Herbesin: Ryker in diversiteit

  • 1

...
Ek het nie grootgeword met eish en hayibo nie, maar kan my nou nie indink hoe ek ooit daarsonder klaargekom het nie.
...

Onverdrote ywer, dis hoe ’n kollega nou onlangs ’n persoon se geesdrif beskrywe. Hoe mooi, hoe evokatief, het ek gedink.

My kollega het my herinner aan wat mooi is omtrent Afrikaans. Ons taal is jonk, maar ons kan ’n ding in woorde vasvat soos wat min ander kan – al is dit dan nou met behulp van ’n Nederlandse woord hier of ’n leenwoord daar. Ons is nie net ’n reënboognasie nie, ons taal is ’n kreooltaal wat vat en los en gebruik en wegskop net soos wat iets nuttig is. Ek het nie grootgeword met eish en hayibo nie, maar kan my nou nie indink hoe ek ooit daarsonder klaargekom het nie.

Afrikaans maak ruimte vir vernuwing. Die meeste van die tyd. Maar soms kan ons ook erg behoudend wees, tot so ’n mate dat ons die taal skade aandoen. Soms is die persone wat die meeste skade aanrig, juis dié wat die taal probeer red.

Ek het ’n dekade gelede aan die Poolshoogte-beraad deelgeneem en twee bydraes gelewer. Ek parafraseer en vereenvoudig, maar die een bydrae het gegaan oor diversiteit en die ander oor skrywers se betrokkenheid deur hul skryfwerk in die samelewing. Nou kyk ek terug daarop en op dit wat ek destyds geglo het.

Een ding waarin ek steeds onwrikbaar glo is dat enige taal vir oorlewing afhanklik is van die welwillendheid van haar sprekers. Mense moet die taal wil praat en veral moet hulle met mekaar wil praat in die taal. Dis stompsinnigheid om enigiets anders te dink. Maar vir enige taal om te bly groei, moet hulle noodwendig ook praat met ander wat nie eerstetaalsprekers is nie. Sou onverdrote ooit deel van my bewussyn geword het indien ons net met ander Afrikaanssprekendes gepraat het, of net gepraat het met Afrikaanses wat soos ons praat en soos ons dink?

Ek dink aan die Afrikaanses in Patagonië wat blykbaar ’n tipe Hollandse Afrikaans praat, verstaanbaar, maar vreemd formeel vir ons moderne ore. Hulle taal het nie gegroei vandat hulle Suid-Afrika verlaat het nie. Sou hulle tuis voel in Suid-Afrika van vandag? Waarskynlik nie. Ons sal so volksvreemd vir hulle wees soos wat die Argentyne met hulle voorouers se aankoms daar waarskynlik was.

Ek dink ook aan die kreatiewe skryfwerk wat deesdae in Kaaps gepubliseer word, of die baanbrekerswerk van ’n skrywer soos Gaireyah Fredericks wat ’n nuwe wêreld van Moslem-Afrikaanssprekendes oopskryf. Nee, laat ek herfraseer. Dis nie ’n nuwe wêreld nie. Dis nie eens ’n onbekende wêreld vir enigeen wat tussen Moslems grootgeword het nie. Dit is wel ’n wêreld wat ons nog nie regtig op skrif gesien het nie.

Elke skrywer wat ’n nuwe wêreld in Afrikaans oopskryf, of dit doen in ’n variant wat nog onbekend as skryftaal is, is besig om Afrikaans te versterk, al dink die puriste nie noodwendig so nie. Daar is ’n rede hoekom opreg-geteelde, rasegte honde so geneig is tot siektes en die gemengde straatbrakke baiekeer meer gehard en bestand is teen siektes. Survival of the fittest is nie net van toepassing op diere se gene nie; dis ook van toepassing op taal. Afrikaans aan die suidpunt van Afrika se voortbestaan is afhanklik daarvan dat ons as die sprekers van die taal moet leer om soepel en toeganklik, ontvanklik vir ander maniere van doen te wees.

