Afrikaans en die Bo-Kaap

  • 0

Op Saterdag 24 Maart het ’n paneelbespreking oor die rol van die Bo-Kaap in die ontwikkeling van Afrikaans by die Kasteel die Goeie Hoop plaasgevind. Danny Titus het die bespreking, aangebied deur die ATKV, gefasiliteer. Die sprekers was Max du Preez, Faika Haroun, Doria Daniels, Gava Kassiem en Fatima Allie.

Menán van Heerden het foto's van die geleentheid geneem en meer oor die Kaapse Moslemgemeenskap, Arabiese Afrikaans en die historiese figure Tuan Guru en Abu Bakr Effendi nagevors in haar meningsartikel, “Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap”.

Izak de Vries het ook oor hierdie geleentheid geskryf en foto’s geneem. Hier is sy indrukke. 

  • Lees ook die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “Gewone lesers aan die Kaap, c. 1680 tot 1850” (2012) deur Archie Dick. In hierdie artikel word meer vertel van die eerste Moslemskool, koplesboeke, imam Tuan Guru, die verspreiding van Islam, ghoemaliedjies en Arabies-Afrikaanse skrifte.

Afrikaans en die Bo-Kaap

Op Saterdag 24 Maart het ’n groot groep Afrikaanssprekendes in die Kasteel in Kaapstad byeengekom om te gesels oor die invloed van die Bo-Kaap op Afrikaans.

Danny Titus

“As-salaam-alaikum,” het Danny Titus in Arabies gegroet. Dit beteken “vrede vir julle” en is die standaardgroet in die Afrikaanse Bo-Kaap-gemeenskap en onder Moslems op die Kaapse Vlakte. Die Bo-Kaap is oorwegend Moslem en talle Kaapse Moslems praat Afrikaans én Arabies, met interessante woorde en gebruike wat vermeng.

Afrikaans het vele gesigte, sê Titus. Dit is daarom vir die ATKV belangrik om die verskillende gesigte te verstaan en aan die wêreld te wys. Dié gesprek was dus deel van ’n hele reeks waarmee die ATKV besig is om Afrikaans se diversiteit te leer ken en verstaan.

Daar was vyf sprekers. Faika Haroun het oor die moppies gesels, Doria Daniels en Gava Kassiem se gesprekke het gehandel oor vroue wat entrepreneurs is, terwyl Max du Preez en Fatima Allie meer vertel het oor die geskiedenis van die Islam en hoe die geloof ’n direkte invloed op Afrikaans gehad het.

Doria Daniels

Entrepreneurskap

Doria Daniels het die sluier gelig oor die entrepreneurskap van vroue in die Moslemgemeenskap. Sy het haar navorsing gekonsentreer op die Afrikaanse vissersgemeenskappe.

Vroue se ekonomiese bydraes tot die samelewing word dikwels misken, sê sy. Dit gebeur nog meer as daardie vrou ’n Moslem is wat ’n doek dra. Wanneer vroue wél genoem word, is dit slegs weens hulle rolle in die kombuis. Die kookkuns ís belangrik, sê Daniels, maar juis omdat dit so dikwels vroue in staat gestel het om vir hulle gesinne te sorg.

Vra die gemeenskappe waar hierdie vroue so hard gewerk het wie die broodwinner nou eintlik is, dan sal hulle een van die mans se name noem. Die werklikheid was egter dikwels anders. Die mans hét hard gewerk wanneer hulle kon uitgaan op die skuite om vis te vang, maar daar is baie maande in die jaar dat die weer dit onmoontlik maak om te gaan visvang. As ’n mens begin vra oor hoe gesinne dan oorleef het, word die vroue se rol duideliker.

Heel gou word vertel dat vis gedroog en gepekel is vir die maer maande. Vroue het ook regdeur die jaar brood gebak. Talle van hulle het ook brood verkoop vir ’n ekstra inkomste. Krap dieper, en ’n mens hoor ook van die koesisters, daltjies, samoesas, beskuit en pasteie wat verkoop is. Die ingelegde vis wat nie deur hulle self geëet is nie, is ook verkoop. Blatjang en atjar is gekook vir die maer tye; dit wat nie nodig was vir oorlewing nie, is verkoop.

Hierdie vissersvroue se kookkuns het later só bekend geword dat hulle gesog was in die restaurante en hotelle van daardie tyd, wat óók natuurlik die gesinne finansieel gehelp het.

Ander vroue het as kelners, kinderoppassers en bediendes gaan werk.

