Agtergrond
Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd
Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.
LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.
Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.
As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.
Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied.
Hierdie onderhoud met senior biblioteekassistent Gerhard van Wyk is die derde aflewering oor een van ons biblioteke, naamlik Caledon-biblioteek.
Ons biblioteke: ’n onderhoud met Gerhard van Wyk
Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?
Ek is al vir 15 jaar in biblioteekwese. Hierdie loopbaan bied vir my net voordele. Dit is heerlik om daagliks met soveel verskillende mense te kommunikeer. Bibliotekaris-wees is vir my soos ma-wees – dis vele beroepe in een, onder andere sielkundige, raadgewer, onderwyser – net nie dokter nie, asseblief – ek en bloed is nou nie juis dik pelle nie.
Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?
Trotse oomblikke gebeur wanneer leerders wat die biblioteek besoek vir navorsing en advies met skoolprojekte, goed presteer. En wanneer gemeenskapslede baat vind by uitreikingsprogramme wat die biblioteek aanbied. Die trotsste oomblik is ook wanneer ’n inwoner van ’n tehuis vir bejaardes jou bedank vir die boeke wat jy bring, want daardie leesstof bring ontvlugting vir hom of haar.
Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?
Net soos onderwysers is bibliotekarisse ook gaande oor korrekte spelling en woordkeuses. En jy moet asseblief ’n boek met die nodige respek hanteer!
Wat is tans die gewildste Afrikaanse genres en titels?
Misdaadfiksie, romanses en avontuurverhale is tans redelik gewild. Dit sluit in titels soos Donkerdrif deur Deon Meyer, Na ’n plaas in Afrika deur Irma Joubert, Hartedief deur Rudie van Rensburg en Die uil in die ysbos deur Susan Coetzer.
Ek is baie geneig om boeke wat ek self gelees en geniet het, vir ons lede aan te beveel. Nadat ek ’n Rudie van Rensburg-speurverhaal aanbeveel het aan ’n lid wat vantevore slegs liefdesverhale gelees het, was sy versot op Rudie en het intussen al sy boeke gelees.
Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?
Ek kon oor die jare waarneem dat veral jonger lede oop is om nuwe genres te probeer.
Hoe kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?
Om ’n gesonde leeskultuur te vestig, is dit van kardinale belang om van vroeg af reeds ’n liefde vir lees by kinders te kweek. Om hardop te lees vir kinders vanaf ’n jong ouderdom sal hulle aanmoedig om later gereeld te lees. Biblioteke moet voortdurende leesprogramme aanbied by crèches en laerskole ten einde daardie leeskultuur te bevorder.
Watter impak het die internet op die biblioteekwese gehad?
Internetgeriewe binne biblioteke het beslis ’n impak op die sirkulasie van boeke gehad. Skoliere sal eerder inligting vanaf die internet verkies as uit boeke. Maar aan die ander kant het internetgeriewe ook meegebring dat daar meer voete in die biblioteek kom. Persone wat nooit die binnekant van ’n biblioteek besigtig het nie, besoek dit nou om onder andere CV’s te tik of te laat tik. UIF-aansoeke bring ook baie mense na die biblioteek, veral dié wat ongeletterd is en daarom nooit die nodigheid gesien het om ’n biblioteek te besoek nie.
Op watter maniere kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?
Biblioteke is in hierdie moderne era baie onder druk. Dit is belangrik dat biblioteke hande vat met rolspelers uit verskillende industrieë, en bewusmakingsprogramme in die gemeenskap uitvoer. Om relevant te bly, moet biblioteke hulself onmisbaar maak in die gemeenskap wat hul dien.
Reël byvoorbeeld ’n voorlesingsessie een keer per maand waar julle lede van die plaaslike ouetehuis uitnooi om by te woon (natuurlik met koek en tee). Neem inisiatief en doen ’n kinderbeskermingsveldtog in samewerking met Maatskaplike Dienste en prominente figure in die gemeenskap.
Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?
“Haai, Katriena – wat vertel jy my nou?”
Wanneer ek ’n gesprek met iemand voer en hulle vertel my ’n storie, vervang ek net die “Katriena” met daardie persoon se naam. Ek het baie lank terug die Katriena-reeks boeke gelees, maar hierdie frase sal my altyd bybly.
Hoe gaan Afrikaans lyk en klink in 2125?
Afrikaans was nog altyd ’n bevoorregte taal. Daarom dink ek Afrikaans as taal sal in die toekoms net van krag tot krag gaan, al moet ons ons ook na Kombuisafrikaans wend – maar praat in Afrikaans sal daar gepraat word.