Wolf, wolf
Eben Venter
Tafelberg, 2013
ISBN: 9780624054993 (sagteband)
ISBN: 9780624055006 (e-boek)
Bladsye: 372
Wolf, wolf lees maklik en is ’n spannende roman. Dit is ook is ’n komplekse teks, ryk aan snydende kommentaar op die hedendaagse samelewing. Die roman ondersoek ’n middelklas wit gesin se lewe, maar dit vra heelwat vrae oor ’n aantal kwessies wat ons samelewing tans bedreig.
Pornografie, en die misbruik daarvan, word uiteindelik ’n metafoor vir die grootse denkfoute wat die wit, middelklas-Afrikaner tans bedreig. Voor ons hierdie interessante, en komplekse, metafoor ondersoek, is dit belangrik om ’n paar opsommende opmerkings te maak, sodat die leser die narratief kan volg. (Ek gaan egter nie die storie verklap nie.)
Die res van die essay sien dus soos volg daar uit:
1. Die teks in breë trekke bespreek
2. Pornografie as breinkraker
3. Wolf, wolf as ’n kontinuum op Venter se woordreis.
1 Die teks in breë trekke bespreek
1.1 Die plot
Die verhaal sien kortliks soos volg daar uit: Benjamin Duiker is blind en sterwend aan kanker. Sy seun, Mattheüs versorg hom. Benjamin waardeer die hulp, maar is diep teleurgesteld in die seun. Mattheüs is gay en is ’n deurbringer. Hy het reeds heelwat van sy pa se geld in die buiteland geblaas en steeds word daar heeltemal te maklik geld op drank en ander lyflike plesiere gespandeer.
Mattheüs het ’n geliefde, Jack, wat ’n onderwyser is. Die verhouding is in die moeilikheid, want Mattheüs is aan pornografie verslaaf. Hy steur hom dus min aan Jack se attensies, want hy kry sy seksuele bevrediging uitsluitlik uit keiharde pornografie. Wanneer Mattheüs nie vir sy pa sorg nie, spandeer hy heelwat tyd in nagklubs, of hy masturbeer voor die pornografie op sy rekenaar.
Dié hartseer situasie lewer aanvanklik nie té veel spanning op nie, want Benjamin sê vir Mattheüs dat hy onder geen omstandighede sal toelaat dat ’n man mag oorslaap in sý huis terwyl hy nog lewe nie. Die probleem ontstaan wanneer Jack sy woonplek verloor. Hy trek dan gewoon by Mattheüs in. Die twee manne dink hulle kan wegkom hiermee, want Benjamin is mos blind; te laat sou hulle agterkom dat hy nie doof of onnosel was nie.
Verder is daar die buurvrou, tant Sannie, wat hulle huis die hele tyd dophou ...
Al wat Mattheüs laat lééf is sy droom om ’n restaurant oop te maak in Observatory. Die vraag is of hy in staat is daartoe.
Meer kan ek nie sê nie, want dan sal ek die storie vir die leser bederf.
1.2 Komplekse karakters
Venter is bekend daarvoor dat hy baie komplekse karakters skep (later meer oor sy oeuvre). Wolf, wolf se karakters is nie uitsonderings nie. Mattheüs is geensins ’n onkreukbare karakter nie, maar wanneer hy sy pa versorg, is daar ’n sagtheid en ’n innigheid aan hom wat ’n mens nie kan wegredeneer nie.
Benjamin is ’n baie goeie sakeman wat goed vir sy gesin gesorg het. Tog kon hy sy vrou nooit waaragtig liefhê nie, iets wat Mattheüs baie bitter maak teenoor sy pa. Benjamin is ’n baie gelowige man wat geweldig baie vir die kerk doen, maar hy kan nie sy oog van ander mans se vroue weghou nie.
