Ons biblioteke: ’n onderhoud met Rachel Williams

  • 0
Agtergrond 

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.

LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.

Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.

As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.

Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied. 

Hierdie onderhoud met Rachel Williams is die vyfde aflewering oor ons biblioteke. Rachel is Bestuurder: George Biblioteekdiens.


Ons biblioteke: ’n onderhoud met Rachel Williams

Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?

Ek dien al sedert Julie 1992 toe ek by Buffalo Flats Biblioteek in Oos-Londen begin en die voorreg gehad het om daardie gemeenskap (met sy slange en al) te dien. So, hierdie jaar is dit my 32ste jaar tussen die rakke.

[’n Ander loopbaan]

Ja, inderdaad! Waarom nie? Ek het al talle kere van beroep verander. Die een jaar het my kop kinderkant toe gestaan (kinderbiblioteekwese), dan bevind ek my weer in die een of ander kulturele aangeleentheid, die kunste, vermaak, navorsing, ’n absolute mallemeule rondomtalie van wêrelde. Daar is só baie skakerings in biblioteekwese. So ’n persoon kan met gemak tussen velde beweeg. Dit bring ’n soepelheid aan die beroep. Die biblioteek het wêrelde vir my oopgemaak, ander belangstellings, dissiplines, ondersoeke, mense, kulture en areas van navorsing. In 2009 het ek onder andere die voorreg gehad om ’n studiebesoek van die biblioteke, museums en argiewe van die noordelike deel van Nieu-Seeland te doen. Dit was absoluut fantasties gewees!

Die biblioteek is iets wat gegroei het in my sedert ek daagliks oor ’n besige pad (op sesjarige ouderdom) daarheen geskarrel het om boeke uit te neem. Die biblioteek is my tweede huis.

Rachel Williams

Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?

Oor die mag van die pen – in verskillende tale, dialekte, vertroetelde woorde, heimwee, verlange, vergunnings, vervattings, uitbeeldings, humor en veral in my hartstaal, Afrikaans. Oor die fassinasie van die kind wat op nege maande bekend is met die boek en luister na die tongval van sy ma, oor die 84-jarige tannie iewers in Blanco wat nog steeds ’n aktiewe lid van die biblioteek is. Of die een in Conville wat haar kind met ’n brief stuur om vir haar boeke te kom haal, want sy kan nie meer [self] so ver nie. Oor die skrywer of digter wat na ons toe kom en vir ons vra of ons hul heel nuutste titel aangekoop het en dan ’n hele bespreking rondom dit het. Oor die staar na die opgeplakte, opgehoopte datumvelle in die binnekant van ’n boek wat vir my sê: “Ek is gelees, ek is gelees en ek word aanhou lees.”

Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?

En het dinosourusse lang ore wat flap-flap soos hulle hardloop? Want hierdie is ’n ou uitgediende argaïese stelling. Ons is wel baie verspot, lewenslustig, rebels, ondersoekend, melodramaties, verwonderend, skeppend, meelewend en hier en daar ietwat verstrooid.

Wat is tans die gewildste Afrikaanse genres en titels?

Hmm, dié vraag laat my dink aan Liquorice Allsorts. Wat kies jy en wat laat jy uit? Kan ek asseblief maar die hele pakkie kry? Die Barbie-reeks wat deur Jacklin uitgegee word, is tans uiters gewild. Barbie is of kan wees wie sy ook al wil wees. En gaan Bettie Naudé se Saartjie-reeks ooit uitgediend raak?

Spanningsverhale – en hier dink ons meer spesifiek aan Deon Meyer. Sy titels, Koors, Infanta en dies meer. Ons dink ook aan François Loots se Jakkalsdans, Rooi Jan Alleman, dan is daar Ben Viljoen se oorlogsroman, Nuwe wildernis, die misdaadskrywer Dirk Jordaan se Arendsnes. Durf enige persoon vir Marié Heese uitlaat? Veral haar oertyd-roman Vuurklip.

