Kaaps in fokus-referaat: Ekonomiese bemagtiging deur Kaaps

  • 0

Inleiding

Ekonomiese bemagtiging deur Kaaps is ’n uitdagende onderwerp. Die gedagte dat ’n streekstaal soos Kaapse vernakulêre Afrikaans, ook bekend as Kaaps, enigsins ekonomiese waarde het, óf dat sy sprekers daardeur ekonomies bemagtig kan word, dra in akademiese kringe nie veel gewig nie.

Die groei in sirkulasiesyfers van poniekoerante soos die Son en Voice en tydskrifte soos Kuier en die gepaardgaande finansiële sukses en populariteit van televisievermaak soos Jou Show op kykNet deur die vermaaklikheidster Emo Adams, die musiek van plaaslike musiekgroepe soos Brasse vannie Kaap, Jack Parow en D Low, die skryfwerk van Adam Small en vele ander, optredes deur komediante soos Mark Lottering en Joe Barber, asook die talle teaterstukke, soos AfriKaaps en Kap ’an, en musiekblyspele soos District Six en Ghoema vertel egter ’n ander verhaal.

Hierin word Kaaps as kerndrywer om kommersiële en artistieke redes benut. In terme van die gedrukte en elektroniese media, die televisiebedryf en musiek- en teaterproduksies soos in die eerste paragraaf gelys, is daar egter ’n winsmotief ter sprake. Verder word dit gekenmerk deur ’n sterk entrepreneuriese inslag, kreatiwiteit, ’n omvattende bemarkingsplan en ’n gedrewe fokus op ’n bepaalde teikenmark.

Die ontginning van Kaaps se ekonomiese potensiaal is dus nie ’n hersenskim nie. Die posisionering van Kaaps as taal van ekonomiese bemagtiging en welvaartskepping vir sy sprekers in die breë verg egter ’n gefokuste benadering ten einde bepaalde uitkomste te bereik.

Dit behels die volgende:

  • Om ’n verandering teweeg te bring in die persepsie dat Kaaps minderwaardig is en geen ekonomiese waarde het nie.
  • Om die ekonomiese posisionering van Kaaps op ’n ontwikkelingsgerigte teoretiese onderbou te grond.
  • Om ’n ekonomiese ontleding van die spraakgemeenskap van Kaaps te doen.
  • Om terreine waarbinne die ekonomiese waarde van Kaaps ontgin kan word en wat breë ekonomiese bemagtiging ten doel het, te identifiseer.
  • Om die faktore wat vraag en aanbod beïnvloed en daarmee saam die suksesresepte van kunstenaars wat produkte in Kaaps skep, te belig.
  • Om die belangrikheid van regstegniese aspekte soos kopiereg uit te lig.
  • Om boustene vir ’n strategiese en operasionele plan te konseptualiseer wat ten doel het om Kaaps as ekonomiesebemagtigingstaal te bevorder.

Persepsieverandering

Kaaps is ’n belangrike medium van kommunikasie en ’n sterk identiteitsmerker op die Kaapse Vlakte. Dyers bevestig dit soos volg: “The township variety of Afrikaans, in particular, remains a powerful index of micro-networks, in-group identity and the exclusion of those who do not speak this variety” (Dyers 2007:10). Kaaps word egter geag as ’n streekstaal met ’n laer status as Standaardafrikaans en Engels. Dyers formuleer dit soos volg: “While its speakers acknowledge its low status in relation to the standard Afrikaans […] it is fair to say that it enjoys a certain status as well as strong vitality in the poor, working-class townships of the Cape Flats, a large area on the periphery of Cape Town” (Dyers 2007:3).

Die opvatting deur sprekers van Kaaps dat dit ’n streekstaal met ’n laer status is, is egter nie uniek nie. Internasionale tale soos Engels is eens geag as die taal van die laer klas. Vandag is dit die taal van aspirasie in groot dele van die wêreld en ’n bewys dat die vitaliteit van ’n taal nie staties is nie. In ’n referaat wat die voordele van linguistiese diversiteit en veeltaligheid ondersoek, word dit soos volg verwoord:

First, it is important to consider that the vitality of a language is not static. Important languages such as Latin have died and the vitality of many others has changed dramatically. For example, the extraordinary vitality that English enjoys nowadays has not always been the same. After the Norman conquest (1066), the king of England and his court were not fluent in English, which was the language of the lower classes. (Gorter ea 2007:13)

Die pad waarlangs Standaardafrikaans sedert die 19de eeu ontwikkel het, vertel ’n soortgelyke verhaal. Giliomee beskryf dit soos volg: The English-speaking part of the population tended to consider Afrikaans as a public language beneath contempt. The Cape Argus, published in Cape Town, called Afrikaans a “miserable, bastard jargon, not worthy of the name of language at all” (Giliomee 2003:4).