Benjamin se buurvrou, tant Sannie, behoort aan ’n charismatiese kerk wat mense in armoede help, maar slegs wanneer hulle bereid is om hulle te laat groot doop. Die kos op hulle borde is dus gekoppel aan ’n negering van hulle eie geloof. Ten spyte van hierdie negatiewe kant, en die feit dat sy ’n agie is wat voortdurend op haar bure spioeneer, kan selfs Mattheüs nie ontken dat sy ’n warm, moederlike mens is nie. Sy help ook voortdurend met Benjamin se versorging.
Jack van Ryswyk, Mattheüs se vriend, is eweneens ’n komplekse karakter. Hy is goed met sy werk, hy gee om vir die kinders, en die seuns is mal oor hom. Iewers het daar egter iets gruwelik skeefgeloop in sy verlede. Redelik vroeg in die boek blyk dit dat hy kortstondig kokaïen gesnuif het en dat hy steeds afbetaal aan die skuld wat hy in daardie tyd gemaak het. Sy donker kant maak nou van hom ’n onseker mens. Wanneer hy dan, op ’n onregverdige wyse, sy plek in die skoolkoshuis verloor, trek hy ’n wolfkostuum aan en sluip só by Benjamin se huis in, maar ook nie voor hy eers vir Mattheüs getart het met talle foto’s van homself saam met ’n ander man nie.
1.3 Die ruimte
Wolf, wolf speel in Kaapstad af, taamlik naby my huis. Dit is opmerklik hoe maklik dit is om bakens raak te sien danksy Venter se fyn beskrywing.
Die gesin se huis in Rondebosch geleë.
Die Rondebosch-meent, waar daar by geleentheid geboemel word, is ’n bekende baken, terwyl Zilverbosch Boys’ High, waar Jack skoolhou, baie duidelik ooreenstem met Rondebosch Boys’ High.
Mattheüs en Jack besoek gereeld die restaurantjie Carlucci’s. Daar bestaan ’n Carlucci’s in Kaapstad, maar dis nie in Campgroundweg geleë waar Venter se fiktiewe Carlucci’s is nie.
Mattheüs droom daarvan om ’n winkel oop te maak in Observatory, baie naby Groote Schuur-hospitaal.
Teenoor die lewe in die stad is daar egter die familieplaas. Hier woon Mattheüs se sussie, genaamd Sissie, nou saam met haar man en twee kinders. Benjamin het vroeg reeds die lewe in die stad gekies en sodoende sy rug op die idille gedraai. Benjamin se broer, ook gay, woon egter nog steeds op die plaas, wat nou aan Sissie se man behoort. Die allerlaaste besoek aan die plaas (wat op Benjamin se versoek onderneem word) vertel vir die leser heelwat oor die gesin se verhoudings (wat nie noodwendig rooskleurig is nie). Van belang is ook dat Benjamin en Mattheüs daar opdaag net toe die mánne op weg is na ’n roofdierjag. In Suid-Afrika is daar nie wolwe nie, maar in die volksmond sal die woord wolf tóg gebruik word vir ’n gedierte wat skape vang. Die ruimte is dus onmiddellik ’n bedreiging vir Mattheüs, wat hom nie met die kameraderie van die heteroseksuele mans kan vereenselwig nie, en ook ’n bedekte aanklag teen die lewe wat in die Kaap op hom wag.
1.4 Die titel
Die titel roep onmiddellik ’n paar konnotasies op: die speletjie “Wolf, wolf, hoe laat is dit?” en dan die Engelse uitdrukking “to cry wolf”. Dan is daar natuurlik nog ook die wolf in skaapklere, die wolf wat van die deur weggehou moet word en, les bes, die drie varkies wat hulle huise van verskillende materiaal gebou het. Soos die leser sou verwag, is al hierdie aspekte in die teks teenwoordig.
