Agtergrond
Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd
Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.
LitNet het verlede maand oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.
Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.
As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.
Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied.
Hierdie onderhoud met bibliotekaris Edna van der Linde is die tweede aflewering oor een van ons biblioteke, naamlik die Gansbaai Openbare Biblioteek.
Ons biblioteke: ’n onderhoud met Edna van der Linde
Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?
Ek is aangestel as bibliotekaris op 1 April 2020. Ek het vas geglo dat dit ’n April-gekkegrap was! Dit was reg aan die begin van Covid. Ek het begin as ’n biblioteekkontrakwerker op 9 Februarie 2009. In 2013 begin ek met my studies in inligtingswetenskappe aan Unisa en in 2020 verwerf ek my honneursgraad. Ek was ook trots om onlangs my 15-jaar-dienserkenning te kon ontvang.
Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?
Vir my is die ontwikkeling van my personeel ’n prioriteit. Met my aanstelling het my ou pos as senior biblioteekassistent vakant geword. Gevolglik het ek nuwe personeel aangestel in my span. Met ’n jong span is daar altyd die uitdaging van deeglike kennis van skrywers en genres. Dit is vir my ’n daaglikse hoogtepunt wanneer ek kan sien en hoor dat my kollegas ekstra moeite doen om die regte boek vir ’n lid te vind en te gee. Daar is ’n wanpersepsie dat ’n leser enige boeke sal lees. Ek glo elke leser het “sy boek” en elke boek het sy leser. Dis ons plig as biblioteekpersoneel om daardie konneksie te maak. Na vier jaar se saamwerk is ek uiters trots op my kollegas wat hul boekekennis so verbreed het en sonder om te huiwer of te skroom daardie regte boek op ons rakke kan vind en aanbeveel.
Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?
Nee, glad nie. Ek sien eerder dat die twee hand aan hand werk. ’n Noue band tussen ’n gemeenskapsbiblioteek en ’n skool verseker dat niemand gefrustreerd is nie. Ons fokus veral op geletterdheid in die Grondslagfase om te verseker dat ons lewenslange lesers kweek. Die frustrasie lê meestal in die onbekende; en dit is waar biblioteekpersoneel kreatief raak, behoeftes identifiseer en programme loods om kinders en onderwysers te ondersteun.
Wat is tans die gewildste Afrikaanse genres en titels?
Genres: speur/spanning, familiesages, romanse (asook grootdruk-formaat).
Titels: Anoniem (Chanette Paul), Buit (Dibi Breytenbach), Al wat tel (Irma Venter) en Ek het ’n engel gesien (Amore Bekker).
Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?
Ja, ek kon definitief. Daar was nog altyd net ’n klein handjievol wat hoogs literêre titels en pryswenners gelees het, maar dít het beslis toegeneem. Alhoewel die Mills & Boon-grootdrukboeke besig is om uit te faseer, bly daar steeds ’n aanvraag daarna, alhoewel dit afneem. Daar is veral Afrikaanse lesers wat boeke soek oor trauma en mishandeling (niefiksie), asook oor oorloë. Natuurlik het ons met die vordering van tegnologie ook ’n groot groep lesers wat spesifiek vra na boeke oor elektronika. Ek wil definitief noem dat die aanvraag na soetsappige romanses afgeneem het en Afrikaanse lesers nou iets soek waarmee hul kan identifiseer.
Hoe kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?
Dit maak nie saak hoe hard ons beplan en hoeveel geld ons spandeer aan leesprojekte nie, as ons nie die ondersteuning van die plaaslike gemeenskappe, skole en ouers het nie, sal ons misluk in ons taak. As biblioteke het ons ons dienste aangepas om die moderne gebruiker terug te lok. Die stigma wat nou rondom biblioteke vassteek, moet gebreek en ondersteuning van nasionale, provinsiale en plaaslike regerings moet hervestig word. Die dienste van biblioteke is vir alle gemeenskappe, en slegs deur gebruik sal ’n leeskultuur weer vorm. Befondsing en spasie sal uiteraard ook ’n groot hupstoot wees.
Watter impak het die internet op die biblioteekwese gehad?
Hierdie vraag is só relevant in 2024. Die impak van COVID-19 was nie net negatief nie; dit het ons geforseer om vernuwend te dink en ander mediums te gebruik om ons lede te bereik. Die internet en WiFi is nou gratis beskikbaar by die meeste biblioteke in die Wes-Kaap, en sluit rekenaartoegang in. Die toevoeging van Overdrive (deur die Libby-toepassing) het ons hervestig op die voorpunt van relevante biblioteekdienste. Biblioteke groei en pas aan; ons is lewende organismes wat deur ons lesers gevoed word. Dit is nou die internet, volgende is KI. Sosiale inklusiwiteit is die grootste wen met die beskikbaarstelling van die internet in die biblioteke, wat toegang tot inligting en dienste bevorder.
Op watter maniere kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?
My grootste droom is om ’n koffiewinkel te voeg by die beskikbare dienste van ons biblioteek. ’n Gesellige vertrek waar die gemeenskap kan verkeer om tyd te verwyl, of werk te verrig. Multidimensionele spasies wat veeldoelig aangewend kan word.
Wat is jou gunstelingopeningsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?
“Ons onthou die oomblikke van vrees, verlies en vernedering die beste.” Uit Koors deur Deon Meyer.
Hoe gaan Afrikaans in 2125 lyk en klink?
Afrikaans is nes biblioteke – dit pas aan by die gebruik van sy gebruiker. Dit groei, dit skaaf en dit kry seer. Dit blom en dra nuwe tekkies. As die jongste taal in die wêreld sal Afrikaans steeds ’n prominente onderrigtaal sal wees. Dit sal die tuiste wees van ons nageslag wat die kulturele diversiteit van ons era tans bestudeer. Wat probeer sin maak van dít wat soms so duister was. Solank ek en jy die taal van ons hart praat, so lank sal dit voortleef. Daar is geen ander taal in die wêreld wat my beter verstaan as Afrikaans nie. Voeg ’n paar nuwe anglisismes by, verengels dalk die Afrikaanse aksent en haal van die “gr”-woorde weg – en jy vind ’n Afrikaans wat nuwe wêrelde in 2125 sal ontsluit.