ATKV Handevat-Projek: Laat die kindertjies speel

  • 0

Kinders moet speel en hulle moet aangemoedig word om te fantaseer. Dit was die boodskap wat op 20 Januarie by die Tshiamo Primary School in Vergenoeg, net buite Kimberley, uitgedra is.

Meer as een spreker het ook gesê dat ons fokus in die Suid-Afrikaanse onderwys verkeerd is. Almal gaan vreeslik te kere oor die matriekslaagsyfer, maar te min mense begin onder en berei die weg voor vir goeie resultate in die toekoms.

Op Vrydag 20 Junie 2015 het die ATKV die wenners van die 2014 Handevat-Projek aangekondig.

Die National Institute for Higher Education (NIHE) en Tshiamo Primary School was die wenners. NIHE, wat van die begin van hierdie jaar af by die Sol Plaatje Universiteit ingelyf is, het Tshiamo ontwikkel tot ’n model waarby alle skole in die omgewing kan kom leer. Tshiamo, ’n arm townshipskool, spog nou met geriewe wat gewoonlik net in duur privaatskole of in die heel beste model C-skole te siene is.

Bommie du Plessis, van die Sol Plaatje Universiteit, het verduidelik dat ’n ruimte waarin kinders kan speel, belangrik is, want dit is waar kinders ook veilig sal voel. “Kinders wat gelukkig is, neem deel,” het sy gesê.

Aan die studente wat so hard gewerk het om die wenpoging te bewerkstellig, het sy gesê: “Gaan verder. Droom. Julle het gesien wat julle hier kan vermag. Julle het ook vaardighede geleer.”

Die vaardighede wat haar studente geleer het, sluit projekbestuur en fondsinsameling in. Dit is nie deel van die kurrikulum nie, maar dit is ondervinding wat niemand van die jongmense kan wegvat nie.

Suzette Cronjé, wat die projekleier by NIHE was, het ’n boks met twee prentjies daarop gebring, want, sê sy, selfs al is daar nie elektroniese hulpmiddele in die tent waar die oorhandiging plaasgevind het nie, sal almal, veral die volwassenes, beter verstaan as daar wel ’n hulpmiddel is om die boodskap oor te dra.

Haar boodskap was baie reguit. Suid-Afrika se onderwysstelsel is soos ’n huis waarvan die fondamente besig is om mee te gee, en daarom is die huis in groot gevaar. Die probleem is, volgens Cronjé, dat almal op die hoërskool konsentreer en heeltemal te min mense aandag aan die grondslagfase gee, selfs in die laerskool. Dit is soos om kinders teen ’n leer te laat opklim waarvan al die onderste sporte gebreek is. Ons gaan nie goeie uitkomste in graad 12 kry as ons nie die grondslagfase regmaak nie.

Sy het egter gesê Tshiamo Primary School is nou ’n modelskool wat vir ander kan wys hoe om met die grondslagfase te werk. Met ’n skool soos hierdie is die onderwys se toekoms goed, want hierdie huis word op stewige fondamente gebou.

Ons móét voor begin, pleit sy. Ons móét leerders se perseptuele vaardighede verbeter. Hoe? Deur met klei of deeg te speel; dit leer die kleintjie fynmotoriese vaardighede aan, wat jou weer help om jou potlood reg vas te hou.

Hoeveel tersiêre studente kan vir tien sekondes of meer op een been staan? Bitter min, is haar bevinding. Dít moet reeds in graad R vasgelê word, want só ontwikkel ruimtelike kennis. Ons doen dit nie, daarom kraak ons onderwyshuis.

Maar werk dit? Selfs die skeptici se monde is gesnoer toe die skoolhoof van Tshiamo, Fabian Makhosane, statistiek begin opnoem het. NIHE is reeds vir twee jaar besig om die onderwysers by Tshiamo op te lei. Tydens die jaarlikse landswye assesserings (ANA’s), het die skool se punte beduidend verbeter. Sý lyk die graad 3’s se gemiddelde punte die afgelope drie jaar:

2012: Taal, 20%; Wiskunde 21%
2013: Taal 28,7%; Wiskunde 39,5%
2014: Taal 85,9%; Wiskunde 79,3%.

Die punte van 2014 is uitstekend, gemeet aan enige standaard, maar dit is nie die beste nuus nie. Hoewel NIHE op die grondslagfase gekonsentreer het, was die verbetering in die ander grade ook merkwaardig, want die idees het van onder af deurgesyfer na die ander grade. Kyk net die verbetering in die graad 6-punte:

2012: Taal, 37%; Wiskunde 29%
2013: Taal 50,9%; Wiskunde 40,7%
2014: Taal 100%; Wiskunde 66,7%.