Jack en Mattheüs speel inderdaad op ’n stadium “Wolf, wolf, hoe laat is dit?” terwyl hulle wolfkoppe dra. In die speletjie wéét die volgelinge dat die wolf gaan “etenstyd” speel, dan moet hulle hardloop, anders “vang” die wolf hulle. Venter plaas genoeg leidrade in die teks om die leser te laat dink dat Mattheüs se speletjies hom nog gaan inhaal ... Niemand weet egter wanneer die wolf gaan omdraai om hom te byt nie.
Daar word op verskillende vlakke “wolf geskree” in die teks. Die openingsin in die boek maak dit reeds duidelik dat Mattheüs sy hande op Benjamin se geld wil lê, want hy wil ’n restaurant oopmaak. Soos die bladsye egter ontvou, skree Mattheüs telkens wolf deur die een rede ná die ander uit te dink waarom sy pa sal nee sê.
Benjamin is sterwend, maar dit is moeilik om te bepaal hoe lank hy nog gaan leef. Vir die lede van sy gesin kan die einde nie gou genoeg kom nie, maar hulle speel nog eens “Wolf, wolf”, want niemand weet wanneer die dood nou eintlik gaan kom nie.
Tant Sannie is beslis ’n wolfin in moederlike rokke, en die leser wonder die hele tyd of Emile, die donker man wat Mattheüs so graag wil help met sy besigheid, nie ook ’n wolf in skaapklere is nie.
Om die wolf van die deur te hou is ’n probleem vir Jack, wat nóú ’n eerbare lewe lei, maar vroeër sy huisie van strooi gebou het. Mattheüs woon aan die begin van die boek in ’n pragtige huis, maar hy het nie self die bakstene gelê nie. Sal hý die wolf van die deur kan weghou?
Lees maar self hoe hierdie speletjies en metafore hulleself voltrek in die teks.
2. Pornografie as breinkraker
2.1 Seksuele beelde en die brein
Venter was nog altyd bereid om taboes aan te spreek in sy werk. In hierdie roman bespreek hy die gevare van ’n pornografieverslawing. In ’n tyd wanneer liberale waardes heers en pornografie vryelik, soms selfs gratis, bekombaar is op die internet, spreek Venter sy kommer uit oor die misbruik daarvan. Mattheüs is verslaaf. En dit maak van hom ’n mindere mens; die leser ervaar dit. Venter doen dit deur te show – hier is geen prekerigheid nie.
Hier trap Venter net soveel op liberale tone as wat hy elders op konserwatiewe tone trap. Die aandrang op algehele vryheid van spraak word by implikasie bekyk – maar beslis nie noodwendig veroordeel nie. As die liberale leser egter sonder meer die gevare van pornografiemisbruik wil ontken, dwing Venter haar/hom om anders te dink.
Amanda Gouws (2013) het onlangs met ’n (eensydige) feministiese perspektief haar standpunt gestel. Dit is ’n goeie artikel om te lees om die agtergrond tot Venter se Wolf, wolf te verstaan. Lees die artikel hier.
Onlangse navorsing in neurowetenskap wys dat pornografie deur die seksueel stimulerende visuele beelde wat dit aan die kyker stuur, die neurologiese paaie in die brein verander en ’n permanente biochemiese geheuebaan skep. Dit is sterker as spraak (of om pornografie te lees). As hierdie paaie eers geskep is, is dit amper onmoontlik om dit te verander. En omdat dit direk verband hou met die stimulasie wat met ’n orgasme gepaardgaan, wil die kykers van pornografie weer en weer dié euforie beleef. Dit word dus ’n vorm van verslawing.
Gouws se standpunt is egter nie verteenwoordigend van die feminisme nie. Glad nie. Maar dit is ’n belangrike punt wat sy maak en vertel die leser hoe die brein geprogrammeer kan word vir ’n verslawing. (Vir ’n gans ander siening van vroue in pornografie, lees gerus Wendy McElroy 1997. McElroy verteenwoordig ook slegs ’n deel van die feminisme, maar sy probeer ten minste om ander standpunte ook in ag te neem.) Lees die artikel hier.
