In Ronelda Kamfer se debuutroman Kompoun is ’n taalvirtuoos aan die slag; ’n meester wat die Afrikaanse taal soos ’n outydse viool bespeel. Die mag en die magic van Afrikaans straal uit sowel dit wat ongesê is as dit wat geskryf staan, in soveel tongvalle as wat in die vesel en bloed en lag en huil van die verskillende karakters lê, Afrikaans die “trots klein instrument” waarvan Jan Rabie, wie se naam die prys dra, in Ons die afgod (1958) praat.
Die einste Jan Rabie skryf in sy Paryse dagboek oor “Afrikaanse skrywers se onvermoë om objektief en brandend-eerlik oor hul mense se groot probleme te skryf”. Hy sou oor Kamfer se Kompoun gejubel en gejuig het. Ook omdat sy, anders as Etienne Leroux in sy debuutroman Die eerste lewe van Colet (in Rabie se brief van 28 September 1956), dit regkry “om sosiale maatskaplike [en in die geval van Kamfer historiese] feite net so helder in die oë te sien as sielkundige feite”.
Met dieselfde klaarheid skryf Kamfer Kompoun teen die geskiedenis en onder andere die konvensies van die plaasroman in. Sy verskuif die tradisionele “baas van die plaas” na die marges waar dié baasskap onsigbaar en stemloos gemaak word en laat vroue in die sentrum te staan kom. Dis opvallend hoe sy hulle sonder ’n sweempie triomfantelikheid of romantisering stem gee, hulle terugskryf in die geskiedenis, terug in ’n boek waar hulle gehoor en raakgesien sal word, onignoreerbaar, mens in al hul volheid, goed én sleg. Kompoun skyn immers nie net ’n kritiese lig op die wandade van wit mense of mans nie, maar ook op vroue se aandadigheid, “die vrouens wat vir hulle opcover”, soos Nadia, een van die kindervertellers, sê.
Dit is die werk van ’n skrywer wat haar nie sommer in ’n blik laat druk nie. Kompoun is ’n déúrgekomponeerde werk uit die hand van ’n meesterstorieverteller met die taalgevoeligheid van ’n digter en die vernuf, tegniek en skerp waarnemingsvermoë van ’n wêreldklasskrywer. Terselfdertyd konfronteer hierdie roman, wat afspeel binne en oor inter- en intra-afhanklike familieverbande, ons met indringende vrae, nie net oor wat ons van die verlede onthou nie, maar oor hoe ons onthou, oor hoe die geskiedenis ons menswees in hierdie land gevorm het en steeds beïnvloed.
Dis ’n onthouboek dié, ’n hou-en-klouboek. Kompoun: Die boek as monument vir ’n ruimhartige Afrikaanse taallandskap; die boek as spieël wat hierdie land, hierdie Afrikaanse taal van ons nodig het.
Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2022.
Lees ook:
kykNET-Rapport-boekresensent van die jaar 2022: Commendatio's
kykNET-Rapport-boekpryse 2022: Afrikaanse skrywers en resensente bekroon met R1 miljoen
kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys 2022: Die getuienis deur Francois Smith
kykNET-Rapportprys vir fiksie 2022: Vier susters deur Gerda Taljaard
kykNET-Rapport-boekresensent van die jaar 2022: Commendatio's
kykNET-Rapportprys vir niefiksie 2022: Van Humpata tot Upingtonia deur Nicol Stassen