Op Saterdag 24 Maart het ’n paneelbespreking oor die rol van die Bo-Kaap in die ontwikkeling van Afrikaans by die Kasteel die Goeie Hoop plaasgevind. Danny Titus het die bespreking, aangebied deur die ATKV, gefasiliteer. Die sprekers was Max du Preez, Faika Haroun, Doria Daniels, Gava Kassiem en Fatima Allie.
Lees Doria Daniels se voordrag oor Afrikaanse Moesliemvroue se aktivisme en entrepreneurskap.
- Lees ook drie LitNet Akademies (Geestewetenskappe)-artikels wat vroue / die agentskap van vroue beklemtoon:
- Stilte en agentskap in die slaweroman Philida van André P Brink (Shamiega Chaudhari, 2017)
- “In die vyand se kraal”. Die rol en ervaring van Afrikanervroue in die Women’s National Coalition (Loraine Maritz, 2010)
- “KODESA? Is dit ’n nuwe kopseerpil?” ’n Ondersoek na die Afrikanervrou se politieke ingesteldheid in die 20ste eeu (Loraine Maritz, 2012).
Kom ons lig die sluier: Afrikaanse Moesliemvroue se aktivisme en entrepreneurskap
Alhoewel my gesprek gesitueer is in die Strand se Moesliemgemeenskap, het hierdie Afrikaanssprekende gemeenskap baie sterk bande met die Bo-Kaap. Ek self is ’n afstammeling van die Bo-Kaapse gemeenskap. My oupagrootjie aan moederskant, Gatiep Railoun, het uit die Bo-Kaap Strand toe getrek in die 1800’s om daar ’n bestaan te gaan maak. Ook my ouma aan moederskant, Gawa Ismail, het opgegroei in Pensstraat in die Bo-Kaap. My aanbieding handel oor vroue se bydrae tot hul gemeenskap en is gebaseer op ’n navorsingsprojek wat ek ’n klompie jare gelede onderneem het. In besonder verken ek die rol van taal en kultuur in vroue se pogings om ’n inkomste te genereer en sodoende hulle gesinne se lewensomstandighede te verbeter.
Wanneer mens vroeëre tekste lees, veral waarin daar oor Kaapse Moesliems geskryf word, vind jy ’n baie definitiewe patriargale diskoers wat gevoer word. Wat opval, is dat dit mans is wat namens en vir Moesliemvroue praat, en oor hulle praat. Maw Moesliemvroue is stemloos en afwesig in die tekste. Wanneer hulle wel teenwoordig is, is dit binne die domein van die kombuis en die huis, en word hulle bydraes binne hierdie konteks verwoord: hulle is bobaaskokke, en hulle dien ander – hul mans, gesinne, werkgewers. ’n Tweede uitbeelding van die Moesliemvrou is dié van ’n misterieuse wese wat uit die publieke oog leef, ’n vrou sonder ’n stem, wat geen agentuur (agency) openbaar nie.
Hierdie uitbeeldings is problematies omdat dit vroue se bydraes en hulle aktivisme misken. Voorts bestendig dit ’n siening dat Moesliemvroue onaktief en onbetrokke is in die publieke sfeer. Sodanige uitbeeldings word gelegitimiseer deur globale raamwerke wat Moesliemvroue as onderdanige, onderdrukte figure uitbeeld. Omdat die Moesliemvrou teenoor onderdrukking en slagofferskap geplaas word, word sy ’n wese wat bevry moet word. Soortgelyks, omdat haar konteks met ondemokratiese praktyke vereenselwig word, word haar private opset outomaties gelykgestel aan ’n tronk waaruit sy bevry moet word.
As 20ste-eeuse Moesliemvrou wil ek graag die sluier lig sodat die eng konteks waarbinne ons bydraes steeds verwoord word, beveg kan word. Ek stel dit egter pertinent hier: die doel met die aanbieding is nie om die kundigheid en kreatiwiteit van Moesliemvroue as bobaaskokke en tuisteskeppers te misken nie! My betoog is eerder dat hulle suksesse baie wyer as dié van bobaaskosmaker en tuisteskepper strek!
Omdat ek as kind opgegroei het met stories en voorbeelde van sterk, aktivistiese vroue rondom my, was ek baie geïnteresseerd in navorsing oor die rol van vroue as gemeenskapbouers. Dis seker hoekom die African Renaissance-inisiatief van die laat 1980’s om inheemse kennis oor jou gemeenskap te genereer, so sterk tot my gespreek het. Ek wou my gemeenskap se herkoms herontdek, en wou graag die vele stories oor hierdie sterk vroue wat aan my oorvertel is, vir die nageslag bewaar. Vir my narratiewe ondersoek het ek vroue ouer as 80 se herinneringe en geheues oor die gemeenskap se vroue se bydraes bekom. Ek het uitgevra na hulle ma’s, oumas, tantes en buurvrouens se rolle en invloede in die gesin en die gemeenskap. Weens tydsbeperkinge fokus ek in hierdie aanbieding slegs op vroue se bydraes tot die gesin se finansiële welstand.
