ATR-komvandaan-seminaar 2019: Van “brokwa” tot “broodgoed” – op reis met Oranjerivierafrikaans (Gariep-Afrikaans)

  • 2

'n Erfenisseminaar het op 24 September 2019 te Eersterust plaasgevind. Die gesprek het spesifiek gehandel oor die herkoms van Afrikaans. Die ATR het die geleentheid in samewerking met die Erfenisstigting aangebied.  Lees hier Elvis Saal (Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Unisa) se referaat oor Oranjerivierafrikaans (Gariep-Afrikaans). 

 

Ek is ’n Namakwalander (of dalk moet ek in Hendrik Biebouw-styl (1707) uitroep “ik ben een Namakwalander”). Dit verbaas dus nie dat ek vandag in my praatjie op Oranjerivierafrikaans fokus nie en spesifiek dan ’n rekonstruksie van die taalgeskiedenis van Oranjerivierafrikaans – oftewel Gariep-Afrikaans (Gariep – Khoi vir “grootrivier”), soos dit deesdae bekendstaan. Ek is natuurlik geen historiese taalkundige nie en verlaat my grotendeels op sekondêre bronne oor die geskiedenis van Gariep-Afrikaans. My Afrika-DNS noodsaak my dat ek nie anders kan as om deur ’n Afrika-lens te kyk na die geskiedenis van Afrikaans nie, ’n dekoloniale narratief as’t ware. In hierdie praatjie wil ek graag fokus op die volgende drie hoofvrae:

  1. Watter talige en sosiopolitieke kragte was moontlik werksaam om veranderinge (oftewel fokusverskuiwinge) in die geskiedskrywing van Afrikaans teweeg te bring? Anders gestel: Hoe het die draai van ’n Europeesgesentreerde (koloniale) taalgeskiedenis na ’n Afrika-gefokusde (dekoloniale) taalgeskiedenis gebeur?
  2. Hoe lyk ‘n rekonstruksie van Khoi-Afrikaans aan die hand van seminale werke deur Christo van Rensburg (2012, 2017), G.S. Nienaber (1994) en Hans den Besten (1986)?
  3. Wat maak ons met hierdie inligting oor ons geskiedenisse van Afrikaans? Anders gestel: Hoe kan daar eienaarskap van hierdie taalgeskiedenisse geneem word deur opvoedkundige instansies en die media?

Ontwikkelinge in die geskiedskrywing van Afrikaans

Ek wil graag die ontwikkelinge in die geskiedskrywing van Afrikaans illustreer aan die hand van taalhandboeke wat algemeen gebruik is op skool- en universiteitsvlak vanaf die sewentigerjare tot op hede. Ek fokus primêr op taalhandboeke omdat hierdie boeke ’n bepalende rol gespeel het op skool- en universiteitsvlak in die vorming van wat gesien (behoort te) word as die algemeen aanvaarde perspektief van die geskiedenis van Afrikaans. Die taalhandboeke ter sake is: Afrikaans my Taal 9/10 (1975); Afrikaans sy aard en ontwikkeling (1968), Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde (1989) en Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (2014).    

In die skoolhandboek Afrikaans my Taal 9/10 (1975-1987)  en Afrikaans sy aard en ontwikkeling (1968-1977) wat hoofsaaklik in die sewentiger- en tagtigerjare die toonaangewende taalhandboek op skool en universiteit was, word die ontstaan van Afrikaans eksklusief en kategories met spontane ontwikkeling geassosieer – d.w.s. dat die geleidelike verandering van Nederlands se grammatika en woordeskat na Afrikaans sonder enige buite-invloede (lees: Khoi-Khoin en slawe-invloede) plaasgevind het. Die insigte van taalhistorici soos DC Hesseling (1899) en Valkhoff (1966) wat Afrikaans as ’n (semi) gekreoliseerde taal (mengeltaal) beskryf het, word in veral die taalhandboek Afrikaans sy aard en ontwikkeling (deur HJJM van der Merwe) kategories ontken en aangevoer dat dit wat as kreolismes gesien word teruggevind kan word in óf Nederlandse dialekte óf selfstandig in Suid-Afrika ontwikkel het (bl. 27). Die terloopse erkenning van vreemdetaalinvloede word beperk tot enkele leenwoorde, maar die “siel van die taal” (sinsbou en idiome) het ongeskonde Hollands gebly (bl. 36). HJJM van der Merwe (1968:65-66) kom tot die gevolgtrekking dat “Afrikaans (...) moet gesien word as ’n voortsetting van ’n taalneiging van die 16de en 17de eeu (...) (en) sy eintlike beslag wat die huidige vorm betref, het tussen 1656 en 1658 plaasgevind, dus lank voordat vreemde nie-Nederlandse invloede daarop kon inwerk. In oorsprong en ontwikkeling is Afrikaans dus net so suiwer as Nederlands en dit gaan terug op dieselfde stam”. Die beskrywingsmetodiek wat gevolg word in hierdie twee wydgebruikte handboeke was natuurlik ’n produk van die heersende ideologiese narratief van sy tyd en het, soos Willemse (2011:72) dit stel, “’n verreikende invloed gehad op die vorming van kennis van geslagte skoliere en universiteitstudente”.

