Wenner: Francois Smith vir Die getuienis (Tafelberg)
Iewers in die afgelope vyftien jaar het die woorde “geloof, hoop, liefde” ’n soort dekoratiewe revolusie in Afrikanerdom teweeggebring. Jy weet jy’s in ’n Afrikaanse huis as “geloof, hoop, liefde” iewers teen ’n muur, op ’n plekmatjie, op ’n kussing, óf sommer op al drie voorkom. Met Die getuienis sleep Francois Smith hierdie eenvoudige mantra uit die cliché-kis, stof dit vir die 2020’s af, en neem dit op ’n besonder filmiese reis deur die verlate agterpaaie van Afrikana.
Om in die hedendaagse Afrikaanse boeke-oes behoorlik deur ’n roman trompop geloop te word, is ’n vreemde gevoel. Die taal pak immers die afgelope tyd alles aan en skrik nie om nuwe genres ook te verken nie. Terselfdertyd wil ’n mens ’n nuwe Afrikaanse boek versigtig benader – veral as dit oor twee ultragelowiges se bewussynstroomvertellings tydens ’n Godgeleide werksbesoek gaan. Ervaring dikteer daar is vele slaggate op so ’n pad.
Die getuienis is egter eiesoortig. Dit verras die leser van begin tot end; dit voer gelowige én ongelowige mee; die prosa smeek om visueel getransponeer te word tot film en die wêreld van die lesersverbeelding te veruiterlik vir verdere ontplooiing voor die kinematografiese oog. Ingebed in die roman is die materiaal waarmee twee akteurs ’n kragtoer voor die kameras sal kan lewer.
Aanvanklik skyn Die getuienis ’n misdaadroman te wees. ’n Donker paartjie in ’n dor mielieland met ’n noir-agtige tint. Ons almal ken daardie opset. Iewers is ’n lyk begrawe en ’n geharde speurder gaan enige oomblik opdaag. Soos die res van dié verhaal is dit egter bloot die eerste salvo in Smith se arsenaal van toertjies om jou te verfomfaai terwyl hy jou ál dieper in ’n avontuur soos geen ander insuig.
Ons het hier te make met ’n gelowige egpaar, Gerbrand en Retha, wat midde-in ’n tsunami van oënskynlike teëspoed steeds hoopvol genoeg is om ’n finansieel onhaalbare verskyning by ’n verafgeleë gemeente te maak. Die verloop is dié twee se meestal teenstrydige vertellings van hoe hierdie “wonderwerk” uitdraai. Die kern van die roman is dat die twee vertellings een verwordende land en sy mense impliseer; ons lees twee weergawes van ’n verhaal, maar die geestesoog sien die godskreiende aangesig van Suid-Afrikaanse verval, gesitueer in die manjifieke natuurskoon wat ons as so vanselfsprekend aanvaar. Vir ’n rolprentregisseur bied dit die ultieme uitdaging om tegelyk die binnelewens van die egpaar én van die land binne te dring en te sien hoe die verf oral afdop, sonder dat die kamera ons van ons liefde vir ons land vervreem. Vir die akteurs sal die vertolking van Gerbrand en Retha sonder twyfel ’n hoogtepunt in hul loopbane kan word.
Die uitdaging wat Francois Smith aan Die getuienis se lesers stel, is om te besluit wat die waarheid is. Met die toekenning van hierdie prys aan die roman, stel ons by implikasie aan ’n regisseur die uitdaging om daardie waarheid nie blatant te maak nie, maar dit visueel te suggereer, sodat die kyker self kan besluit wat die waarheid is. Dít is die essensie van groot filmkuns; dít is waarna ons met hierdie toekenning streef.
Alles wat die karakters doen, word toegeskryf aan “Vader” en sy wil, of word ten minste ter ere van hom gedoen. Hulle geloof is fundamenteel en letterlik, en is ’n uitstekende dramatiese dryfveer om hulle deur hulle tog te kry. Verbeel jou ’n jong Solly Ozrovech skryf ’n geloofsfabel oor twee Coen Brothers-karakters wat per ongeluk op Cormac McCarthy se The road beland. Dit klink soos drie donkies wat in verskillende rigtings trek, maar dis juis hierdie wisselwerking tussen opregtheid, humor en trauma wat – nes Gerbrand en Retha se geleende Ford Figo – Die getuienis se enjin vol brandstof hou.
’n Hoogtepunt is die fyn nuanses van Gerbrand en Retha se klinkklare en uiteenlopende stemme. Elkeen se binneste word snaaks én teer ontbloot. Hulle is regte, herkenbare mense, al voer hulle ’n bestaan in die buitewyke van die sogenaamde gewone samelewing. Met “Vader” as hulle enigste werklike kompas, beur Gerbrand en Retha deur die saai platteland op soek na hulself en katarsis. In ondersteunende rolle het ons ’n seun wat met die helm blyk gebore te wees, ’n ma en stiefpa wat hul bes doen om positief te bly, ou vriende wat vyande geword het, en ’n bandemechanic-broerskind met geheime. Die feit dat Smith ’n betekenisvolle oomblik kan skep met laasgenoemde wat vir sy oom en tannie ’n pizza wil koop, dui op die grootgeestigheid waarmee Smith hierdie mense uitbeeld. Een en elk is ’n karakter, geeneen ’n karikatuur. Hoewel die gebeure gereeld komies is, mik Smith na iets diepers as goedkoop grappe en pothoue.
Die getuienis wen die filmtoekenning vir 2022 omdat ons bedryf sulke films nodig het. Kleinfilms, in die luim van Chloé Zhao se Nomadland, Wim Wenders se Paris, Texas of Alfonso Cuarón se Y tu mamá también, wat sagkens die groot temas aanpak. Die karakters is enige akteur se droom. Die dialoog is voyeuristies eg. Die landskap waardeur Gerbrand en Retha rits is so te sê reeds ’n apokaliptiese film; die skrapnellandskap van hedendaagse Suid-Afrikaanse klein dorpies wat smeek om verfilm te word. Boonop vleg al hierdie elemente saam om die dieper temas van “geloof, hoop en liefde” met deernis te verken sodat enigiemand, en nie net Afrikaners nie, daarby sal aanklank vind. As dit Vader se wil is.
Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2022.
Lees ook:
kykNET-Rapportprys vir niefiksie 2022: Van Humpata tot Upingtonia deur Nicol Stassen
kykNET-Rapport-boekpryse 2022: Afrikaanse skrywers en resensente bekroon met R1 miljoen
kykNET-Rapportprys vir fiksie 2022: Vier susters deur Gerda Taljaard
kykNET-Rapport-boekresensent van die jaar 2022: Commendatio's