kykNET-Rapportprys vir fiksie 2022: Vier susters deur Gerda Taljaard

  • 0

Wenner: Gerda Taljaard vir Vier susters (Penguin Random House)

Gerda Taljaard se Vier susters begin met ’n verwysing, in een van Sophié se briewe, na ons oudste beskawings – oftewel “die mense van die voorgeskiedenis wie se handbyltjies en pylpunte ons as kinders in grotte gekry en waarmee ons sonder nadenke gespeel het” (p 9). In ’n daaropvolgende hoofstuk, geskryf uit die oogpunt van Catharina (Kietie), gaan dit oor die afstammelinge van ’n stam wat voor Shaka uit gevlug het na Mosambiek. Hierdie oorspronggeskiedenis, in die vorm van ’n lied wat geparafraseer word, raak die skriftelike vergestalting van ’n orale oorlewering. Sulke oomblikke, waarin verskillende wêrelde naas mekaar gestel word of oorvleuel, is tekenend van die panoramiese agtergrond waarteen Taljaard haar verhaal oor die vier susters van Magoebaskloof laat ontvou.

Dit is ’n historiese roman oor die geskiedenis van Suid-Afrika en Afrikanerskap wat ook kennis neem van ander geskiedenisse en vele verhale van swaarkry op meer as een kontinent. Die koms van die Italiaanse krygsgevangene dwing die susters byvoorbeeld om bewus te bly van ander traumas as net dié wat hulle persoonlik raak. Dit is ook geen wonder nie dat die titel gelees word as ’n toespeling op Tsjechof se Drie susters, want dit gaan hier op ’n baie universele manier oor die wanhoop en woede van vroue in oorlogstyd – álle oorloë.

Natuurlik gaan dit ook om die oorlog tussen man en vrou, en die letsels wat dit laat. In hierdie opsig blink die roman uit as een wat nie net breed kyk nie, maar ook diep kyk. Die vroue in hierdie roman is sterk, maar beskadig. Die verhale wat ontvou oor hoe hulle deur die patriargie verwond is, is kragtig. Dit geld ook vir die verhale van die susters se twee moeders, al twee reeds oorlede wanneer die verhaal ’n aanvang neem.

Miskien is die skildery van ’n plaaswerf op die voorblad skeef gedruk omdat die susters so skewekop en ondersoekend na hul “werklikhede” kyk. Die roman speur pragtig na hoe hulle altyd maar bly oorweeg en heroorweeg. Baie gesofistikeerd is hoe daar nie na ’n finale of klinkklare antwoord gestreef word nie.

Vier susters is meesleurend en aksiebelaaid. Die hoogavontuur sluit sagkens aan by die emosionele wêrelde van die karakters. Nie avontuur, drif óf gevoel staan terug vir die ander nie. Lakonieke humor en oomblikke van donker geestigheid dra by tot ’n roman wat ernstig is, maar nie onverbiddelik swaar nie.

Die subtiliteit van die roman en die ingehoudendheid waarmee Taljaard die tragiese verloop van gebeure hul gang laat gaan, is treffend.

Die reeds veelfasettige, veeltalige, veelkantige roman wen verder aan diepte en kompleksiteit deur die volkse en sprokieselemente (soos die herskrywing van die Baba Yaga-figuur uit die Slawiese mitologie); asook die magies-realistiese elemente, met boeiende oomblikke wanneer gees en vlees, en mens en dier, vervloei.

Vier susters verdien die beskrywing “kragtoer” volkome. Dit is ’n leesbare dog behendige en beleë roman en ’n waardige wenner vir vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie.

Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2022.

Lees ook:

kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys 2022: Die getuienis deur Francois Smith

kykNET-Rapportprys vir niefiksie 2022: Van Humpata tot Upingtonia deur Nicol Stassen

kykNET-Rapport-boekpryse 2022: Afrikaanse skrywers en resensente bekroon met R1 miljoen

Jan Rabie-Rapportprys 2022: Kompoun deur Ronelda Kamfer

kykNET-Rapport-boekresensent van die jaar 2022: Commendatio's

Resensie: Die getuienis deur Francois Smith

Die getuienis: ’n onderhoud met Francois Smith

Kompoun: Ronelda Kamfer en Annemarié van Niekerk práát

Kompoun deur Ronelda Kamfer: ’n leeskringbespreking

Vier susters deur Gerda Taljaard, ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top