Agtergrond
Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd
Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.
LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.
Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.
As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.
Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied.
Hierdie onderhoud met Christine Gerber is die sesde aflewering oor ons biblioteke. Christine is Biblioteekbestuurder: Breederiviervallei.
Ons biblioteke: ’n onderhoud met Christine Gerber

Christine Gerber
Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris?
Die afgelope 40 jaar.
Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?
Kinders wat die biblioteek gereeld besoek het, wat nou volwassenes is en wat nou weer vir hul kinders die liefde van lees aankweek.
Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?
Op ’n stadium het dit so gevoel. Veral so ongeveer 15 jaar gelede. Biblioteke was oorvol in die middae en op Saterdae, met kinders wat inligting benodig het vir skooltake. Deesdae word Google en die internet al hoe meer ingespan. Ek wonder net hoeveel van die leerders lees met begrip – harde kopieë, of op die internet, of kopieer hul die inligting net soos hul dit kry. Bibliotekarisse bedien persone van alle ouderdomsgroepe – vanaf babas en kleuters tot die oudste lesers in die gemeenskap.

Openbare biblioteek (Worcester)
Wat is die tans gewildste Afrikaanse genres en titels?
Kinderboeke van Jaco Viljoen, Jaco Jacobs en Wendy Maartens en boeke vir volwassenes van Deon Meyer, Rudie Van Rensburg en Annelie Botes – om net ’n paar te noem.
Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?
Lede se leesgewoontes het verander, want daar het soveel opwindende Afrikaanse skrywers hul verskyning gemaak. Nuwe skrywers vir jeuglektuur en volwasseleesstof. Baie volwassenes het vroeër meestal romantiese fiksie gelees en dan Engels gelees vir ander tipe leesstof. Nuwe Afrikaanse skrywers op die horison het begin om rillers en spanningsverhale, christelike fiksie, realistiese fiksie, wetenskapfiksie, ensovoorts te publiseer en dit het in gewildheid toegeneem.
Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?
Biblioteke moet boeke uitstal, gebruik maak van sosiale media om nuwe titels aan te kondig en die publiek bekendstel aan die Libby-toepassing [die Wes-Kaapse Biblioteekdiens se aanlyn-leenprogram vir e-materiale]. Biblioteke moet ook betrokke wees by leesgroepe, boekbekendstellings, opvoedkundige organisasies, werkswinkels en skole in hul gemeenskap. Boeke in verband met relevante onderwerpe en temas moet uitgestal word.
Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad?
Die internet het ’n bewese invloed gehad op die daling van ledetal en sirkulasie. Die COVID-19-periode, met biblioteke wat vir lang periodes gesluit was, het mense nog meer afhanklik gemaak van die internet en sosiale media. Mediamaatskappye soos Media24 het ook ’n rol gespeel in terme van die [elektroniese lewering van] gedrukte koerante en tydskrifte.
Op watter maniere dink jy kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?
Boeke, elektroniese boeke en die belangrikheid van lees moet via alle platforms en uitbreidingsaktiwiteite bekendgestel word. Daar is ’n skatkis van leesmateriaal vir kinders – ook in Afrikaans – en leerders moet aangemoedig word via lees- en spelkompetisies om te lees met begrip. Die feit dat biblioteke ook oor rekenaars met internetfasiliteite beskik, speel ook ’n belangrike rol. Gemeenskapsgroepe moet egter uitgenooi word vir rekenaaropleiding en die opstel van CV’s en dies meer vir werksoekers.
Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?
Uit David Kramer: ’n biografie. Mathilda Slabbert en Dawid de Villiers:
Sê vir my nou wie is u
’n Hofmeyer van Montagu
Getroud met Van Deventer van Barrydale
Ek ken jou pa se tante daar op Bonnievale
Ja sy was Le Grange van Ladismith
Rossouw is sy getroud, ja nou verstaan ek dit.
Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?
Toenemend sal ons nie meer die “wit” vorme van Afrikaans of Afrikaanssprekendheid wat ons verlede kenmerk, as die standaard of vanselfsprekende, onuitgesproke norm kan aanvaar nie. Ons sal radikaal anders met die Afrikaanse kulturele en taalomgewing moet omgaan. Nuutskeppinge maak my opgewonde.
Mag Afrikaanssprekendes nooit gatvol vir die taal raak nie en voortaan “swaarkry met lekkerkry klaarkry”, soos Langenhoven gesê het!
Gatvol is my geliefkoosde Afrikaanse woord. Dit sê so baie van wat werklik bedoel word – sonder om te vloek. Ek is so gaande daaroor dat ek die woord by die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) geborg het!
Jare gelede het ’n kollega, wat behulpsaam was met boeke liasseer, een aand baie versigtig by die toonbank kom vra: “Mevrou, ’n volwasse kliënt is op soek na die titel Skilpad na wasdam.”
Hy wou eers kom seker maak voordat hy die persoon na die kinderafdeling verwys vir die skilpadboek. Die kliënt was egter op soek na Die stil pad na wasdom van M Scott Peck. Ons het heerlik gelag, maar so leer ’n mens – die rykdom van Afrikaans!