Agtergrond
Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd
Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.
LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.
Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.
As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.
Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied.

Hierdie onderhoud met Hildegard Adonis is die dertiende aflewering oor ons biblioteke. Hildegard is bibliotekaris by Hermon Biblioteek.
Ons biblioteke: ’n onderhoud met Hildegard Adonis
Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?
Ek is al vir agt jaar ’n bibliotekaris by Hermon Biblioteek. Ek sal nooit ’n ander loopbaan oorweeg nie, want daardie saadjie was op driejarige ouderdom geplant toe my oupa vir my na die Kaapse Biblioteek geneem het. Die tannie met die bril agter die toonbank het die breedste glimlag gehad en vir my en my oupa op ’n toer gevat deur die biblioteek. Die boeke se reuk ... Die kinderboeke het my aandag getrek en ek het vir oupa gevra kan ons nie vir ewig hier bly nie, want ek was soos iemand wat ’n skat gevind het. Van daardie tyd af het my oupa boeke by tweedehandse winkels gekoop en het my kamer later soos ’n biblioteek gelyk, want daar was nie ’n biblioteek in ons gemeenskap nie en net daar het my liefde vir lees ontstaan.
Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?
Trotse oomblikke het ek baie. Een wat uitstaan, was toe ek die behoefte sien in die gemeenskap dat baie jong meisies skool voortydig verlaat as gevolg van sosiale kwessies, en veral behoefte aan sanitêre doekies. Ek het hulle potensiaal raakgesien en so het my inisiatief om hulle by te staan in November 2022 begin. Die Cape Argus het dit gepubliseer en baie deure het daarna oopgegaan. Human Nature Projek skenk nou elke tweede maand sanitêre doekies om my projek te ondersteun en sedertdien het die aantal behoeftiges afgneem.
Die tweede geval was toe ek genader is vir ’n onderhoud deur die Taalmonument oor Rondeheuwel Primêre Skool in Hermon se muuronthulling. Dit is uitgesaai op Klop!, ’n televisieprogram op DStv. Ek was nog nooit op televisie nie en dit was vir my ’n trotse oomblik.
Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?
Oor die jare het ek ’n paar wenke of truuks ontdek wat my gehelp het om my gesonde verstand te behou en die biblioteek effektief te bestuur selfs wanneer ek met uitdagende gedrag te doen kry. Ek het sommige van hierdie wenke op die moeilike manier geleer, en baie klippe gekou, maar ook baie by kinders self geleer. Kinders sal ons gewoonlik leer wat ons moet weet oor hoe om húlle te leer. Ons moet net aandag aan hulle gee, te alle tye kalm wees en hulle keuses kan gee.
Wat is tans gewildste Afrikaanse genres en titels?
Die liefde is al met elektrisiteit, ’n weerligstraal, ’n donderslag en dronkenskap vergelyk. Jy verkeer in ’n toestand waarin elke sel van jou liggaam vir romanse oorgehaal word. Soos die geval met dwelms is, stimuleer dit die sentrale senuweestelsel en veroorsaak daardie sielsgeluksalige gevoelens van euforie, energie en opwinding. Om ’n liefdesverhaal te lees, het glo dieselfde uitwerking. Daarom sal liefdesgenres altyd gewild wees.
Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?
Tegnologie het lesers in die hande gekry en verander hoe hulle boeke lees. Met tegnologie, flieks en videospeletjies om ons aandag af te lei, is dit moeilik om tyd uit te kerf om te gaan sit en lees.
Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?
Skole is plekke waar die saadjies van ’n lewenslange liefde vir lees gesaai kan word. Dit is so duidelik soos kristal dat die bevordering van ’n leeskultuur deur skole ’n hoeksteen van holistiese onderwys is. Deur voortdurend by die digitale era aan te pas en vernuwende benaderings met wysheid te gebruik, verseker sulke skole dat studente nie net akademies uitblink nie, maar ook tot afgeronde individue ontwikkel. Biblioteke moet dus meer betrokke wees by skole en in vennootskap gaan met skole.
Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad?
Biblioteke bied steeds voordele wat tasbaar is, soos gemeenskapsruimtes en menslike interaksie – en ook – wat moeiliker is om te kwantifiseer – toegang, privaatheid, intellektuele vryheid. Die internet is ’n onontbeerlike en onvervangbare hulpmiddel vir die moderne lewe. Maar dit is nie ’n biblioteek nie en sal nie die werk van bibliotekarisse vervang nie.
Op watter maniere dink jy kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?
Die biblioteek het verskeie programme wat al die jeug, tieners en grootmense baie besig hou. Maniere om relevant te bly in ’n steeds veranderde wêreld is om verbeterings in ons huidige programme aan te bring deur middel van e-boeke, e-nuuslewering en ander digitale programme. Biblioteke kan meer direk betrokke wees met die aanbied van tegnologie-opleiding aan die jeug. Die primêre doel van die biblioteek is om ’n plek van informasie te wees. Ons kan die inligting wat ons bied, ook opgradeer. Mense word gesien as oop sisteme, so die biblioteke het ’n gulde geleentheid om daardie mense te help met beter leestegnieke asook die soek van informasie.
Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?
My gunstelingfrase in boeke was nog altyd “Eendag was daar ...” Dit klink snaaks vir ’n vrou van my ouderdom, maar dit is wat ek altyd dink as ek saans voor bedtyd vir my kind lees en ook bedags tydens storietyd in die biblioteek.
Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?
Afrikaans is my moedertaal; dit is van geboorte af aangeleer. Dit is die taal wat deur my ouers en voogde gepraat was en dit was van kleins af by ons ingeskerp. Selfs as aliens in 2125 oorneem, sal ek hulle Afrikaans leer praat. Nooit in ’n miljoen jaar sal ek my moedertaal verruil nie!


