Ons biblioteke: ’n onderhoud met Shaleen Koopman

  • 0
Agtergrond 

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.

LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.

Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.

As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.

Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied. 

Hierdie onderhoud met Shaleen Koopman is die elfde aflewering oor ons biblioteke. Shaleen is Biblioteekassistent by Esselen Biblioteek in Worcester.


Ons biblioteke: ’n onderhoud met Shaleen Koopman


Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?

Ek is al ’n biblioteekassistent vir die afgelope 10 jaar. Om eerlik te wees, was biblioteekwese nie my gekose pad nie; ek het administrasie en bemarking studeer. Toe het ek ’n kontrakpos aanvaar en 10 jaar later het ek nog nooit spyt gekry oor my besluit nie. 

Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?

Om elke dag iets nuuts te leer, asook om nuwe mense te ontmoet. Ons werk daagliks met kinders en jong mense, en om ’n verskil te maak in jou gemeenskap is baie vervullend.

Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?

[Lag] Ek sal beslis so sê. Ja, want onderwysers het die kinders in die oggend en natuurlik is dit ons beurt met hulle in die middae. Al verskil is dat onderwysers naweke en skoolvakansies afkry, terwyl biblioteekpersoneel dit nie doen nie.

Ek dink ons [as bibliotekarisse] sal maar moet aansoek doen om vakansietye af te kry! 

Shaleen Koopman

Wat is tans die gewildste Afrikaanse genres en titels?

Ek sal sê die romanza is baie gewild en baie van ons ouer lesers geniet nog Mills & Boon. 

Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?

Natuurlik, ons biblioteek bedien ’n oorheersend Afrikaanse gemeenskap. Baie van ons lede is oud en verkies om Afrikaans te lees en sal eerder dieselfde Afrikaanse boeke weer lees voordat hul ’n Engelse een probeer. Maar vandat Libby [die Wes-Kaapse Biblioteekdiens se slimfoon-leestoepassing] aanlyn gekom het, het ons lesers ’n groter verskeidenheid opsies wat Afrikaanse leesstof betref.

Verder is baie van hulle koerantlesers en hou ook daarvan om Afrikaans te lees en nie die Engelse koerante nie.

Ek het wel opgelet dat ons jonger lesers meer Engelse titels, maar baie min Afrikaanse boeke uitneem. 

Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?

Met dít dat die internet gratis beskikbaar is in biblioteke, het ons kinders deesdae baie lui geraak om te lees. Ons as biblioteekpersoneel moet meer tyd belê by ons kinders. Hoe jonger hul begin, hoe beter, maar dis ook nooit te laat om ’n liefde vir lees aan te leer nie. Om boekklubs by skole en nasorgsentrums te stig is maar net ’n begin. Jy moet gereeld vir die kleinspan lees en klein belonings kan ook nie skade doen nie. [Jy kan dit doen] as hy of sy miskien 200 boeke binne ’n sekere tydperk klaargelees het en hulle ook vir jou kan sê wat hul gelees het en hoe hul die boek verstaan het op hul eie manier. 

Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad?

Die internet is fantasties, ja, en dit het wel ’n goeie impak op biblioteke gehad. Ek onthou gedurende die Covid-19-tydperk toe biblioteke gesluit was, kon jy steeds aanlyn gelees het. Maar daar kom net niks naby die reuk van ’n boek nie, asook nie die gevoel daarvan in jou hand nie. Baie kinders weet hoe om die internet te gebruik, maar nie almal van hulle het toegang nie en dis waar biblioteke ook inkom – veral in ons minderbevoorregte gemeenskappe waar daar staatgemaak word op hulle dienste.

Op watter maniere dink jy kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?

Daar moet meer gefokus word op die bemarking van biblioteke en wat hulle alles bied. Met meer boekklubs kan jy ook meer uitreikaksies aan alle ouderdomsgroepe lewer. Die geboue self moet meer ontspanningsruimte bied waar lede of persone van die publiek rustig agteroor kan sit en ontspan met ’n storieboek. En biblioteke kan ook ’n groter verskeidenheid boeke aanhou, want baie van ons mense is nie finansieel sterk om self boeke aan te koop nie.

Die bou van Esselen Biblioteek (Worcester) tussen 1964 en 1965.

Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?

“Elke mens het ’n pad wat hy moet stap. Of nee, ’n klomp van hulle. Hulle lê daar vir jou en wag wanneer jy die wêreld binnekom, sommiges onveranderbaar en sommiges wat jy self sal inslaan.”

Dis die openingsparagraaf uit Pad na jou hart deur Francois Bloemhof wat gebaseer is op ’n draaiboek deur Ivan Botha en Donnalee Roberts.

Ek onthou dit omdat toe ek die eerste keer die boek lees, het ek gedink hoe waar dit is. Ons almal het ’n gekose pad, maar daar is ook baie goed wat kan gebeur om ’n mens te ontspoor.

Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?

Die taal Afrikaans het ontstaan uit baie diverse kulture en word deur baie mense gepraat; almal op hul eie wyse.

As ons as sprekers dit aanhou praat, kan dit nog veel langer oorleef en selfs meer divers word.

Afrikaans is duidelik, so praat jou Afrikaans net soos jy wil en hou dit lewend!

Lees ook:

Ons biblioteke: ’n onderhoud met René Schoombee

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Reinie Smit

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Cecelia Larey

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Ashley Lewis

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Christine Gerber

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Rachel Williams

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Christelle Lubbe

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Gerhard van Wyk

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Edna van der Linde

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Lorraine Lank

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top