kykNET-Rapportprys vir niefiksie 2022: Van Humpata tot Upingtonia deur Nicol Stassen

  • 0

Wenner: Nicol Stassen vir Van Humpata tot Upingtonia (Protea Boekhuis)

Net soms verskyn daar ’n boek wat heeltemal ongewoon en uitsonderlik is. Nicol Stassen se Van Humpata tot Upingtonia is só ’n kultuurprestasie. ’n Historiese skepping wat soos ’n outydse seerowerskip ’n skat van juwele en speserye aflewer. In ’n sekere sin is die geleerde doktor Stassen miskien Suid-Afrika se Johnny Depp van Pirates of the Caribbean, met die verskil dat ons bekroonde outeur in hierdie vergelyking op ’n mensliewende ekspedisie is as die kaptein van die Dorslandtrekkers.  

Beknop gesien is hierdie boek ’n ingrypende verhaal van ’n klein klomp ontheemde Afrikaner-trekkers in die later dekades van die 19de eeu, op reis tussen Humpata in Angola en Grootfontein in Namibië. Daar het die rustelose groep die kortstondige republiek van Upingtonia gestig; een van die piepkleinste malkop- republikeinse drome uit daardie tydperk. Daarna is die grootste deel van die groep terug Transvaal toe.

So ’n geraamte van ’n opsomming kan skaars die omvang en die rykdom van hierdie treffende historiese navorsing saamvat. Die besondersheid van Van Humpata tot Upingtonia is driedelig.

Eerstens is dit ’n boek wat ’n ongewone en onbekende stuk geskiedenis vir die leser oopmaak. Die skrywer werp splinternuwe sosiale en kulturele lig op ’n klein en afgeleë hoekie van die Afrikaner se trekervaringe. Die verhaal is gelaai met die trekkers se moed, stryd, verlies, hartseer en, uiteindelik, gebroke drome.

Tweedens lewer hierdie skitterende voorbeeld van kleingeskiedenis oor afdraaipaaie ’n vars en verrassende bydrae, nie net tot Suid-Afrikaanse historiografie nie, maar ook tot algemene historiese kennis. As ’n gemeenskap van sonderlinge randfigure uit die wêreldgeskiedenis van negentiende-eeuse migrasie kan hierdie boek se Prinsloos en Labuschagnes langs Suid-Amerika se dwalende Italiaanse Zaboli’s en Padovani’s en Noord-Amerika se Ierse Sullivans en Quinns stap. Op een of ander wyse was hulle almal deel van dieselfde moment – ’n beweging van mense op die pad van verstrooiing. Hulle kan moontlik vergelyk word met die diaspora van Afrikaners in Patagonië, Argentinië en Oos-Afrika later, in die twintigste eeu.

Derdens is die inhoud en beskouing in Van Humpata tot Upingtonia innoverend. Die Angola-/Namibië-/Transvaal-trekroetes gedurende die 1880’s beteken dat dit nie ’n stereotiepe nasionale geskiedenis kan wees nie. Uit ’n teenswoordige oogpunt bewys hierdie publikasie vir ons dat suidelike Afrika se fassinerendste en ingrypendste stories nie noodwendig binne koloniale of ander soorte grense ontstaan het nie. Die Humpata-Boere was ’n klein, amper bonsai- klompie kansvatters op buitengewoon lang paaie. As ’n groep het hulle versprei oor ’n reuseterrein in ’n trekepisode wat vir baie moderne historici ’n klassieke voorbeeld is van sosiaal-ekonomiese geskiedskrywing in ’n transterritoriale, transnasionale en transsamelewing-raamwerk. Aan die einde van hierdie merkwaardige boek herinner Nicol Stassen sy lesers dat hierdie ervaring ’n unieke swerftog was deur die grootste deel van die binneland van Suider-Afrika. Daardeur gee hy verlore geskiedenis nuwe lewe.

In ’n verbeeldingryke sin was die trekkers met hulle moeilike omstandighede dwergies midde-in ’n reuselandstreek; soms woestyn, soms bos, soms woelig, soms stil. Die toonaard van die portret van menselewe wat hier geskilder is, is amper pikaresk of barok; op bladsy ná bladsy ontmoet die leser ’n gedenkwaardige stel karakters uit ’n kleurryke negentiende-eeuse tableau vivant.

Daarby is daar in die Van Humpata tot Upingtonia-tablo altyd ’n regmatige plek vir almal, nie net vir die wit Nels, Bouwers en Groblers nie. Die skrywer neem volle bestek van Namas, Basters, Damaras, Ovambo’s en Boesmans, en gee skerp insigte in die dikwels ingewikkelde verhoudings tussen swart mense en die trekkers. Ook die ander groepe wat Van Humpata tot Upingtonia bevolk is nie ’n naamlose massa nie. Die leser ontmoet individue soos hoofman Manasse Tjiseseta van Omaruru met sy bewapende onderdane en Kambonde kaMpingana van Ondonga met sy familie.

Ook rondom die Afrikanerboere en -jagters is daar ’n opmerklike klomp andersoortige en anderstalige Europeërs, soos Duitse amptenare, Portugese soldate en reisigers uit Madeira, en Finse sendelinge.

Hierdie is die lewenswerk van ’n noukeurige en gewikste navorser wat baie min miskyk. Die nuuskierige leser ontdek ’n boek vol stemme en gesigte wat jou bybly; veertien hoofstukke wat ’n luisterryke koor vorm. Die letterkundige lied is ’n tapisserie wat dans en die leser deurentyd boei.

Die inhoud is die resultaat van uitsonderlike navorsing met materiaal aangehaal uit die wydste primêre bronne. Amper eenhonderd bladsye is nodig vir die bylae, bronne, behoorlike indeks en eindnotas. Van begin tot einde is die vertelling verryk met treffende klein besonderhede. Die somtotaal en verskeidenheid van foto’s, afbeeldings, kaarte, ensovoorts, is nie net uitsonderlik nie. In die tradisie van die beste internasionale geïllustreerde geskiedenisboeke is die prente nie kosmeties nie. Elkeen doen iets om die teks aan te vul.

In vandag se spookasem-media-omgewing troon Nicol Stassen se boek uit as ’n prima voorbeeld van transterritoriale geskiedskrywing. Van Humpata tot Upingtonia is waarlik ’n werk met lang bene en die belofte van ’n lang lewe op menige boekrak. Hierdie uitstaande wenner van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir niefiksie is ’n boek waarna lesers keer op keer sal, kan en wil terugkeer.

Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2022.

Lees ook:

kykNET-Rapport-boekpryse 2022: Afrikaanse skrywers en resensente bekroon met R1 miljoen

kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys 2022: Die getuienis deur Francois Smith

kykNET-Rapportprys vir fiksie 2022: Vier susters deur Gerda Taljaard

Jan Rabie-Rapportprys 2022: Kompoun deur Ronelda Kamfer

kykNET-Rapport-boekresensent van die jaar 2022: Commendatio's

Resensie: Die getuienis deur Francois Smith

Die getuienis: ’n onderhoud met Francois Smith

Kompoun: Ronelda Kamfer en Annemarié van Niekerk práát

Kompoun deur Ronelda Kamfer: ’n leeskringbespreking

Vier susters deur Gerda Taljaard, ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top