Afrikaans – my taal, jou taal, ons taal – het in 1925 ’n amptelike taal geword. Die 100-jarige viering vind op 8 Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas en word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.
Hoe ver? Mens vra die vraag, want die eerste saadjie is reeds lank gelede, in 1595, deur die Khoi-mense geplant. Daardie taal, wat eers in 1925 tot amptelike taal bekragtig is, staan vandag onomstootbaar soos ’n oerwoud.
Van straatsêgoed, rym en spreuk tot beeld, vers, klank in klaskamer en teater, in ensiklopedieë kraakvol vakterme, en in vrydenkende waghondmedia loop die voetspoor van Afrikaans onuitwisbaar deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis, vantevore verdelend, maar verenigend vandag.
Dié kind is nie dood nie; hy’s onsterflik.
Destyds afgemaak deur die Engelse as ’n kombuistaal (en vandag as muishondtaal deur die huidige bestel met Damoklesagtige wetgewing), sal Afrikaans se 100-jarige viering gekenmerk word deur ’n viering van nie net sy onoorwinlikheid nie, maar juis daardeur as ’n onthoutaal, ’n omarmingstaal – en daarom ’n toekomstaal.
Daardie mag lê in die taal se versoeningsvermoë om sy sprekers se diverse klanke, kleure en kultuur om te sit in ’n smorgasbord (sê maar eerder: smoortjie) waarvan die politieke boeie vandag in die stof lê en die uitsluitings van ras, klas en kultuur transendeer – en sodoende die inklusiefste, toonaangewendste Suid-Afrikaanse taal geword het.
En onthou: Die afplat van stagnasie na afsterf is net een generasie ver. Tersiêre terminologie is eers tussen 1942 en 1959 geskep, waarna Afrikaans binne die bestek van die volgende halfeeu sy eie leksikon van akademiese, wetenskaps- en selfs regstaal ontwikkel het, met ’n voortdurend ontwikkelende woordeskat wat gevoed word deur sy wortelstelsel van uiteenlopende dialekte.
Spreektaal is een ding, maar vir enige taal om aan te hou groei, moet dit ook in formele kanale soos die akademie en media uitgedra word.
LitNet gaan in die aanloop tot die Taalmonument-viering ’n spesiale projek aanbied, naamlik ’n reeks onderhoude met stedelike en plattelandse biblioteekpersoneel.
Dit word gedoen om biblioteke se rol te vier in hul deurlopende neersit van ’n voetspoor vir Afrikaans binne gemeenskappe. Benewens die onderwysstelsel was biblioteke oor die jare een van die taal se mees formidabele fakkeldraers. Vanaf Junie 2024 sal LitNet gereelde staaltjies van biblioteekpersoneel wat hulle liefde vir die taal deel, publiseer.
Die Afrikaans Amptelik 100-viering geskied op ’n vrugbare tyd waarin die taal op die vooraand staan van die skryf van ’n nuwe lewenshoofstuk. Om hierdie rede is 8 Mei 2025 nie net ’n feesviering nie, maar ook ’n geleentheid om die veerpunt in die inkpot te doop en die volgende eeue se eerste paragrawe neer te pen. Met die wete dat hy bevry is van sy bagasie. Inklusief is. En dinamies.
Gegewe dat ’n taal se toekoms in die hande van sy jeug lê, is dit ook onteenseglik so dat die vestiging van ’n ywerige boekkultuur reeds vroeg by kinders vasgelê moet word met die ontwikkeling van ’n ewe leesgierige skolier, student, volwassene en eindelik ouer voor oë.
Afrikaans is Suid-Afrika se derde mees gesproke taal, en sy grootste groep sprekers is almal jonger as 25 jaar oud. In daardie opsig, en as toekomsbelegging, is die rol van openbare biblioteke van onskatbare belang om die taal se voortbestaan te verhelp. Dikwels as kwasigemeenskapsentrums (veral in agtergeblewe areas) skep biblioteke veilige ruimtes vir die omgaan met boeke vir kinders reeds van ’n voorskoolse ouderdom; en help om verbeeldingsvlugte van taal, tegnologie, kleur en konsep gratis en veilig daar te stel.
En daai kwaai tannie met die stywe bolla is lankal dood. Vandag se bibliotekarisse is oopkop en oophartig; jy sou hulle selfs as ongekwalifiseerde gemeenskapsleiers kon bestempel. Want hulle het die kennis, of toegang tot die kennis, wat ons lewens verryk. Hulle is tegelyk letterkundiges, onderwysers, sielkundiges, rekenaarkenners en loopbaanadviseurs; en hulle gesamentlike bydrae tot die uitbou van Afrikaans moet gehuldig word.
Ons het vandag e-pos. Ons het Facebook. Ons het WhatsApp. Maar die analoë Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif bly die hartroerendste uitstorting van liefde tot nog toe.
Dit is ook ’n metafoor vir hoe ver Afrikaans gekom het. En sal aanhou vlieg.
Hou LitNet dop vir die eerste aflewering oor een van ons biblioteke.
Die reeks word aangebied in samewerking met Kaapse Bibliotekaris. Dit sal aanvanklik fokus op Wes-Kaapse biblioteke en biblioteekpersoneel, en dan later uitgebrei word na biblioteke landswyd.
Kommentaar
Biblioteke maak saak. Welgedaan aan Lorraine Lank vir die insiggewende artikel.