Die beskouing dat Kaaps ’n streekstaal met ’n laer status is, gegewe hierdie agtergrond, is dus ongegrond. In dié verband moet oorweging geskenk word aan ’n bewusmakingsveldtog om persepsies reg te stel en die onkunde wat dit onderlê, deur middel van inligtingsessies uit die weg te ruim.

Belangrik egter is die teoretiese onderbou wat bewusmakingsveldtogte en die oordrag van inligting onderlê.

Teoretiese onderbou

Melkote en Steeves belig in hul boek getiteld Communication for Development in the Third World – Theory and Practice for Empowerment vier ontwikkelingsteorieë, naamlik modernisering, kritiese perspektiewe (byvoorbeeld die afhanklikheidsteorie), liberale perspektiewe en die gemeenskapsteorie.

Die moderniseringsteorie veronderstel dat onderontwikkelde lande se tradisionele praktyke primitief is en dat Westerse ekonomiese praktyke en waardes die enigste resep is om gemeenskappe op die pad van ontwikkeling en welvaartskepping te plaas. ’n Klassieke voorbeeld is die veelvlakkige ekonomiese-groei-teorie wat in 1960 deur die Amerikaner Walt Rostow bekendgestel is. Hierin stel hy vyf vlakke voor wat ontwikkeling in onderontwikkelde lande teweeg sal bring: die vervanging van inheemse en tradisionele sisteme en gebruike met Westerse praktyke; die skep van ’n nuwe politieke elite; gesentraliseerde politieke strukture; die belyning van die politieke, sosiale en institusionele instellings met ekonomiese doelwitte; die ontwikkeling van mense se tegnologiese en entrepreneuriese vaardighede; en die skep van meganismes en instellings om hoë vlakke van massaverbruik en ?besteding teweeg te bring. Hierdie model is veral gekritiseer vanweë die sterk koloniale inslag, die afhanklikheid van Westerse kapitaal en die miskenning van inheemse tale, kultuur en kennis.

Die afhanklikheidsteorie as teenreaksie op die moderniseringsteorie bied sosialisme as die oplossing vir onderontwikkeling aan. Ontwikkelende lande is daarom aangemoedig om hul bande met die Westerse kapitalistiese lande te verbreek en na selfonderhoudendheid en onafhanklikheid te strewe. Kritici van die afhanklikheidsdenkskool is egter van mening dat dit soveel klem gelê het op die identifisering van eksterne struikelblokke wat ontwikkeling in die wiele ry dat dit daarin gefaal het om bo die retoriese vlak uit te styg en sinvolle en volhoubare ontwikkelingsalternatiewe te ontwikkel.

Liberale perspektiewe kontekstualiseer ontwikkeling as ’n uitvloeisel van geloof en gaan van die veronderstelling uit dat verskillende gelowe, soos die Christendom, Boeddhisme, Hindoeïsme, Islam en Judaïsme, ’n betekenisvolle impak op ontwikkeling het. Hierdie gelowe verteenwoordig saam ongeveer driekwart van die wêreldbevolking en funksioneer uiteraard as katalisators wat die aard en omvang van ontwikkeling bepaal, asook die tempo waarteen dit geskied.