Dit sou egter eers met die universiteitshandboek Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde (die tweede hersiene uitgawe) wat in 1989 verskyn het, dat daar eksplisiet erkenning gegee word in ’n taalhandboek dat prosesse van taalkontak en taalbeïnvloeding, naas die (tot nou toe) aanvaarde proses van normale taalverandering sonder buite-invloede, ’n belangrike rol gespeel het in die verandering van Nederlands na Afrikaans. Ek sien tog in hierdie handboek ’n klemverskuiwing in die beskrywingsmetodiek wat gevolg is in vergelyking met die vorige twee taalhandboeke deurdat die rol en bydrae van die Khoi-Khoin en slawe (op ’n meer wetenskaplike - argivaal nagevorste - manier) belig (en erken) word, alhoewel nog in ’n beperkte mate. Die bydrae van die Khoi-Khoin en slawe word egter in hierdie handboek nog steeds gereduseer tot hoofsaaklik die leksikale vlak en enkele sintaktiese merkers (soos reduplikasievorme (nou-nou) en die gebruik van vir voor die persoonsobjek (ek slaan vir jou)). Die bydrae van die Khoi-Khoin en slawe tot Afrikaans word gewoonlik gereduseer tot die volgende leksikale items:

Khoi-woorde: kierie, karos, abba, kamma, hoeka, aitsa, eina, boegoe, dagga       

Slawe-invloede:

Maleise woorde: amper, baie, baklei, baadjie, nooi, blatjang, bobotie, piering, piesang, sambok, soebat, katjiepiering, kapok

Portugese woorde: bredie, kombers, kraal, sambreel, tamaai, tronk

(Vgl. Raidt 1989: 112-113)

Daar is vir my “winde van verandering” (alhoewel beperk) wat bespeur kan word in die beskrywingsmodel van die geskiedenis van Afrikaans in die handboek Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Veranderinge in taal (en dus by implikasie ook taalgeskiedskrywing) funksioneer nie in isolasie nie, maar is ʼn produk van die sosiopolitieke konteks van sy tyd. Sekere kragte van veranderinge, op sowel linguistiese as sosiopolitieke vlak, wat in die tagtigerjare in Suid-Afrika werksaam was, kon op ʼn direkte of indirekte wyse die momentum verskaf het vir ʼn perspektiefverandering in die geskiedskrywing van Afrikaans. Ek lys enkele van hierdie veranderingskragte wat potensieel die talige landskap kon beïnvloed het:

  • Op talige gebied, sien ons die vestiging van Sosiolinguistiek as belangrike studieterrein by menige universiteit. Die Sosiolinguistiek met sy fokus op die verband tussen taal en samelewing (sosiale variasie) het ontstaan in reaksie op Chomsky se Transformasioneel Generatiewe Grammatika waar die primêre fokus was die klem op die ideale taalgebruiker (ʼn universele grammatika). Hiermee tesame is daar in die tagtigerjare ʼn herlewing/opbloei van dialekstudies (in baie gevalle as deel van universiteite se nagraadse projekte), byvoorbeeld: Links (1983) se doktorale proefskrif oor Die taal van Kharkams, Verhoef (1988) se MA-verhandeling oor Aspekte van Oranjerivierafrikaans in die spontane taalgebruik van blanke boorlinge in Noord-Kaapland, Van Rensburg (1984, 1987) se ondersoeke na die Afrikaans van die Griekwas en Richtersveld. Die hernude fokus op taalvariasie in Afrikaans het opnuut die historiese inkleding van geografiese variëteite op die voorgrond geplaas.

  •  Op politieke gebied, sien ons die intensivering van die bevrydingspolitiek, en hier verdien die stigting van die United Democratic Front (UDM) in 1983 spesiale vermelding. Binne hierdie dampkring van boikotte, noodtoestande en ʼn verskerpte gewapende bevrydingstryd word die idee van “People’s education” oftewel “alternatiewe onderwys” gebore vanuit die Kaapse Professionele Onderwysersunie (KPO). Die konsep “alternatiewe onderwys” fokus veral sterk op ʼn “demokratiese” geskiedenisbeskouing en ʼn “alternatiewe” of “bevryde” Afrikaans wat veral deur ʼn groep prominente “bruin” gemeenskapsleiers soos Randall van den Heever, Franklin Sonn en Jakes Gerwel op die voorgrond gedryf is. Kenmerkend van die “Kaapse” bevrydingsbeweging (d.i. ʼn beweging onder Kaapse Afrikaanssprekendes) in die tagtigerjare is die verwerping van Standaardafrikaans en die ideologiese inkleding van Alternatiewe Afrikaans (met as basis Kaapse Afrikaans) as ʼn inklusiewe, bevryde en demokratiese “alternatief” tot die eksklusiewe Standaardafrikaans. Die taalpolitiek van Alternatiewe Afrikaans hou verband met die mobiliseringsfunksie van die alternatiewe variëteit: dit is om sprekers van alle rassegroepe deur middel van taal te mobiliseer vir ʼn demokratiese Suid-Afrika (vgl. Pieterse 2006:274-278). Die bevrydingspolitiek wat met die Kaapse beweging
    geassosieer word, het direk daartoe aanleiding gegee dat die demokratisering van Afrikaans een van die heersende narratiewe in die post-1990-periode geword het.

  • Vanaf die negentigerjare kan daar ʼn duidelike dekoloniale “draai” gesien word in die geskiedskrywing van Afrikaans wat gevoed is deur die inklusiewe ontstaansmodel wat Theo du Plessis in 1987 voorgehou, naamlik dat nie net die geskiedenis van Standaardafrikaans verreken moet word nie, maar ook en veral die geskiedenis van Niestandaardafrikaans. Vanaf die negentigerjare word die Afrika-wortels van Afrikaans toenemend en anapologeties belig in boekpublikasies oor die geskiedenis van Afrikaans: Afrikaans in Afrika (1991), Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans (1994), So kry ons Afrikaans (2012), Van Afrikaans gepraat (2018).

Om terug te keer na die ontwikkelinge in beskrywingsmetodiek van taalhandboeke: In die jongste universiteitstaalhandboek Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (KAT) (2014/2017) kry ons ʼn meer inklusiewe en gebalanseerde beskrywing van die geskiedenis van Afrikaans waarin die bydrae van die Khoi-Khoin en slawe na die sentrum van die geskiedskrywing beweeg, eerder as randbeskrywings soos in die vorige taalhandboeke. Die geskiedenis van Afrikaans in KAT gee deeglik rekenskap van die pre-1652-kontakperiode tussen die Khoi-Khoin en die Europese skeepsreisigers asook die territoriale uitbreiding rondom 1710 wat in die vermelde taalhandboeke basies afwesig is.

