Poolshoogte-afsluiting: Is Afrikaanse skrywers betrokke?

  • 0

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

Is Afrikaanse skrywers betrokke? En as hulle betrokke is, waarmee en op watter manier is hulle betrokke?

Ten einde hierdie op die oog af eenvoudige vrae te beantwoord, is dit nodig om heel eerste te kyk na wat presies bedoel word met ’n “betrokke” skrywer. Wat omtrent ’n betrokke skrywer se werk laat dit uitstaan van ander kreatiewe skryfwerk?

In hierdie stuk wil ek argumenteer dat daar ’n paar kenmerke is wat uniek is aan, en gedeel word deur, betrokke skryfwerk.

In die eerste plek het die werk, hoe subtiel ook al, altyd die verdediging van een of ander mensereg, gewoonlik gekoppel aan vryheid of gelykheid, ten doel. Wanneer byvoorbeeld gekyk word na die werk van ’n groep soos die Sestigers, is dit duidelik dat hulle die apartheidstaat bevraagteken en kritiseer. In die proses verdedig hulle, bewustelik of onbewustelik, ’n wye verskeidenheid regte. Vryheid en gelykheid is obvious, maar hulle verdedig ook die reg op vryheid van spraak, reg op vrye assosiasie, reg om nie teen gediskrimineer te word nie, reg om nie gemartel te word nie, reg om nie onregverdig aangehou te word nie en so aan. Die Sestigers het natuurlik geleef in ’n konteks waar daar nie ’n handves van menseregte was nie, so hulle fokus was uiteraard op natural laws. In ons huidige konteks, en die afgelope 20 jaar waarvan ons poolshoogte neem, is daar wel ’n handves van menseregte, vervat in die Grondwet. Daar is egter ook altyd natuurlike regte wat nie gekodifiseer en op skrif geformaliseer is nie.

Tweedens spreek die werk kritiek teen die status quo uit. Dit gaan nie om ’n hunkering na die verre verlede, of kritiek teen iets wat alreeds afgeloop het nie; dit “speaks truth to power” in die hier en nou. Dit vertoonbeeld kreatiewe verset teen ’n bestaande magsvergryp of miskenning van ’n inherente reg.

Terselfdertyd, in die derde plek, werp die werk ’n toekomsblik op hoe die samelewing behoort te wees. Die kreatiwiteit het ’n mate van idealisme as metgesel. Wel, ek skat dis seker waar van alle skeppende werk. In dieselfde asem is dit ook ’n konstante herinnering aan Jean-Jacques Rousseau se sosiale kontrak. Wanneer een of ander essensiële mensereg verbreek word, is daar tog immers altyd ’n verbreking van die sosiale kontrak waardeur die burger, in ruil vir beskerming deur die staat, legitimiteit en mag aan die staat verleen.

Betrokke skryfwerk is vierdens aktivisties. Daar is ’n besliste en bepaalde behoefte aan intellektuele, maar ek wil my verstout om te sê ’n suiwer leunstoel- of “ivory tower” intellektuele benadering tot die issues van ons dag, loop die gevaar om te lei tot irrelevantheid. Met kreatiwiteit, in woorde en beelde, as wapen, behoort die magshebbers die stryd aangesê te word. Die aktivisme is egter altyd daarop gemik om, soos alle natural laws, ’n positiewe end game vir die meerderheid tot stand te bring. Dit beteken dat wanneer ’n persoon byvoorbeeld ’n lied soos “Die Stem”, met al die apartheidsbagasie wat daarmee saamgaan, by ’n openbare geleentheid sing, dit beslis aktivisties is, maar nie betrokke in die sin waarin ek die woord gebruik nie.

Betrokke skryfwerk het ’n eksterne fokus. ’n Karakter mag dalk innerlike wroeging ondervind, maar die katalisator vir daai wroeging is gewoonlik ekstern en sistemies. Die karakter “rage against the machine”, by wyse van spreke.

Aan die hand van die bogenoemde is dit duidelik dat ’n groep woordkunstenaars soos die Sestigers beslis betrokke was. Die vraag is egter of Afrikaanse skrywers nou, en in die tydperk sedert ons ’n demokratiese bestel beleef, steeds betrokke is en tot watter mate.

Dis opvallend dat daar nie ’n beweging van ’n groep woordkunstenaars is wat met dieselfde gemeenskaplike doel ’n gemeenskaplike euwel aanpak nie. Individuele skrywers rig hulle wel op sosiale kwessies. Daar is egter nie identifikasie van, en fokus op, een enkele euwel wat beveg moet word nie.

