Agtergrond
Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd
Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.
LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.
Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.
As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.
Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied.
Hierdie onderhoud met Ashley Lewis is die sewende aflewering oor ons biblioteke. Ashley is Biblioteekbestuurder van Delft Biblioteek.
Ons biblioteke: ’n onderhoud met Ashley Lewis
Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?
Ek is ’n bibliotekaris vir die afgelope 24 jaar. Ek het begin in die biblioteekafdeling toe ek 19 jaar oud was en is heel eerste aangestel as ’n library attendant. In daardie tyd is ek drie keer bevorder tot by die posisie van biblioteekbestuurder wat ek tans beklee.
Ek sal nooit enigiets anders wil doen nie. Vir my, om te kan sien hoe ’n gemeenskap vorder deur die biblioteek se dienste – veral inwoners in minderbevoorregte gebiede – laat my voel dat ek en my personeel ’n positiewe impak maak op mense se lewe.

Ashley Lewis
Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?
Die trotsste dag vir my as bibliotekaris was die dag toe ek in 2019 uit 24 000 ander kollegas aangewys is as die Stad Kaapstad se Personeellid van die Jaar. Hierdie prestasie was vir my ’n loopbaanmylpaal en ook vir my gemeenskap, omdat ek self minderbevoorreg grootgeword het.
Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?
Nie altyd nie. Die positiewe uitkomste van dienste lewer aan die gemeenskap verwyder baie van die frustrasie wat saam met die werk kom. So, ek sien nie die frustrasie nie, maar wel die bydrae wat ek en my personeel maak in ons mense se lewens.
...........
"Hierdie inisiatief is wêreldwyd gepubliseer omdat dit 60 kinders per dag na die biblioteek gelok het. Dit het vir ons die geleentheid gegee om kinders van die straat af te kry en ook vir hulle te leer lees. Deur die aanbied van hierdie program het Delft Biblioteek die Wes-Kaapse Kuns- en Kultuurtoekenning in 2022 gewen, asook die tweede plek in die Stad Kaapstad se toekennings, en het vanjaar internasionale erkenning by IFLA (International Federation of Library Association) ontvang."
...........
Wat is tans die gewildste Afrikaanse genres en titels?
Grenslose genade deur Chris van der Merwe, Ester – 10 studies oor God se voorsienigheid in jou lewe deur Jane Roach, Eie rigting deur Willie Spies en Geroep vir ’n tyd soos hierdie deur Farren Cloete.
Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?
Ja. Onlangs het Delft Biblioteek ’n nuwe inisiatief begin waar ons PlayStation 4-spelejies gebruik om kinders te motiveer om te lees. Kinders mag speel, maar hulle moet eers vir ons lees of hulle huiswerk doen. Hierdie inisiatief is wêreldwyd gepubliseer omdat dit 60 kinders per dag na die biblioteek gelok het. Dit het vir ons die geleentheid gegee om kinders van die straat af te kry en ook vir hulle te leer lees.
Deur die aanbied van hierdie program het Delft Biblioteek die Wes-Kaapse Kuns- en Kultuurtoekenning in 2022 gewen, asook die tweede plek in die Stad Kaapstad se toekennings, en het vanjaar internasionale erkenning by IFLA (International Federation of Library Association) ontvang.

Delft Biblioteek in 1994
Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?
Die PlayStation-program by Delft Biblioteek was baie suksesvol omdat dit kinders gelok het om as lede aan te sluit, maar ook hulle ander familielede. Dit het kinders aangemoedig om te wil lees in ’n gemeenskap waar daar nie ’n leeskultuur bestaan nie.
Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad?
Goed. Ons biblioteek het die internet gebruik as ’n hulpbron en ’n digitale wolk geskep wat vanaf ons gemeenskaplike rekenaars bereikbaar is. Laasgenoemde bied alle mense vrye toegang tot inligting wat hulle makeer in hulle alledaagse lewe. Dit sluit aansoeke vir ID-dokumente, universiteite, SASSA, SARS-dokumente en werksaansoeke in.
Omdat tegnologie nooit stilstaan nie, voel ek dat biblioteke moet saambeweeg en leiding neem om fasiliteite soos die internet aan te bied, maar ook hoe om dit verantwoordelik te gebruik.
Op watter maniere dink jy kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?
Biblioteke bied reeds gratis aanlyn dienste, sowel as die Libby-toepassing (vir die uitneem van e-boeke), asook Press Reader (vir toegang tot aanlyn tydskrifte en koerante) en tabletrekenaars waarmee jong leerders kan speel en leer. Die aanbod van die PlayStation-inisiatief tesame met die digitale wolk het ons biblioteek tot ’n kern-belangstellingspunt vir sy gemeenskap verhef omdat dit dienste aanbied waarsonder sy mense nie kan nie. Die Stad Kaapstad se biblioteekdepartement het ook ’n gelukbringer geskep met die naam van LiBee, wat al die biblioteke se programme bywoon. Wanneer leerders hom sien, raak hulle opgewonde, en dis bemoedigend.
Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?
Beslis baie meer oudiovisueel!