Agtergrond
Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd
Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.
LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.
Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.
As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.
Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied.

Hierdie onderhoud met Yolandi Ellis is die twaalfde aflewering oor ons biblioteke. Yolandi is Bibliotekaris by Villiersdorp Biblioteek.
Ons biblioteke: ’n onderhoud met Yolandi Ellis
Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?
Ek is al 16 jaar in biblioteekwese en die laaste ses jaar ’n bibliotekaris by Villiersdorp Biblioteek. Ek sal nie sommer van loopbaan wil verander nie.
Waaroor is jy die trotste as bibliotekaris?
Biblioteke is magiese plekke en bibliotekarisse is soos die towenaars in verhale. Ons het die vermoë om gemeenskappe op te hef, saam te laat staan en te laat groei.

Van links: Yolandi Ellis (bibliotekaris), Miriam Jooste (assistent), Azalia Neethling (snr assistent) en Ayanda Adam (speelgoedbiblioteek snr assistent) (Foto: Adams Classic Shooters)
Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?
Nie in my opinie nie. Ek glo bibliotekarisse het soveel verskeie fasette, ons is deels onderwysers, sielkundiges, peetouers, raadgewers en meer, en ja – soms raak ons gefrustreerd.
Wat is tans die gewildste Afrikaanse genres en titels?
Speurverhale en liefdesverhale bly maar bo aan die lys.
Op die platteland is Deon Meyer en Rudie van Rensburg se titels baie gewild. Baie van ons lesers hou ook van Elsa Winckler se liefdesromans.
Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?
Definitief. Ek onthou ons Afrikaanse lesers het altyd merendeels Mills & Boon gelees. Oor die jare het daar soveel skrywers die mark betree dat daar ’n groter verskeidenheid tans is en lesers het dit aangegryp.

Toonbank-gedeelte van Villiersdorp Biblioteek (Foto: Adams Classic Shooters)
Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?
Biblioteke het ’n baie groot verantwoordelikheid om die leeskultuur te bewaar en aan te vuur. Hulle kan dit bereik deur verskeie leesprogramme en inisiatiewe in plek te stel wat spesifiek gemik is daarop om lees te bevorder en hoe dit suksesvol gedoen kan word. In daardie opsig het ons alreeds verskeie uitreikaksies met welslae geloods, soos ons naskoolse leesprogram, wat daarop gemik is om die leerders met hul taalwerk te help en lees te oefen. Ons [biblioteek] bied ook temaprogramme aan waar ons boeke en stories inkorporeer met opvoerings en hardop-lees.
Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad?
Daar is natuurlik voor- en nadele, maar ek glo dat dit afhang van uit watter perspektief ’n mens dinge beskou. Ek dink die beskikbaarheid van programme soos die Libby-toepassing vir e-boeke is tot voordeel van biblioteke, aangesien die publiek buitendien reeds veel eerder tyd op hul toestelle spandeer as fisiese boeke lees, en boeke is op daardie wyse meer toeganklik in vandag se besige tye. Ons leerders op die platteland sukkel nog met tegnologie en biblioteke speel dus ’n baie groot rol in die beskikbaarheid van rekenaars en die internet. En natuurlik die oordra van die kennis van hoe om daardie inligting te verkry.
Op watter maniere dink jy kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?
Die biblioteek het in my tyd al heelwat gediversifiseer en ek glo die meeste van hulle vat hande saam met ander organisasies om ’n meer diverse diens aan hulle gemeenskappe te kan lewer. Biblioteke kan die spilpunt van gemeenskapsdienste wees wat mekaar aanvul deur saam te werk om deurlopende volhoubare dienste te lewer aan die mense wat hulle bedien. As voorbeeld werk ons biblioteek nou saam met ons sosiale en maatskaplike dienste, die polisie, gesondheidsdienste en ander rolspelers – wat mekaar aanvul deur almal se hulpbronne en vaardighede te kombineer.

Villiersdorp Biblioteek (2000) (Foto: verskaf)
Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?
“Dit gebeur in ’n oogwink.” Uit Chanette Paul se Meetsnoer. Dit is ’n sin wat die lewe vir my opsom.
Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?
Ek hoop dat ons taal behoue sal bly oor die tyd en dat mense wat Afrikaans grootgeword het of die taal praat, dit sal bly beoefen en gebruik in hul daaglikse lewe. Dis elkeen van ons se plig om ons kultuur en taal te bewaar vir toekomstige geslagte, en dis een van die groot redes hoekom die skepping van ’n leeskultuur so belangrik is. Ek glo wel dat daar natuurlik baie veranderinge sal wees, soos nuwe woorde en dialekte wat ons tans onder die jonger geslag hoor.