Watter nuwe/alternatiewe insigte oor die geskiedenis van Oranjerivierafrikaans het ons ryker geraak sedert die negentigerjare? Hoe lyk so ʼn rekonstruksie van die geskiedenis van Oranjerivierafrikaans? Ek wil kortliks die kontaksituasies aan die Kaap belig vanuit die perspektief van die Khoi-Khoin. Die periode-indeling van KAT (2017) dien hier as vertrekpunt.

Metodologiese uitdagings vir taalhistorici

Die rekonstruksie van Khoi-Afrikaans wat hier volg, word gedoen met deeglike inagneming van die metodologiese beperkinge waarmee taalhistorici gekonfronteer word. Die gebrekkige bronmateriaal/taaldata is een van die belangrikste uitdagings. Vroeë tekste oor die Hollands/Afrikaans van die Khoi-Khoin-sprekers is uiters beperk, gegee die orale tradisie in hierdie gemeenskap. ʼn Suiwer teksanalise as beskrywingsmetodiek het ook sy eie beperkinge. ʼn Teksanalise fokus net op die skryftaal, maar ons moet onthou dat die proto-Afrikaanse taalwêreld van die 17de en 18de eeu ʼn wêreld van mondelinge verkeer was. Ons kan dus met ʼn groot mate van sekerheid aanvaar dat die meeste van die gebruikers van Afrikaans voor die 20ste eeu ongeletterd was en dus min tot nooit geskryf het nie. ʼn Linguistiese benadering kan dus net die taalgordyn op ʼn skrefie ooptrek vir die historiese taalkundige. Valkhoff (1966:6) vat dit treffend saam:

Only when the same linguistic phenomenon (that previously occurred among Asian or African slaves or  Hottentot) occurs among White speakers does it become part of the language. It distorts our image of the evolution of Cape Dutch, because most innovations started among the Coloured lower classes, recording them officially in the language of the White upper classes inevitably postdating them.

As ons dus wil verstaan hoe Oranjerivierafrikaans ontstaan en ontwikkel het, moet ons dus die linguistiese verandering knoop aan die sosiale omstandighede waarbinne die Khoi Nederlands moes aanleer verreken. Ons moet dus daardie sosiale situasies verken waarbinne die Khoi Nederlands aan die Kaap moes leer. So ʼn sosiolinguisties-georiënteerde benadering word hier nagestreef waarin die talige en sosiale faktore byeengebring word in die beskrywingsmetodiek. 

Die kontakgeskiedenis van die Khoi-Khoin

Die kontakgeskiedenis van die Khoi-Khoin val in drie periodes uiteen: die prekoloniale periode wat gestrek het vanaf ongeveer 1595 tot 1652; gevolg deur die koloniale periode vanaf 1652 met die vestiging van ʼn permanente verversingspos aan die Kaap (Tafelbaai): die koloniale periode kan verder in twee periodes opverdeel word: die periode vanaf 1652 tot 1710 met die toevoeging van die slawe tot die Kaapse samelewing, gevolg deur die periode vanaf 1710 en later wat die territoriale uitbreiding na die binneland behels. Ek wil kortliks elkeen van hierdie drie periodes bespreek.

Kontak tussen die Khoi-Khoin en Nederlandse seevaarders: 1595-1652

Van die vroegste kontak tussen die Khoi-Khoin en die Nederlanders wat opgeteken is vind plaas hier rondom 1595 toe Nederlandse skepe sporadies aan die suidpunt van Afrika (eers Mosselbaai en later oorwegend Tafelbaai (vorige naam Saldanha)) aangedoen om die lang seereis te onderbreek om voorrade aan te vul en die bemanning te laat rus. De Houtman was die eerste Nederlandse seevaarder wat hier by Mosselbaai sy reis na die Ooste onderbreek het. Dit het natuurlik Nederlandse seevaarders in kontak gebring met die Khoi-Khoin wat tot verskeie handelstransaksies gelei het. Die Nederlandse seevaarders het vars water en vleis benodig en hierin kon die Khoi-Khoin natuurlik voorsien wat nomadiese veeboere was. In hierdie sporadiese kontaksituasies moes die een groep die ander groep se taal aanleer om te kan kommunikeer. Vir die Nederlandse seevaarders was die Khoi-taal met sy klap- en suigklanke te moeilik en onverstaanbaar om te leer, en dit was die Khoi-Khoin wat Nederlands moes probeer aanleer om kommunikasie te bewerkstellig. Dit spreek boekdele van die Khoi-Khoi se taalvermoë!  Met die stigting van die VOC in 1602 het die skeepsverkeer tussen Nederland en die Ooste drasties toegeneem en het daar soms tot 20 skepe per jaar by Tafelbaai aangedoen vir etlike weke (vgl. Conradie en Groenewald 2017: 37). Oor ʼn tydperk van 40 jaar (1610-1650) het nie minder as 363 Nederlandse skepe hier by die Kaap aangedoen nie (Van Rensburg 2016:11). Hierdie kontaksituasies het natuurlik ʼn geleentheid geskep vir Khoi-“taalentrepreneurs” soos Autshuma(t)o (van die Goringhaikona -stam, bekend as Herry die Strandloper) en later Doman om as tolke op te tree en die handelstransaksies te beïnvloed.

Hierdie vroeë kontaksituasies het ʼn aanleerdersvorm van Nederlands, Khoi-Afrikaans, tot gevolg gehad (vgl. Van Rensburg 2016:50).

Hoe het hierdie vroeë aanleerderstaal van die Khoi-Khoin gelyk?

Ek verlaat my hier op die insigte van Van Rensburg (2012; 2018) en Nienaber (1994) om die taalgordyn van vroeë Khoi-Afrikaans op ʼn skrefie oop te trek. Volgens Van Rensburg (2016:50) is van die aanleerdersvorme van die Khoi-Khoin veral in twee woordelyste opgeteken: een deur die goewerneur van Mauritius, De Flaucourt in 1955, wat hy tydens sy verblyf in Saldanhabaai opgeteken het, en ʼn ander lys deur Thomas Herbert wat in 1626 opgestel is. De Flaucourt se optekenings dui heel waarskynlik op aanleerdersvorme wat redelik algemeen was voor 1652.