10 jaar gelede sou ek nooit kon droom dat ’n akademiese program vir kreatiewe skryfwerk in Kaaps sou adverteer nie. Ek sou nooit kon droom dat daar ’n Kaaps-woordeboek in wording sou wees nie. Ek sou my nie die aantal akademiese artikels wat besin oor Kaaps as onderwystaal, as werkstaal en veel, veel meer, kon indink nie. Dis nie net ’n fad van verbygaande aard nie, en dis verblydend. Maar daar is ander variante van die taal wat ook aandag verdien – en ek is bewus dat ek my nou hier begewe in die Kaaps-is-’n-taal-nie-variant-nie-debat.

My skrywe 10 jaar gelede het nie Afrikaans as wetenskapstaal, of geloofstaal, of inligtingsmedium in ag geneem nie. Afrikaans as kreatiewe taal lewe nog, maar tog is daar te veel skrywers wat dink dat hulle beter sal doen in Engels, en dus Afrikaans as die taal waarin hulle hul kreatiewe uiting gee, vaarwel toeroep. Veel gevaarliker is die eksodus van akademici wat nie meer in Afrikaans as vaktaal publiseer nie. Daar is geen groot verklaring gemaak soos die kreatiewes gedoen het nie. Die akademici het gewoon stilweg in Engels begin publiseer. Publish or perish, en as jy in Afrikaans publiseer, is dit so goed soos jy trek die galgtou om jou eie nek stywer.

Afrikaans as inligtingsmedium sterf ook stadigaan uit. ’n Dekade gelede kon ek in enige winkel instap en kies uit Afrikaanse koerante en tydskrifte om te lees – ek bedoel fisiese koerante. Deesdae is die paar wat oorleef, almal aanlyn.

...
Afrikaans het beter PR nodig, en ons kan nie bekostig dat die Trump-onderdane in Suid-Afrika ons woordvoerders moet wees nie.
...

Ditto Afrikaanse feeste. Na Covid het besoekersgetalle nooit regtig weer herstel nie; die pandemie en die ekonomie word die skuld daarvoor gegee. Ná Trump se tariewe-oorlog en die toename in BTW gaan die ekonomie weer die skuld kry. Maar hoekom gaan Engelse feeste nie gebuk onder dieselfde probleem nie? Wat my opval van die Engelse feeste, is dat jongmense dit bywoon, mense wat werk en koopkrag het. Elke Afrikaanse fees wat ek al ooit bygewoon het, is dit meesal afgetredenes wat dit bywoon. Is Afrikaanse feeste nie cool genoeg vir jongmense nie? Het dit nie rizz nie? Die Engelse feeste is ook baie meer divers wat die ras van feesgangers en paneellede betref.

In plaas van skouers in hulpeloosheid optrek, het dit tyd geraak dat ons soos op die mediese dramas triage hou en kyk waar daar gered kan word, waar daar geamputeer moet word en waar die life support maar gestaak moet word. En klokslag wanneer ’n sterfte aangekondig word, is daar die Afrikaanse lesers en kykers wat treur, maar wat nie bereid was om te betaal om hul fees/koerant/tydskrif te ondersteun en lewensvatbaar te hou nie. Wat hopelik dan gebeur, is dat alles moontlik gedoen sal word om die pasiënt(e) wat gered kan word, die beste kans op oorlewing te gee.

’n Rukkie gelede het my horlosie geval. Dis een van daai outydse analooghorlosies met die kort wyser wat ure aandui, die lang wyser vir minute en die fyner wysertjie wat die sekondes aftik. Toe die horlosie val, het ek dit dadelik opgetel en heel eerste seker gemaak dat die glas oor die gesig nie gebreek het nie. Daarna het ek dit teen my oor gesit en geluister dat dit nog tik, en toe gekyk om myself te vergewis dat ek die sekondewyser sien beweeg. Alles was wel en ek het die horlosie neergesit en iets anders begin doen. Tussen my rekenaar en selfoon het ek selde in die loop van ’n tipiese werksdag nodig om die horlosie te raadpleeg vir tyd.

