Ons biblioteke: ’n onderhoud met Lorraine Lank

  • 0
Agtergrond

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

Afrikaans – my taal, jou taal, ons taal – het in 1925 ’n amptelike taal geword. Die 100-jarige viering vind op 8 Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas en word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.

LitNet bied in die aanloop tot die Taalmonument-viering ’n spesiale projek aan, naamlik “Ons biblioteke, ver en wyd”.

Hierdie projek behels ’n reeks onderhoude met stedelike en plattelandse biblioteekpersoneel. Dit word gedoen om biblioteke se rol in hul deurlopende neersit van ’n voetspoor vir Afrikaans binne gemeenskappe te vier. Benewens die onderwysstelsel was biblioteke oor die jare een van die taal se mees formidabele fakkeldraers.

Vanaf Junie 2024 gaan LitNet gereelde staaltjies van biblioteekpersoneel wat hulle liefde vir die taal deel, publiseer.

Die reeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied. Dit sal aanvanklik fokus op Wes-Kaapse biblioteke en biblioteekpersoneel, en dan later uitgebrei word na biblioteke landswyd. 

Hierdie onderhoud met biblioteekbestuurder Lorraine Lank is die eerste aflewering oor een van ons biblioteke, naamlik die Archbishop Desmond Tutu-biblioteek in Swellendam.


Ons biblioteke: ’n onderhoud met Lorraine Lank

Lorraine, hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?

Februarie 2024 het ek 30 jaar in Biblioteekdienste gevier. Ek ontvang my Nagraadse Diploma in Biblioteek- en inligtingstudies in 2014 aan die Universiteit van Kaapstad (UCT). In 2015 aanvaar ek die pos as streekbibliotekaris vir Worcester-streek, ’n streek waar ek begin het as biblioteekassistent in 1994. Later jare word ek hoofbiblioteekassistent van Saldanha-streek, die grootste plattelandse streek. Ek was vir baie jare werksaam by die Wes-Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens voor ek my loopbaan begin het as biblioteekbestuurder vir Swellendam Munisipaliteit in 2018.

Lorraine Lank

Aan die begin van my loopbaan was ek maar ’n introvert, maar soos ek ondervinding opgebou het oor die jare heen, het my aanvoeling en liefde vir die boeke gegroei. Oor die jare heen was ek verantwoordelike vir die bou van baie plattelandse biblioteke se boekevoorraad. Jy maak ’n punt daarvan om biblioteke se behoeftes te leer ken tydens professionele besoeke, insette van boekkeuringsvergaderings en biblioteke se maandelikse boeksirkulasie. Met die boekallokasie tydens toere onthou jy elke biblioteek se behoeftes en dan probeer jy sover as moontlik om in elkeen se behoeftes te voorsien. Nou tydens my pos as bestuurder kry ek baie min kans om met boeke en biblioteekgebruikers te werk.

Ja, ek het dit eers oorweeg om ’n loopbaan in menslikehulpbronbestuur te volg, aangesien ek ’n graad verwerf het in personeel- en besigheidsbestuur, en het later daarteen besluit, want ek het besef my verskillende studies het mekaar gekomplementeer in die werksplek.

Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?

My betrokkenheid by die bou van die nuwe Archbishop Desmond Tutu-biblioteek wat vir die eerste keer sy deure oopgemaak het in Mei 2022, en met die biblioteek se buitengewone boustyl het dit baie se asem weggeslaan. Dit was die grootste bouprojek in die platteland (R12 miljoen) en dit was die eerste bouprojek wat binne die bepaalde agt maande voltooi was.

Die Archbishop Desmond Tutu-biblioteek in Swellendam

Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?

Gelukkig nie. Ek dink ons as biblioteekpersoneel het die beste beroep ontvang. Dit is net belangrik dat biblioteekpersoneel ’n baie goeie verhouding bou met die skole. Biblioteke moet bewus wees van die skooltemas vir die jaar en besoektyd aan skole of die besoeke van skole aan biblioteke moet elke maand beplan en uitgevoer word. Gereelde kommunikasie met die onderwysers by die skole is baie belangrik. Samewerking met en ondersteuning van die onderwysers is baie belangrik, anders kan dit biblioteke gefrustreerd laat. Die sukses van die leesprogram benodig samehorigheid, orde en die wil om te lees.

Wat is tans die gewildste Afrikaanse genres en titels?

Misdaadromans van Deon Meyer, soos Donkerdrif en Infanta. Irma Joubert se Na ’n plaas in Afrika; Marita van der Vyver se Laaste kans; Twa die tydloper deur Anoeschka von Meck; Hartedief deur Rudie van Rensburg; As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies; Afrikaanse memoires soos Onder ’n bloedrooi hemel.

