Van labels en ghetto's

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

Ek haat labels, haat dit met ’n passie, want dit maak mense lui. Jy hoef nie in interaksie met iemand te gaan as jy daai een alreeds netjies in ’n boks geplaas en toegedraai het nie. Daar’s geen verpligting op jou om te leer van die Ander se diepste begeertes, behoeftes, vrese en hoop nie. Labels plaas beperkinge op mense. Labels gee mag oor mense. Labels maak dat mense nie situasies en omstandighede interrogate nie, want hulle dink hulle weet alreeds. Labels laat mense toe om terug te val op stereotipes om die werk vir hulle te doen.

Vet mense is slordig. Mense wat bril dra is slim. Jode kan goed besigheid doen. Chinese is goed met wiskunde. Indiërs bly in Durban. Bruin mans is dronk. Bruin vroue steel. Swart mans verkrag. Swart mense is diere met geen respek vir lewe nie.

Maya Angelou

Hoeveel keer moes ek nie al die litanie hoor: “Jy is anders as die ander”, of “Jy praat so mooi Afrikaans”, of “Ek wens almal was soos jy”, gewoonlik gesê in ’n stemtoon wat moet aandui hoe ’n groot kompliment ek besig is om te ontvang. Dis “komplimente” wat voel soos ’n regterhaakhou op die ken.

Moenie my in ’n boksie sit nie. Walt Whitman het dit so netjies vasgevat toe hy sê : “I am large, I contain multitudes”. En dis ’n sentiment wat dié wat so graag label, heeltemal mis. Almal van ons val op een of ander manier buite die hoofstroom van ons samelewing. Niemand se hele menswees kan met ’n enkele label omskryf word nie.

Ek verafsku dat, na Russel Botman se dood, die eerste klompie berigte almal variasies op die tema van “US se eerste swart rektor sterf” was; dieselfde met Maya Angelou, die Amerikaanse digter en skrywer. Maak nie saak watse prestasies en mylpale hulle bereik het nie, kleur is die eerste, en vir baie die enigste, relevante label. Bygesê, dis net as jy die geringste sweem van ’n tint in jou vel het. Wit is die norm. Hoekom dan nou praat van so-en-so as ’n wit digter, skrywer, politikus, rektor, wat ook al. Dis redundant. Dis as jy nie wit is nie, dat jy gelabel moet word, sodat almal presies weet in watter boksie jy hoort.

Russel Botman

Ek haat labels.

Ek het gemeen ek is verhewe bo daai tipe lui denke, totdat ek ’n aantal jare terug by my destydse werk aan ’n diversiteitswerkswinkel moes deelneem. Ons was in groepe opgedeel, en die opdrag was eenvoudig: Vertel vir die groep hoe ’n begrafnis en ’n troue in jou kultuur gehou word. Die reëls was ewe eenvoudig: Keep an open mind, toon respek, geen veroordeling, geen politiek, geen onderbreking, en wat in die groep gesê word, is konfidensieel. Soos AA. In my groep was ’n Xhosa-sprekende jong man, ’n Joodse vrou, ’n middeljarige Hindoevrou in haar sari, ’n middeljarige man wat trots sy Afrikaner-status aangekondig het (tot die stille disgust van al die ander in die groep) en ’n wit Afrikaanssprekende vrou in ’n rolstoel, wat baie vinnig verduidelik het sy hou haar nie op met die Afrikaner-snert nie – behalwe dat sy ’n drieletterwoord wat begin en eindig met “k” gebruik het. Letterlik al wat ons gemeen gehad het, was dat ons almal prokureurs was, en dat ons almal gedink het ons kon ons tyd meer nuttig iewers anders deurbring.

Ek en Qaqambile het oom Piet ge-eye. Hy’t ons terug ge-eye. Die Jood en die Hindoe het mekaar agterdogtig uit die hoek van die oog uitgecheck. Ons almal het oor ons voete geval om nie na die vrou in die rolstoel se uitgeteerde bene te staar nie – sy’t ’n kortbroekie aangetrek vir die geleentheid. Sy was die enigste een wat kwaad genoeg, moedswillig genoeg, dapper genoeg en self-aware genoeg was om die labels wat ons op haar probeer sit het, die middelvinger te wys.

Oom Piet was alles wat ek nog altyd wantrou het. Sy grys langbroek en die kortmou wit hemp met die gestreepte grys das het “konserwatief” geskree. Tot sy hare was konserwatief gekam. Die eerste woorde uit sy mond, na die Afrikaner-belydenis, was dat hy NP gestem het en ’n Broederbonder is. Die res van die groep het daar gesit met monde in identiese dun lyne saamgepers. Oom Piet het met daai openingsalvo meer gedoen om eenheid onder die res van ons groepie te bring as enigiets anders wat die aanbieders opgedis het, vermoed ek.

