
Die spelkompetisie vir graad 9-leerders wat Afrikaans as eerste addisionele taal (EAT) neem, bekend as die Afrikaanse Spelfees, is Saterdag 18 Oktober vir die eerste keer nasionaal aangebied as deel van ’n spelinisiatief van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, in samewerking met die ATKV en Woorde Open Wêrelde (WOW).
Die wenner van die eerste EAT Afrikaanse Spelfees is Chad Smith van Hoërskool Noord-Kaap (Kimberley), Loveness Chinake van Willowmoore High (Benoni) was tweede en Zahra Mohamed van Hoërskool Patriot (eMalahleni) het die derde plek behaal. Loveness Chinake kom oorspronklik van Zimbabwe en het binne slegs ’n paar jaar die Afrikaanse taal onder die knie gekry.
Die deelnemende skole het elkeen ’n spellys van 800 woorde ontvang wat die kinders vooraf moes bestudeer om dan in Afrikaans te spel. Hulle het onder andere woorde soos deursettingsvermoë, indrukwekkend, intensiewesorgeenheid en akkommodasie gekry. Hierdie woorde is oor ’n mikrofoon voor ’n gehoor en beoordelaarspaneel gespel.
“Dit is nogal ’n uitdaging is as jy dink dat Afrikaans in baie gevalle die leerders se tweede en in die meeste gevalle hul derde taal is. Hulle moes ook die leestekens noem, soos byvoorbeeld deelteken-e, koppelteken en afkappingsteken,” verduidelik Eunice Scharnick, projekorganiseerder van die ATKV. “Hierdie kompetisie het nie net ten doel om die leerders te leer spel nie, maar hulle leer sommer terselfdertyd die vaardighede aan om kompetisiedruk te hanteer.”
Vanjaar het 30 skole in 7 provinsies deelgeneem. “Dit was baie bemoedigend om te sien dat die leerders in KwaZulu-Natal net so ywerig was om aan die spelkompetisie deel te neem, juis omdat hulle omgang met Afrikaans so verskriklik beperk is,” sê Scharnick.