In Wolf, wolf het ons natuurlik nie te doen met vroue se lywe nie. Mattheüs stel nie belang in prentjies vol kaal vroue nie.
Die roman is ook nie verontrus deur die mans wat die pornografie maak nie. Glad nie. Wolf, wolf toon kommer oor iemand wat so diep in sy pornografie verstrengel is dat hy nie ’n normale verhouding met sy geliefde kan hê nie. Op hierdie punt raak Venter se teks en Gouws se tekste mekaar.
Let wel: Daar is geen aanduiding in Venter se teks dat hy sensuur voorstaan nie. Wolf, wolf stel bloot die punt dat pornografie verslawend kán wees, en dit is iets wat na my wete nog nie op hierdie manier in Afrikaans behandel is nie.
2.2 Die pornografie van die Bybel
Venter bied ook die teenpool aan. Benjamin Duiker verteenwoordig die verslawing aan ’n pornografiese lees van die Bybel. Daar is geen verskil tussen die vinnige bevrediging van seksuele behoeftes en die ewe vinnige, eensydige bevrediging van geestelike behoeftes nie. Mense wat die Bybel steeds eenogig lees en sekere teksversies aanhoudend buite verband wil ruk, maak hulle skuldig aan geestelike pornografie. En so toon Wolf, wolf nog eens deur te show hoe gevaarlik so ’n verslawing aan geestelike pornografie kan wees.
Dié Bybelse pornografie gee aan Benjamin die reg om sy eie vrou te verwaarloos terwyl hy redelik openlik ander vroue bejeën. Dit gee ook aan hom die reg om sy eie seun te verbied om ’n verhouding in sý huis te hê – terwyl dit die einste seun is wat besig is om hom hand en tand te versorg.
Benjamin word nie as ’n monster geskets nie. Die leser leer hom eerder ken as ’n deerniswekkende figuur. Tog is sy verslawing aan geestelike pornografie só sterk dat hy op ’n stadium die volgende aan sy seun sê:
“Ek was nog altyd eerlik met jou, Mattheüs. Ek wil nie hê dat jy en Jack in hierdie huis inkom en saamslaap of watter onnoembare dade julle ook al aanvang nie. Dis julle besigheid. Maar nie in mý huis nie. Dit sal ek nie toelaat nie. Dit druis teen my beginsels in.” (48)
Die verteller kan nie anders as om te noem dat hierdie uitspraak met “geweld” in die ou man se stem oorgedra word nie. Tog het Benjamin net ’n paar oomblikke gelede gesê Jack is welkom in die huis. Venter skep dus ook ’n dualiteit in dié karakter – soos wat reeds te sien is in Mattheüs.
Benjamin se groot probleem met die “onnoembare dade” wat sy seun kwansuis wil pleeg, lê in die gebrek aan ’n nageslag wat sy naam sal dra. Biskop John Spong verduidelik die gevaar in Benjamin se standpunt so: “The male drive to conquer and subdue the earth must recede before the recognition that such a conquest is not the path to success but to death” (Spong 1990:41-2).
Benjamin se verknogtheid aan sy geestelike pornografie het dit ook tot gevolg dat hy aanvanklik bloot aanvaar sy seun gaan die motormaatskappy wat hy besit het, oorneem. Hy neem eendag vir Mattheüs na die werk en lei hom rond. Die moontlikhede is óóp vir Mattheüs. Hy moet net kan lief raak vir ’n Mercedes. Dis al, dan is alles syne.
Hierdie gedeelte herinner nogal sterk aan die verleiding van Christus deur die duiwel: “Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en sê vir Hom: ’Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid’” (Matteus 4:8–9, 1983-vertaling).