Die gemeenskapsteorie plaas die klem op die bou van gemeenskappe deur middel van ’n proses van selforganisasie. Belangrike bestanddele van selforganisasie behels die neem van eienaarskap, selfhulp, institusionele integrasie, die bou van konsensus en sosiale kohesie en die benutting van inheemse kulturele bates vir doeleiendes van ontwikkeling, bemagtiging en volhoubare welvaartskepping. Die spilpunt van dit alles is kultuur en die drywers wat kulturele inhoud skep. Melkotte en Steeves stel dit soos volg:

The communitarian perspective attaches a higher value to human agency than either culturally or economically determinist views of social change. Culture and cultural constructions of reality, however, assume a central position in the communitarian perspectives. (Tehranian 1994:286 in Melkotte en Steeves, 2001:335)

Die gemeenskapsteorie posisioneer Kaaps as ’n belangrike kommunikasiemiddel, identiteitsmerker en kultuurdrywer in die spraakgemeenskap waar dit gebruik word. Dis die spilpunt van identifikasie, assosiasie, interaksie en mobilisasie op die Kaapse Vlakte.

Dyers (2007:3)bevestig ook die belangrike rol van Kaaps in die definiëring van sy spraakgemeenskap en die feit dat dit in wese die naelstring is wat hulle bind. Sy stel dit soos volg:

[T]he majority (speakers of Kaaps) identifies closely with the vernacular variety of Afrikaans that they use every day […]. The strong attachment of many members of this group to the works of poet and playwright Adam Small, who wrote in vernacular “Cape Flats Afrikaans”, the immense popularity of the music of rap and hip-hop artists who use it (eg Brasse vannie Kaap, Prophets of Da City) and the success of local theatrical productions like Joe Barber and Ghoema provides evidence of this close identification with this variety.

Die gemeenskapsteorie bevestig dus dat daar geen rede is waarom ’n streekstaal soos Kaaps nie as instrument van ekonomiese bemagtiging benut kan word ten einde die artistieke waarde van Kaaps vir doeleindes van volhoubare welvaartskepping te ontsluit nie.

Die sukses wat reeds ten opsigte hiervan behaal is, is egter yl gesaai. Van die vernaamste redes hiervoor hou verband met ’n gebrek aan organisasie en struktuur, ’n gefragmenteerde en gebrekkige artistieke kreatiewe onderbou en gebrekkige professionele en volhoubare finansiële bestuur. Die ontsluiting van Kaaps as kern artistieke drywer op groter skaal is dus moontlik as die spraakgemeenskap self verantwoordelikheid neem vir die daarstelling van ’n hoogs georganiseerde, professionele en kommersiële kulturele industrie wat voltyds fokus op die skep van gehalteproduksies.

In dié verband dien die beroemde en internasionaal bekende Motown-platemaatskappy as sprekende voorbeeld. Time berig soos volg daaroor:

Founded on January 12, 1959, Motown quickly became another Detroit factory; where the Big Three produced automobiles, Motown assembled the soul and pop classics that changed America. There’s no hyperbole in that statement. Arriving at the height of the civil rights movement, Motown was a black-owned, black-centered business that gave white America something they just could not get enough of – joyous, sad, romantic, mad, groovin’, movin’ music.
(http://www.time.com/time/arts/article/0,8599,1870975,00.html#ixzz2140koIMD)

Motown se rol was nie net beperk tot musiekopnames, musiektoere en die oplewering van beroemde musieksterre nie; dit het ’n sleutelrol gespeel in die ontwikkeling van die mense en gemeenskappe wat die talent lewer. Wikipedia verwoord dit soos volg:

Artist development was a major part of Motown’s operations. The acts on the Motown label were fastidiously groomed, dressed and choreographed for live performances. Motown artists were advised that their breakthrough into the white popular music market made them ambassadors for other African American artists seeking broad market acceptance, and that they should think, act, walk and talk like royalty, so as to alter the less-than-dignified image commonly held by white Americans in that era of black musicians. Given that many of the talented young artists had been raised in housing projects and were short on social and dress skills, this Motown department was not only necessary – it created an elegant style of presentation long associated with the label.(http://en.wikipedia.org/wiki/Motown)

’n Belangrike vraag rakende die volhoubare sukses van enige kulturele industrie is of daar ’n vraag na of behoefte aan produkte of dienste in Kaaps is. Dit kan ons slegs beantwoord as ons ’n ekonomiese ontleding van die spraakgemeenskap doen.