Kinders: Jaco Jacobs, Die vrot eier; Vuil Ferdie-reeks; en die Minki-reeks. Fanie Viljoen, Iemand wat verdrink; Frikkadel; Ouma Mollie. Maritha Snyman se Reënboogrant Maats, die reeks. Maretha Maartens se Motte & Magrietjies, Ruitevrou en Die geïllustreerde Kinderbybel.

Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?

Met die gevorderde tegnologie, selfone en rekenaars by skole en huise het kinders minder begin gedrukte skrif lees. Jong kinders raak so gewoond aan die selfone waardeur hulle flits dat dit hulle in so ’n mate aantas dat alles moet vinnig gebeur. Kinders wil vinnige kort TikTok-artikels lees. Te min stimulering van die regterkant van die brein om te fokus en empatie te hê. Dit bly belangrik om ’n leeskultuur by kinders te skep.

Met volwasse persone, waar albei ouers nou moet werk om kos op die tafel te sit, kom ons volwasse lesers minder by die biblioteke uit. Juis oor die gejaagde lewe begin al hoe meer lesers gebruik maak van ons aanlyn en luisterboeke. So terwyl jy bestuur of kosmaak, kan jy nou na jou luisterboeke luister, of wanneer die huis stil raak, kan jy gou vir ’n klein rukkie ’n aanlyn boek op jou slimfoon lees.

Nie al die lesers is meer so vas op dieselfde skrywers se boeke oor en oor te lees nie. Ons het van die lesers uitgedaag om ander skrywers se boeke te lees deur byvoorbeeld aanbevelings te maak, leeskringvoorstelle, boekresensies in die koerante aan te beveel, en Kaapse Bibliotekaris aan hulle te bied, en dit werk.

Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?

Biblioteekpersoneel moet kyk na die ouderdomsaanbevelings van boeke. Voorbereiding vir storietyd is so belangrik, want kinders is baie oplettend. Die groep met wie jy gaan werk, is belangrik; is dit byvoorbeeld ’n storie vir beginners? Kies lekker leesstof relevant tot temas wat die kinders in die skool behandel, maar gebaseer op ontspanning.

Begin met die swanger mammas in die gemeenskap en werk nou saam met die VKO- sentrums in die gemeenskap en filter af na skole.

Biblioteke moet kwartaalliks bewusmakingsprojekte loods in samewerking met skole en organisasie in die gemeenskap, met die fokus op kuns en kultuur en drama.

Watter impak het die internet op die biblioteekwese gehad?

Kinders lees minder. Dit gaan nie meer oor kwaliteittake nie, maar oor kwantiteit.

Wanneer die internet reg gebruik word, komplementeer dit die dienste van die biblioteke. Behalwe ons tradisionele dienste deur die uitreiking van gedrukte biblioteekmateriaal aan lesers, verskaf ons ook gratis internet en wifi aan die publiek, en aanlyn boeke sowel as luisterboeke. Wat die onderwysdepartement moet implementeer, is om boeke saam met die internetskakels te verskaf as verwysings vir skooltake. Pamfletversameling in biblioteke is ook belangrik; dit is ook ’n manier om gedrukte onderwerpe te versamel vir navorsingswerk.

Kinders moet aangespoor word om meer te lees om hulle moedertaal te bevorder.

Op watter maniere kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?

Biblioteke moet aanpas by die moderne tye: Word ’n gemeenskapsentrum met die hooffokus om lees te bevorder. Begin spasies deel met museums (geskiedenis, kultuur); omskep ’n binnehof of agterplaas van ’n biblioteek in skaakvloer; maak in jou biblioteek spasie vir kunsuitstallings en uitstallings van entrepreneurs; nooi lees-, naaldwerk-, brei- en ander groepe om maandeliks gebruik te maak van die biblioteekspasie. Kry die gemeenskap in die biblioteek deur die reël van praatjies en gratis opleiding, en nooi die kinders vir boekbekendstellings, spelkompetisies, inkleurkompetisies en leeskompetisies.

Gunsteling-openingsin?

“Lank gelede was daar …”

Hoe gaan Afrikaans lyk en klink?

Ek glo daar is hoop vir Afrikaans. Daar is weer ’n oplewing in die taal, maar gaan die Afrikaanse taal gered kan word? Ja, ek glo dit kan. My hoop het my nog nooit beskaamd laat staan nie!

Lees ook:

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Edna van der Linde

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Gerhard van Wyk

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Christelle Lubbe

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Rachel Williams

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Christine Gerber

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Ashley Lewis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top