Die volgende dag was ek op pad iewers heen en die horlosie was die gerieflikste manier om seker te maak van die tyd. Tot my skok kom ek toe agter dat ek laat is vir my afspraak, maar iets was nie reg nie. Ek het gewéét dit kan nog nie so laat wees nie. Toe ek fyner kyk, kom ek agter die sekondewyser haak vas en kan nie verby die minutewyser kom nie. Toe die horlosie geval het, het die minutewyser opgewip. Alles was wel totdat die sekondewyser weer oor die minutewyser moes beweeg en nie kon nie. Sit die horlosie teen jou oor en die getik-tik klink duidelik, maar die horlosie werk nie meer nie. Twee keer ’n dag sal die tyd selfs korrek weerspieël word, maar dit beteken nie dat die horlosie die werklikheid reflekteer nie.

Net so, voel dit my al meer, gaan dit met Afrikaans. Alles klink reg, as jy vinnig kyk lyk dinge selfs reg, maar iets haper.

Ons hou vanjaar Afrikaans as amptelike taal se eeufeesvieringe. Ons “Hop hop spinnekop” en “Janneman kan” fluks voort. Afrikaanse boeke wat ’n wye verskeidenheid onderwerpe aanraak, word gereeld gepubliseer. Afrikaanse dramas word geskryf en opgevoer, Turkse TV-dramas word vertaal en vertoon en selfs Afrikaanse oorspronklike televisiereekse brei op die oog af uit. Maar is alles wel?

Hoe kan alles wel wees as die openbare diskoers in Afrikaans al meer vervlak? Hoe kan alles wel wees as Afrikaanssprekendes nog steeds onder mekaar baklei eerder as om saam te werk om ons taal te bevorder? Gaan lees net vir een minuut die kommentaar op Netwerk24 se berigte om te besef in watter groot moeilikheid die taal is, en nou praat ek nie eens van spelling nie.

Net soos wat die gewelddadige afdwing van die Afrikaanse beleid in 1976 nou nog Afrikaans se voortbestaan beduiwel, net so is Trump se Afrikaner-vlugtelingaanbod alreeds besig om welwillendheid teenoor die taal en haar sprekers opnuut te kelder. Maar Trump se aanbod kom nie in isolasie, sonder geskiedenis nie. AfriForum en Solidariteit, twee organisasies wat beweer dat hulle hulleself beywer vir Afrikaans en Afrikaanses, het baie om voor te antwoord. Maar natuurlik is dit onsinnig om te dink hulle optrede kom in ’n vakuum. Hulle het steun, al is daai steun gegrond op onbewese bewerings en die aanblaas van vrese.

Net soos wat daardie organisasies se optrede nie in ’n vakuum ontstaan het nie, is welwillendheid teenoor Afrikaans ook nie geskep in ’n vakuum nie. Hoekom word daar so ophef gemaak oor die onderwyseres wat met haar kinders dans, of die een wat elke kind aan hulle stem herken en die regte naam by die regte kind sit? Sover ek weet, is die dansende juffrou Engels, maar sy verteenwoordig iets wat ons nodig het in Suid-Afrika: welwillendheid en aanvaarding, van albei kante.

Daar is die TikTok van die ou oom wat op ’n besige pad iewers naby Germiston, dink ek, ’n slaggat met bakstene pak om dit op te vul. Daar is Betereinders en Barend le Grange en soveel ander wat moue oprol en hierdie land probeer beter maak – in Afrikaans, sonder om die taal ’n politieke speelbal te maak.