Die Strand was ’n werkersklasvissersgemeenskap. In my gesprekke met die vroue oor hoe die gesin se inkomste gegenereer is, het die vroue altyd die mans sentraal geplaas in die gesprek. Met die uitsondering van ’n paar mans wat as ambagsmanne en kleremakers ’n inkomste verdien het, was die meeste vissermanne. Gegee hulle sosialisering in ’n patriargale samelewing, het vroue outomaties die mans as hul gesinne se broodwinners geïdentifiseer. Die vroue het egter wel vertel dat vissermanne se inkomste onderhewig was aan die weer. Dit was seisoenaal. Tydens wintermaande was hulle gesinne sonder ’n inkomste, omdat dit te gevaarlik was om die “rowwe see” aan te durf. Die stories wat hulle deel, is dat daar regdeur die jaar vir die “skaars maande” voorberei is, en dat vis en ander kosse uitgedroog en ingelê is om hulle deur te sien in die maande wanneer daar nie ’n inkomste was nie. Alhoewel die gesin in ’n mate vir hulle voedsel kon voorsorg tref, het vissermanne te min verdien om geld te spaar om die “huishuur” in die wintermaande te dek. Dis hier waar hulle stories interessant raak.
Wat ek bevind het, was dat dit eintlik die Moesliemvrou was wat haar gesin se geld bestuur het. Sy moes sorg dat hulle op die karige vissermansinkomste kan oorleef en moes daarom kreatief omgaan met geld. So byvoorbeeld het vroue, omdat meel goedkoop was, eerder self brood gebak om geld te bespaar. Sommige vroue het toe die potensiaal gesien om ’n inkomste te genereer en het op groot maat begin bak en brood teen ’n goedkoper prys as die winkels begin verkoop. Die tuisnywerheidbedryf het begin floreer in die gemeenskap, en vroue het uit hulle huise begin werk, of het van deur tot deur in die gemeenskap begin handel dryf met gebakte en ingelegde kosse. Ander produkte waarmee handel gedryf is, sluit in “miejang” (wierook/incense) en kledingstukke wat die vroue self gemaak het. My bevindinge was dat in baie huishoudings die vroue eintlik die broodwinners was, nie die mans nie. Deur hulle entrepreneurskap was dit die vroue wat ’n vaste inkomste vir die gesin begin genereer het. Vandag kan ons in areas soos Athlone en Gatesville sien hoe dié tradisies voortgesit word. Veral op Saterdae kan die entrepreneurskap en sakevernuf van Moesliemvroue in aksie gesien word by die straatmarkte oraloor in Kaapstad en haar omliggende areas.
Vanaf die middel-1800’s verander die Strand se landskap en so ook die werksmoontlikhede vir die gemeenskap se vroue. Verskeie huise en hutte word deur wit boere as vakansiehuise opgerig. Afrikaners begin vanaf 1900 hulself permanent op die dorp vestig, moontlik omdat die De Beers-maatskappy ’n dinamietfabriek daar bou. Hotelle en gastehuise begin verrys en wit vakansiegangergetalle groei. Met die dorp se ontwikkeling brei bruin vroue se werksmoontlikhede uit. Moesliemvroue in die bruin gemeenskap geniet egter voorkeur vir werk. My studie toon dat hierdie verskynsel baie nou verband hou met hulle taal en kultuur. In die hotelle, gastehuise en in Afrikanerhuishoudings was Moesliemvroue in aanvraag as kokke en kelners, omdat hulle disse kon kook wat vir die Afrikaner bekend was. Volgens die vroue se vertellings was die persepsie onder Afrikaners dat as gevolg van Moesliems se streng dieetreëls hulle baie meer gesteld en noukeurig was oor higiëne in die kombuis. Verder kon hulle, as Afrikaanssprekende werkers, effektief met hul nuwe Afrikaner-werkgewers en hulle gesinne kommunikeer. Jonger vroue was in aanvraag as kinderoppassers, en ouer vroue as kokke en huishoudsters.
Die bevindinge van my studie lig die sluier en ontbloot die aktivisme van die Strand se Moesliemvroue. Hierdie vroue het sleutelrolle gespeel in die gemeenskap se vooruitgang en het inisiatief aan die dag gelê om die gesin in moeilike tye te laat oorleef. Aanvanklik is dit op entrepreneuriale wyse gedoen. Met die ontwikkeling van hulle dorp het vroue ook later aktief die formele werksomgewing betree.
Hierdie beeld van Moesliemvroue as aktiewe rolspelers in die private en publieke lewe van die gemeenskap noodsaak ’n paradigmaskuif wanneer daar oor Moesliemvroue en hulle bydraes tot taal en kultuur gepraat word.
Kommentaar
Doria Daniels se skrywe en gesprek laat die historiese novelle getiteld "Footprints" uit, gepubliseer in 2005 deur die skrywer M.A. Baderoen, wie se geskiedkundige verhaal die rol van vroue in die Strand se Moslemgemeenskap uitbeeld en vereer. ["Footprints is beskikbaaar in e-boekformaat op die internet "(online) via Barnes&Noble"]
"Die bevindinge van my studie lig die sluier en ontbloot die aktivisme van die Strand se Moesliemvroue. My bevindinge was dat in baie huishoudings die vroue eintlik die broodwinners was, nie die mans nie," slaan die bal heeltemal mis.