Die Drietalige woordeboek van Kaaps- (DWK-) projek, wat die eerste woordeboek van Kaaps gaan ontwikkel, is pas bekend gemaak.
Die DWK-projek word gelei deur die Centre for Multilingualism and Diversities Research (CMDR) aan die Universiteit van die Wes-Kaap en die nieregeringsorganisasie Heal the Hood Project.
Menán van Heerden gesels met Quentin Williams, direkteur van die CMDR.
Quentin, baie dankie dat jy met ons gesels! Wat behels die DWK-projek?
Die DWK-projek is ’n beskrywende korpusprojek wat sal help om die eerste woordeboek van Kaaps te ontwikkel. Kaaps is vandag ’n belangrike taalbron vir die sprekers van Kaaps wat in die Wes-Kaap en regoor Suid-Afrika voorkom. Maar dit is ook een van die mees gemarginaliseerde tale in die geskiedenis van ons land. Met hierdie projek wil ons graag die volgende doelwitte behaal: Om die historiese wortels van Kaaps verder te belig; om by te dra tot die huidige debatte oor die eenwording van die skryfstelsel van Kaaps; om die gebruik van Kaaps in alle toepaslike modaliteite, platforms, genres, praktyke, optredes, interaksies en taalkundige landskappe te dokumenteer; om die geleefde taalervarings van sprekers van Kaaps te beskryf.
Watter drie tale is ter sprake as deel van die projek?
Kaaps, Standaardafrikaans en Engels.
Wat is die mees negatiewe persepsies van Kaaps (by sprekers en niesprekers) in 2021 en hoe beoog hierdie projek om dit teen te werk?
Dat dit nie ’n taal is nie. Dat dit nie goed genoeg is vir gebruik op skole en universiteitsvlak nie. Dat die sprekers wat Kaaps gebruik, stereotipies ’n laer, niesuiwer kombuisvorm van Afrikaans praat wat negatief geassosieer word met die register Sabela (van die Numbers-gangsters). Die projek help korrigeer die foute van koloniale en apartheids- taalkundige studies wat voorheen volgehou het dat hierdie persepsies natuurlik is en dat ons dit onkrities kan toeskryf aan veral bruin en swart sprekers van Kaaps. Ons moet dit verander, maar spesifiek, die negatiewe houdings in onderwysers wat veral in Afrikaans Kaapssprekers leer om in Standaardafrikaans te skryf, lees en praat. En hierdie projek gaan ’n produk lewer aan almal om te bewys dat Kaaps ’n taal is wat ons almal kan leer en verstaan. Dit sal ’n bron wees wat ons sal help om Kaapssprekers beter te kan verstaan, maar ook oor hoe ons die toekoms van Afrikaans kan verseker, en al sy gemarginaliseerde sprekers.
Wat is die positiewe persepsies van Kaaps?
Dat Kaaps die taal van die hip-hop-kultuur is, ten minste in die Wes-Kaap, saam met ander variante van Afrikaans. Dat dit die taal van sogenoemde bruin mense was, en nog steeds is, maar wat vandag deur vele ander mense in Suid-Afrika gebruik word. Dat dit die identiteit bevestig van baie nuwe-generasie-sprekers van Kaaps. Dat dit taalkundig ryk en uiteenlopend is in sy fonologiese, leksikale, grammatiese en pragmatiese stelsel.
Hoe sou jy Kaaps beskryf?
Kaaps is ’n taal geskep deur die ontwikkeling van setlaarkolonialisme Suid-Afrika. Dit spruit uit ’n vroeëre vorm van Kaaps-Hollands (die Suid-Afrikaanse vorm van Hollands), beïnvloed deur slawe- en nieslawe-tale van die Khoi- en Maleissprekers.
Het Kaaps verskeie variante?
Die antwoord is ja. As gevolg van die intensiewe migrasie en beweging van Kaapssprekers in Suid-Afrika sal daar definitief ander variante wees. Kaaps word byvoorbeeld gebruik in die platteland as gevolg van die vloei van hip-hop-kultuur en rapmusiek. Dit beïnvloed die gebruik van Gariep- of Namakwalandse Afrikaans, maar word self beïnvloed deur hierdie twee variante. Ek verneem daar bestaan Gariep-Kaaps. Maar ons moet befondsing eenkant sit vir taalkundige navorsingsprojekte om meer vas te stel oor die taalkundige sisteem waaruit hierdie variante bestaan en nuwegenerasie- Afrikaanse studente oplei om die variasie te dokumenteer. Dit is uiters belangrik vir ons woordeboekprojek.
Wat is die eerste stappe/proses om Kaaps, ’n heterogene, dinamiese taal, in ’n woordeboek vas te lê?
Om die redakteurs en medewerkers op te lei en die korpus te bou.
Wat dink jy is die ekonomiese voordele van Kaaps?
Die oorgrote meerderheid van Kaapssprekers, van alle rasse, is werkersklassprekers. Baie van die sprekers neem nie deel aan die ekonomie van Suid-Afrika nie. Dit is ons plig as taalkundiges, akademici, Afrikaans en Nederlands-departemente en die regering om te verseker dat ons kurrikula, taalbeleide en wetgewing ontwikkel wat die gebruik van Kaaps in ons ekonomie verseker. As ons dit doen, sal ons die lewens van hierdie Kaapssprekers vir altyd verander. Daarbenewens, sal ander Afrikaanssprekers voordeel trek as Kaaps grootliks in die ekonomie gebruik word. Dit sal misverstande wat spruit uit interkulturele kommunikasie verminder, en dit sal nog meer die toekoms van Afrikaans verseker.