Natuurlik bedoel Benjamin dit nie sleg nie. Hy wil sy seun help, maar die probleem is dat hy eenvoudig aanneem dat sy seun sal meedoen. Spong verduidelik dit só:
His task was to be breadwinner. His masculine power was defined largely by the effectiveness with which he competed in order to carry out his assignment. He was the patriarch, the king of the household, the decision maker, and his wife and children were expected to serve him. A male occupation was usually chosen for him, within specific limits set by the father. (Spong 1990:43-4)
Daar ís Christene, soos John Spong, wat bereid is om die ou orde uit te daag. Benjamin kon nie. Die houvas wat die pornografie van sý pa se geloof op hom gehad het, was te groot. Dit was baie duidelik dat Benjamin se pa óók hierdie soort pornografie beoefen het – solank sy seun saak met die Here reg is, sou alles goed wees: “Dit was sy enigste bekommernis vandat ek ’n kind was tot en met sy laaste dae. Hy wou altyd weet: Benjamin, glo jy in die enigste ware God?” (81).
En só is godsdiens in die Duiker-gesin oorgedra van man na man. Benjamin het gesmag na meer kontak met sy pa (lees bladsye 80 en 81), maar dit was onmoontlik vir Ben, Benjamin se pa, om emosioneel oop te maak teenoor sy seun. En nou lê Benjamin op sy sterfbed. Hy probéér ten minste, maar die pornografie van sy Bybelse opvoeding het sy brein só aangetas dat hy bloot met sy seun kan praat oor motors. Hy kan eenvoudig nie die liefde toon soos hy graag wil nie.
Spong verduidelik Benjamin, en sý pa, se verslawing soos volg:
Most cogently, the patriarchal definition of masculinity is now perceived to have been instrumental in killing many men’s ability to feel emotion. The patriarchal definition of femininity has denied the female all her strengths, save her sexuality, that men have exploited in numbers of ways. The patriarchal mentality is almost inevitably homophobic, for gay men threaten the prevailing definitions of maleness, and lesbian women refuse to flatter dominant males by conveying to them any sense of needing that which they are, or that which they have to give. (Spong 1990:42)
Benjamin is nie die enigste een wat vasgevang is in geestelike pornografie nie. Sy buurvrou, Sannie, is ’n bobaas-pornoskepper. Sy en haar kerk doen baie vir die arm blankes nie in Gauteng, maar die hulp kom teen ’n prys: jy móét jouself onderwerp aan húlle lees van die Bybel. Hier staan dit, in haar eie woorde:
“As ons hulle nie van onder af help nie, sal hulle krepeer. Ons pastoor Roy Rabinowitz gaan saam met my op vir die Groot Doop. Hulle moet eers bely en die waarheid van hulle belydenis bevestig met die doop, Bennie. Dan is hulle ingelyf by ons. Dis hoe dit werk. Hulle kry nie sommer nie. Moet eers lede word van Silver Cloud Christian Fellowship. Eers dan skryf ek vir hulle die tjek uit. Hulle weet dit al.” (60)
Dink weer aan Matteus 4:8–9. Baie van hierdie mense het in die NG Kerk grootgeword. Die NG Kerk het óók hulleself verhef tot die ware weg na God, vandaar die kategese, Die Heidelbergse Kategismus, die Dortse Leërreëls ... (Ek het in 1989 vir ’n NRO gewerk wat deur die NG Kerk bedryf is en ’n kollega is summier afgedank toe dit blyk dat hy groot gedoop is.) Nou verwag Sannie dat mense goedsmoeds hulle beloftes moet afsweer om geld te kry sodat hulle kinders kan eet.
Wolf, wolf kies nie kant nie. Dit sê nie die een kerk is beter as die ander nie. Die verteller laat bloot toe dat Sannie haar ware kleure wys.
Uiteindelik is dit tog Benjamin wat vir Mattheüs ’n enorme bedrag geld voorskiet om sy wegneemkosplekkie oop te maak, nadat hy ook geld aan Sannie geskenk het. Die ironie is ook dat Benjamin vir Sannie vra om Mattheüs se tjek uit te skryf – hy teken dit net.
