Afrikaans, my anker tussen koffiewasems en verkeersligte

  • 0

Ek sit in ’n plaaslike koffiewinkel, maar my gedagtes dwaal ver verby die grense van hierdie dorp. Voor my lê Die Burger, ons getroue plaaslike koerant. Deur die helder venster sien ek die wêreld daar buite stadig op gang kom. Motors gly verby, elk in sy eie rigting, met ’n doelgerigte vasberadenheid. Die voertuie is so uiteenlopend soos die mense wat hulle bestuur, maar tog beweeg hulle saam, met vaart en ritme – nie anders as die Afrikaanse taal self nie.

Op die voorblad spring ’n opskrif dadelik uit: “Afrikaans vier 100 jaar.” ’n Belangrike mylpaal – een wat ’n mens amper met ’n bietjie heilige ontsag laat terugleun en besin. Ek vra myself: Is dit nie presies hoe Afrikaans funksioneer in ons samelewing nie – soos daardie motors buite, vasberade en uiteenlopend, maar tog deel van dieselfde groter sisteem?

........
Maar dit is juis dié debat – die feit dat mense genoeg omgee om standpunte te hê, navorsing te doen, en argumente te lewer – wat bewys hoe lewendig en betekenisvol Afrikaans vandag nog is. Geen taal wat irrelevant geword het, wek só ’n reaksie nie.
........

Terwyl ek verder blaai en die koffie se warmte my begin inkleur, tref ’n uitgebreide rubriek oor die geskiedenis van Afrikaans my oog. Daar is selfs debat oor die presiese  “regte” datum van die ontstaan daarvan. Maar dit is juis dié debat – die feit dat mense genoeg omgee om standpunte te hê, navorsing te doen, en argumente te lewer – wat bewys hoe lewendig en betekenisvol Afrikaans vandag nog is. Geen taal wat irrelevant geword het, wek só ’n reaksie nie.

Wat my veral opval – en waarvan ek deesdae meer bewus is – is dat Standaardafrikaans nie meer die enigste manier is waarop die taal leef nie. Waar daar vroeër net een “aanvaarbare” vorm was, sien ons nou ’n taal wat aanpas en insluit, wat praat met elkeen op straat, by die huis, in die kerk en by die sportveld. Afrikaans het begin uitgroei tot ’n mosaïek van klanke, aksente en uitdrukkings – ’n ware taal van die mense.

........
In ’n tyd waarin taal dikwels politiek, identiteit en spanning simboliseer, dink ek Afrikaans moet nie net beskou word as ’n kultuurerfenis nie, maar as ’n lewende ruimte. ’n Taal waarin kinders droom, waarin liedjies geskryf en liefde verklaar word.
........

My liefde vir Afrikaans is diep gewortel, en vreemd genoeg het dit begin by my geloof. As kind het ek geglo dat Jesus Afrikaans praat – nie omdat ek dit êrens gelees het nie, maar omdat my eerste woorde aan Hom in Afrikaans was. Ek het geleer bid in Afrikaans, Bybelstories gehoor in Afrikaans, gesing oor die Here in daardie eenvoudige, opregte taal van my kinderjare. Tot vandag toe voel dit vir my dat Afrikaans my gees se eerste stem was – en dalk is dit hoekom ek so beskermend daaroor voel.

In ’n tyd waarin taal dikwels politiek, identiteit en spanning simboliseer, dink ek Afrikaans moet nie net beskou word as ’n kultuurerfenis nie, maar as ’n lewende ruimte. ’n Taal waarin kinders droom, waarin liedjies geskryf en liefde verklaar word. ’n Taal waarin daar steeds gebid en geglo word – al verander die aksente en idiome.

Ja, daar is verdeeldheid. Ja, daar is meningsverskille en identiteitsverskuiwings. Maar dalk is dit juis dié uiteenlopendheid wat Afrikaans vandag so kragtig en veerkragtig maak. Soos die motors daar buite – verskillende vorme, verskillende rigtings, maar almal op dieselfde pad.

Lees ook:

Die stories van Afrikaans op kykNET: ’n onderhoud met Danie Marais

Wat sê Bettina? Oor Afrikaans

Herbesin: Ryker in diversiteit

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

Rituele in Afrikaans?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top