Die storie van Afrikaans het begin kort na 1500 toe Westerse skepe om die Kaap begin vaar het na die speserye in die Ooste. Die Khoi het só mense ontmoet wat Nederlands, Engels, Frans en Portugees gepraat het.
’n Eerste aanleerderstaal: Khoi-Afrikaans
Toe Jan van Riebeeck hier kom woon, het Khoi, wat lank reeds handel gedryf het met Nederlanders, hul eie aanleerdersweergawe van Nederlands gebruik en verfyn om met die setlaars te gesels.
Taalkundiges wêreldwyd bestudeer sogenaamde aanleerderstale.
Heel dikwels is die sprekers van aanleerderstale volwasse mense wat ’n vereenvoudigde vorm van ’n groter handelstaal aanleer. Dink ook aan Fanagalô wat veel later deur wit én swart op die myne gebruik is.
.........
Die Khoi was nomadies, dus het hulle variant van Afrikaans wyd versprei: van plekke soos Genadendal tot diep in Namibië. Dié variant van Afrikaans is ook by geleentheid Trekboerafrikaans genoem.
.........
Die Khoi was nomadies, dus het hulle variant van Afrikaans wyd versprei: van plekke soos Genadendal tot diep in Namibië. Dié variant van Afrikaans is ook by geleentheid Trekboerafrikaans genoem. Dit is later Oranjerivierafrikaans, of Gariepafrikaans, genoem, weens die nedersettings van die Khoi langs die Garieprivier.
Sendelinge het ook baie dikwels hierdie vroeë weergawe van Afrikaans gebruik om die plaaslike bevolking mee te kersten.
’n Tweede aanleerderstaal: Veeboerafrikaans
Die VOC se besluit om Jan van Riebeeck na die Kaap te stuur om ’n verversingspos te vestig, het vir twee nuwe aanleersdersvariante gesorg.
Nou moet ons onthou: Die Nederlands wat Van Riebeeck gepraat en geskryf het, het nie geklink soos vandag se Nederlands nie. Daar was toe ook nie ’n sogenaamde Standaardnederlands nie, en veral die werkersklasse het ’n groot aantal variante van Nederlands gepraat.
Van Riebeeck, en ander hoë amptenare, het ’n sogenaamde Amptenaarsnederlands gepraat en geskryf. Gewone amptenare, soldate en matrose was dikwels nie vaardig in Amptenaarsnederlands nie. Hulle het derhalwe hul eie weergawe van ’n aanleerderstaal geskep.
Later sou van die laerklasamptenare en soldate uit die VOC se diens bedank om te gaan boer. Baie het veeboere geword omdat hulle onder die VOC se neuse wou wegkom. Daarom het hulle ooswaarts getrek.
Hoe verder hulle oos getrek het, hoe minder het hulle met die meer formele Nederlands van die Kaap te doen gehad.
Hierdie variant van Afrikaans sou bekend word as Oosgrensafrikaans.
Die Oosgrens, terloops, was eintlik maar enige iets anderkant die Tygerberg. Vandag is Tygerberg ’n kort entjie van die kasteel, maar in daardie jare was dit ’n hele tog om daar te kom met ’n ossewa.
........
Hierdie variant, die sogenaamde Oosgrensafrikaans, sou uiteindelik versprei tot teen die Visrivier en het ook saam met die Voortrekkers noordwaarts getrek.
........
Hierdie variant, die sogenaamde Oosgrensafrikaans, sou uiteindelik versprei tot teen die Visrivier en het ook saam met die Voortrekkers noordwaarts getrek.
In die twee Boerepublieke, die Vrystaat en die Zuid-Afrikaanse Republiek (lees die ou Transvaal), was die amptelike taal Nederlands, maar die spreektaal was Oosgrensafrikaans.
Slawe-Afrikaans
Daar het nog ’n aanleerdersvariant in die Kaap ontstaan.
Die setlaars het slawe ingevoer uit die Ooste wat ook Nederlands moes leer verstaan en praat. So het ’n totaal nuwe aanleerderstaal ontstaan.
Die slawe se weergawe van Afrikaans is vandag nog hoorbaar in die Wes-Kaap. Dit staan as Kaaps bekend.
Islam het ook danksy die slawe aan die suide van Afrika ’n houvas gekry, want van die slawe was Moslem.
Afrikaans word ’n skoolvak, word geskryf en boeke word gedruk
Die drie aanleerdersvariante van Afrikaans het uit die aard van die saak met mekaar kontak gehad. Hulle het ook gemeen dat ’n vereenvoudigde grammatika ontwikkel is wat uiteindelik van Afrikaans ’n ander taal as Nederlands gemaak het.
........
Die spreektaal het sigself sodoende bewys as kragtig genoeg om ’n taal uit eie reg te word.