Ek het gedink ek weet presies wie hy is en waarvoor hy staan, tot ek geforseer was in ’n groep in waar ons na mekaar moes luister. Hy’t oopgemaak oor sy vrese dat hy irrelevant in die nuwe Suid-Afrika is, dat hy nie meer weet wie en wat hy is nie, dat hy wonder of hy die regte keuses gemaak het in sy jonger dae. Die gesprek het ver verby troues en begrafnisse gedraai. Ek erken ruiterlik, ek was gefassineerd. Ek onthou dat ek daar gesit en wonder het wat dit hom kos om sy weerloosheid voor ’n vyandige groep te wys. Sy waagmoed het my beïndruk op ’n manier wat machismo nooit sou doen nie. Daai stresvolle middag het ek tot my skok geleer dat ek en ’n man wat my polar opposite in alles denkbaar is, dieselfde hoop en vrese en ideale vir onsself en ons geliefdes koester.

Die volgende aand het ’n dansgroep ons vermaak. Eers dans ’n groep jong Indiërvroue in tradisionele drag op maat van tradisionele musiek. Halfpad deur kom ’n groep Zoeloe-mans in wit oorpakke in en begin ’n gumbootdans doen. Dit lyk eers asof die groepe bots en daar vele wanklanke in die musiek is, maar iewers in die oënskynlike mêlée begin hulle saamdans en ’n harmonie wat die twee tradisies saamvoeg, ontwikkel. Elkeen verskillend, en uniek, maar tog in harmonie. Amper soos ons volkslied. En terwyl ek oom Piet later dophou waar hy ongemaklik sokkie terwyl Shaggy se “Say it wasn’t you” blêr, en probeer inpas in ’n groep wat hy vroeër jare sou uitgesluit het as hy kon, het ek vir die eerste keer deernis vir ’n wit Afrikaner-Broederbonder ervaar.

Want onder die vel, daai lastige sak wat die binnegoed binne hou, is ons almal eenders. Ons wil aanvaar word. Ons wil behoort, vry van die beperking van labels.

Ons kry nie almal kans om aan ’n diversiteitswerkswinkel deel te neem nie. Dit sit in bitter min se broek om die eerste tree te gee om ’n ander groep te nader, en in weerloosheid en met integriteit te probeer leer van hulle. Maar ons kan almal ’n boek optel en ’n Ander se wêreld betree, in die veiligheid van ons eie spasie. Dis die magic van boeke. Dis ’n paspoort wat vir die leser ander leefruimtes oopmaak en haar laat leer van ander kulture, ander maniere van dink en wees. ’n Goeie boek is in staat om iemand se Weltanschauung te verander, om onder skanse in te klim en die sagte underbelly wat ons almal deel oop te vlek. Boeke kan ’n honger aanwakker vir groter ervarings as wat ons elke dag rondom ons sien.

Maar die magic van boeke kom met ’n prys. We all have to pay the piper. Boeke is nie vry van labels nie. Skrywers is nie vry van labels nie. En soos elders, dien daai labels om in te perk. Die karakters in die boeke wat ek in my tienerjare kon lees, was meesal wit, en die skrywers was áltyd wit, maar ek was te besig om léés te geniet om te wonder oor die politiek daaragter. Anyway, daar was mos nie boeke met bruin mense in nie, en die boeke waar bruin karakters as volwaardige karakters eerder as karikature hanteer was, was verban. My broer se vriend Arend het, toe hy op universiteit kom, vir my boeke begin aandra soos Peter Abrahams se A Path of Thunder. Vir die eerste keer kon ek lees van bruin mense wat geskryf is as mense met gevoelens en hoop en drome en begeertes groter en wyer as die regering van die dag se agenda en labels. Dieselfde tipe boeke in Afrikaans was so volop soos wors in ’n hondehok.

In die ‘70’s en ‘80’s was daar hope boeke met ’n politieke tema. Die laaste klompie jaar egter, noudat daar meer bruin stemme gehoor word, het die narrative verander na die stem van die slagoffer op die Kaapse Vlakte, die swaarkry, die saamlewe met geweld, bendegeweld, dwelmgeweld, drankmisbruik en die gebroke familie. Dis ’n stem wat nog nooit gehoor was vanuit ’n insider se perspektief nie, en juis daarom is dit ’n belangrike stem. Dis ’n stem wat veg vir ’n plek aan die tafel, en met reg. Dit behoort egter nie die enigste bruin stem te wees nie. Maar daar is al meer stemme wat sê bruin skrywers moenie skryf oor historiese onreg nie, moenie skryf in Standaardafrikaans nie, moenie dit nie, moenie dat nie – stemme vanuit bruin geledere, bygesê. Daai denkers verloor uit die oog dat bruin skrywers nie ’n homogene groep is wat amebeagtig dieselfde beweeg en dink en voel nie. Dis so realisties soos om te sê Steve Hofmeyr en Sampie Terreblanche is al twee wit en Afrikaans, so die een kan namens die ander een praat.

