Advertensiekopie: Ou bloed is die Lekkerlitboek vir Augustus

  • 0

Titel: Ou bloed
Skrywer: Peet Venter
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799361292

Koop Ou bloed by Kalahari.com.

Kom ons wees eerlik: Ou bloed is suiwer genot. Dit is die opvolg op Dieper as die bloed, wat verlede jaar verskyn het.

Ons kan heelwat uit die boek haal om te bespreek, maar van die oomblik dat die moordenaar se wekker lui en jy hom deur sy oggendroetine volg, is daar afwagting. Dan, wanneer die moorde gepleeg is, wil jy weet: Gaan Krige hom vastrek, of nie?

Tipies van ’n goeie speurverhaal is daar natuurlik die subplotte ook: Gaan die skurke daarin slaag om die jong meisies te vang en uit te voer vir die genot van die ryk oorsese vullis?

Die menslikheid van vergelding

Riaan Grobler het ’n kort, maar puik, resensie geskryf oor Ou Bloed. (Die skakel verskyn laer af.)

Grobler het raakgelees dat Venter se skurk inherent soek na geregtigheid. Die moordenaar pleeg nie moord gewoon omdat hy lus is nie; hy verwyder pedofiele uit die samelewing omdat die staat, weens allerlei (goeie en slegte) redes nie hierdie ouens se tjank kon aftrap nie.

Die moordenaar wéét hierdie mense rand kinders aan. Hy kan sién die staat kan nie die kinders beskerm nie, dan tree hy op. Sonder veel woorde het Grobler die essensie van Peet Venter se roman vasgevat. Die twee paragrawe wat ek graag hier wil deel, lui:

Die moordenaar se beweegrede maak van hom amper ’n protagonis wat heelwat simpatie by die leser inboesem. Dít is die morele dilemma: Hy vermoor net pedofiele, wat baie mense kan ervaar as geregtigheid wat geskied.

Maar moord is moord en Krige laat hom nie van stryk bring nie.

Ek kan dit nie beter stel nie.

Die Westerse strafreg handel om twee pilare: retribusie (wat neerkom op straf vir die daad) en rehabilitasie (wat hopelik sal maak dat die veroordeelde nie weer sal verkeerd doen nie).

Daar is ’n verdere plig op die howe: hulle moet die onskuldiges beskerm teen diegene wat voortdurend sal oortree. Om in hierdie gesprek té diep in te gaan op hierdie kwessie, sal vervelig raak en die genot van die teks verwater, maar in die VSA is daar byvoorbeeld die sogenaamde “three strikes”-wetgewing wat gemik is daarop om gewoontemisdadigers vir lang tye, indien nie permanent nie, uit die samelewing te verwyder. Die “three strikes” is ongewild onder menseregtegroepe. In Suid-Afrika het ons nie so ’n bepaling nie, maar die feit dat vorige veroordelings te alle tye in gedagte gehou word tydens vonnisoplegging, maak tóg dat gevaarlike misdadigers wat gereeld misdade pleeg, langer tronk toe kan gaan. In sommige gevalle kan vonnisse opgelê word wat die persoon vir die res van sy lewe agter tralies sal laat.

Maar wat gebeur as die misdadigers wegkom sonder straf? Belangriker nog, wat gebeur as hierdie ouens herhaaldelik kinders seermaak en herhaaldelik wegkom daarmee? Dít is die vraag wat Peet Venter se Ou bloed so meesterlik vra en, belangriker nog, wat die druk op Krige, die speurder, soveel groter maak.

Ons almal wil graag dat die bliksems tronk toe gaan. Dis waar die retribusie inkom. Daar is ook sommige van ons wat hoop op rehabilitasie, al sukkel ons tronke met hierdie deel.

Moet ons dan opgewonde raak as ’n slim moordenaar die skurke doodmaak? Daar is sommige pedofiele wat nie gerehabiliteer kan word nie. Die ouens wat in Ou bloed vermoor word, het ’n paar keer met die reg gebots en steeds is daar geen keer aan hulle nie. Is die moordenaar dus reg?

Besluit maar self hoe jy as leser voel oor hierdie storie. Die korrekte antwoord is dat ons nie die reg in eie hande moet neem nie, maar ... wat van die bliksems wat wegkom?

Lees gerus Riaan Grobler se resensie. Hy het die dilemma besonder knap raakgesien.

Min woorde, diep insig

Peet Venter skryf met min woorde. Of so voel dit. Daar is nooit langdradige beskrywings en hortende morele preke nie. Die boek lees so vinnig, ek was verbaas toe ek nou weer na die agterste bladsy kyk en sien daar staan 303 op. Dit voel nie so nie.