Die woord brokwa wat opgeteken is in 1623 illustreer die vroeë pogings van die Khoi om Nederlands aan te leer. Volgens Nienaber (1994:149) bestaan die woord brokwa uit twee dele: die Nederlandse gedeelte “bro(k)”  (vir die Nederlandse woord “brood”) en die Khoi-meervoudsuitgang -kwa (wat dui op “soorte” of “goed”), dus letterlik broodgoed. Die “-goed”-konstruksie wat onderskeidend van Gariep-Afrikaans is, is hier duidelik waarneembaar. Van Rensburg (2018:18) voer aan dat die Khoi-Khoin moeite gehad het om die d-klank aan woordeindes uit te spreek, en dit daarom weggelaat het (vergelyk han x hand, gel x geld wat ons nog vandag in jongmense se taalgebruik aantref in die Noord-Kaap). Sulke hibriede vorme/samestellings (soos brokwa) was nie ʼn ongewone verskynsel in Khoi-Afrikaans nie. ʼn Verdere voorbeeld hiervan is die hibriede samestelling gheme (ook: ghemare – gee-gee-moet) wat deur die Khoi-Khoi gebruik is vir die Nederlandse werkwoord geven. Die werkwoord geven is aangepas tot gheme wat uit twee dele bestaan: ghe- (= die Afrikaanse “gee”) en me- (Khoi-element wat “gee” beteken), dus ʼn reduplikasievorm (gee-gee). Die Khoi-element -re in ghemare was ʼn bevelsmorfeem/imperatief: moet. Hierdie reduplikasievorme is ʼn kenmerkende eienskap van Oranjerivierafrikaans, vgl: Leeu-Gamka (leeu-leeu). Die reduplikasievorme wat in Standaardafrikaans aangetref word, kan moontlik herlei word na die Khoi-Khoi.  

Van die vroeë Nederlandse woorde wat die Khoi-Khoin gebruik het (aldus De Flaucourt se optekenings), sluit in beker (<baquary) , kis (<ciste), bord (<core), knoop (<corobe) koring (<conanh), water (<Ouata) (met vokaalverlaging en r-weglating) en môre (<marai) (sonder die intervokaliese -g- wat alreeds die Afrikaanse patroon vergestalt). Opvallend was veral die wisseling van die e en a (ouata/baquary), k/g en b (core x bord), r en d (mirrag), t en s/k, n en r (conanh x koring), o en a (marai x môre) (vgl. Van Rensburg 2016:16-19).

Khoi-woorde wat in hierdie periode opgeteken is, sluit in: bou (later opgeteken as boebas) (os/beeste), ba (skaap), kanna (eetbare bolplante – ook ganna(bos)/ kougoed), boegoe, dagga (<canna), kierie. Van Rensburg (2016:54) verwys ook na die woord ou (opgeteken as quoy) (in die betekenis van gee) wat teruggevind kan word in Herbert se lys van 1626. Die woord ou (vir gee) (soos in “Ou ta van daai brood”) kom vandag nog verbreid voor in Namakwaland.

Uit hierdie vroeë kontaksituasies tussen die Khoi-Khoin en die Nederlandse seevaarders (met hul Seevaartnederlands) word dit duidelik dat dit ʼn mistasting sou wees om die geskiedenis van Afrikaans te wil beperk tot slegs die nedersettingsperiode wat geassosieer word met die koms van Jan van Riebeeck in 1652. Die spore van die vroegste Afrikaans, ʼn aanleerdersvorm van Nederlands, is alreeds sigbaar in die 50 jaar voor Van Riebeeck die verversingspos in 1652 kom vestig het aan die Kaap.

Kontak tussen die Khoi-Khoin, slawe en Nederlandse besetters (koloniste): 1652-1710     

Die vestiging van ʼn permanente verversingspos aan die Kaap in 1652 het die taallandskap drasties kom verander. Tot nou toe was die kontak tussen die Khoi-Khoin en die Nederlandse seevaarders sporadies van aard. Die permanente vestiging van die Nederlandssprekende Europeërs aan die Kaap ná 1652 het ingehou dat hierdie kontak nou permanent van aard was en meer gereeld voorgekom word. Die bou van die vestiging aan die Kaap het sy eie arbeidsuitdagings opgelewer. Die VOC het gou agtergekom dat die Khoi-Khoin, wat onafhanklike veeboere was, nie gewillig was om as arbeiders ingetrek te word in die vroeë Kaapse samelewing nie. Dit het daartoe gelei dat ander maniere gevind moes word om die arbeidstekorte aan te vul. Slawe is toe ingevoer vanaf 1658 vanuit Madagaskar en die res van Afrika (Angola, Guinee) en die Ooste (die Indonesiese Agrippel en die ooskus van Indië) (vgl. Conradie en Groenewald 2017:38). Die slawe het naas hul eie moedertale ook kennis gehad van Kontakportugees en Maleis, twee tale wat ʼn direkte invloed sou hê op Afrikaans, spesifiek Slaweafrikaans (en die latere variëteit Kaapse Afrikaans).

Die periode 1652 tot 1710 het die volgende kontaksituasies en tale opgelewer:

  1. Die kontak tussen die Khoi-Khoin (met tale Khoi, en ʼn vroeë aanleerdersvorm van Nederlands, d.i. ʼn vroeë vorm van Khoi-Afrikaans) en die permanente nedersetters (met tale 17de-eeuse dialektiese Nederlands asook ander aanleerdersvorme van nie-Nederlandse koloniste)
  2. Sporadiese kontak tussen die Khoi-Khoin en die bemanning van Nederlandse skepe (ʼn tipe Seevaartnederlands) oppad na die Ooste en terug. (Van Rensburg (2012:21) argumenteer dat hierdie Seevaartnederlands ook anders geklink het wanneer die bemanning na ʼn periode van 3 of 5 jaar uit die Ooste teruggekeer het. (Na hierdie Nederlands is al verwys as Austro-Nederlands.)
  3. Die kontak tussen die Khoi-Khoin en die slawe (met kennis van Kontakportugees en Maleis).