Meneer Makhosane is, met reg, baie trots op sy skool en hy het dit duidelik gemaak dat húlle nou gaan uitreik na ander skole in die omgewing, sodat dáárdie skole ook opgelei en gehelp kan word om te verbeter.

Die studente van NIHE het die projek in verskillende kompartemente verdeel en by die prysuitdeling was daar vier van hulle wat elkeen leiding geneem het en oor sekere aspekte gesels het.

Nizreen Bruce was vol lof vir Fabian Makhosane en sy personeel. Sy sê almal was betrokke: die hoof, die departementshoofde, die onderwysers én die leerders. NIHE se span het dikwels oor naweke en op vakansiedae ingekom om nie die leerders te pla nie, en nooit is daar gemor as hulle gevra het om die skool oop te sluit nie.

Shazia Alexander het vertel hoe die NIHE-studente matte en kussings in die klaskamers geplaas het, leeshoekies begin het en plakkate en boeke aan die skool geskenk het.

Daar is ook boublokke en kleiner blokkies voorsien vir die leerders om strukture mee te kan bou. Dit help, speel-speel, vir leerders om later wiskundige konsepte te verstaan.

Klei en deeg is voorsien sodat die leerders daarmee kan speel en resepte is uitgedeel sodat die skool later nog kan maak.

Florence Mzwakali staan nou bekend as die “fairy godmother of the fantasy group”, want fantasiespel is geweldig belangrik en sy het dit met ’n passie aan die onderwysers “verkoop”.

Fantasie help kinders met hulle ontwikkeling. Dit help hulle met taal. Fantasiespel is ook terapeuties. Die leerders kan tydelik ontsnap uit ’n wêreld wat nie volmaak is nie en in hulle eie wêreld wees waar hulle in beheer is.

Rolspel is ewe belangrik en kan boonop gebruik word om leerders se taal- en sosiale vaardighede te assesseer, maar kinders moet ook toegelaat word om die gewone in iets anders om te skakel: die stetoskoop in die doktershoekie kan byvoorbeeld baie maklik die pyp vir ’n petrolpomp word waarmee motors volgemaak word; kinders wat dít kan insien, het ‘n voorsprong op hulle maats.

Mzwakali se groot pleidooi vir die onderwysers van die jonger kinders is: leer kom nie bloot deur formele onderrig nie; kinders moet ook toegelaat word om te leer deur baie pret te hê.

Daar is ook heelwat musiekinstrumente aan Tshiamo Primary School verskaf, want dit is deel van die fantasiespel. Al kan ‘n leerder nie formeel musiek maak nie, is dit nog ’n belangrike manier om selfwaarde te bevorder. Wat meer is, die “piek” van ’n kitaar is ook ’n baie goeie voorbeeld van hoe fynspierbeheer geoefen kan word. Party van die instrumente is aangekoop, maar talle is deur die studente van NIHE self gemaak.

Mandy Dixon was in beheer van die buitespeelplekke wat ook drasties opgeknap is en beveilig is. Die NIHE-studente het heelwat van die materiaal, soos die springsakke, self gemaak. Hulle het ook ’n sandput en ’n hopscotch-baan gebou. Laasgenoemde leer die jong kinders eenbeentjiespring, maar dit is ook ’n manier om intuïtief wiskunde aan te leer.

Ook die klaskamerassistente, soos Ronelle Babi en Patricia Morokanyane, het opleiding ontvang. Die studente het ook die onderwysers en hulle assistente opgelei om seker te maak hulle verstaan alles wat verskaf is. “Dit help nie ons kom gooi net ’n klomp goed neer en dan hardloop ons weg nie.”

Die beoordelaars het dit duidelik gemaak dat hulle albei diep geraak is deur elke liewe projek wat hulle besoek het. “Dit is hoe die ware stand van ons nasie is,” het Charles Viljoen gesê: “mense wat hande vat en ’n verskil maak.”

Elke projek wat hulle besoek het, was die begin van ’n nuwe samelewing in daardie gemeenskap. Die onderwysers het daar die leiding geneem om te wys wat kán gebeur. Die samebindende faktor van al hierdie projekte was dat leerders wat voorheen ledig was, die geleentheid gekry het om ledige ure in leertyd om te skakel – al is dit dan deur te speel, soos die geval was by Tshiamo.

