’n bietjie beside myself as ek skryf.

Julle kan die mini-album vroeg Maart verwag!

Ek ken jou nou al lank, maar vir die lesers wat nie so gelukkig is nie: Wie is Jodi as sy nie op die verhoog staan nie?

Hierdie vraag maak my altyd beangs, ek weet nooit hoe om dit te antwoord nie!

Jodi is maar ’n baie, baie skaam meisiekind wat totally socially awkward is. Sy is ’n homebody.

Ek het ’n bietjie ’n omwenteling ondergaan, dink ek. Voorheen sou ek heeltemal mense soos die pes vermy, maar ... Ek voel hoe meer ek gesels, ander se teenwoordigheid omarm, en natuurlik waardeer...

Izak, ek sukkel altyd vreeslik baie met hierdie vraag!

Wanneer het jy begin sing en hoekom?

Ek sing al my hele lewe lank. So ver as wat ek kan terug onthou, staan ek en my tweelingsuster al saam-saam op die kerkbanke en sing. Of by partytjies! Sing-sing, met ons haasbekkies en deurmekaar hare!

Ek het nogal ’n sangloopbaan oorweeg daardie tyd toe ek vir Crescendo ’n oudisie gedoen het.

Ek het die poster op my skool se bulletinbord gesien, en ek weet nie, maar die aantrekkingskrag van daai poster was magies.

My ouer broer, Adrian, sing ook. Hy doen toere in Spanje. Ek het dalk daar aangesteek!

Ek en my sussie sing en speel albei instrumente in die kerk, so die liefde vir musiek het beslis in die kerk ontstaan.

“Die woorde oor my lippe kom sukkel-sukkel deur ...” Dit is ’n aanhaling uit ’n lied wat jy self geskryf het. Vertel?

Daai eenvoudige lyntjie som my hele lewe op.

Ek is swaar van spraak, ek hakkel al my hele lewe lank.

Mens besef nie die voordeel van vlot spraak nie. Dis ’n voorreg.

Ek het die lied self in minder as ’n uur geskryf, want die woorde het, ironies genoeg, so maklik na my toe gekom.

Die lied is oor my reis as ’n hakkelaar.

Dis nie noodwendig hoe ek dit oorkom het nie, want ek sukkel tot vandag toe om vlot te praat, maar hierdie lied wat ek al vier jaar lank sing, gee my moed om genuinely myself te wees, hakkel en al.

En ek hoop vanuit die dieptes van my hart dat die song ander mense ook sal raak. Jy hoef nie te hakkel om te verstaan hoe dit is om met iets te sukkel waaroor jy geen beheer het nie.

Ek wil jou terugneem na Maart 2016. Daar was ’n skoolsaal in Mitchells Plain en ’n baie, baie bang skoolmeisie het op die verhoog geklim ... Sy’t vreeslik gesukkel om te praat, maar toe sy begin sing ... Hoendervel. Die ATKV se hoofkantoor het daardie aand al die boodskap gekry dat ’n ster gevind is. Vertel vir ons hoe jy daardie eerste oudisie met ATKV-Crescendo ervaar het?

Daardie ervaring is iets wat ek nie sommer maklik sal vergeet nie.

Ek onthou Morne van Staden, ATKV-Crescendo se projekbestuurder, was by die deur en het die deelnemers ingelei. Ek onthou nog so vaagweg hoe ek vir Morne fluister: “Kan meneer asseblief die beoordelaars laat weet dat ek swaar van spraak is?”

Dit was ’n ou gewoonte van my om altyd die onnies, en ander mense, in te lig dat ek sukkel, juis sodat daar niks surprises is nie, dat almal verstaan.

En ek sing toe hierdie lied wat ek gou geskryf het agter in my Afrikaanse klas. Toegegee, ek het nog nooit in my lewe ’n lied geskryf nie, so dit was maar rof!

My lewe was nooit weer dieselfde nie. Daai dag was, for real, een van die dae wat my lewe op koers gesit het. Na hierdie oomblik toe.

Jou eerste groot verhoogoptrede saam met ATKV-Crescendo was in so ’n onskuldige wit rokkie. Nou, op die vooraand van jou eerste mini-album, is jy ’n (baie mooi) jong vrou ... En tog – iets in die jonger Jodi het vasgesteek: Jy is presies wie jy is. Daar skuil nog iets van die onskuld. Ek weet nie eens of jy kan stout spel nie. Hoe het die jare met ATKV-Crescendo jou verander, of nie?

[Sy lag.]

