Agtergrond
Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd
Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.
LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.
Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.
As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.
Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied.
Hierdie onderhoud met bibliotekaris Christelle Lubbe is die vierde aflewering oor ons biblioteke. Christelle is Hoof: Professionele Dienste en Programme van Biblioteek- en Inligtingsdienste by Stad Kaapstad.
Ons biblioteke: ’n onderhoud met Christelle Lubbe
Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?
Ek werk al 33 jaar in openbare biblioteke in verskillende posisies. Ek sal nooit ’n ander loopbaan kies nie; ek dink ek het dit geweet van kleins af. Ek word betaal om te speel met my gunstelingspeelgoed: boeke.
Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?
Ek was destyds gekies om ’n mentor en fasiliteerder te wees om bibliotekarisse van openbare biblioteke in Afrika op te lei. Ons het so 20 bibliotekarisse uit verskeie lande gekies en dan opleiding aanlyn, asook in persoon gegee. In daardie tydperk het ek Afrika en die wêreld deurgetoer terwyl ek die kans gekry het om die interessantste mense te ontmoet.
Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?
Dit kan dalk wees. In my geval is dit waar. Ek het vir beide onderwys én biblioteekwese gestudeer, want albei het al die elemente bevat waarvan ek gehou het. Ek het ook skool gegee, maar het nie baie van die roetine en sisteme gehou nie. Biblioteke het my meer vryheid gegee om mense te help en kinders te help met lees, take en om hulle te leer op ’n informele manier. Wat ook lekker is, is dat daar so ’n verskeidenheid van mense is wat jy kan help met so ’n magdom van verskillende onderwerpe dat dit altyd interessant bly.
Wat is tans die gewildste Afrikaanse genres en titels?
Ek dink dat speurromans nou die koek vat. Moet nie romantiese spanningsboeke vergeet nie. Skrywers wat ons altyd sal aankoop, want hulle is nie raksitters nie: Chanette Paul, Deon Meyer, Rudie van Rensburg, Irma Joubert, Elize Parker, Annelie Botes, Marita van der Vyver, Irma Venter – om net ’n paar te noem, maar my gunstelingskrywers sluit ook in Dana Snyman en SD Fourie. Op die oomblik lees ek Outopsie deur Hestelle van Staden.
Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?
Dit is interessant dat ons ouer Afrikaanse romanselesers al minder raak en dit moeiliker vind om biblioteke toe te kom. Manlike skrywers van genres soos avontuur-, spanning- en speurverhale het begin om die top-10 [gewildste titels per biblioteek] te oorheers. Ek is bly om meer fantasie- en wetenskapfiksieverhale in Afrikaans te sien, veral vir die jeug.
Ek dink ook die hygroman is besig om trots sy plek in die biblioteek in te neem, sonder enige stigmas of oë wat vir jou afkeurend loer. En kortverhale en omnibusse bly gewild: Met die alledaagse gejaag bied hulle darem nog ’n kans om ’n storie in te kry voor slaaptyd. ’n Ander wenner is Afrikaanse kookboeke.
Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?
Biblioteke is vol idees van wat om te lees en hoe om nuwe skrywers te ontdek. Ons het boekklubs in biblioteke, asook passievolle personeel wat nie kan wag om oor boeke te gesels nie. Ek het al dikwels gesels met mense wat graag nuwe leesstof wil probeer, maar nie weet waar om te begin nie. Dit kan baie duur raak as jy by ’n boekwinkel moet regkom. Die biblioteek is die ideale plek om nuwe leesstof en skrywers te ontdek sonder om die bank te breek. Dis ook heerlik dat ek sewe boeke op ’n slag kan neem en dan heerlik ’n nuwe rigting in my eie tyd kan ontdek en kan neersit wat nie werk nie. Ek gebruik ook die Libby-app (Wes-Kaapse biblioteke se aanlyn fasiliteit vir allerlei e-materiale) waarmee ek leesstof kry vir die langpad.
Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad?
Ek dink die internet het te vinnig vir ons gekom en ons was onvoorbereid vir die absolute bombardering deur al die inligting. Dit is lomp en net te groot om by te hou en ons wou soos oudergewoonte in beheer wees om die inligting te groepeer en te sif. Ons in biblioteke was stadig om aan te pas en die internet te integreer in ons dienste. Ek is bly om te sien dat ons nou al vriende is met die internet en dit nie meer sien as die stiefsuster nie. As bibliotekarisse sal ons seker altyd die fisiese boek verkies, veral as jy in ag neem hoeveel mense het nie toegang tot die internet nie. Ons het ook al begin vooruitdink en voorsien aanlyn lees- en luisterfasiliteite – en aanvaar die verantwoordelikheid om voor te berei vir kunsmatige intelligensie in ons beroep en dienste.
Op watter maniere dink jy kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?
Ons het tot die besef gekom dat biblioteke nie net geboue is nie; daardie is net ’n bonus. Biblioteekdienste behels die oordra van kennis en inligting in enige vorm en verskaf ook ontvlugting in die vorm van leesmateriaal op enige platform. Ons rol is stadig maar seker besig om te verander. Die sosiale inligting en leergeleenthede is meer nodig in ’n samelewing wat agter skerms wegkruip en nie meer gemaklik direk met mense kommunikeer nie. Ons bied nou meer werkswinkels, klubs en groepsaktiwiteite aan waar mense bymekaar kan leer en vriendskappe kan vorm met ’n gemeenskaplike tema. Ons as bibliotekarisse hoef nie meer alles te weet of doen nie, maar ons moet weet hoe om uit te reik, gebruikers bekend stel aan mekaar en geleenthede skep vir vrae vra en om nuwe stokperdjies te beoefen – in die veiligheid van ons geboue en as mense wat verstaan. Solank ons ’n manier vind om inligting te verskaf in enige vorm en op enige platform soos die aanvraag verander, sal ons altyd relevant bly.
Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?
Ek is ’n trotse leser vir meer as 50 jaar en raak gou verlief op my skrywers en karakters. Ek ontdek graag nuwe rigtings en temas en raak dan kniediep betrokke tot die nuwe gier verby is. Ek kan nie tussen my kinders kies nie!
Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?
As ek na my kinders en kleinkinders kyk en hoe hulle Afrikaans gebruik, is ek hartseer dat ons mooi idiome en beeldtaal al klaar minder verstaan en gebruik word. Ek hoop dat Afrikaanse skrywers en skeppers altyd soos nou sal hard werk om die taal te behou. Solank Afrikaans sy integriteit behou, kan ons hier en daar ver(m)engels, maar die kern moet behou word deur mense soos ek en jy.