2.3 Die pornografie van kitskos
As die besigtiging van seksuele beelde vir seksuele bevrediging pornografie genoem kan word, dan sou ’n mens die opraap van generiese kitskos vir die bevrediging van hongerpyne waarskynlik kospornografie kon noem.
Venter trek nog eens ’n streep in die sand en dwing die leser om te dink oor die maklike definisies wat ons aan alles kan gee. Mattheüs droom daarvan om gesonde wegneemkos aan die massas te verskaf. Observatory, waar hy sy plekkie wil inrig, is vol studente (hy kan Groote Schuur-hospitaal – ’n enorme opleidingshospitaal – sien van waar hy werk), en daar is talle ligte nywerhede en winkeltjies in die buurt.
Mattheüs het ’n passie. Hy wil kos maak wat gesond is. En, interessant, dit is stadige kos wat hy maak. Die voorbereiding neem lank – dikwels lê sy kos reeds die vorige dag in marinades.
Dit is ’n ontsettend positiewe bydrae wat Mattheüs wil lewer en sy pa sien dit uiteindelik ook in. Mattheüs wil dus die ban van kitskos verbreek en Benjamin steun hom in hierdie onderneming.
2.4 Die pornografie van geweld onder middelklasseuns
Suid-Afrika het ’n walglike tradisie van doop en ontgroening wat steeds voortgaan – al is daar kwansuis reëls wat dit verbied. Daardie mag van die ouer kinders om jongeres te laat kruip is só deel van die wit Suid-Afrikaner se psige dat ons breine nie eers meer besef hoe banaal dit is nie.
In Wolf, wolf kom dit ook voor. Tydens die heel ergste geval in die boek urineer ’n seun op ’n ander. Die knaap besef hy’t verkeerd gedoen en vra om verskoning, maar die blote idee dat dit toegelaat, selfs aangemoedig, word deur sy vriende, toon hoe verstrengel ons steeds is in die pornografie van geweld.
Dié bepaalde insident kos uiteindelik vir Jack van Rykswyk sy pos as koshuisvader. (Lees maar self hoe hierdie storie bekook word.) Die seun wat die ongelooflike daad gepleeg word, kom skotvry daarvan af.
3. Wolf, wolf as ’n kontinuum op Venter se woordreis
Venter het nog altyd ’n dwars streep in hom gehad. Sy leser word op sleeptou geneem met ’n lekker storie, maar terselfdertyd op ’n afstand gehou met sy karakters, wat skynbaar behae put daaruit om die samelewing uit te daag.
Reeds met sy debuut het Venter getoon dat hy nie bang is om ’n diskoers te voer wat teen die tydsgees indruis nie. Witblitz, ’n bundel kortverhale wat in 1986 by Taurus verskyn het, was ’n sterk anti-apartheidteks. Die belangrikste verhaal in Witblitz is waarskynlik die eerste, naamlik “Die donner in Boetiefanie se kop”. Hier het ons reeds ’n sterk aanklank by Wolf, wolf.
Boetiefanie se ma vertel die verhaal oor haar seun wat Operation Thunder Chariot oorleef het, maar nou met ’n “donner” in sy kop sit. Hierdie “donner” laat hom geweldig baie drink en uiteindelik vermoor hy ’n jong swart meisie.
Hierdie verhaal is om twee redes relevant. Ten eerste is die “verlore seun” ook ’n belangrike tema in Wolf, wolf, en ten tweede is die vertroosting wat charismatiese godsdienste mense bied, hier ook ter sprake. Rhema, die charismatiese kerk, bied die nodige die ondersteuning aan Boetiefanie se ma – nadat sy, soos in Wolf, wolf, die NG Kerk afgesweer het en ’n “volle belydenis” gemaak het.
