Ons biblioteke: ’n onderhoud met Cecelia Larey

  • 0
Agtergrond 

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.

LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.

Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.

As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.

Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied. 

Hierdie onderhoud met Cecelia Larey is die agtste aflewering oor ons biblioteke. Cecelia is Senior Bibliotekaresse by Moorreesburg-biblioteek.


Ons biblioteke: ’n onderhoud met Cecelia Larey

Cecelia Larey

Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg? 

Dit is my 29ste jaar in die biblioteekwese en ek het nog nie een dag ’n spytgevoel beleef nie. ’n Ander loopbaan – dié van maatskaplike werker – was ’n opsie, maar hier in die biblioteek word dít ook vervul. Ek het geen begeerte om ’n ander loopbaan te oorweeg nie, want dit wat ek doen is my passie; ek is gelukkig en my dae is opwindend.

Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?  

Dit bring ’n knop in my keel wanneer ’n biblioteekgebruiker die gebou verlaat en erkenning gee aan die verskil wat ons diens in hulle lewe of omstandighede gemaak het. Ek is trots op elke suksesverhaal uit die gemeenskap waartoe ons biblioteek bygedra het.

Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers? 

Glad nie, en ek sê dit met ’n glimlag op my gesig. Biblioteekpersoneel verleen hulp om die nodige inligting te bekom, maar die opvoeders moet steeds die resultate bereken. Ons geaardheid is dienslewering en ons vaar nogals goed onder druk, omdat ons oor die jare geleer het dat leerders wag tot op die laaste dag om skooltake te voltooi – en dan moet die biblioteektannie alles weet en gereed hê.

Wat is tans die gewildste Afrikaanse genres en titels? 

Wat genres betref: speurverhale, rillers, spanningsverhale, christelike fiksie en romanse.

Titels: Anderman se vrou (Chris Karsten), Bloedfamilie (Elsa Hamersma), Buit (Dibi Breytenbach), Die losprys (Dee Henderson), Die rooi koord (Francine Rivers), Doolhof (Rudie van Rensburg), Gifbeker (Irna van Zyl), Hulle noem haar Carminda (E Kotze), Die kinders van spookwerwe (Lize Albertyn-du Toit), Klikbek (Sidney Gilroy), Leo (Deon Meyer), Minder as niks (Irma Venter), Die hart soek wat hy soek (René van Zyl), Ons skulde (PP Fourie), Roofdier (Marie Lotz), Soen my, asseblief (Dina Botha) en Verbly julle in die hoop (Helena Hugo).

Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem? 

Beslis. Baie leners se voorkeur was vantevore om slegs letterkunde te lees wat mettertyd verbreed het om ook romanse in te sluit. Ek kan met eerlikheid sê dat al ons Afrikaanse leners nie meer voorkeure het nie, want hulle word deur die personeel aangeraai om alle genres te probeer.

Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur? 

Boekklubs is ’n groot treffer, want baie leners geniet die gesprekke en skrywers se resensies. Die kinders ervaar ook storievertel as genotvol. Verder reik ons ook jaarliks na ons gemeenskap uit met boeke wat ons as donasies ontvang om sodoende ’n leeskultuur te skep en te bevorder.

Moorreesburg-biblioteek in 2004

Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad? 

Die koms van die internet was ’n groot uitdaging, maar gelukkig het ons biblioteekgebruikers daarmee saam vinnig besef dat ’n boek meer betroubaar is. Die internet word op gereelde basis deur ons leners gebruik vir soektogte en wenke, maar slegs tot ’n minderheid om aanlyn te lees. Die internet is deel van ons toekoms, maar ek is vol vertroue dat ons biblioteke nie uitoorlê sal word daardeur nie.

Op watter maniere dink jy kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly? 

Om aan ons gemeenskappe se behoeftes te kan voorsien, is belangrik. Dit dien geen doel vir ’n biblioteek om ’n boekvoorraad te hê maar dit word nie deur die gemeenskap gebruik nie, of met té min voorraad wanneer ons byvoorbeeld ’n 80% Afrikaanssprekende gemeenskap bedien, maar ons voorraad bestaan [net] uit 40% Afrikaanse titels.

Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het? 

“Dit is byna elfuur ...” uit Verbly julle in die hoop deur Helena Hugo.

Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125? 

As ons nie nou hard genoeg veg om ons taal, Afrikaans, lewendig te hou nie, gaan daar teen dan slegs een Afrikaanse woord in elke sin gepraat word.

Lees ook:

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Ashley Lewis

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Christine Gerber

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Rachel Williams

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Christelle Lubbe

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Gerhard van Wyk

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Edna van der Linde

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Lorraine Lank

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top