Samsa-masjien as hibriede film. ’n Resensie

  • 0

Die KKNK en hulle borge is besig om die inperking sagter te maak met interessante aanbiedinge. As ons nie na die fees toe kan gaan nie, bring hulle die fees na jou voorkamer. Hulle doen dit  deur ’n aantal klassieke toneelstukke te verfilm sodat dit oor die internet gekyk kan word.

Ek het nou reeds die voorreg gehad om twee van hulle stukke in my eie voorkamer te sien.

Rachel Greeff se Die naaimasjien is eerste vrygestel.

Samsa-masjien, deur Willem Anker, is verlede week vrygestel.

Die akteurs wat in die verhoogstuk gespeel het, is ook in die filmweergawe te sien. Gerben Kamper is Gregor Samsa; Antoinette Kellermann is sy vrou; Ilana Cilliers is die dogter; en Ludwig Binge is die seun.

Regie en ontwerp van die toneelstuk en die filmweergawe is deur Jaco Bouwer. Hy het beide ook vervaardig.

Die musiek is deur Pierre-Henri Wicomb gekomponeer en Wolf Britz het die beligting ontwerp.

Samsa-masjien is ’n vreemde stuk wat om twee hooftemas sentreer: ’n pa wat sy filters verloor en kinderlik sosiale taboes begin omarm, en ’n dogter wat, as advertensieskrywer, aan die samelewing filters voorhou en hulle vertel wat taboe is en wat nie.

Haar werk is voorskriftelik; haar pa, daarenteen, is besig om al die voorskrifte op hulle kop te draai.

Soos die stuk vorder, besef die kyker dat dit juis haar pa was wat al die jare voorskriftelik geleef het en so sy dogter gevorm het om te wees soos sy nou is.

Samsa-masjien het ontsettend veel pryse verower, waaronder die ATKV-Woordveertjie vir beste dramateks in 2012, maar daar was baie meer – lees gerus die persverklaring.

Dit is ’n ongelooflik interessante stuk, maar omdat dit op soveel vlakke tot ’n mens spreek, sou ek hierdie videogesprek tussen Anker, Bouwer en Wicomb aanbeveel. Kyk dit gerus, selfs vóór jy die stuk sien. Naomi Bruwer het dit vir LitNet opgeneem toe die toneelstuk in boekvorm by Protea Boekhuis verskyn het.

Ek is bly ek het die video gekyk ná ek die stuk gesien het, maar dit sal nie jou ervaring van Samsa-masjien versuur as jy eers die video kyk nie.

Om R150 vir Samsa-masjien te betaal is die moeite werd.

Hierdie resensie gaan glad nie oor die gehalte van die stuk nie (die pryse speek vanself), maar wel oor die manier waarop dit as toneelstuk verfilm is, want selfs diegene wat die verhoogstuk reeds gesien het, mag dit baie interessant vind om nou weer die verfilmde weergawe te sien.

Die toneelstuk vs die filmstel

Ek het onlangs berig oor Die naaimasjien wat deur die KKNK op film vasgelê is. Wat my opgeval het, is dat die kamerawerk jou veel nader aan die aksie bring, maar nooit ontken dat die kyker na ’n teaterstuk kyk nie.

Regdeur die verfilmde weergawe van Die naaimasjien is verskillende kameras gebruik. Soms het ’n lang lens gesorg vir ’n naby-opname van Sandra Prinsloo se gesig; ander kere is lense met wyer hoeke gebruik om ’n geheelbeeld van die verhoog te gee.

Nooit is daar gepoog om die stuk as film aan te bied nie – as kyker het jy geweet jy sien ’n toneelstuk op die skerm. Dit is besonder knap gedoen.

In Samsa-masjien word die grens tussen toneelstuk, film en video-installasie egter bewustelik oorgesteek.

In die teater is Samsa-masjien vir ’n groot verhoog gemaak en dit speel oor twee vlakke af, met drie verhoogruimtes wat benut word.

Beligting en klank lei die kyker na die aksie, en dan moet die kyker ook self besluit waar om te konsentreer wanneer daar in meer as een ruimte aksie plaasvind.

Hierdie foto op Bouwer se tuisblad toon die stel wat hy vir die vertoning in die Baxter gebou het. Dit is ook op hierdie stel waar die filmweergawe geskiet is.

In die teater het die kyker te alle tye ’n wye blik. Ons sien wat hierdie foto wys. Ons oë neem alles gelyk in; dit ons breine wat maak dat ons op een plek kan fokus, al gebeur daar verskillende goed gelyk.

Met die filmproduksie word die kyker se ervaring egter versigtig gekureer. Die regisseur besluit wanneer ons wat gaan sien, selfs ook wanneer ons wat gaan hoor.

Jaco Bouwer as filmregisseur

Bouwer het in 2015 ’n film in die Baxter geskiet, maar ek was nie seker of dit die film is wat die KKNK nou beskikbaargestel het nie.

Ek het dus Saterdag navraag gedoen en Hugo Theart, die KKNK se artistieke direkteur, het self geantwoord. Hy het bevestig dat dit wel die 2015-film is en droog bygevoeg: “Dis alles Jaco Bouwer. Hy het die regie, kamerawerk en redigering self gedoen.”

Dit is interessant, want in die videogesprek wat Naomi Bruwer opgeneem het, praat Bouwer van drie weergawes van die drama: die verhoogstuk, die boek en die klankbaan. Hy noem die film, maar nie as ’n vierde weergawe nie.