Wat ek ’n dekade gelede gesê het, bly steeds staan. Afrikaans het beter PR nodig, en ons kan nie bekostig dat die Trump-onderdane in Suid-Afrika ons woordvoerders moet wees nie. Ons, want my bruin Afrikaanse bas is net so afhanklik van welwillendheid teenoor my moedertaal as enigeen anders. Ons, want my komplekse verhouding met Afrikaans en Afrikaanssprekendes ten spyt, is ek lief vir my taal en wil ek sien dat sy floreer.

Ek glo nog steeds heelhartig hierdie woorde:

Daar is ruimte genoeg en diversiteit genoeg vir almal van ons om die tafel – of ons nou kom in gumboots, ’n sari, ’n 28-tatoe of ’n snyerspak. Los net die labels buite die deur.

Maar anders as ’n dekade gelede, het ek intussen tot die besef gekom dat daar Afrikaanssprekendes is wat eerder die taal sal sien sterwe as om dit te deel. Hulle wil nie die ruimte deel nie; hulle wil nie die taal verryk sien deur diversiteit nie.

Goddank hulle is in die verre minderheid.

Lees ook:

Johan Degenaar: Afrikaans-wees in Afrika en die Wêreld

Chris Barnard: Ik ben een Afrikaan

Heindrich Wyngaard: Gedagtes van ’n kind van Gam

Chris Louw: Disgrace of Renaissance: bly of gly?

Elias P Nel: Op pad na die groot versoening

Abraham H de Vries: Van mense en muise

Hein Willemse: Die kaart van ervaring van Japie Bikeur

Steward van Wyk: Hibriditeit, of die baster in ons

K Sello Duiker: A question of diversity

Gabeba Baderoon: Still points

Bettina Wyngaard: Van labels en ghetto’s

Bettina Wyngaard: Poolshoogte-afsluiting: Is Afrikaanse skrywers betrokke?

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    As 'n mens so bietjie in die studieveld van linguistiek delf, dan kan mens groter berusting vind. Daar is fassinerende videos op Youtube wat vir jou illustreer hoe Engels geklink het 500 jaar gelede, en hoe Engles geklink het 1000 gelede. Dies van 500 jaar gelede, klink al vreemd genoeg, maar dies wat 1000 jaar oud is, is onverstaanbaar! Dit word ook nie Engels genoem nie, maar 'middle English' en 'old English' en iewers as jy ver genoeg teruggaan, dan is dit nie meer Engels nie.

    Toe ek 20 was, was ek ook so bietjie van 'n taalstryder, of ek het myself ten minste so iets gevoel. Daar is egter niks wat enige mens kan doen om enige taal te red nie. Ek vertel altyd die storie, maar toe ek die heel eerste dag in Afrikaans en Nederlands in die klas instap op universiteit, toe groet die sosiolinguistiek se lektor ons met die woorde: julle bestudeer 'n sterwende taal, hoe voel dit? Dit was in 2005. Ek het na die argumente geluister, my emosies opsy geskuif, en besef, die persoon weet waarvan sy praat.

    Dit is gewoon die geval dat enige taal wat nie politieke mag het nie, taan uiteindelik. Dit stagneer en ontwikkel nie, en word uiteindelik deur die dominante tale fyn gemaal. Afrikaans het dit self ook gedoen met ander inheemse tale van die KhoiSan mense. Nou het die wiel gedraai en suip Afrikaans aan die agterspeen en niks wat niemand doen gaan dit kan verander nie. Dalk sal Afrikaans nog in Orania voortleef. Die naam Afrikaans self sal ook seker uiteindelik verdwyn. In sommige dele van die VSA, word daar al gepraat van 'n nuwe taal, Spanglish, 'n mengsel van Engels en Spaans. So iets sal dalk ook in Suid-Afrika moet gebeur. Ons grootste taal op die stadium is Zoeloe. Nuwe tale word altyd maar weer gebore.

    Die idee om vir 'n land of 'n taal te veg, is vir my bisar. Mens geniet jou taal en ek leer myself ook ander tale, wat 'n avontuur is die aanleer van ander tale nie, al sukkel ek so, en is ek gladnie begaafd met vreemde tale nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top