Vir die kleintjies is daar die Ek lees self!- en Fantasi-reekse. Die Waardes-reeks wat die kleintjies gevare van luiheid, hoogmoed en dies meer leer. Moet asseblief ook nie vir Jaco Jacobs vergeet nie, want wat hy vir die Afrikaanse kinderboek doen, is ongelooflik!

Wil julle hê ek moet ’n boek skryf? Want om oor Afrikaanse skrywers en boeke te praat is die heel dag, heel week, heel maand, heeljaar se gesels. Daar is eintlik ’n skandelikheid daaraan verbonde om een spesifieke persoon of skrywer uit te sonder. Gaan mense ooit genoeg kry van Ena Murray of Ettie Bierman, Nita Griessel of Wilbur Smith? Hoeveel herdrukke van hulle boeke was daar al? Adam Small se Heidesee is reeds 43 jaar in sirkulasie.

En dan is daar ook die Nuwe historisisme soos vervat in Sonja Loots se Sirkusboere. Dalene Matthee se Pieternella van die Kaap en Dan Sleigh se Eilande is ook sinoniem aan dié genre verbonde.

Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?

Daar is ’n oorbenutting van Afrikaanse leesstof. Die boeke word voos gelees. Daar is die waardering vir die gevestigde skrywers, maar daar is ook ’n vreeslike omhelsing van nuwe skrywers en wat hulle aanbied. Daar is ook die skuif van die boek deur die belese en meer ingeligte persoon na die hawelose, minder gegoede, afgeskeepte, halfvergete persoon. [Voorts is daar ook] die band met Korrektiewe Dienste om die boek as meganisme te gebruik tydens die rehabilitasie van persone wat onder bewaking is, om hulle die kans te gee om ingelig te bly, vir konstruktiewe tydsbenutting en om dringende intellektuele en kreatiewe behoeftes aan te spreek.

Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?

Ons smee bande met gelykdenkende organisasies wat hulle toevestig op die bevordering van ’n leeskultuur, soos Nal’ibali; boekwinkels; die ATKV; interaksie en gesprekke met outeurs; boekuitstallings; radio-onderhoude; bewusmakingsdae soos Wêreld-Hardoplees Dag, Nasionale boekeweek, Wêreldboekedag; drama, opvoerings en leesprogramme. Die gebruik van jong mense – ons dink hier aan die YeBoneers-opheffingsprojek waarmee jong mense tussen die ouderdom van 18 en 25 jaar hulle dienste spesifiek aanwend om lees te bevorder – en konferensies en kompetisies, soos Funda Mzantsi wat jaarliks plaasvind. Verder moet gesprekke gevoer word met onderwysers, uitgewers, en allerbelangrik, betrokke ouers. Dieselfde geld vir die betrokkenheid van boekklubs en leeskringe, asook deur die ingeligtheid van die biblioteekpersoneel.

George-biblioteek

Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad?

Die wêreld in sy geheel het ewe skielik kleiner geword. Leespatrone en navorsingstudies kan nou beter nagevolg en uitgevoer word. Persoonlike kommunikasie kan soomloos oor grense heen plaasvind. Sametrekkings en gesprekvoering vind vinniger plaas. Dit verminder die finansiële druk op die organisasie en opleiding, konferensies en webinars kan makliker gehou word. Alles het interaktief geword. Bemarking van produkte en dienste, die herwinning van leesstof is soveel geriefliker.

Bibliografiese versorging en groepbespreking en -dekking is wonderlik. Navrae word vinniger afgehandel. Aanlyn katalogusse is geredelik beskikbaar. Die boek, in e-formaat, kan met nut aangewend word. Die keur, dekking en diepte van enige onderwerp kan vinnig en in diepte nageslaan word. Dokumente van verskillende regeringsdepartemente is sonder rompslomp beskikbaar. Aanlyn aansoeke vir werk, permitte, navrae aan departemente geskied dadelik. Die beskikbaarheid van die internet in biblioteke bring ’n outomatiese toegespitsheid op selfhelpdienste. Rystaandery vir dienste is in baie gevalle iets van die verlede. Van advies tot riglyne en alles wat die absolute mode is, kan nou dadelik opgesoek word. Daar is ook ’n kruisbestuiwing tussen verskillende tipes biblioteke wat taamlik gereeld plaasvind. 