Margaret Atwood (foto: www.brainpickings.org)
Pieter-Dirk Uys (foto: LitNet)

Die fokus het ook verskuif van ’n suiwer politieke betrokkenheid tot ’n maatskaplike betrokkenheid. Enkele skrywers skryf oor kwessies soos geweld, armoede, vroueregte, seksualiteit en dies meer. Ons begin sien nou ook ’n verskuiwing na ’n fokus op die mens se afhanklikheid van die natuur. Ek verwag dat ekoliteratuur, soos wat internasionaal deur byvoorbeeld Margaret Atwood geskep word, vorentoe groter inslag gaan vind.

Dis asof woordkunstenaars hulle voete probeer vind in ’n postapartheid samelewing, maar nie mooi ’n nuwe common enemy kan identifiseer nie. Apartheid is verslaan, in teorie anyway, wat nou?

Waar betrokkenheid ’n eksterne fokus vereis, lyk dit asof die neiging steeds is om eerder intern te fokus. Daar is nog grootliks ’n innerlike worsteling met identiteit, en veral die label van Afrikaner-wees. Dit beteken natuurlik ook dat die narrative grootliks vanuit die Afrikaner-perspektief gebied word, ongeag of dit pro of gekant teen is.

Ander stemme, veral die stemme van bruin en swart skrywers, bly steeds op die periferie en word grootliks geïgnoreer. Bruin en swart skrywers kry net eenvoudig nie dieselfde geleenthede om te publiseer nie; daar word nie tot dieselfde mate reklame gemaak rondom hulle werk nie; hulle word nie in gesprekke op die groot kunstefeeste gesien en gehoor nie. Die eensydige bekgeveg rondom Kaaps is die enigste uitsondering, maar ek wonder steeds of dit nie meer skade as goed gedoen het nie. Ironies het gerespekteerde woordkunstenaars soos Adam Small en Peter Snyders ’n groter teenwoordigheid geniet tydens apartheid as baie bruin en swart skrywers gedurende demokrasie.

Ek vermoed dat deel van die probleem rondom die oënskynlike onbetrokkenheid van skrywers ’n skuldgevoel is. Dieselfde skrywers wat nie teen apartheid stem dik gemaak het nie, voel dalk nou dat hulle nie kan uitspreek teen die vergrype van die huidige regering sonder om skynheilig oor te kom nie. Wanneer ’n kunstenaar soos Pieter-Dirk Uys, en sy skepping Evita Bezuidenhout, kritiek lewer, word dit aanvaar, want hy het tog ook teen die Groot Krokodil en sy gesante uitgepraat. Hy het die regte struggle credentials. Ander wat nie dieselfde struggle credentials het nie, bly eerder stil uit vrees dat hulle as rassiste gebrandmerk sal word. Ongelukkig bly hulle ook stil as hulle mede-Afrikaners rassisties optree, wat hulle stilswye na toestemming laat lyk.

Ons sien egter toenemend pogings deur die staat om vrydenkende stemme te onderdruk, veral stemme wat krities teenoor die regering van die dag is. Die pogings tot muilbandwetgewing, toenemende verenging van vryheid van spraak en pogings om sensuur toe te pas, die een-boek-beleid in onderwys, die toenemende internasionale fokus op moedertaalonderrig terwyl dit plaaslik net lippetaal geniet, die taalbeleid in universiteite en dies meer gaan toenemend enigeen met ’n liefde vir Afrikaans forseer om standpunt in te neem. Ek verwag dat dit gaan lei tot groter aktiwiteit deur woordkunstenaars.

Afrikaans se grootste probleem is egter dat ons drasties goeie PR nodig het. Ons het veelrassige brand ambassadeurs nodig wat die diversiteit van die taal kan uitbeeld. Ons het nodig om te kom by ’n punt waar ons nie meer stry oor wie se Afrikaans die “regte” Afrikaans is nie, waar dit nie meer ’n geval is van “Afrikaners is plesierig” nie, maar “Afrikane is plesierig”. Dis al manier hoedat taalaktivisme en betrokkenheid gesien sal word as enigiets anders as rassisme in ’n fancy nuwe baadjie.

My hoop is dat ’n organisasie soos PEN Afrikaans, met hulle fokus op vryheid van spraak en uitdrukking, ’n rol sal speel om die gesprek in ’n veelrassige, aktivistiese, betrokke menseregte-rigting te lei.

Ook dat skrywers sal besef ’n toe mond is nie altyd ’n heel mond nie.

Keer terug na die aanlyn kongres om nog bydraes te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top