Ja, daar is beslis ’n verandering. Ek dink voor Crescendo was ek totaal en al in my eie wêreld. Ek was maar net teruggetrokke en skaam. Bang vir die wêreld. Ek was vyftien.

Heel eerste formele optrede, 10 Desember 2016

Crescendo het my aan die hand gevat en my toegelaat om myself te ervaar. Ek het myself gevind en so ook my selfvertroue voor ’n gehoor. Ja, vreemd genoeg, voor ’n gehoor vol ménse.

Ek het in ’n stadium gedink ek sou nooit so ’n groot stap kon neem om voor mense te wees nie. Dit sou nie gebeur het sonder Crescendo se mentorskap nie.

Vandag sing ek nie net nie, maar ek praat ook graag met my gehoor. This journey is my becoming.

Mens hoor so baie van die gruwels wat in die musiekbedryf aangaan, maar ek dink Crescendo doen goeie werk om deelnemers toe te laat om hulself te wees. Ons conform nie om die bedryf te akkommodeer nie, die bedryf moet mý akkommodeer. En ek dink daai ding is ... powerful.

So, ja. Ek dink daai klein bietjie onskuld van daardie vyftienjarige Jodi is nog iewers hier binne my, maar dis omdat Crescendo my toelaat om dit te behou.

Goed, Maart 2016 tot Maart 2021. Vyf jaar saam met ATKV-Crescendo. Optredes, vertonings, video’s ... maar ook werk met mense soos Die Hooflig, HemelBesem, YOMA, Anna Davel, Danie du Toit, Deon Meiring, Hennie van Greunen, Pedro Kruger, Mynie Grové ... en nog. Jou musikale pad het saam met groot name geloop. Wat het die noue kontak met sulke mense vir jou beteken?

Dit help baie dat al hierdie mense, met hul groot status en groot name, dat hulle so down to earth is soos die grond onder my voete.

Ek sê altyd ek is so bevoorreg om die wysheid te ervaar van dié ongelooflike kunstenaars. Ek het, danksy hulle, ’n uitstekende ervaring van die bedryf.

My ervaring is soveel ryker, danksy mense soos Mynie Grové, wat ’n flippen legende is, wat vir my, ’n klein bruin meisie van Mitchells Plain, moed inpraat en my aanmoedig.

Ek is forever grateful vir die forever relationships en forever teachings wat by my sal bly.

Die Hooflig

Kontak met Die Hooflig, of dan Robin Fourie, is veral ’n sonderlinge ervaring. Robin en ek hakkel albei, so ons verhouding is baie spesiaal omdat daar ’n onderliggende verstandhouding is tussen ons twee. Ons albei weet wat dit is om met letsels te loop wat kom hakkel, maar ons weet ook hoe bevrydend dit is om onsself te kan uitdruk deur middel van ons kuns.

Robin is soveel ouer as wat ek is, en daai jare se ervaring en wysheid gee hy vir my op ’n silwer skinkbord, sodat ek maklik deur die lewe kan gaan, ten spyte van die hakkel wat die vermoë het om só seer te maak.

Die een voordeel van ATKV-Crescendo is dat daar ’n groep musikante is wat baie gereeld saamwerk. William Jacobs op klawers, Isaac Jones op tromme en Prayburn Links op die bas was reeds daar met jou eerste groot optrede. Melvin Williams, wat nou die vervaardiger van jou EP is, speel al jare die hoofkitaar vir jou wanneer jy optree. Eddie, altyd agter in die saal, uit die kollig uit, meng al jou stem van toentertyd af. Wat beteken hulle vir jou?

Hulle is my staatmakers! Ons het almal letterlik saam gegroei deur die jare. Die guys is my family, my broers wat my siel uittrek en altyd seker maak ek het kos in my liggaam. Ek lag altyd dat die trane loop wanneer hulle in die omtes is – ek is so lief vir hulle almal.

Ek onthou ’n hele paar jare terug, by ’n kuier na ’n show, sit ons almal so gesellig om ’n tafel en lag. En ek sê vir Isaac: “Eendag gaan julle my eerste liedjie saam my opneem …”

Kyk waar is ons vandag.

Dit help baie dat ons almal dieselfde agtergrond het. Ons almal se liefde vir musiek het in die kerk ontstaan. Dit is ’n groot voordeel, want hulle verstaan my en hoe ek dinge gedoen wil hê.

William Jacobs (bo links) Isaac Jones (bo regs), Melvin Williams (onder links) en Prayburn Links (onder regs) oefen voor 'n groot optrede.