Al was Witblitz goed, was dit nie die boek wat van Venter ’n huishoudelike naam gemaak het nie. Dit was sy eerste roman, Foxtrot van die vleiseters (1993), wat gesorg het dat mense gewéét het van Eben Venter. Foxtrot van die vleiseters het op ’n wonderbaarlike manier die draak gesteek met omtrent elke heilige koei wat nog oorgebly het uit apartheid-Suid-Afrika. In terme van die huidige gesprek sou ’n mens kon stilstaan by John-John (gebore Johannes). Hierdie knaap volg ’n mooi meisie, helder oordag, in ’n parkeerterrein, gryp haar agterwêreld toe sy buk, en wurm toe sy linkerhand by haar broekie in totdat sy vingers in haar inglip. (Die boek maak nie melding of dit haar vagina of haar anus is wat gepenetreer is nie.) Die ding met John-John (gebore Johannes) het klaarblyklik begin toe hy die familieplaas in die Oos-Kaap verruil het vir Johannesburg. Terselfdertyd voel John-John se pa al hoe meer hoe hy die patriargale houvas op sy familieplaas verloor, net soos die patriarg in Wolf, wolf ook vroeg reeds besef sy seun gaan nie die familiebesigheid (of die bloedlyn) laat voortleef nie.
Die ooreenkomste en verskille tussen die titels van Foxtrot van die vleiseters en Wolf, wolf moet ook raakgesien word. Die vossie, die slim gediertetjie, dans al die pad in die 1993-roman. Die wolf word telkens betrek in Venter se nuutste, maar dis ’n speletjie, meer nog ’n oordaad, wat die ware uitroepe van waarskuwing heeltemal impotent laat. In Foxtrot wéét die dansendes dat hulle besig is om die mag te verloor. In Wolf, wolf klou hulle opnuut vas aan hulle wit voorregte.
Ná die uitstekende Foxtrot van die vleiseters skryf Venter waarskynlik sy grootste roman. Ek stamel ek sterwe (1996) is ’n kragtoer oor die dood van ’n intieme vriend, Jude. Jude se geslag word nooit bepaal nie, maar dit wil voorkom of sy/hy ’n man in vroueklere is. Dit is Konstant (’n boerseun) wat besluit om die plaas én die land te verlaat en hom dan in Australië te vestig, waar hy ’n vegetariese restaurant gaan bedryf tot en met sy dood terwyl Jude vir hom sorg teen die einde.
Venter se volgende roman het ’n ligter aanslag. My simpatie, Cerise (1999) speel in Australië af. Robert Mackie, die hoofkarakter, is ’n tuinier in diens van Roland en Cerise Cox. Roland is korrup in Robert se oë. Die ergste van Roland se vergrype is toe hy sy tienerdogter vir ’n nag lank aan ’n ryk sakeman bied in ruil vir ’n kontrak: die patriarg het alle mag oor die vroue in sy huis.
In 2000 publiseer Venter Twaalf, ’n bundel kortverhale. Dit is sterk verhale, maar hulle het nie dieselfde impak as Witblitz nie.
In 2003 verras Venter met Begeerte. Dié uitstekende roman is ’n uitskieter, omdat dit ’n heteroseksuele paartjie se seksualiteit onder die loep neem en dus afwyk van die homoërotiese werke waaraan die leser gewoond raak. Venter se vermoë om getroude, heteroseksuele paartjies se liefdeslewe oop te vlek kom in Wolf, wolf weer ter sprake. Benjamin Duiker, patriarg, gee aanvanklik alles vir sy vrou, maar soos die jare vorder, sluit sy hand om die beursie en daarmee saam kry sy arme vrou ook al hoe minder emosionele ondersteuning. Wanneer sy uiteindelik sterf, is daar nie meer veel oor van die wakker jong meisie wat aanvanklik Benjamin se voete onder hom uitgeslaan het nie.
