Vier susters deur Gerda Taljaard, ’n resensie

  • 0

Titel:Vier susters
Skrywer: Gerda Taljaard
ISBN: 9781485904700
Uitgewer: Penguin

Dat Gerda Taljaard se vierde roman, Vier susters, nie bang is om sterk stellings te maak nie, sien jy reeds as jy na die voorblad kyk. (En as dit jou ’n rukkie neem om te sien dis ’n skildery van ’n plaastoneel wat horisontaal gebruik is, wees getroos – ek dink baie van ons het dit nie met die eerste oogopslag raakgesien nie.)

Die skildery op die voorblad herinner aan ’n Pierneef-skildery en ’n baie spesifieke era in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die verhaal speel af op ’n plaas – weliswaar nie ’n plaas op die vlakte soos op die voorbladskildery nie, maar in die bosryke, byna magiese Magoebaskloof.

Dis die jaar 1945, en die Tweede Wêreldoorlog oorheers die wêreldnuus. Ook hier in Suid-Afrika is oorlogpraatjies aan die orde van die dag, en daarmee saam ook die konflik tussen Nat en Sap oor Suid-Afrika se deelname aan die oorlog. Dis ook die tyd van die Ossewabrandwag en hulle Stormjaers, oftewel die “stormtroepe van die Afrikanervolk” (gebaseer op die voorbeeld van die Sturmabteilung van die Nazi’s), aldus Wikipedia. Die Stormjaers is gestig uit protes teen die regering se steun aan Brittanje in die oorlog.

Dit is, in ’n neutedop, die agtergrond waarteen die roman afspeel. Die karakters is ewe interessant, en meer uiteenlopende susters kan mens jou kwalik voorstel. Almal is bymekaar onder een dak vir die begrafnis van Boas, die oudste suster, Beatrice, se man. Sophié, die tweede oudste suster en getroud met ’n Engelse dokter in Johannesburg, is reeds daar wanneer Ivy, die jongste en ongetroude suster, onverwags en erg getraumatiseer daar opdaag. Maar hoekom het sy geen bagasie by haar nie? En wat het die Stormjaers en die Ossewabrandwag met haar trauma te doen, en waar pas Grieta Wolf in?

Kietie, die vierde suster, is swart. Haar biologiese ma is kort na haar geboorte dood en sy is deur die susters se ma grootgemaak. Maar al was sy soos ’n kind in die huis, het die gemeenskap haar mettertyd gemarginaliseer; en weens die rassisme wat Kietie maar altyd agtervolg het, besluit sy as tiener om eerder in die bediendekamer in te trek. Na Boas se dood trek sy egter weer terug na die hoofhuis om Beatrice by te staan.

Polities staan die susters lynreg teenoor mekaar. Sophié ondersteun die regering en hul besluit om aan die Tweede Wêreldoorlog deel te neem. Haar Engelse man, sy ambisie en die jare wat sy in die baie meer liberale stadsomgewing deurgebring het, speel uiteraard ’n rol. Beatrice is ’n Nazi-simpatiseerder wat snags na berigte oor die oorlog luister op die Duitse sender Radio Zeesen Ivy en wat ook in die stad skoolhou. Sy raak betrokke by die Stormjaers en die Ossewabrandwag (al is dit ook om die verkeerde redes.) Kietie ken vooroordeel, wat spruit uit die politiek van die dag, aan eie lyf.

Asof dit nie reeds ’n wenresep vir konflik en spanning is nie, ontferm Kietie haar oor ’n beseerde voortvlugtige Italiaanse krygsgevangene wat sy op die plaas aantref. Domenico Valente, ’n skilder, sorg vir ekstra spanning tussen die susters, en nie net omdat die owerhede nie mag weet hy skuil daar nie. Domenico se eerstehandse ervaring van die oorlog (hy is in Egipte gevange geneem) staan ook in sterk kontras met dit wat die susters dink hulle van die oorlog weet.

Vier susters word vertel uit die verskillende perspektiewe van die susters en Domenico. Sophié se briewe aan haar man, Robert, vorm die agtergrond van die woordskildery waarop elkeen van die vyf hoofkarakters se verhaal mettertyd ontvou.

Die ruimte (die bos en die voortdurende reën) sorg vir verdere spanning in Vier susters. Die bos is immer teenwoordig en onheilspellend, en die onophoudelike reën ry Boas se begrafnis byna in die wiele. Dis iets wat Beatrice bes moontlik sou verwelkom, want nadat sy vir jare ongelukkig getroud was, sien sy skynbaar nie kans om vir Boas finaal te laat gaan nie. Die reën beklemtoon ook die susters se isolasie van die buitewêreld. Dit lei onvermydelik tot konfrontasie, want hulle het net mekaar (en later Domenico) om mee te praat.

Die begrafnis vind uiteindelik wel plaas, en sorg indirek ook vir ’n latere onwelkome besoeker op die plaas. Maar gaan lees gerus self wat met hom gebeur en hoe dit die susters se verhoudings beïnvloed.

Vier susters bevat elemente van die briefroman, historiese roman en plaasroman, vernuftig gekombineer in ’n boeiende verhaal waarin verhoudings sentraal staan. En soos altyd met Gerda Taljaard se werk word dit vertel op ’n unieke manier wat wyd byval behoort te vind onder liefhebbers van ernstiger Afrikaanse werk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top