Spraakprobleem? Nee! Spraakoplossing!

  • 1

Moses het gehakkel, maar dit het hom nie gekeer om een van die groot leiers te wees in godsdienstige geskrifte nie.

Shantille Klaasse, van St Anna Sekondêr in Springbok, is ook geneig om te hakkel. Dít was een van die goed wat gemaak het dat sy dieper moes delf en meer moes konsentreer as enige ander deelnemer aan Saterdag se landswye Afrikaanse Spelfees vir graad 9-Huistaalleerders. Alle aanduidings is daar dat sy só hard gewerk het aan haar konsentrasie dat geen ander leerder ’n kans gestaan het nie.

Die leerders het vir ure lank opgestaan, ’n woord gehoor, die woord herhaal, gespel en dan die woord weer herhaal.

Vir nie een enkele oomblik was daar tydens die kompetisie ’n aanduiding dat Shantille hakkel nie. Dit was eers toe ek later, ná die verrigtinge met haar ’n onderhoud gevoer het, dat ek besef het hoe mooi sy op haar woorde moet let.

Haar afrigter, en onderwyser, suster Saul, het aan my vertel dat hulle twee baie hard moes werk om Shantille voor te berei en dat hierdie fyne meisie se vermoë om alle eksterne faktore uit te sluit en te kan konsentreer, juis gemaak het dat sy so ongelooflik goed was in Saterdag se Spelfees.

Die opposisie was kwaai. Die heel beste leerders van oor die hele land is afgevlieg om deel te neem – saam met hulle ouers of voogde. Dikwels het die onderwysers saamgekom.

Die beste graad 9-Afrikaanse Huistaal-breine was bymekaar, en Shantille het hulle almal kafgedraf.

Die leerders moes een ná die ander moeilike woorde spel. Dit het ronde vir ronde aangegaan. Die bekende akteur, Waldemar Schultz, het die vrae gevra en het met sy ligte aanslag die erns nou en dan verdryf, tog was dit uiters spannend. Dit was doodstil in die saal.

Ronde vir ronde moes die leerders opstaan, die woord hoor, dit herhaal, dit spel en weer herhaal.

’n Korrekte-woord is met ’n groen kaartjie beloon, maar een enkele fout met die spel van ’n woord en daardie deelnemer is onmiddellik geëlimineer.

Uiteindelik was daar drie, toe twee, en toe nét die een meisie Shantille Klaasse wat geen fout gemaak het nie.

Wat my opgeval het, was hoe moeilik van die woorde was. Iets soos peneplain ... ek nie eens geweet wat dit beteken nie; ek sou dit ook nie kon gespel het nie.

Selfs Wannie Carstens, ’n taalkundige en voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het ná die tyd op Facebook gesê: “Ja, van die woorde het mooi dink geverg!”

Dié spannende Afrikaanse Spelfees vir graad 9-leerders wat Afrikaans as Huistaal neem, het Saterdag 26 Oktober 2014 op Stellenbosch plaasgevind. Die Afrikaanse Spelfees is ’n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, in samewerking met die ATKV en Woorde Open Wêrelde (WOW). Beide WOW en die ATKV is betrokke by spelkompetisies en die Akademie het dié twee instansies genader om ’n gesamentlike projek aan te pak.

Ek het halftyd met ’n aantal leerders onderhoude gevoer. Rozaan Cloete was een van hulle. Toe ek haar vra waarom sy deelneem, was haar antwoord dat die spelkompetisie haar woordeskat uitbrei en haar help om beter opstelle skryf.

Monisha Engelbrecht, een van die leerders wat eers diep in die tweede helfte uitgeval het, sê sy neem deel “omdat ek mal is oor die digkuns en ek my digkuns wil bevorder”.

Aan Shantille het ek, ná sy gewen het, gevra wat sý gedoen het om so goed te wees. Sy sê sy het die woorde uitgeskryf en het seker gemaak dat sy weet wat elkeen beteken.

Die deelnemers het tuisgegaan in die Stellenbosch Lodge, wat die fasiliteite teen baie lae tariewe beskikbaar gestel het.

Elkeen van die finaliste het ’n medalje en ’n geskenkpakkie van die ATKV ontvang, asook ’n kopie van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, geborg deur Pharos.

Verskeie rolspelers het kommentaar gelewer op die gehalte van die jongmense se kennis.

Die hoof uitvoerende beampte van die SAAWK, Dion? Prinsloo, het gesê dat Saterdag die begin van groter dinge was. Saam met die ATKV en WOW hoop hulle om dié landswye Spelfees na heelwat meer grade uit te brei.

Saartjie Botha, die direkteur van die US Woordfees, wat ook betrokke is by WOW, het gemeld hoe wonderlik dit is dat ras geen rol meer speel in die gehalte van die Afrikaans wat die leerders gebruik nie. Almal ding mee en in sommige streke is bruin leerders sterker, en in ander sal wit leerders weer met die louere wegstap.

Die sosiale media het tydens en ná die kompetisie gegons. Verskeie gebruikers van Facebook en Twitter was vol lof vir dié inisiatief.

Wannie Carstens het hom Saterdagmiddag tot Facebook gewend om die wenner, Shantille Klaasse, geluk te wens. Oor haar het hy gesê: “Ek was daar. Hierdie meisie kan goed spel!”

Die spelkompetisie vir graad 9-leerders wat Afrikaans as Eerste Addisionele Taal (EAT) neem, ook bekend as die Afrikaanse Spelfees, is reeds op Saterdag 18 Oktober beslis. LitNet het reeds hieroor berig.

* * *

Hier is al die finaliste van ATKV, WOW en die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns se eerste Afrikaanse Spelfees. Hulle het van oral in die land gekom. Almal is in graad 9.

Die drie wenners: Tamia Jansen, Hoërskool Steenberg (2de plek), Shantille Klaasse, St. Anna Hoërskool (die wenner) en Rozaan Cloete, Okiep Hoërskool (3de plek).

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top