Die ekonomiese posisie van die Khoi-Khoin het ook in hierdie periode drasties verander van nomadiese veebesitters (wat die VOC van vee voorsien het) na veewagters; van “vry” mense na arbeiders. Die  disintegrasie van die Khoi-Khoin in stamverband is ingelui met die besluit van die VOC dat personeel ná vyf jaar (1657) vrygestel kan word van hul kontrakte om te gaan boer. Die besluit het daartoe gelei dat die vryburgers wat aanvanklik lanbouboerdery beoefen het met die Khoi-Khoin gekompeteer het vir grond en water. Hierdie grondkwessie was die oorsaak van twee Khoi-Khoin-oorloë (1659 en 1673) wat die Khoi-Khoin aan die Kaap ekonomies geknak het (vgl. Van Rensburg 2018:56). Die Khoi-Khoin het toenemend begin om die arbeidsmark te betree en is deur die VOC en vryburgers as arbeiders in diens geneem. Die disintegrasie van die Wes-Kaapse Khoi-Khoin het die Khoi-Khoin in noue en gereelde kontak gebring met die slawe en die vryburgers. Hierdie noue kontaksituasies kan natuurlik ook in die vroeë Afrikaans van die Khoi-Khoin, slawe en vryburgers gesien word.

Hoe het die Khoi-Afrikaans dan in hierdie periode gelyk?

Die twee vroegste voorbeelde van ʼn Khoi-Afrikaanse teks is in 1672 en 1673 opgeteken deur die plantkundige en dokter Willem ten Rhyne. (Hierdie is heel waarskynlik die mees aangehaalde en bespreekte teksvoorbeeld in die geskiedskrywing van Afrikaans.)

1672: Duijtsman een woordt Calm, ons u kelum

(Hollander, sê een woord, ons sny jou keel af.)

1673Dat is doet: Was mak-om? Duytsman altyt kall-om: icke Hottentots doot mak-om: Mashy doot, icke strack nae onse groote Kapiteyn toe, die man my soon witte Boeba ge-me.

(Wat is die dood? Wat maak dit saak? Die Hollanders sê altyd: Ek maak Hottentotte dood. Maskie! (=Almaskie/alhoewel/tog). Dood, (gaan) ek reguit na ons groot kaptein toe. Die man sal my sulke wit osse gee.)

(Van Rensburg 2012: 19-20)

Die volgende kan uit hierdie vroeë opgetekende voorbeelde van Khoi-Afrikaans afgelei word:

  • Die lidwoord die en die voornaamwoord ons (nie wij nie) word in die subjekposisie gebruik soos in Afrikaans.
  • Mashy, is volgens Roberge (2002: 94-95), moontlik afkomstig van Kreoolsportugees Die Kreoolsportugese invloed moes waarskynlik via die slawe Khoi-Afrikaans binnegedring het. Dit wys op die wedersydse beïnvloeding van die slawe en Khoi-Khoin op mekaar se vroeë aanleerdersvorme.
  • Die woord mak-om en kall-om kan weer as hibriede vorme gesien word, met -om as die Khoi-uitgang. Mak- lyk baie op maak en kall- kan dalk herlei word na die Engelse call (aldus Van Rensburg 2018:26). Die reduplikasievorm ge-me (gee-gee) kom weer hier voor wat al voor 1652 opgeteken is.
  • By icke kan die slotvokaal -e dalk as Khoi-element gesien geword, met as variante vorme -me (soos in geme) en -um (soos in kelum) (Van Rensburg 1994:169).
  • Boeba (vroeër opgeteken as bou) kan gesien word as klanknabootsing wat die Khoi gebruik het om na bees te verwys. Die b- aan die woordeinde dui die woordgeslag aan, terwyl die -a die meervoud aandui, met boe wat dui op klanknabootsing.

ʼn Woord wat tot vandag toe nog wyd gebruik word in Namakwaland (en waarmee ek opgegroei het) is kamma (bet. om voor te gee): Jy is kamma siek. In 1727 is die volgende sinnetjie opgeteken: “kamme niet verstaan” (kan nie verstaan nie). Volgens Roberge (2002:97) kan die huidige kamma herlei word na die woord kamme wat afgelei is van die Khoi-woord kammasa (bet. “werklik, dit is waar”). Die huidige gebruik van kamma dui daarop dat die woord ʼn betekenisverskuiwing ondergaan het.

Met die gebrekking taalmateriaal tot die taalhistorikus se beskikking, moet die taalhistorikus probeer om ʼn rekonstruksie te bied van die talige werklikheid in die 17de en 18de eeu. Hierdie voorbeelde van vroeë Afrikaans werp tog lig op hoe Afrikaans in die mond van die Khoi-Khoin sy beslag gekry het. Uit die voorbeelde is daar sigbare merkers na die Afrikaans soos wat ons dit vandag ken. Die Khoi-Afrikaans wat in die periode 1652 tot 1700 hier aan die Kaap vorm gekry het, sou saam met die Khoi-Khoin die binneland ingedra word toe die Kaapkolonie in die 18de eeu begin uitbrei het na die noordelike en die oostelike grens toe.

Die periode ná 1710: die binnelandse uitbreiding

Die 18de eeu is, soos Van Rensburg (2012:39), “ʼn geskiedenis van sy sprekers se trekke”. Die vryburgerboere het in getalle toegeneem en dit het beteken dat die aanvraag na grond ook drasties begin toeneem het. Die vryburgers wat ook van landbouboerdery na veeboerdery begin oorskakel het, het die behoefte vir grond verder laat toeneem het. Van die Kaapse Khoi-Khoin wat hul vee en grond verloor het ná die tweede Khoi-Khoin-oorlog (1673) het begin om by die vryburgers in die buitewyke van die Skiereiland te gaan werk (alhoewel onwettig).

