Fiksie
Charl-Pierre Naudé: “Dekonstruksie as gebundelde terrorisme” oor Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte deur Aryan Kaganof in Beeld/Die Burger/Volksblad, 27 September 2021
Charl-Pierre Naudé se resensie van Aryan Kaganof se eksperimentele teks Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte staan van meet af uit omdat dit begin met ’n onomwonde verklaring – iets wat party resensente vir die einde hou, en waarby ander nooit uitkom nie. Tussen dié sterk begin en die oop vraag aan die einde, is ’n resensie wat konteks bied en vars inligting opdis wat as noodsaaklike sleutel dien om ’n dikwels verbluffende boek vir die leser te ontsluit. Waar Naudé ander boeke en skrywers by die resensie betrek, is die relevansie duidelik en die vergelykings verhelderend. Die literêre teorie rondom cento word soomloos in die resensie verpak en daar word voorbeelde en konteks verskaf om uit te wys hoe dit in die boek funksioneer, asook verduidelik wat die funksie van dié tegniek is. Naudé kry dit reg om die inhoud van die boek duidelik oor te dra en gee die leser ’n goeie gevoel vir wat hulle op stylgebied te wagte kan wees. Die aanhalings uit die boek is slim gekies om die voorsmaak te versterk terwyl dit Naudé se punte staaf en sy argumente ondersteun. Die resensie is vol humor en geweldig leesbaar. Naudé is ’n skerp leser wat verbande trek, interessanthede, speletjies en simboliek opmerk en uitwys, en vars insigte en interpretasies na sy resensie bring. Sy vermoë om sinne te skryf wat die essensie van ’n boek in ’n paar woorde vasvang, is ongeëwenaar.
Niefiksie
Jean Meiring: “Goldblatt ’n vreemde, fiere eik van ’n vrou” oor Op soek na Saartjie deur Dominique Malherbe in Beeld/Die Burger/Volksblad, 17 Mei 2021
In sy resensie van Dominique Malherbe se boek Op soek na Saartjie: Langenhoven se geheime liefde keer Jean Meiring telkens geykte idiome en resensie-clichés op hulle kop om vele klein plesiertjies in die lees van die resensie te verskaf. Daar is seker nie nog ’n Afrikaanse resensent wat soveel huiswerk doen soos Jean Meiring nie. Die navorsing en addisionele opleeswerk word egter net betrek waar dit relevant en funksioneel is, en die resensie gaan nie gebuk onder die gewig van onnodige feite of verwysings nie. Dit word wel goed ingespan om foute uit te wys waar dit nodig is. Die deeglike verwysings na Kannemeyer se Langenhoven-biografie word baie sinvol met sy ontleding van Malherbe se boek verweef, en die voorbeelde wat hy noem om sy argumente te staaf is interessant en prikkelend. Die resensie is gebalanseerd en die toon is positief, maar nooit oordadig nie. Die kritiek wat uitgespreek word, word ondersteun met aanhalings en konkrete voorbeelde wat Meiring se kundigheid en insig demonstreer sonder om gemeen oor te kom. Meiring bied ook hier ’n meestersklas aan in hoe om multifunksionele sinne te skryf wat gelyktydig noodsaaklike inligting oordra én menings uitspreek, soms baie direk, en soms met ’n tikkie veelseggende subtiliteit.
Langer resensies
Izak de Vries: LitNet-resensie van Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith, LitNet, 6 April 2021
In Izak de Vries se bespreking van Francois Smith se tweede roman word ’n velerlei ander skrywers en boeke betrek om leeskringe te help om hulleself ten opsigte van dié boek te oriënteer. Dit is slim om sy betoog oor ’n uitdagende boek af te skop deur dit direk te verbind met Smith se Kamphoer, waarmee die meeste lesers bekend sal wees, en ook om die meer populêre fiksie van Deon Meyer by te haal om moontlik skeptiese leeskringlede se aandag te prikkel. Die trant van De Vries se lang resensie is in voeling met die behoeftes van uiteenlopende lede van leeskringe: Daar is die “lees die boek as speurverhaal”-invalshoek vir diegene wat aansporing gaan nodig hê om aan die lees te kom, en die meer diepsinnige en literêre aanslag in die gedeelte wat Smith se boek met die werk van Karel Schoeman vergelyk. De Vries se skryfstyl is toeganklik en verval nie in die droë akademiaans waaronder baie van die ander langer resensies gebuk gaan nie. Hy is ’n ingeligte reisgids wat nuuskierige lesers op van die interessantste versteekte voetpaadjies deur Smith se boek lei.
Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2022.
Lees ook:
kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys 2022: Die getuienis deur Francois Smith
kykNET-Rapportprys vir fiksie 2022: Vier susters deur Gerda Taljaard
kykNET-Rapport-boekpryse 2022: Afrikaanse skrywers en resensente bekroon met R1 miljoen
kykNET-Rapportprys vir niefiksie 2022: Van Humpata tot Upingtonia deur Nicol Stassen