Sampie Terreblanche

Ek wonder altyd: Wie se belange word gedien as ons as bruin skrywers mekaar inperk? Die belange van dié wat nog kies om “Die Stem” te sing sonder die harmonie wat die res van ons volkslied bring, en met slut-shaming andersdenkendes in hul eie groep probeer stilmaak? Hulle vooropgestelde idees van ons word net bevestig deur wat ons self kies om uit te beeld.

Elke keer as bruin skrywers en die organisasies waarin hulle dien, weier om betrokke te raak by breër skrywersforums, dan wonder ek oor die narrative waarmee ons besig is. Waarom lei ons nie die gesprek oor die rol van bruin skrywers op die mark nie? Waarom vra ons nie vrae oor hoekom disproporsioneel minder bruin as wit skrywers deur tradisionele uitgewers uitgegee word nie? Waarom word soveel van ons bruin skrywers geforseer om die weg van selfpublikasie te volg? Dis gewis nie gebrek aan talent nie. Wanneer ons uiteindelik wel publiseer, word daar nie naastenby dieselfde publisiteit aan die werk bestee nie.

Hoe voed ons bruin kopers op om drempelvrees te oorkom? Daar is soveel kwessies waar bruin skrywers ’n bydrae te lewer het. Hoekom kies ons om onsself in ’n ghetto af te sonder terwyl daar ’n hele wye wêreld daar buite is wat smag om ons talente en ons unieke perspektief te ervaar? Ons kla dat ons stem nie gehoor word nie, maar ons weier om deel te neem. En terwyl ons eenkant sit en ons wonde lek, skryf wit skrywers onverstoord kookboeke en literêre werke en hygromans en misdaadfiksie en christelike fiksie. Dis nie hulle skuld as ons nie wil deelneem nie. Dis nie hulle plig om ons te lek om ons plek aan die tafel te kom inneem nie. Ons moet verantwoordelikheid aanvaar vir elke label waaraan ons krampagtig vashou, vir elke ghetto wat ons vrywilliglik betree.

Ons het ’n magdom verhale om te vertel. Ek, as ’n plattelander, hoef nie die verhaal van die Vlakte te vertel nie. Ek, as ’n gender-aktivis, wil nie die verhaal vertel van die platgeslane vrou wat in haar omstandighede krepeer en geen uitkoms sien nie. Ek, as ’n vrou, kan nie die verhaal vertel van die man wat van sy manlikheid probeer sense maak in ’n omgewing waar daar nie behoorlike manlike rolmodelle is nie. Dis nie my komvandaan nie. Daar is ander, outentieke stemme wat daai narrative kan voortdra.

Moet my egter nie label en in ’n boksie sit wat my die reg ontneem om my komvandaan in my verhale te verbeeld nie. Daar is nie net arm bruin mense, en alkoholiese bruin mense en bruin gangsters en tikgebruikers in ons land nie. Daar is bruin rekenmeesters en prokureurs en skrywers en professors en digters en ekonome. Hulle verhale behoort ook vertel te word. Iewers is daar ’n klein bruin kindjie met hoop in haar oë en ’n droom in haar hart wat wil lees van karakters soos sy wat president van die land is, of ’n dokter, of ’n aktrise, of enigiets anders. Daar’s ’n kindjie met ’n loopneus, jem-kniekoppe en kroes hare wat wil weet dat mense wat soos hy lyk, in internasionale arenas ’n bydrae kan maak. Ons kan die narrative van hoe bruin mense in die literatuur vasgelê word, verander. Ons kan die labels uitvee.

Daar’s ruimte genoeg en diversiteit genoeg vir almal van ons om die tafel – of ons nou kom in gumboots, ’n sari, ’n 28-tatoe of ’n snyerspak.

Los net die labels buite die deur.


<< Gaan terug na Poolshoogte <<


Uit die LitNet-argief
Essay
Kô lat os praat! #prefablyinkaaps
– Shirmoney Rhode
2013-11-04
Akademies
Waar is die nuwe generasie swart Afrikaanse skrywers?
– Nèlleke de Jager
2005
Onderhoude
"poetry oo die liewe annie anne kant" – Ronelda Kamfer gesels met Nathan Trantraal oor Chokers en Survivors
– Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal
2013-07-17
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
“Binne ’n halfuur het ek wit geword”: Snypunte van gender, ras en klas in Suid-Afrikaanse fiksionele uitbeeldings van voorkoms
– Jessica Murray
2011-08-10
Young Voices Conference 2004
A question of diversity
– K Sello Duiker
2004-10-18

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die woordrivier: ’n Model ter bevordering van gemeenskapseie woordkuns
– Anneretha Combrink
2012-10-11

Briewe deur die lug
Language and the shaping of “otherness” — a personal testimony
– Achmat Dangor
2000

Seminaarkamer
Jonk, swart en Afrikaans: Hoelykkit?
– Jason Lloyd
2005-11-22
Seminaarkamer
Non-racialism in Afrikaans
– Antjie Krog
2003
Seminaarkamer
Op pad na ’n ruim Afrikaans — ’n Bydrae oor nierassigheid in Afrikaans
– Hein Willemse
2003
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top