Op watter maniere dink jy kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?

Mense soek spasie en ruimte – om te ontvlug uit die oorbewoonde huis waar die kind of volwassene nie ’n plek het om hul huiswerk te doen nie, of om in ’n beskermende area vryelik sosiaal te verkeer, of net te sit en vrye toegang tot bronne in verskillende formate te hê, of om ’n stokperdjie soos breiwerk, kuns of musiek te geniet.

Deur uitbeeldings: die nuus. ’n Bewusmaking van die infinitesimale tot die groteske. Wat is nóú aan die gang? Watter dag is dit? Wie is waarmee besig in ons omgewing? In ons provinsie, land, kontinent of dan nou in die wêreld? Of van die kunste: beeldend, skeppend, visueel, literêr, digitaal. Sal ons as mens ooit ons waardering daarvoor verloor? ’n Kulturele spilpunt.

Ook deur inklusiwiteit: die bevrediging van die behoefte van die kind, tiener, volwassene, bejaarde, gestremdes, haweloses, die huisvrou, informele nedersettings, die aanspreek van armoede deur ’n gratis verskaffing van dienste.

En as interdepartementele spreekbuis of ontmoetingsplek: Waar mense vrye en vinnige toegang kan kry tot regeringsdokumente of dokumente vir assessering. Jaarverslae en dies meer. Bemarking van plaaslike skrywers of digters en hul werke. Sal die mens ooit ophou skep?

Inligtingsgeletterdheid: ’n Plek om betroubare, gesaghebbende inligting te vind, etiese aspekte verbonde aan inligtingsamestelling en -benutting om spesifieke gebruikersbehoeftes aan te spreek, die aanbied van opvoedingsprogramme aangaande aanlyn-etiket en verantwoordelike internetgebruik, die aanspreek en vul van tegnologiese gapings om ’n gelyke gebruikersbenutting van produkte te verseker en die bevordering van vrye toegang tot inligting.

Daar is ook inligtingaanvulling en -insameling, die monitering daarvan, en dies meer. Dit raak al hoe meer kompleks soos die mens se uitgebreide kennis, innovering, belangstellings en ontdekkings bly groei.

Verder het ons ’n belangrike verhouding met inligtinghandelaars en uitgewers: Daar is ’n onlosmaaklike band tussen die biblioteek en inligtingverskaffers vir die bemarking en benutting van hulle produkte en dienste deur die publiek. Biblioteke en inligtingverskaffing gaan hand aan hand. Daar is ’n deurentydse bewustheid van tegnologiese verandering, skrywers, navorsing, sosiale aangeleenthede en die nuus. Biblioteke is tussengangers vir die deurvoer van daardie inligting en interaksie met die belangrikste persone in ons wêreld: ons gebruikers. Daardie interaksie word dan opgevolg met ondersoeke en uitreiking na die ander deel van ons populasie, die nie-gebruikers.

Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?

Jeanne Goosen in Kristaldruiwe: “My ma is ’n zombie.”

Met een enkele sin sê Goosen so baie. Sy dui onder andere die simbiotiese verwantskap wat tussen groepe in Suid-Afrika bestaan, suksesvol aan. Die skryfster bied hiermee ’n blik op die multikulturele en multilinguistieke karakter van Suid-Afrika. Die kind gebruik tsotsitaal om haar ma as ’n apatiese wese met geen belangstelling of lewensdoel uit te beeld. Haar verstandelike agteruitgang word met die gebruik van ’n enkele sin onmiddellik aangevoel. Sy is as’t ware lewend-dood.

Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?

Met ’n sterk hartklop!

Lees ook:

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Ashley Lewis

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Christine Gerber

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Christelle Lubbe

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Gerhard van Wyk

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Edna van der Linde

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Lorraine Lank

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top