........
Toe Afrikaans as ’n skoolvak gevestig is, kon die taal verder ontwikkel, en toe die sprekers in Afrikaans kon begin skryf, is pamflette, koerante en boeke gedruk.
Die spreektaal het sigself sodoende bewys as kragtig genoeg om ’n taal uit eie reg te word.
Die eerste Afrikaanse skole en boeke in Kaaps
Van die slawe was Moslems, en reeds teen die vroeë 1800’s is skole vir slawe se kinders deur Moslemonderwysers gestig. Hulle het in Afrikaans klasgegee, maar het Arabiese skrif gebruik om Afrikaans te skryf. Arabies het ’n fonetiese skrifstelsel.
........
Abu Bakr Effendi het in 1871 die eerste boek in Afrikaans gedruk. Volgens die Afrikaanse Taalmonument en -museum is tot 1950 minstens 78 boeke in Arabiese Afrikaans gedruk.
........
Die skole het toegang tot ’n drukpers gehad. Daar is pamflette gedruk vir die skoolkinders en aanhangers van Islam in die omgewing. Abu Bakr Effendi het in 1871 ’n boek in Afrikaans gedruk. Volgens die Afrikaanse Taalmonument en -museum is tot 1950 minstens 78 boeke in Arabiese Afrikaans gedruk.
Onderwys en drukwerk in Genadendal
In Genadendal is Afrikaans reeds in 1814 as ’n onderrigtaal in hulle skool gebruik. Die eerste Afrikaanse kleuterskool is in 1831 daar gestig en ’n onderwyskollege in 1838.
Daar was ook ’n drukpers in Genadendal. Hulle koerant, De bode van Genadendal, is sedert 1859 gepubliseer.
Afrikaans en Engels
In 1806 het Engeland die Kaap oorgeneem, en Engels was toe die enigste amptelike taal.
Die vryburgers was erg ontevrede met die Engelse regering en talle wou hê dat die toenmalige oostelike deel van die kolonie van die (Engelse) Kaap moes afskei.
Louis Henri Meurant, ’n regsgeleerde, het sy koerant, Het Kaapse Grensblad, gebruik om oor moontlike afstigting te skryf en het die Boere toegelaat om te skryf in die taal wat hulle praat – Oosgrensafrikaans dus.
Meurant sou self in 1861 ’n beduidende bydrae lewer tot Afrikaans deur ’n dialoog tussen twee karakters wat hulself Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar genoem het, oor die voor- en nadele van afstigting te skryf.
Die taalstryd begin in alle erns
Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) is op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig, maar het na drie jaar ophou bestaan.
Die taalstryd om Afrikaans as ’n amptelike taal te vestig, is verder gevoer deur SJ du Toit, wat die Afrikanerbond in 1880 as ’n politieke liggaam gestig het. Hy het toegang tot drukperse gehad en sou later Ons Klyntji uitgee.
........
In 1912 word Langenhoven (as Neelsie bekend) die redakteur van Het Zuid-Westen, ’n koerant in Oudtshoorn. Die blad word ’n deeglike propagandaplatform vir Afrikaans.
........
Ene CJ Langenhoven het onder andere die Afrikaans van Ons Klyntji raakgelees en is so oortuig om ook in Afrikaans te skryf.
In 1910, met Uniewording, is Nederlands naas Engels as amptelike taal van Suid-Afrika erken.
Talle mense het hul egter daarvoor beywer om Afrikaans amptelik erken te kry as ’n taal. Langenhoven was een van hulle.
In 1912 word Langenhoven (as Neelsie bekend) die redakteur van Het Zuid-Westen, ’n koerant in Oudtshoorn. Die blad word ’n deeglike propagandaplatform vir Afrikaans. En Neelsie skryf in Afrikaans, nie in Nederlands soos sy voorgangers nie.
In 1914 stort die volstruisveremark in duie. Oudtshoorn word besonder swaar getref en Het Zuid-Westen moet sluit.
Langenhoven se finansiële uitkoms is ’n formele toetrede tot die politiek.
Sy ywer vir Afrikaans word een van die kenmerke van sy politieke loopbaan. Hy was ’n gewilde politikus en ’n uitstekende spreker. Sy liefde vir Afrikaans het hom besonder geliefd gemaak onder sy aanhangers.
In 1914 word Afrikaans formeel toegelaat as ’n onderrigtaal in skole van die destydse Kaapland.
Neelsie het in Julie 1914 ’n passievolle betoog vir Afrikaans gelewer by die Akademie vir Wetenskap en Kuns se jaarvergadering. Kyk na die hoeveelheid skryfwerk in Afrikaans, het hy gepleit.