Ekonomiese ontleding van die spraakgemeenskap

  • Bevolkingsgrootte:

Die 2001-sensusopname deur Statistiek SA dui op die volgende:

  • Getal bruin mense woonagtig in Suid-Afrika: ongeveer 4,5 miljoen
  • Getal bruin mense woonagtig in die Wes-Kaap: ongeveer 2,4 miljoen
  • Getal Afrikaanssprekendes woonagtig in Kaapse metropool: ongeveer 950 000
  • Getal Engelssprekendes woonagtig in Kaapse metropool: ongeveer 450 000
  • Grootte van spraakgemeenskap van Kaaps: ongeveer 700 000
  • Grootste konsentrasie sprekers van Kaaps:

 

Manenberg

37 390

Bonteheuwel

40 567

Atlantis

47 150

Mitchell’s Plain

137 589

Blue Downs

106 823

Belhar

33 575

Hanover Park

26 305

Lavender Hill

16 566

Bishop Lavis

21 168

Valhalla Park

10 837

Ocean View

10 829

Retreat

15 299

 

  • Besteebare inkomste:

’n Etnografiese studie wat in 2011 deur die maatskappy OIL onderneem is, verklaar die volgende:

Fragmented, stereotyped and misunderstood, South Africa’s 4,4 million strong coloured market is as big as the white market in South Africa, and makes up 63% of the total population in the Western Cape. Despite these statistics, many marketers overlook the obvious opportunity of marketing to the coloured population that has a combined spending power of over R60 billion per year.(http://www.oilinsight.co.za/our-work/coloured-segmentation.php)

Verder wys die studie daarop dat die bruin mark uiters divers is. Daarom is dit noodsaaklik dat ’n verbruikersgerigte bemarkingsfilosofie ingespan moet word ten einde die behoeftes van die spraakgemeenskap van Kaaps as teikenmark te bepaal. In dié verband speel vraag en aanbod ’n sleutelrol en ’n deeglike begrip van hierdie sleutel ekonomiese beginsel is nodig.

Vraag en aanbod

Volgens Kotler en Keller (2006:174) speel kulturele, sosiale en persoonlike faktore ’n sleutelrol in die koopgedrag van verbruikers. Dit word ondersteun deur vier sleutel psigologiese prosesse: leervermoë, motivering, persepsie en geheue.

Die kommersialisering van Kaaps deur middel van die gedrukte en elektroniese media, die televisie? en filmbedryf, die musiek? en vermaaklikheidsbedryf, die teater en verbandhoudende bedrywe en alle ander kulturele industrieë kan egter suksesvol wees indien deeglike beplanning en begronding volgens die volgende verbruikersgedragmodel geskied:

Bemarkingstimuli

Omgewingstimuli

Verbruikerseienskappe

Verbruikersbesluitnemingsprosesse

Aankoopbesluit

Produkreeks

Ekonomie

Kulturele faktore

Probleem-identifisering

Produkkeuse

Bemarkingskommunikasie

Politiek

Sosiale faktore

Inligtingsoektog

Handelsmerk-keuse

Plek

Kultuur

Persoonlike faktore

Evaluering van alternatiewe

Handelaarkeuse

Prys

Kultuur

Verbruikerspsigologie

Aankoopbesluit

Aankoopbedrag

Deelnemers

 

Houding

Na-aankope-evaluering

Aankoop-tydsberekening

Fisieke bewyse

 

Voorkeur

 

Betalingsmetode

 

 

Leervermoë

 

 

 

 

Motivering

 

 

 

 

Persepsie

 

 

 

 

Geheue

 

 

Bron: Verwerk uit Kotler en Keller (2006:184) in http://upetd.up.ac.za/thesis/submitted/etd-11072008-153209/unrestricted/02chapters3-4.pdf

Elemente van hierdie verbruikersgedragmodel vind neerslag in ’n studie deur Saal en Blignaut (2011) wat fokus op die gebruik en waarde van ’n Tienerkaaps in gedrukte advertensies. Verder bevestig die studie ook die kommersiële waarde van Kaaps en dat dit wel suksesvol as advertensiemedium in die gedrukte media benut kan word.

Vervolgens twee advertensies in Standaardafrikaans en weergawes daarvan in Tienerkaaps.