Wat dink jy is die toekoms van Kaaps as akademiese taal (universiteitsvlak)?
Dit is ’n baie belangrike vraag. Meer as net om die skryftaal te ontwikkel, gaan dit feitlik oor die toekoms van Afrikaans en Nederlands-departemente, die transformasie van kurrikula, die ontwikkeling en die behoud van voorgraadse en nagraadse akademiese talent wat help daarop fokus om Kaaps te ontwikkel op universiteitsvlak. Daar is tans net een universiteit, Rhodes – ek praat egter onder korreksie – met ’n nagraadse program gefokus spesifiek op Kaaps. Wat moet gebeur om die toekoms van Kaaps te verseker op universiteitsvlak, is die behoud en ontwikkeling van dosente en navorsers (nuwegenerasie-taalkundiges) wat voorgraadse modules en nagraadse navorsingsprojekte kan ontwikkel wat eksklusief fokus op Kaaps. Ons moet beurse eenkant sit en belê in die transformasie van Afrikaans en Nederlands-departemente, en so verseker ons die toekoms van Kaaps as ’n akademiese taal.
Hoe kan hierdie woordeboek en projek bydra tot bogenoemde toekoms as akademiese taal en skryftaal in skole, asook taal vir die kunste, godsdiens en politiek?
Die projek is spesifiek gemik op die beskrywing van Kaaps, en vertaling na Standaardafrikaans en Engels. Dit gaan ’n kernbron word in die akademie en help met die skryftaal van Kaaps-leerlinge. Maar onthou, om op die skryftaal te fokus moet ons die kurrikulum transformeer vir Kaaps. Op die oomblik is daar net fokus op die gebruik van Standaardafrikaans. Ons sal moet die kurrikulum transformeer en Kaaps as ’n taal van onderrig en leer opneem. Die probleem op die oomblik is dat Kaaps as skryftaal ons eintlik lei na die kwessie van standaardisering. En ons is nog ver daarvan. Maar as ons suksesvol is met hierdie projek, sal dit heel moontlik die kunste, godsdienste en politiek vir Kaapssprekers veral transformeer. My hoop is dat dit ’n impak sal hê op ander histories gemarginaliseerde variëteite soos Gariepafrikaans, ens.
Wat is jou gunsteling- Kaapse woorde/uitdrukkings?
Ek dink my gunsteling- Kaaps woorde is “aweh” en “anneste”. Ek gebruik dit elke dag en al twee woorde het baie interessante betekenisse.
Die woord “aweh” byvoorbeeld, wat jy ook as “awe” kan skryf, was sover ons weet gebruik heel moontlik voor die aankoms van die VOC. Dit is ’n woord wat alreeds in die Nederlandse kolonie van Batavia (vandag bekend as Java (Indonesië)) gebruik was. Die VOC het slawe van Batavia na die Kaap gebring, slawe soos Abraham van Batavia en Anna de Koning (die dogter van Angela van Bengale). En in Batavia het die sprekers ’n ou vorm van Javaans gebruik vir kommunikasie. In ou Javaans is die werkwoord “weh” as ’n aksiewoord wat beteken “(om te) gee”, verwerk na ’n groetwoord “aweh” deur ’n nuwe generasie van Kaaps-Hollandssprekers aan die Kaap en as gevolg van die meertalige kontaksituasie deur Khoi-San-sprekers. Maar as gevolg van die Muslim-Maleise sprekers aan die Kaap is dit ook moontlik dat die woord se transformering van ’n werkwoord tot ’n groetwoord beïnvloed was in die gebruik van die Arabiese woord “awefe” (om iemand goeie gesondheid te wens). “Aweh” word nog steeds in kontemporêre Javaans gebruik en nog steeds as ’n werkwoord in byvoorbeeld iets soos “Jana aweh dhuwit marang Petrus” (John gee geld vir Petrus).
Die woord “anneste”, ’n byvoeglike naamwoord, het nou nie so ’n diep geskiedenis van ontwikkeling nie, maar ek hou baie van die woord, want dit help my om in Kaaps te beskryf dat iets nie “anders” lyk nie maar “anneste”. Dit is uniek Kaaps en as gevolg van taalkontak en leksikofonetiese manipulasie verwys dit ook na die kulturele betekenispraktyke wat Kaapssprekers beoefen in die vorming van woorde.
Lees meer oor ekonomiese bemagtiging deur Kaaps:
Is alles oraait byrie hys?: ’n Onderhoud met die stigter van Vannie Kaap
Kom ons lig die sluier: Afrikaanse Moesliemvroue se aktivisme en entrepreneurskap
Kommentaar
Ek geniet Kaaps. Die woordeskat is beskrywend en dikwels komies. 'n Man wat vir ons seekatte uithaal in ruil vir vis praat nie van 'n vis nie, maar van 'n graatjie.
Tramakassie, Quentin Williams! Ek support jou comments oorie voo'dele van Afrikaaps oppie economy en vi working class citizens, en oek op educational levels. Mooi, simply net mooi!