Ook die baie kort, verfilmde voorskou van die toneelstuk wat op sy webwerf is, bemark die toneelstuk, nie die film nie (dit kom uit 2015). 

Tog, sy film is ’n nuwe kunswerk; dit is nie bloot ’n verfilmde weergawe van die toneelstuk nie.

Lenstegnieke wat ingespan is

Anders as Die naaimasjien, wat baie goed verfilm is, en baie opsetlik as verhoogstuk verfilm is, wil ek die filmweergawe Samsa-masjien ’n hibriede film noem, nie bloot ’n verfilmde verhoogstuk nie.

Die film begin met skote wat jou laat sien jy kyk na ’n verhoog. Dit is ’n skitterwit stel teen ’n swart agtergrond. Daar is geen poging aangewend om die stel “in te kleur” as filmstel nie.

In Die naaimasjien is van langer lense gebruik gemaak om die kyker nader aan Prinsloo te bring; wyehoeklense is gebruik om die stel meer volledig te wys.

Om dit baie prakties te maak: Wie ook al die kameras hanteer het tydens die verfilming van Die naaismasjien, was skynbaar nooit op die verhoog nie. Hulle het geskiet van waar die gehoor sou gesit het.

Met Samsa-masjien “oortree” die kameraoperateurs: Hulle betree die verhoog en hou soms die kamera baie na aan die akteurs.

Dit skep ‘n baie intieme kyk na die karakter.

Deur ’n wyehoeklens in iemand se gesig te druk, kry die kyker ’n vreemde hoek, ook distorsie. Die blik is direk en onverbiddelik. In Engels sou ’n mens kon sê: To the viewer it is in your face, because the camera is so close to the actor’s face.

’n Nabyskoot met ’n lang lens voel nie intiem nie. ’n Nabyskoot met ’n baie wye lens voel intiem – dit voel “in your face”.

Om dit te demonstreer, het ek drie selfies geneem. Die eerste twee is met ’n driepoot en afstandbeheer gedoen, die derde met ’n webkamera. (Jammer, ek wou mooier modelle gebruik, maar dit is grendeltyd.)

Dit is met ’n lang lens geneem. Daar is geen distorsie nie.

Dis met ’n wyehoeklens geneem. Ek het baie na aan die kamera gestaan.

... en dié een met ’n goggalens. Dié tegniek word by tye op Gregor Samsa ingespan.

Aangesien Bouwer die kameraskote, -lense en -hoeke gekies het, skep hy nou self ’n nuwe weergawe van toneelstuk.

Hibriede film neem teatermatigheid nie weg nie

Die film van Samsa-masjien laat jou nooit vergeet dat jy na ’n toneelstuk kyk nie.

Wanneer ’n deur oopgemaak word, is dit akteurs wat die gebaar uitvoer. Daar is nie ’n deur nie.

Wanneer ’n venster oop- of toegemaak word, is dit die gebaar, maar ook die insekklanke van buite wat harder en sagter word wat dit suggereer. Nooit vergeet die filmmakers om die toneelstuk se slim tegnieke aan die gehoor wat by die huis kyk, te bring nie.

By die geleentheid waar ’n ruit gebreek word, is die kamera ver genoeg om die aksie te laat sien: Die vuis deur die leë gat, die slim gebruik van klank én die intelligente gebruik van kunsmatige bloed help die tuiskyker om die toneel te ervaar soos dit op die verhoog sou wees, maar van naderby.

Terloops, die insekte wat in die hoofkarakter se kop krioel, word ook slegs met klank uitgebeeld, nie visueel nie.

Tog speel die filmmakers met die tuiskyker, want hulle betree die verhoog. Ons sien van die begin af gereeld die angs van die ouer Gregor Samsa van digby. Daar is selfs skote wat dit laat lyk asof ons, die kykers, hom deur die oog van ’n insek sien.

Die bad- en sekstonele is slim verfilm, dikwels met vreemde hoeke.

In die derde, en mees intense, bedryf word die kameras al hoe nader aan die akteurs en die draadwerk van die geraasmasjien gebring – die kyker word byna kloustrofobiese.

Onder in die kelder, waar die geraasmasjien gebou word en passievolle seks tussen die twee ouer karakters plaasvind, word die beeld vaag en deurmekaar. Die draadwerk van die klankmasjien begin soos ’n video-installasie voel.

Ek moet erken dat ek in die reël nie van video-installasies hou nie, want hulle is in my verwarde kop bitter selde interessant. In dié geval werk dit juis. Die geraas uit die masjien en die geraas in Samsa se kop word uiteindelik ook visuele geraas. Slim.

Tydens die laaste oomblikke van die epiloog word skielik teruggezoem. Die einde laat die kyker weer met ’n bewuste blik van ’n karakter op ’n verhoog.

Twee mediums ontmoet mekaar

Die verfilmde weergawe van Samsa-masjien word nooit volledig film nie, want dit behou die toneelmatigheid van die oorspronklike verhoogwerk.

Die feit dat die kamera-operateurs egter die verhoog betree én dat die regisseur nou namens die kyker besluit wat wanneer gesien mag word, ook deur watter lens, skep egter ’n nuwe weergawe van die werk.

Dit was baie goed om dit in hierdie formaat te beleef.

Kaartjies kan by Quicket gekoop word.

Lees ook:

Persverklaring: Multi-bekroonde Samsa-masjien op film verewig

Die KKNK pronk op die silwerdoek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top