As ons nou hier in die saal af ’n ry pale sou plant, tien pale, om die laaste tien jaar voor te stel, en aan elke paal ’n merk sou maak op ’n hoogte van die vloer af ooreenkomende met die betreklike skryfgebruik van Afrikaans in die respektiewe jaartal, en ’n streep deur die merke trek, van die eerste af hier naby die vloer tot by die laaste, daar anderkant teen die solder, dan sou die streep ’n snelstygende boog beskryf – nie net vinnig opgaande nie, maar opgaande na ’n vinnig vermeerderende rede. Laat ons nou in ons verbeelding die boog verleng vir die tien komende jare van nou af. Sien u, menere, waar die punt sal wees, daar buite in die bloue lug hoog oor Bloemfontein in die jaar 1924.
Daardie beeld is in herinnering geroep toe die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl gebou is. Let op na die suile: Hulle vorm ’n “snelstygende boog”.
In 1918 is Afrikaans as ’n gebruikstaal in die staatsdiens aanvaar.
In 1922 begin Neelsie ‘n weeklikse rubriek aan Die Burger lewer. Dit dra by tot sy roem.
.........
Uiteindelik, op 8 Mei 1925 word Afrikaans as amptelike taal naas Engels in die parlement aanvaar. Dit is hoekom ons hier is.
.........
Uiteindelik, op 8 Mei 1925 word Afrikaans as amptelike taal naas Engels in die parlement aanvaar.
Dit is hoekom ons hier is.
Neelsie het daarna elke jaar op 8 Mei die landsvlag by Arbeidsgenot gehys.
Hirdie tradisie is ná sy dood voortgesit met leerders van die plaaslike hoërskool, wat na Langenhoven vernoem is, wat die vlag op 8 Mei by Arbeidsgenot gehys het.
........
Neelsie was helaas hoegenaamd nie die vader van Afrikaans nie. En een van sy onbesonne opmerkings, dat Afrikaans ’n witmanstaal is, was beslis verkeerd en het baie mense seergemaak. Ons moet vanaand sy fout erken.
........
Die nuwe landsvlag is uiteraard later gehys.
Op 8 Mei 2025, vanmiddag, het die nuwe landsvlag ook weer by Arbeidsgenot gewapper.
Neelsie was helaas hoegenaamd nie die vader van Afrikaans nie. En een van sy onbesonne opmerkings, dat Afrikaans ’n witmanstaal is, was beslis verkeerd en het baie mense seergemaak.
Ons moet vanaand sy fout erken.
Jan Rabie was eerder korrek toe hy sou opmerk: Afrikaans is Suid-Afrika se grootste nierassige prestasie.
Ek dank u.
Notas
Een van die toeganklikste werke oor die storie van Afrikaans is deur Christo van Rensburg saamgestel. Die titel is Afrikaans in Afrika. Achmat Davids, Jeanette Ferreira, Tony Links en Karel Prinsloo was medewerkers. Dit is in 1997 deur JL van Schaik uitgegee en is ongelukkig nie meer geredelik te koop nie.
Van Rensburg het daarna ook So kry ons Afrikaans (LAPA 2012) en Van Afrikaans gepraat (LAPA 2018) uitgegee. Laasgenoemde is ook in Engels beskikbaar as Finding Afrikaans (LAPA 2018).
Die Afrikaanse Taalmonument en -museum het ook goeie inligting op hulle webruimte: https://taalmuseum.co.za.
Hierdie toespraak is op 8 Mei 2025 by Arbeidsgenot gehou tydens ’n viering van die amptelike erkenning van Afrikaans ’n eeu tevore.
- Izak de Vries is die voorsitter van die Langenhoven Gedenkfonds. Die sienings in die toespraak is sy eie.
Lees ook:
Die stories van Afrikaans op kykNET: ’n onderhoud met Danie Marais
Kettinggesprek: Michael le Cordeur gesels met Charlyn Dyers oor Kaaps in fokus
Nederlandse seemanstaal en Afrikaanse uitdrukkings – ’n onderhoud met Annél Otto en Else Boekkooi
Bekendstellingstoespraak: Kaaps in fokus deur Frank Hendricks en Charlyn Dyers (redakteurs)
Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (Achmat Davids): Bekendstellingstoespraak
Om ’n Malay Muslim-meisie in die 21ste eeu te wees – ’n mengelmoes van identiteite!
Internasionale Moedertaaldag: Khoekhoegowab-tale en Khoi-Afrikaans
Die eerste Kaaps-woordeboek: ’n onderhoud met Quentin Williams
Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap
Kommentaar
Alhoewel Neelsie "helaas hoegenaamd nie die vader van Afrikaans" was nie, kan die enorme positiewe invloed wat hy op die taal gehad het, nie ontken word nie.bIs daar al ooit bepaal in watter konteks en onder watter omstandighede en met watter doel hy die gewraakte opmerking gemaak het?