Oor Tshiamo het die beoordelaars gesê dat hierdie townshipskool nou toerusting het wat gelyk is aan, of beter is as, dié by die meeste privaatskole en model C-skole.

Viljoen sê voorts dié projek se bemarkbaarheid is besonder hoog. Die projek kan letterlik van die konseptualiseringsfase af tot die finale verslag aangebied word vir ander voornemende skole en instansies wat aan Handevat wil deelneem.

Nico Smith, die ander beoordelaar, sê oor die wenvennootskap tussen NIHE en Tshiamo Primary School dat dit ’n “briljante projek” is. Hy wys daarop dat nie net Tshiamo sal bevoordeel nie, maar ook “die breë omringende onderwysgemeenskap van Kimberley en Mankurwane”.

Smith sê dit was ook ’n “uitstekende keuse” om die grondslagfase te teiken, omdat die gehalte van die leergebeure en ervaring in hierdie fase die verdere skolastiese onderrig van die leerders dramaties beïnvloed.

Die geesdrif en positiwiteit van die skoolhoof, Fabian Makhosane, het ook lof gekry. “Die voorstel dat soortgelyke projekte in die toekoms na ander skole in die omgewing uitgerol moet word, het trouens van hom gekom,” sê Smith. “Hier is ’n wonderlike voorbeeld van ’n skool wat bemagtig is om as voorbeeld en mentor vir ander soortgelyke projekte in die gemeenskap te kan optree.”

Smith sou graag wou dat dié projek in die breër onderwysstelsel gevestig en uitgebou word. “Dit is kardinaal belangrik om hierdie inisiatief op alle vlakke aan die onderwysowerhede te ‘verkoop’ en streekvergaderings is moontlik ’n goeie vertrekpunt.”

Gerrie Lemmer, hoofbestuurder: ATKV-Kultuurprojekte, het daarna die sertifikate aan die wenners oorhandig. Lemmer sê hy sien Handevat as meer as net ’n belegging in onderwys; dit gaan oor die ontwikkeling van leiers wat vooruitgang kan bevorder. Hier oorhandig hy die sertifikaat aan Vredendal Sekondêre Skool vir die projek wat hulle saam met Vergenoeg Primêre Skool geloods het. Dié projek het die derde plek verower.

Vredendal Sekondêre Skool het gehelp om ’n ondersteuningsbiblioteek by Vergenoeg Primêre Skool te vestig. Die biblioteek is hoofsaaklik vir leerders met fetale alkoholsindroom (FAS), maar ook vir ander leerders wat sukkel. Hier ontvang Vergenoeg hulle sertifikaat. Die projek se fokus is om die kognitiewe vaardighede, konsentrasie- en geheuevermoëns van hierdie kinders te ontwikkel. Hier ontvang Vergenoeg Primêre Skool hulle sertifikaat.

Die naaswenners was Ripple Reading, ’n opvoedkundige welsynsorganisasie van Muldersdrift wat ’n leessentrum by Nooitgedacht Primêre Skool gestig het. Die sentrum word gefasiliteer deur Ripple Reading se personeel en vrywilligers vanuit die gemeenskap.

Nooitgedacht Primêre Skool ontvang hulle sertifikaat.

Die mense van Tshiamo Primary School ontvang hulle wentjek en sertifikaat. Hier is Ruth Motlhodienang (Grondslagfase) Fabian Makhosane (hoof), Kgomotso Leepile (Grondslagfase).

Ek het die twee onderwysers gevra waarom hulle met die heel kleintjies werk. Ruth Motlhodienang was baie beslis: jy bou ’n nasie as jy jou kinders reg leer. Kgomotso Leepile wil seker maak die kinders in haar skool is suksesvol. Sy wil hulle sien uitblink in goeie loopbane.

Hier is die sterre: Suzette Cronjé (NIHE-projekleier), Nizreen Bruce, Florence Mzwakali, Gerrie Lemmer (hoofbestuurder: ATKV-Kultuurprojekte), Shazia Alexander, Lizané Basson (ATKV-Projekorganiseerder) en Mandy Dixon.

Die Handevat-projek gaan voort. Die sluitingsdatum vir nuwe aansoeke is 31 Maart. Besoek gerus www.atkv.org.za vir meer inligting oor ATKV-Handevat, of kontak vir Lizané Basson by 011 919 9078 of lizaneb@atkv.org.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top