Agtergrond
Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd
Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.
LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.
Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.
As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.
Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied.

Hierdie onderhoud met Reinie Smit is die negende aflewering oor ons biblioteke. Reinie is bibliotekaris by Prins Albert Biblioteek.
Ons biblioteke: ’n onderhoud met Reinie Smit
Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?
Al vir 32 jaar, en nee, ek sê altyd hul sal my moet vra om te loop op 65! Dis my absolute droomwerk. Oor die boeke, maar veral oor die mense.

Biblioteekpersoneel: Reinie Smit, Andrewlene Plaatjies, Kato Mallies en Jeanetta Nel
Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?
Ek is baie trots as lesers dankbaar is vir die diens wat ons lewer, ook veral as ons vir hul boeke kry wat nie altyd so vrylik beskikbaar is nie. Boeksoektogte is baie hoog op ons agenda. En ons leserspubliek gee vir ons geweldig baie ondersteuning en aansporing.
Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?
Ek kan nie vir almal praat nie, maar ek is dit definitief nie. Dis vir my baie lekker en bevredigend as ons kinders met hul skooltake kan help en hul kom terug om te sê hoe goed hul gevaar het.
Wat is die tans gewildste Afrikaanse genres en titels?
Ons het soveel nuwe Afrikaanse skrywers en titels en by ons is álmal baie gewild. Natuurlik bly spanningsverhale (Deon Meyer, Sidney Gilroy, Dibi Breytenbach, Riette Rust, Rudie van Rensburg, ensovoorts) baie gewild, maar so ook ons immergroen ouer skrywers soos Dido, Pat Stamatélos en Annelie Botes, Anoeschka von Meck, Anchien Troskie en Irma Joubert. Dan ook vertaalde werke van Karen Kingsbury en Francine Rivers. En op dié stadium is Chanette Paul se Vywervrou-reeks van die boeke wat bly op ’n waglys.
Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?
Ja, definitief. Van ons Afrikaanssprekende lesers wat vroeër net Engels gelees het, lees nou ook Afrikaanse boeke. Dalk ook omdat ek dit so sterk aanbeveel? Ek self is ’n sterk Afrikaanse leser en ek weet dus wat ek vir wie kan aanbeveel.
Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?
Ek dink die atmosfeer wat mens in ’n biblioteek skep, meer as enigiets anders, maak dat mense wil terugkom en die biblioteek bly gebruik. Ons kry dikwels mense (ook besoekers en toeriste) wat kommentaar lewer oor die “gevoel” in die biblioteek, en dis vir ons heerlik! Ek dink dit wys as die mense in ’n plek hou van wat hul doen en entoesiasties is.
Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad?
Dit het verseker ’n impak, alhoewel ek ’n groot generasie lesers het wat steeds sê hul verkies die gevoel van ’n boek in die hand.
Op watter maniere dink jy kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?
Met die Libby-toepassing (vir die uitleen van e-boeke) het die biblioteekdiens ’n geleentheid raakgesien en voorsiening gemaak vir lesers wat wel aanlyn wil lees en gouer wil toegang hê tot nuwe titels. Dit maak dan ook steeds deel uit van ons maandstatistiek. Ons doen ook uitreike na verskillende instansies in ons gemeenskap sodat mense heeltyd bewus bly van die biblioteek, en berig ook daaroor in ons plaaslike koerantjie, die Prince Albert Friend. Verder dink ek persoonlik ons hoef ons nie so erg te bekommer oor “herdefinieer” nie; ons doen glad nie sleg net soos wat ons is nie!

Prins Albert Biblioteek

Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?
My gunstelinggedeelte uit ’n Afrikaanse boek is nie ’n openingsin nie, wel op bladsy 38 van Voetstoots deur Annelie Botes: “In die munisipale gebied van Helsinki (Finland) mag geen inwoner buite loopafstand van ’n biblioteek bly nie. Dit beteken as ’n woongebied uitbrei, moet die munisipaliteit ’n biblioteekplan voorsien alvorens boupermissie gegee word!”
Dis fantasties.
Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?
As die wêreld dan nog staan? Ek is geen toekomsvoorspeller nie, maar as dit dan nog doen, dink ek dit sal presies lyk en klink soos nou.