1. KitKat-advertensie in Standaardafrikaans

2. Advertensie oor MIV-toetsing in Standaardafrikaans

http://www.oulitnet.co.za/newlitnet/images/akademies/saal7.jpg

1. KitKat-advertensie in Tienerkaaps

http://www.oulitnet.co.za/newlitnet/images/akademies/saal8.jpg

2. Advertensie oor MIV-toetsing in Tienerkaap

http://www.oulitnet.co.za/newlitnet/images/akademies/saal9.jpg

Die gebruik van Tienerkaaps in hierdie advertensies is uiters positief bejeën deur jongmense wat Kaaps praat.

Alle betrokkenes by die kommersialisering van Kaaps moet egter bedag wees op die kwessie van kopiereg. Die kommersialisering van verskillende aspekte van inheemse kennissisteme en erfenis- en kultuurskatte getuig van ’n lang geskiedenis van uitbuiting en miskenning van die besitreg deur die oorspronklike eienaars. Inheemse intellektuele kopiereg is van toepassing op al die kulturele praktyke soos musiek, dans, stories en kennis wat van geslag tot geslag oorgedra word.

Kopiereg

Kunstenaars moet hulle vergewis van die wetgewing en beleide wat verband hou met kopiereg. Kopiereg in Suid-Afrika is gesetel in die Kopieregwet van 1978 en die verbandhoudende byvoegings. Dit word geadministreer deur die Maatskappy- en Intellektuele Eiendomskommissie in die Departement Handel en Nywerheid.

Boustene vir ’n strategiese en operasionele plan

  • Identifiseer die verskillende entiteite wat Kaaps benut om ’n verskeidenheid kulturele praktyke in gemeenskappe te bedryf.
  • Vestig ’n sterk gekommersialiseerde kulturele industrie wat Kaaps as kern artistieke drywer benut.
  • Identifiseer al die geleenthede in die volgende industrieë: onderwys, publikasie-, advertensie-, drukpers-, kommunikasietegnologie-, radio-, televisie- en filmbedryf, taalpraktisynsindustrie (tolking en vertaling), elektroniese kommunikasiemedia en die teater-, ontwerp-, mode-, vermaaklikheids-, erfenis-, toerisme- en kultuurfeesbedrywe.
  • Gaan kreatief en vernuwend om met die omskakeling van Kaaps in selfonderhoudende, geïntegreerde en skeppende ekonomiese aktiwiteite en verseker gehalteprojekte en programme.
  • Moniteer, evalueer en herontwerp projekte en programme om te verseker dat dit werklik waarde toevoeg en bydra tot die ontwikkeling van gemeenskappe.
  • Bemark projekte en programme, hou die gemeenskap op hoogte en versterk dit met ondersteunende meganismes om langtermynvolhoubaarheid en groei te verseker.

Ten slotte

Ter samevatting: die benutting van Kaaps as taal van ekonomiese bemagtiging en welvaartskepping is in die hande van sy sprekers. Die tyd is egter ryp vir alle praktisyns, akademici en ander rolspelers wat ’n belang by Kaaps het om die teorie in praktyk om te skakel. Ek vertrou dat die konferensie oor Kaaps te UWK ’n stewige grondslag daarvoor sal lê.

Christo van der Rheede
Uitvoerende Hoof
AHI

Bibliografie

Dyers, C. 2007. An investigation into the role of the Afrikaans language in indexing the individual and collective self among some township youth in South Africa. UWK
Giliomee, H. 2003. The Rise and Possible Demise of Afrikaans as a Public Language. PRAESA Occasional Papers No 14. Cape Town
Gorter, D et al. Cultural diversity as an asset for human welfare and development at http://ebos.com.cy/susdiv/uploadfiles/RT1.2_SP_Durk.pdf
Kotler, P en K Keller. 2006. Marketing Management. New Hampshire
Saal, E en J Blignaut. 2011. Die gebruik en waarde van ’n Tienerkaaps in gedrukte advertensies. Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Unisa by https://www.litnet.co.za/Article/moetie-rai-gammattaal-gebrykie-die-gebruik-en-waarde-van-n-tienerkaaps-in-gedrukte

http://www.time.com/time/arts/article/0,8599,1870975,00.html#ixzz2140koIMD
http://www.oilinsight.co.za/our-work/coloured-segmentation.php
http://en.wikipedia.org/wiki/Motown

Klik hier om Danie van Wyk se referaat te lees.
Klik hier om Gunther Pakendorf se verslag oor die simposium te lees.
Klik hier vir foto's van die simposium.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top