Izak de Vries se ses bestes

  • 0

Hierdie week kies Izak de Vries sy gunsteling-kuierplekke op die wêreldwye Web.

1. Mail & Guardian online

Ek besoek die Mail & Guardian baie gereeld. Hulle nuusdekking is meestal gebalanseerd en hulle prop nie die webwerf vol onnodige woorde en goedkoop sensasie nie. Verder is daar heelwat skakels na boeke, kuns en fotografie op hulle ruimte.

2. Litnet.co.za

As jy lief is vir literatuur, moet hierdie een op jou lysie wees. Ek is boonop trots daarop dat LitNet meer as ’n dekade gelede eens op ’n tyd begin gebeur het vanaf ’n baie ou rekenaar in my studeerkamer. En kyk waar trek julle nou!

3. Books LIVE

BooksLive se personeel het ’n ongelooflike passie vir boeke. En hulle het ’n verbysterende manier om nuus oor boeke oop te krap.

4. The-Digital-Picture.com

Bryan Carnathan, die eienaar van hierdie ruimte, is ’n interessante man. Hy is diep gelowig en hy glo dis ’n Christen se plig om ander te help. Tog loop hy nie te koop met sy geloof nie. Die ruimte is ’n ryk bron van tegniese inligting oor fotografie en fotografiese toerusting. Glo dit as julle wil. Hy is nie ’n professionele fotograaf nie, hy is ’n rekenaarboffin van beroep.

5. Stern.de

Stern se fotoblad is altyd propvol inligting oor van die beste foto-uitstallings ter wêreld. Meestal is die foto’s puik, en van die wêreld se beste fotograwe word hier uitgestal. (Terloops, soms is die foto’s nie wat hulle moet wees nie: daar is tans ’n uitstalling deur Christoph Martin Schmid getiteld Scream. Dit handel oor die Amerikaanse droom – maar al die foto’s is in Kaapstad geskiet, toe omgedraai om stuurwiele aan die linkerkant te kry. Duh! Kyk bietjie hoe lyk Tafelbaai as ’n spieëlbeeld.)

6. Fine Music Radio

Nie soseer die hondjie nie, maar die halsbandjie. Hulle saai 24 uur per dag oor die internet uit en hulle musiek (klassiek en jazz) is puik. Die aanbieders is amateurs, en dit hoor ’n mens, maar sonder hulle musiek sou ek nie die stres van my dagtaak kon hanteer nie. Bowendien saai hulle puik boekresensies ook uit.

 

Izak de Vries is ’n boekliefhebber, pa en amateurfotograaf. Hy is ’n uitgewer van beroep. Verskeie van sy kortverhale is al gepubliseer.

"My lewe bestaan maar uit boeke, en my (taamlik ernstige) stokperdjie is fotografie. Dié goed reflekteer ook maar in my keuse van webwerwe."

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top