Beide die Kaapse Khoi-Khoin (die wat nog veeboere was) en die vryburgers (wat later veeboere geword het) het hier aan die begin van die 18de eeu begin uitwyk na die binnelandse grensgebied toe. Twee breë trekke kan geïdentifiseer word: die een trek was hier na die noorde toe in die rigting van die Oranjerivier en verder, terwyl ʼn ander trek oos van die Hottentots-Hollandberge was in die rigting van hedendaagse Graaff-Reinet. Die Khoi-Khoin se uitbreiding na die noorde en die ooste het op twee wyses geskied: eerstens die in stamverband, dit is Kaapse Khoi-Khoin-stamme wat nog veeboere was, en tweedens die ontstamdes, dit sluit in Khoi-Khoin wat as plaasarbeiders (veral veewagters, transportryers, gidse, smouse, huishulpe) gewerk het vir die vryburgers (latere veeboere), of die verarmde Khoi-Khoin wat as klein groepies getrek het. Die uitbreiding na die binneland het die veeboere en Khoi-Khoin in verdere kontak gebring met Khoi-Khoin-stamme wat in die binnelandse grensgebied woonagtig was (vgl. Van Rensburg 2013:2-5).

ʼn Kenmerk van die kontaksituasies in die Binnelandse Grensgebied was die betreklik noue kontak tussen die Khoi-Khoin-stamme en die veeboere. Dit spreek vanself dat die Khoi-Khoin wat as arbeiders op die plase gewerk het, ʼn baie noue kontak met die veeboere gehad het. Met die uitbreek van die pokke-epidemie in 1713 moes baie Khoi-Khoin hul tradisionele bestaan prysgee en het hulle geassimileer geraak by ander groepe wat in die Grensgebied teenwoordig was, soos die Basters (bloedvermenging tussen koloniste en slawe/Khoi-Khoin), die Oorlams en die Adam Kok-groepering (later bekend as die Griekwas = Gri-mense; mense wat die Khoi-taal Gri gepraat het).

Volgens Van Rensburg (2013:7) het die gereelde kontak tussen die veeboere en die Khoi-Khoin daartoe gelei dat talle gebruike (soos die maak van biltong), verantwoordelikhede (soos deelname aan kommando’s) asook eet- en kosgewoontes gedeel is. Hierdie noue kontaksituasies moes daartoe gelei het dat die veeboere en die Khoi-Khoin mekaar se tale beïnvloed het. Die hooftale wat in die Grensgebied gepraat is, is volgens Van Rensburg (2013:5), Veeboerafrikaans met sy Nederlandse basis en Khoi-Afrikaans (met sy Khoi-basis en voortgevloei het uit die Khoi-Afrikaans wat aan die Kaap sy beslag gekry het). Daar was egter nie een homogende Khoi-Grensafrikaans nie, maar variasies daarvan: Khoi-Grensafrikaans hier by die Oranjerivier met sy sterker Khoi-basis het tog verskil van die Khoi-Grensafrikaans dieper die binneland in (soos die latere Kokstad en Griekwastad). Dit het die basis gevorm vir die verskillende subvariëteite wat in Khoi-Afrikaans (Oranjerivierafrikaans) ontwikkel het.

Hoe het hierdie Khoi-Afrikaans (oftewel Khoi-Grensafrikaans) in die binneland gelyk en geklink?

In vergelyking met die taaldata in die vorige twee periodes, was die taaldata in hierdie periode uiters beperk. Die rekonstruksie van Khoi-Afrikaans in die Binnelandse Grensgebied is hoofsaaklik gebaseer op Europese reisigers (soos Lichtenstein) se waarnemings/opmerkinge van die tipe Nederlands (oftewel Khoi-Afrikaans) wat die Khoi gepraat het. Ander bronne het ingesluit die karikatuuragtige voorstellings van die Khoi se taalgebruik in toneelstukke soos die van Boniface en Teenstra. Die belangrikste aanduider van hoe Khoi-Afrikaans moontlik in die 18de eeu gelyk het, kan teruggevind word in die voorstellings van Boniface waar sy karakters  (soos Kaatjie Kekkelbek, die Hendrik Kok-onderhoud) Khoi-Afrikaans sou gepraat het. Uit hierdie voorstellings word die volgende taalkenmerke van Khoi-Afrikaans afgelei:

  • die oorgeronde uitspraak van “veul” (veel) en “seuven” (“sewe”);
  • die weglating van die intervokaliese -g- in “morre” (môre);
  • “ons” in die subjekposisie,
  • “vir” voor die direkte voorwerp (invloed van Laagportugees via die slawe)
  • gebruik van gedeflekteerde werkwoordsvorme
  • uitroepe soos aitsa, heitsa en arrie
  • die gebruik van maskie (invloed van Laagportugees via die slawe)

(Vgl. Van Rensburg 2012:104; 2013:9)

Die langdurige en gereelde kontak tussen die veeboere en die Khoi-Khoin in die Binnelandse Grensgebied sou noodwendig lei tot gedeelde taalkenmerke, so byvoorbeeld is die gebruik van “ons” in die subjekposisie ook onder die veeboere opgeteken deur reisigers soos Mentzel (Van Rensburg 2013:10). Die onverboë werkwoordsvorm (gee x geven), die dubbele ontkenning asook die gebruik van e- vir die Nederlandse i-klank (soos in kenders – vgl. ook die uitspraak kjeent) sou ook hierby gereken kan word.

Van Khoi-Afrikaans na Oranjerivierafrikaans (Gariep-Afrikaans)

Khoi-Afrikaans staan vandag, twee eeue later, as Oranjerivierafrikaans (ook Noordwestelike Afrikaans) (dalk eerder Gariep-Afrikaans) bekend.

Oranjerivierafrikaans (‘n term gebruik deur Christo van Rensburg), ook deur Ponelis (1998) verwys na as Noordwestelike Afrikaans, verwys na die historiese variëteit wat in die stroomgebied van die Oranjerivier voorkom. Namakwaland is die geografiese kern van hierdie variëteit, maar dit strek ook verder noordwaarts tot in die Richtersveld en die suide van Namibië, ooswaarts strek dit al langs die Oranjerivier tot in die Suid-Vrystaat, vanwaar dit uitbrei tot in Kokstad en omgewing.