Ons gebruik die hele tyd die naam ATKV. Morne van Staden is ’n yster agter die skerms, maar teen hierdie tyd is Gerrie Lemmer, die uitvoerende hoof: kultuur, en Sonel Brits, die besturende direkteur, nie onbekendes aan jou nie. Hulle gee om vir jou. Hoe voel jy oor die werk wat die ATKV in Suid-Afrika doen?

Ek sê altyd die werk wat die ATKV doen, is revolusionêr. Die ATKV bemagtig baie projekte wat kultureel só belangrik is vir die land.

Ons doen al nou ’n paar jaar die Vir die liefde van-show, waarvan die Rieldansers ook deel is. Dit was vir my ’n opvoeding om so ’n ryk kultuur te ervaar; en nog beter: om hulle te sien op platforms soos die Suidoosterfees.

Ek is so trots om deel te wees van die ATKV, hulle bemagtig my om ’n verskil te maak in ander se lewens.

Met Marlene le Roux, voorsitter van die ATKV-direksie

Ek wil gou terugkeer na jou EP. Jy het om baie goeie redes gekies om Anneli van Rooyen se “Ek glo” ook op te neem. Vertel ons meer?

Ek wou baie graag hulde bring aan die vorige Crescendo-wenners. Selfs ek het nie besef Crescendo was so ’n groot deel van die Afrikaanse musiekbedryf destyds nie.

Ek het dit net goedgedink om ’n legende soos Anneli van Rooyen te vereer. Die song “Ek glo” is ook so legendaries – ek het maar net my eie spin daarop gesit.

Ek hoop Anneli hoor dit iewers en dat sy dit sal love! Of al is dit net my dapper-genoeg-wees om so legendariese song te cover wat sy sal love! [Sy lag.]

Jou geloof is vir jou belangrik, nie waar nie?

Ja, dis my fondasie … die godheid.

My ouers is pastore en ek weet daar is die stigma rondom pks (pastors’ kids) – dat ons deurmekaar kinders is. [Lag.] Maar ek dink dis so ’n voorreg om my ouers as my geestelike leiers te hê.

Omdat die fondasie vir my gelê is, kan ek dan op my eie twee voete staan as ’n Christen. Ek kan met al die lesse en waardes wat my ouers my geleer het, die lewe invaar.

My EP is basies net ’n gesprek met God, en ek dink baie mense sal kan relate …

Soms voel ’n mens so verlore en dat God nêrens is nie. En dis eg, dit gebeur. Dis goed wat mense voel en dis oukei.

Die godheid is nie maklik nie en die EP praat daaroor: die donker plekke, die vrae aan God.

Dit gaan oor daai periode in jou lewe waar als net bevraagteken word. En ek vra daai vrae.

As jy een ding anders kon doen die afgelope vyf jaar, wat sou dit wees?

Wow, wat ’n vraag. Ek dink nie ek sal enige iets wil verander nie. Ek bedoel ja, daar hét slegte goed ook gebeur, maar al daardie goeie en slegte gebeure het gemaak dat ek die Jodi is wat ek vandag is.

So, ja, absoluut niks wil ek verander of anders doen nie.

Ek is nou nog nie heeltemal waar ek wil wees nie, maar ek is sterk op pad en elke ding wat gebeur, maak my as mens net sterker. Dit bou karakter. Alles is ter voorbereiding vir die volgende hoofstuk in my lewe.

Sê nou ’n bang sestienjarige skoolkind lees hierdie artikel. Watter raad het jy vir daardie persoon?

Ek wil veral vir ’n bang sestienjarige wat hakkel iets sê ... My advies is: Omarm al die ongemaklike goed. Comfort zones is gemaklik, maar dit voorsien glad nie vir enige groei nie.

Dis belangrik om eers jouself lief te hê, met jou hele hart, sodat jy ander se liefde met jou hele hart kan aanvaar.

Jy kan enige iets doen wat jy goeddink, die lewe is te kort om weg te kruip. Jy is soveel meer as daardie “gebrek”. Wanneer jy praat, forseer jy almal om jou om na jou te luister en daai ding is kragtig.

Jy is pragtig.

***

Jodi se mini-album sal waarskynlik van die middel van Maart 2021 beskikbaar wees.

Sy het op 26 Februarie die finale opnames voor ’n klein, uitgesoekte gehoor gemaak.

Op 28 Februarie is daar ’n musiekvideo vir haar geskiet.

LitNet is genooi om beide geleenthede by te woon. Foto’s en addisionele beriggewing sal volg.

Fotografie: Izak de Vries

Lees ook:

ATKV-Crescendo: Grensloos bekendgestel

ATKV-Crescendo: vanjaar se finale ronde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top