Sommige vroue, wat nie voltyds as bediendes wou werk nie, het wasgoed gaan haal by die ryk mense se huise, dit gewas en gestryk en dan weer teruggeneem. Dié vorm van deeltydse werk is partjies genoem. Let op die verafrikaansing van die Engelse woord part-time.

Talle vroue het borduurwerk gedoen om te verkoop en verskeie vroue was ook bekend daarvoor dat hulle mijang (groot blokke wierook) sou opkoop, kerf en herverkoop.

Daar is baie sulke stories, vertel Daniels. Haar navorsing toon dat vroue in werklikheid die gesin gevoed het, al is die man as die broodwinner gesien.

Gava Kassiem

Gava Kassiem het haar ervaring gedeel as ’n hedendaagse, moderne entrepreneur. Moslemvroue ervaar steeds diskriminasie by die werk, sê sy. As ’n regsvertaler wat jare se ondervinding in die parlement het, ervaar sy aan eie lyf dat haar van en haar doek maak dat sommige mense nie aan haar wil kontrakte toeken nie.

Die moppies, die slawe en die geloof

Faika Haroun het begin deur uittreksels uit die moppies te speel.

Moppies is tradisionele slaweliedere waarvan heelwat later as Afrikaanse volksliedere bekend gewoord het. ’n Goeie voorbeeld is “Daar kom die Alibama” met die bekende koortjie “Nooi, nooi die rietkooinooi”.

Die moppies is deur die slawe gesing, heel dikwels as ’n vorm van protes teenoor die eienaars wat nie altyd verstaan het wat die woorde beteken nie. Die slawe het gou Hoog-Hollands begin meng met woorde en frases uit hulle eie tale; ook het hulle sekere kodes ingebou sodat, selfs al sou die base die woorde verstaan, hulle nie sou weet wat die woorde beteken nie.

Die woord rietkooinooi is ’n mooi voorbeeld. Dit verwys na ’n baie spesiale vriendin, een met wie jy ’n kooi tussen die riete sal deel. Dit het dus ’n duidelike seksuele konnotasie.

Faika Haroun

Haroun het ook daarop gewys dat die moppies steeds aanpas en steeds vernuwe. Daar is jaarliks ’n kompetisie waartydens die beste Maleierkore aangewys word en elke jaar verskyn nuwe, aktuele weergawes van die tradisionele liedere. Tydens verlede jaar se kompetisie was daar drie moppies wat na die droogte in Kaapstad verwys het.

Hierdie liedjies is dus een van die oudste vorme van Afrikaans en pas steeds aan by ons moderne samelewing.

Max du Preez en Fatima Allie se praatjies het hierby aangesluit.

Ons sou steeds Nederlands gepraat het as dit nie vir die slawe was nie, vertel Du Preez. Die wit heersersklas het geen rede gehad om ’n ander taal te praat nie. Nederlands sou gewoon die taal van die Kaap gebly het. Die slawe, daarenteen, het Afrikaans geskep om ’n werkbare taal te vind tussen die Nederlands van hulle eienaars en diverse tale van hulle herkoms.

Vir die Moslemslawe het Afrikaans ook die taal van hulle godsdiensbelewing geword.

Allie het die gehoor teruggeneem na die sjeik Yusuf van Makassar se aankoms aan die Kaap. Yusuf was ’n koninklike en het oor ’n aantal eilande in Oos-Indië geregeer. Hy was egter erg gekant teen die manier waarop die VOC sy mense uitgebuit het en is toe deur die VOC in hegtenis geneem. Om te keer dat sy verset versprei, is Yusuf uiteindelik na die Kaap verban, waar hy ’n ruk lank in die Kasteel gebly het voor die Kaapse regering hom ’n plaas gegee het om op te woon.

Yusuf was ’n baie gelowige Moslem en sy nalatenskap in die Kaap was ’n klein, maar standhoudende vesting vir die Islam, hoewel dié geloof op daardie stadium nie amptelik erken is nie.

Die oudste geskrifte wat in Afrikaans neergepen is, kan na 1806 teruggevors word, vertel Du Preez. Dit is in ’n madrasse, ’n Moslemskool, geskep. Hierdie madrasse het ’n interessante geskiedenis, want dit is gestig deur imam Abdullah Kadi Abdus Salaam, ’n prins van Indonesië wat deur die Nederlanders as ’n moeilikheidmaker gebrandmerk is en op Robbeneiland aangehou is. Daar het hy groot passasies van die Koran uit sy kop neergeskryf. Hierdie beroemde leier staan vandag in die Bo-Kaap bekend Tuan Guru, wat vertaal kan word as Meneer Onderwyser.