Hoe lyk hierdie historiese variëteit van Afrikaans vandag? Khoi-invloed is duidelik sigbaar in Oranjerivierafrikaans op sowel grammatikale as leksikale vlak: (In tieners se skryftaal – belig)

Grammatikale vlak:

  • die goed-konstruksie:
      • Meester-goed moet darem laat weet wanneer Meester-goed kom; Môre sil Ek noggie dieregoete
  • die gebruik van die enkelvoudsvorm in die plek van die meervoudsvorm:
      • dis 'n klomp kind; Perd was nooit hier volop; Septembermaand is Namakwaland se blom mooi
  • dubbele meervoudsvorme en verkleiningsvorme:
      • kinderse, ouerse, klipperse, waterse; boompietjie, huisietjie

  • Onverboë vorm van die attributiewe adjektief:
      • innie dro verlatengeit moet ko stane bly; dourie vroe jare, ek het hoeka sleg ô (oë), sy doodmoeg lyf vroeg vordagmôre
  • die besitlike voornaamwoord met se:
      • Ek het nie eet se gedagte nie; Sy se (=haar) man is aan die ploeg;

  • gebruik van die manlike meervoudsvorm hy om na vroulike referente te verwys:
      • My vrou is nie hier nie, hy is in Spoegrivier.

  • skakelwerkwoorde loop, lê, sit en staan sonder die partikel en:
      • Wat go lê loop jy so; wat lê skitter sossie waters vannie Groot Gariep; sit luuster na die waterse geluid; want hy kannie daarmee trig jimmel toe sta ganie

  • die regularisering van die werkwoordsvorme:
      • Só lief het die Jirre die hele mense gehet; nie hoër of laer gekan het nie; dis dourie goet wat ek wil gehedit, ek gaan môre daar is

  • Wisselende infinitiefkonstruksies:
      • om te inklim; om te die beeste jaag; om te die land mak te maak

  • Wisselende vokaallengte:
      • kjeners (kinders), hener (hinder), gjeef (gif), mak (maak), maan (man)
  • [d] x [r]-wisseling (rotasering):
      • marragtyd (middagtyd), pêreklou (perdeklou), want sy hanne norag mosie ‘n heller liggie

  • Vokaalreduksie: die e-, a- of o- klank word as ʼn [ǝ]-klank uitgespreek:
      • grootminse (grootmense), sil (sal), resyntjiebos (rosyntjiebos)
  • Vokaalverlaging: [ə] > [a]: 
      • starag (stadig); marragtyd agterie bokke lop (middagtyd agter die bokke loop), an toe’t Hy gris gaheel tevrede (en toe het Hy gerus (=gewoon) geheel tevrede)
  • Palatalisasie:
    • [ɦ] > [j]: Onse Jirre h’t mittie skepping sam (Onse Here het met die Skepping saam)
    • [x], [k] > [ç]: kjenerse (kinders); kjerk (kerk); gevergjeet (vergeet)
  • Klankverlies van veral [ə] en [x]:
    • gris (gerus), vloor (verloor), glikkige (gelukkige), glykenisse van die diere (gelykenisse van die diere), lat allie sade glyk-glyk sta vloor (laat al die sade gelyk-gelyk verlore gaan), vroe (vroeg), dro (droog) ploe (ploeg), suie (suig), wa dit net (waag dit net)

Ander grammatikale kenmerke:

  • Hoë voorkoms van –lik(e) as afleidingsmorfeem:
      • as substantiveerder: Die kerklike, Meester, vra so baie van ‘n mens; an virrie annerlike, klein-oppie-gronne mense
      • as adjektiveerder: toe hy die annerlike stanings klaar lop neergasit h’t; Ou Meester is ‘n vernamentlike man hier op dorpie; ‘n gewoonlike taal; voedsaamlike kos; ‘n seerlike punt
  • Vokalisme:
      • [œy] > [y]:  luuster wie dar fluuster (luister wie daar fluister); skeuns vor donker (skuins voor donker); supery (suipery)
      • [œ] > [ø]:  reug (rug), skeuldig (skuldig)
  • Ongewone voorkoms van –ing as afleidingsmorfeem: ek maak bieswaring; hulle se lyking is eners; ek weet nie van sy bestaning nie

Addisionele kenmerke onder Noord-Kaapse tieners in die skryftaal:

  • hom-besitvorm: En jy wil nie ophou in hom oë te kyk nie
  • Voorsetselweglating: dat ek hulle sit en luister (x dat ek na hulle ...);
  • Die vorme wat/van in die plek van die voegwoord want: As jy iets goed doen dan sal die mense van jou hou van jy doen nie verkeerde dinge nie.
  • Weglating van die werkwoorde het en wees: Maar ek klaar by haar vriendin gehoor sy het gesê sy like nie van my nie
  • saam-konstruksie: om saam mense te bly

Leksikale vlak:

Khoi-invloed op die leksikon van Oranjerivierafrikaans is duidelik sigbaar in die plekname, plantname, diername en ander algemene leksikale items:

  • Plantname soos bouroe/baroe (veldkos), tkounebie (veldkos), tk’ytjie (veldkos) gonnabos, boegoe, dagga, kanna

  • Diername soos tgortota (bloukopkoggelmander), tgon-tgon (klein swart akkedissie), tkamma (draaijakkals - die woord tkamma word ook gebruik om te verwys na iemand wat spog.), geitjie

  • Plekname soos Kamiesberg (“kamies” beteken “bymekaarkomplek”), Kamieskroon (“kamies” beteken hier “bondel”, en een van die berge het die formasie van ‘n kroon, dus die kroon van die bondel berge), Kharkams (“springwater”, “fontein”), Komaggas (“bruin plek”), Nababeep (“renosterplek”), Okiep (“sout” of “brak”), Kheis (“leeg”, “kaal”, “droog”)
  • Ander algemene Khoi-leenwoorde (ingesluit die items in Standaardafrikaans): abba, gogga, karos, kierie, kamma (voorgee), ou (gee), arrie, eina, ga, !konkombers (lappieskombers), !xhorro (gesels), !xhoe (vuil), t’khoenie (elmboog), t’komo (dom), t’kouboe (sleg)  

Waarheen nou met Oranjerivierafrikaans?