Horrelpoot (2006) is Venter se donkerste roman tot nou toe. Die struktuur is volledig ontleen aan Joseph Conrad se Heart of Darkness. Venter plaas sy roman egter in ’n postapokaliptiese Suid-Afrika. Dit sou natuurlik ’n profetiese teks kon wees as die ANC nie gestuit word op hulle pad van selfverryking nie. Gelukkig is ons groter stede nog nie so sleg daaraan toe nie, maar in baie van die plattelandse streke is dele van Horrelpoot se fiksie reeds as waarhede te sien. Koert, die hoofskurk in Horrelpoot, is egter wit. Die boodskap is dus duidelik: dis korrupsie wat doodmaak, nie ras nie. Daar is heel teen die einde van Wolf, wolf ’n oomblik waar dit wil voorkom asof korrupsie dalk vir Mattheüs ’n probleem kan veroorsaak. Lees maar self.
Met Santagamka (2009) skep Venter ’n oënskynlik veel ligter roman. Lucky Marais is ’n rentboy. Sonder aansiens des persoons neem hy die plesiertjies van sy kliënte ter harte – of hulle nou manlik of vroulik is. Marais se ouers is plaaswerkers. Hy wil uitstyg. Geld van ’n onderwyser help egter nie om hom op universiteit te hou nie, vandaar die noodsaak om op ’n ánder manier geld te bekom.
En nou Wolf, wolf. Daar is ooreenkomste tussen Lucky Marais en Mattheüs Duiker. Albei word ’n kans gegun, verspeel dit, en probeer dan weer, met ’n mate van sukses.
Die verskille tussen Lucky en Mattheüs is egter ook sprekend van Eben Venter se oeuvre. Lucky is die seun van arm plaaswerkers wat vasgevang is in alkoholmisbruik. Mattheüs is die seun van ’n stinkryk middelklas-Afrikaner wat in ’n pragtige woonbuurt grootword. Mattheüs het skynbaar alles, en tog sukkel hy om die lewe vir homself te laat werk. Mattheüs se vriend, Jack van Ryswyk, se agtergrond is veel nader aan Lucky Marais s’n. Hy’t arm grootgeword en is jaloers op Mattheüs se middelklasopvoeding. Tog red Jack se wit bas hom en verkry vir hom ’n goeie betrekking in by ’n goeie skool. Jack se eie dade maak uiteindelik dat hy nie kan regkom wanneer daar ’n krisis is nie.
Wolf, wolf, met sy besondere aandag wat aan arm blankes gegee word (deur Sannie se opheffingswerk en Jack se agtergrond), toon dat witwees nie meer genoeg is om jou bas te red in die nuwe Suid-Afrika nie – ’n tema wat lank reeds in Venter se oeuvre voorkom. Van belang is egter dat jy steeds meer kanse kry as jy wit is ... Gaan jy dit benut?
Opsommend
Toe ek aan ’n familielid probeer verduidelik waaroor die teks gaan, was haar kommentaar: “Dit klink na ’n weird boek.” Dalk is dit, maar lesers wat hou van goeie literatuur en goeie kos sal kan smul aan die smorgasbord wat Venter opdis.
Bibliografie
Gouws, Amanda. 2013. Pornografie is nie net prentjies. Die Burger, 7 April 2013. http://www.dieburger.com/Rubrieke/AmandaGouws/Pornografie-is-nie-net-prentjies-20130407.
Human, Thys. 2013. Vertelvermoë wat die aandag bly boei. Die Burger, 7 April 2013. http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Vertelvermoe-wat-die-aandag-bly-boei-20130407.
McElroy, Wendy. 1997. A Feminist Defense of Pornography. Free Inquiry,17(4). http://www.secularhumanism.org/library/fi/mcelroy_17_4.html.
Spong, John. 1990. Living in Sin?: A bishop rethinks human sexuality. San Francisco: Harper.
Kommentaar
All this, as well as Eben's wonderful ear for language and his wicked sense of humour. Another feast for Venter's fans!
Dalk moet ek my horisonne verbreed en dié een lees!