Met ‘n bornfree na die stembus

  • 0

My ID-boekie val uitmekaar. Ek sal eendag Binnelandse Sake moet gaan aandurf. Wanneer die nuwe ID opdaag, sal ek hierdie een egter vir ’n rukkie lank koester. Min goed stem my sentimenteel, maar die stemrekord in my stukkende boekie dra heelwat herinneringe.

Vanoggend was spesiaal omdat my meisiekind vir die eerste keer kon stem.

Sy was voor sonop al in ons kamer. Ek het vir almal koffie gemaak. Haar ID-boekie was reg toe ek die beker vir haar gee.

Die tou was kort, ons is in, het die twee ongelooflik lang briewe gekry, kruisies getrek en uitgestap.

Toe, natuurlik, ’n selfie op Facebook geplak.

Om saam met my meisiekind te kon stem was spesiaal.

Ek het die kamera gestel en gevra sy moet my ook afneem. Vir my is ’n demokratiese stem steeds iets om oor opgewonde te wees.

Hoe anders was my eerste keer nie.

My eerste stem: 6 Mei 1987

Ek was in die weermag. Ek was wit. Dus kon ek stem. Vreemd genoeg was die weermag een van die laaste goed wat my finaal van die sotheid van apartheid genees het.

’n Troep was ’n mindere klas, iets sonder ’n sê, ’n besitting. Daar is voortdurend aan ons gesê ons is die eiendom van die weermag.

Ja, ek was wit, maar ek was ’n niks. Geen regte nie; daar is duidelik gesê as hulle my opinie wou hê, sou hulle dit vir my gee.

Toe kon ek stem.

Colin Eglin se PFP (Progressiewe Federale Party) was in die moeilikheid, want almal het verwag dat Andries Treurnicht se KP (Konserwatiewe Party) die opposisie sou word.

Die KP het destyds aan die Nasionale Party (NP) gedoen wat die EFF vandag aan die ANC doen, maar ek kon not ’n dôner vir die KP stem nie. Verdomp nee. Die keuse was dus tussen die walglike Krokodil en die taamlik oninspirerende Eglin.

Die keuse, in my bruin oorpak, was vir die underdog.

6 September 1989

Die Krokodil se dae was getel. Hy het nog soos ’n vuisvoos bokser aan sy paal vasgeklou, maar FW de Klerk het hierdie verkiesing uitgeroep. Die jonger man was ’n kapokhaan. Hy wou PW se tjank aftrap. Dit was nie nodig om weer ’n verkiesing uit te roep voor 1992 nie, maar hy wou duidelik iets bewys. Wat dit was, kon ek nog nie sê nie.

Ek was, om eerlik te wees, benoud oor FW. Daar was op daardie tydstip geen enkele aanduiding dat hy veel beter sou wees as PW nie.

Hierdie verkiesing het egter vir my twee belangrike stukkies lekkerkry ingehou.

Die eerste was dat die sukkelende PFP vervang is met die DP (Demokratiese Party). Ons het skielik weer ’n linkse party gehad wat iets beteken het.

Die tweede was dat ek ’n aantal dae voor die verkiesing die hoofkelner was by die geleentheid waar Treurnicht sy skadukabinet laat eet het voor hulle groot, laaste poging om die verkiesing in te palm. Hulle het werklik geglo hulle staan ’n kans.

Dis ’n lang storie, met ’n paar mense wat ek liefs nie nadoods wil betrek nie, maar ek was die butler wat daardie aand Ferdi Hartzenberg se blou Jetta gaan inwag het. Hy het self bestuur. Sy handdruk was deeglik, sy oë so koud soos ’n dubbelloophaelgeweer.

Op die agtersitplek het Treurnicht gesit. Hy het ook die deur self oopgemaak. Sy handdruk was warm en hartlik.

Ek het baie gehou van Treurnicht as mens, maar ek het met genoegdoening gaan stem teen alles wat die KP gedoen en gesê het.

Die NP het minder as 49% van die stemme gekry.

Vir die eerste keer sedert 1948 was die magtige Natte aan die wankel, al kon hulle aan 94 setels vasklou. Die DP was die groot wenner. Hulle kon 33 setels inpalm, net ses minder as die verstomde KP.

Referendum 17 Maart 1992

Op 2 Februarie 1990 het ek op my bed gelê en met groeiende verbasing na FW de Klerk geluister. Dit was moeilik om te glo ek hoor wat ek hoor, maar dit was waar.

Op 17 Maart 1992 was ek ’n langhaarstudent aan die Universiteit van Natal. Baie van my klasmaats was vir die eerste keer oud genoeg om te kon stem. Vir my was dit ’n viering van demokrasie. Ons sou apartheid vir ewig agterlaat.

Hoewel dit bitter was dat net wit mense kon stem, was daar by my en my vriende geen geheim wat ons sou stem nie. Ons was blatant.

Ek en ’n hele spul universiteitsvriende is saam na die stembus en het byna marakkas gemaak oor ons oral op ons klere die woord YES gehad het. Arme Kerry, ’n blinde meisie, kon nie eens sien waar ons haar oral beplak het nie. Ons moes almal eers al die plakkers afhaal voor ons in die stemlokaal kon ingaan.

Ons het.

Ons het gestem; die heel, heel laaste keer dat ras ooit gebruik is om stemme te bepaal.

Die groot dag in 1994

Baie mense het stories om te vertel. Myne was een van stille opwinding, al kon ek nie die eerste dag stem nie. My toenmalige verloofde moes by die hospitaal kom, so ons moes omdraai oor die tou te lank was.

Die volgende dag was die tou korter en ons kon ons kruisies trek.

Terug na vandag

Dit is steeds ’n voorreg om te kan stem.

Dit was des te meer ’n vreugde om my meisiekind na die stemlokaal te vergesel.

Ek het haar nie gevra vir wie sy gestem het nie, maar ek weet sy het teen korrupsie gestem. Dit het sy wel geskimp. Ek is trots op haar.

Dink ’n bietjie: as die KP nie in 1987 die NP seergemaak het, en in verskeie tussenverkiesings verder gelooi het nie, sou De Klerk nie die noodsaak gesien het om in 1989 weer ’n verkiesing uit te roep nie.

As die DP nie ’n enorme deel van die NP se stemme geneem het nie, sou De Klerk minder maklik die skrif aan die muur kon gelees het.

As Suid-Afrika se wit mense nie in 1992 oorweldigend JA gestem het nie, sou ons nie in 1994 ’n demokratiese verkiesing kon gehad het nie en sou my bornfree nie vandag sonder haar verskillende grootmaakouers se bagasie haar kruisie teen korrupte politici kon getrek het nie.

Elke stem maak steeds ’n verskil.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top