Max du Preez

Tuan Guru is uiteindelik toegelaat om aan die Kaap op die vasteland te kom bly. Hy het toe die heel eerste madrasse in die Kaap opgerig, al is die Islam steeds nie erken as godsdiens in die Kaap nie. Dit is in daardie skool waar Afrikaans die eerste geskryf is, foneties en in Arabiese skrif.

Die bekendste skepper van ’n vroeë Afrikaanse teks is waarskynlik sjeik Abu Bakr Effendi wat in Turkye gebore is en in 1862 in die Kaap aangekom het.

Effendi is deur die Kaapse regering versoek om die Moslemgemeenskap te kom bystaan en daarom het hy dit sy lewenstaak gemaak om ’n handleiding in Afrikaans te skryf vir die volgelinge van die Islam. Hierdie teks, getiteld Bayān al-Dīn (wat beteken ’n Verduidelik van die Geloof) het 354 bladsye beslaan. Dit is ’n Afrikaanse teks, in Arabiese skrif, en is deur die Turkse regering geborg en uitgegee.

Achmat Davids het uiteindelik hierdie tekste gelees en het hulle toeganklik gemaak deur ’n meestersgraad daaroor te skryf.

Du Preez sê hierdie gegewens is belangrik vir ons taal, want die Voortrekkers het hulle geloof in Nederlands bedryf. Teen die tyd dat die Voortrekkers uit die Kaap weg is, was die geloofstaal van die Bo-Kaap egter reeds Afrikaans.

In 1875 het die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) uiteindelik Afrikaans gekaap, vertel Du Preez, want hulle wou dit toe as ’n middel aanwend om identiteit te gee aan die wit mense se stryd teen die Engelse. Die GRA het ongelukkig glad nie aandag gegee aan die grootste aantal mense wat Afrikaans gepraat het nie, want polities sou dit nie hulle stryd enigsins goed gedoen het nie.

Fatima Allie se aanbieding was veel meer persoonlik. Sy is een van daardie mense wat jy nooit in ’n boksie kan pas nie. Sy ’n ambassadeur vir Afrikaans.com, ’n kommunikasiebestuurder, kosboekskrywer en boonop ’n direksielid van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).

Allie se voordrag was besonders, want sy het moeite gedoen om die amptelike geskiedenis aan haar eie te koppel. Saam met die historiese feite het sy ook foto’s gedeel en ’n film uit haar kleintyd gespeel.

Fatima Allie

Sy het oor haarself gesê sy is ’n Moslem wat Arabies nie juis goed kan praat nie, maar dit lees. In haar kleintyd het mense Arabies en Afrikaans in die Bo-Kaap gepraat. Haar ouers en die ander grootmense was onbeskaamd Afrikaans. In hulle plekke van aanbidding is Arabies gehoor, maar in hulle kombuis is Afrikaans gepraat.

Alie is later na Engelse skole gestuur.

Die Engelse omgewing op skool en universiteit het gemaak dat sy ’n ruk lank haarself as Engelssprekend beskou het, maar sy het gou agtergekom dat sy haar aktivisme in Afrikaans uitleef.

Die jare van apartheid was swaar en as student was sy direk betrokke by talle boikotte en ander aksies teen die regering. “Ons het in Afrikaans geboikot,” sê sy.

Allie het uiteindelik ook begin besef hoe heg die Islam en Afrikaans met mekaar verweef is. Begin maar met sjeik Yusuf van Makassar. Neem die Moslemslawe wat nie toegelaat is om openlik hulle geloof te beoefen nie en toe sang ontdek het as ’n manier om met mekaar en met hulle God te kommunikeer.

Sy sluit toe aan by Du Preez en verwys na imam Abdullah Kadi Abdus Salaam, die prins van Indonesië, en Tuan Guru se rolle om Afrikaans as skryftaal te vestig. Of wat van die bekende imam Baker wat uiteindelik die hele Koran in Afrikaans vertaal het en in Westerse skrif neergeskryf het?

Ook het Allie die skoonheid van die Bo-Kaap leer verstaan en omarm. Die Bo-Kaap het, ironies, tot stand gekom omdat die wit base nie wou bergklim na hulle huise nie, dus het die slawe daar ’n tuiste gevind. Vandag is dit van die mees gesogte eiendomme in die Kaap weens die pragtige uitsig. Dit is waarom sy vandag saam met Afrikaans ook die skoonheid van Bo-Kaap bemark, vertel sy.

René Arendse en Jacob Meiring

Quinton Adams

Om saam te eet

Ná die praatjies het almal saam geëet waarna idees uitgeruil is tydens ’n lewendige gesprek om ’n lang tafel.

Vele gesigte. Een taal.

Trots Afrikaans.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top