Hoe kry hy dit reg? Díe vraag het my ’n oomblik geboei, want ek het gesukkel om te verstaan wat sy geheim is. Toe ek egter weer daardie eerste paar bladsye lees, toe weet ek: Venter skets eintlik vir die leser ’n film. Ons belééf die hele tyd. Jy is sáám met die moordenaar, dan is jy sáám met Krige; of jy is by Shirdi Mayet – jy leef saam met haar wanneer sy haar broodjie koop en wag dat die moordenaar haar kom ontmoet.

Op hierdie manier beleef ’n mens ook die rassisme teen Dlamini; jy word nooit vertel hoe sleg rassiste is nie_dis nie nodig nie. Peet laat ons eenvoudig toe om saam met Krige en Dlamini te ry en die storie deur hulle oë te beleef.

Ek gaan van nou af Peet se boeke aanbeveel vir enige een wat sukkel om te show in hulle skryfwerk. Baie mense haak vas by beskrywings en morele vraagstukke en lewenslesse. Peet Venter donder voort, hy boender jou in die storie in en hy sleep jou saam op ’n mallemeulereis deur sy storie.

Kyk mooi: jy sien die hele tyd die gebeure. Dit voel of jy na ’n film kyk.

Vrae aan leeskringe

1 Die resep waarop die speurroman geskoei is, is die volgende: die korrelkopspeurder wat met die gereg bots, ’n liefdesintrige, en dies meer. Kyk ’n bietjie na Krige en plaas hom teen hierdie matriks. Lees dan weer Deon Meyer, Isa Konrad, en Chanette Paul se Gys Niemand-reeks ...

2. ’n Mens moet oor die morele dilemma praat: Hoe hanteer jy die spanning tussen die reg (wat veronderstel is om die samelewing te beskerm) en die eiereg van die moordenaar wat pedofiele uit die samelewing verwyder voor hulle verdere skade berokken?

3. Ons moet vraag 2 vir onsself uitklaar voor vraag 3, maar: Wat sou die implikasie wees as daar ’n wet sou kom wat mense toelaat om gevaarlike mense te vermoor sonder om deur die regskanale te gaan?

4. Wat staan ons te doen as ons agterkom daar word onreg gepleeg deur die reg? (Byvoorbeeld Maas wat die pastoor die hele tyd vryspreek?) Ek weet nie wat die antwoord is nie, maar dalk kan julle leeskring iemand kry wat hieroor kan kom praat.

5. Ek het hoog opgegee oor Venter wat show en nie net tell nie. Stem julle saam? Slaag sy skryfwerk vir julle?

6. Venter se kommentaar op die samelewing is subtiel. ’n Mens beleef byvoorbeeld die rassisme teen Dlamini, maar dit word nooit uitgespel nie. Tydens die toneel waar Krige en Dlamini ’n pa besoek van wie die seun selfmoord gepleeg het, word ook uitsprake gemaak teen kerke wat net gaan om die inwin van geld. Hoe voel julle oor die goed wat Venter aanspreek en die manier waarop hy dit doen?

7. Venter is ’n man. Skryf hy en Deon Meyer anders as Isa Konrad, Lien Roux-de Jager, Chanette Paul of Karin Brynard?

Iets oor Peet Venter

Peet is ’n ingenieur, maar hy is lief vir skilder en vir beeldhouwerk. Hy woon op ’n plaas naby Pretoria.

Hy is ’n egter stil man wat nie maklik oor homself praat nie. Toe hy onlangs met Landbouweekblad gepraat het oor sy skryfwerk, het talle van sy kollegas die foto herken en vir die eerste keer besef die skrywer is toevallig die ou wat hulle ken.

Eintlik is dit ongelooflik, want Peet is al lank in die land. Hier volg ’n lysie van sy vorige publikasies, maar hulle is uit druk uit, dus dink ek jy sal maar op die internet moet snuffel vir mense wat tweedehandse kopieë verkoop.

  • Die alleenlopers (1978)
  • Die reuk van rose (1995)
  • Disa (1996)
  • Die koeël is deur die kerk (1997)
  • Middernagblou (1997)
  • Nag van die narre (1998)
  • Vlieg, duifie, vlieg! (1999)
  • In kringe: ’n verhaal in drie stemme (1999)
  • Slang, die onbesonge held (2009).

Die voorloper tot Ou bloed, naamlik Dieper as die bloed, is steeds te koop en is ook deur Lapa uitgegee.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top