By ʼn konferensie oor Oranjervierafrikaans, so twee jaar gelede, vra een van die studente ná ʼn aanbieding oor Autshumato, wie dié persoon nou eintlik is? Hierdie vraag  ondervang die gebrekkige (geen?) blootstelling wat ons studente en leerders kry aan ʼn taalgeskiedenis wat direk spreek tot hul identiteit. Om te weet waar jy vandaan kom, hoekom jou Afrikaans klink soos dit klink, kan “ʼn nuwe selftrots, ʼn gevoel van eiewaarde” tot gevolg hê wat positief inspeel op identiteitskepping (Sonn 2014).

Ons as opvoeders is natuurlik aandadig hieraan, dat ons nie genoegsame ruimte laat in ons kurrikulum om ons studente bloot te stel aan ʼn veelkantiger narratief van die geskiedenis van Afrikaans nie. ʼn Taalgeskiedenis wat die bydrae van die Khoi-Khoin en slawe na behore verreken, behoort deel te vorm van skool- en universiteitskurrikulums. Dit is jammer dat taalgeskiedenis nie meer ʼn onderrigruimte geniet in skoolkurrikulums nie, maar daar kan egter op kreatiewe maniere ruimtes in klaskamers geskep word vir blootstelling aan ʼn dekoloniale narratief van die geskiedskrywing van Afrikaans. Sodanige narratief kan baie doen om sprekers van Kaaps en Oranjerivierafrikaans wat soms gebuk gaan onder ʼn lae taalselfbeeld op te hef asook ander negatiewe houdings teenoor variëteite van Afrikaans teen te werk.

Naas die rol wat opvoedkundige instansies behoort te speel om ʼn veelkantiger Afrikaans uit te beeld, doen gespreksgeleenthede soos hierdie baie om bewusmaking te bevorder onder die Afrikaanse taalgemeenskap. ʼn Platform soos hierdie kan die nodige taalsaadjie verskaf in die gemeenskap wat kan lei tot ʼn groter deelname in die veranderende (dekoloniale) diskoers oor Afrikaans en sy geskiedenis. Die gemeenskap het ʼn sentrale rol te speel in die verspreiding van die Afrika-narratief oor Afrikaans.

Oranjerivierafrikaans geniet nie altyd dieselfde blootstelling en status soos Kaapse Afrikaans nie. Kaapse Afrikaans is lankal nie meer beperk tot slegs die literêre ruimte nie, maar word benut as koeranttaal (vgl. die taalgebruik in Son), advertensietaal, as uitsaaitaal (vgl. programme soos Suidooster en Jou Show), as kreatiewe uitdrukkingsvorm (vgl. teaterproduksies soos Afrikaaps, musiekspele soos Ghoema, die musiek van kunstenaars soos Brasse vannie Kaap en Hemelbesem). Hierteenoor is Oranjerivierafrikaans hoofsaaklik beperk tot die literêre domein. (Enkele plaaslike kunstenaars soos Vito het nou begin om Oranjerivierafrikaans as uitdrukkingsvorm in te span.) Dit wil voorkom asof Oranjerivierafrikaans as die “vergete dialek” beskryf kan word. Daar is ʼn ekstra aktivisme en bewustheid nodig om die destigmatisering van Oranjerivierafrikaans in die hand te werk sodat sprekers van hierdie variëteit eienaarskap van hul variëteit sal neem en begin om ruimtes op te eis wat hierdie variëteit in sy volle talige kleurrykheid sal vertoon. Hierdie bewustheid en aktivisme begin deur jou wortels te erken en te omarm: Eeke ees ʼn Namakwalanner.    

Bibliografie

Conradie, J en Groenewald, G. 2017. Die ontstaan en vestiging van Afrikaans. In Carstens, WAM en Bosman, N. (reds.) Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Tweede uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

De Klerk, F;  Esterhuizen, B.J, Hamman, R. en Neethling, E.L. 1987. Afrikaans my taal 9/10. 1986-sillabus. Kaapstad: Maskew Miller Longman.

Den Besten, H, 1989. From Khoekhoe foreign talk via Hottentot Dutch to Afrikaans: The creation of a novel grammar. In Pütz, M en Dirven, R (reds.) Wheels within wheels. Papers of the Duisburg symposium on pidgin and creole languages. Frankfurt am Main: Peter Lang.

Du Plessis, H. 1994. Taalkontakvariasie in Afrikaans. In Olivier, G en Coetzee, A. (reds.) Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans. Halfweghuis: Southern Boekuitgewers.

Hesseling, D.C. 1923. Het Afrikaans. Leiden.

Nienaber, GS. 1963. Hottentots. Pretoria: Van Schaik.

Nienaber, GS. 1989. Khoekhoense stamname. Pretoria: Academica.

Nienaber, G.S. 1994. Die ontstaan van Khoekhoe-Afrikaans. In Olivier, G en Coetzee, A. (reds.) Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans. Halfweghuis: Southern Boekuitgewers.  

Ponelis, F. 1993. The development of Afrikaans. Frankfurt am Main: Peter Lang.

Raidt, E. 1989. Ontwikkeling van Vroeë Afrikaans.  In Botha, T.J.R. (red.) Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Tweede, hersiene uitgawe. Pretoria: Academica.

Valkhoff, M.F. 1966. Studies in Portuguese and Creole. With special reference to South Africa. Johannesburg, Wiwatersrand University Press.

Van der Merwe, H.J.J.M. 1977. Die ontstaan van Afrikaans. In Van der Merwe, H.J.J.M. (red.) Afrikaans sy aard en ontwikkeling. Pretoria: Van Schaik. 

Van Rensburg, C. 1994. Die ontstaan van Afrikaans in ʼn intertaal konteks. In Olivier, G en Coetzee, A. (reds.) Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans. Halfweghuis: Southern Boekuitgewers.

Van Rensburg, C. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: LAPA.

Van Rensburg, C. 2013. ʼn Perspektief op ʼn periode van kontak tussen Khoi en Afrikaans. Literator 34(2): 1-11.

Van Rensburg, C. 2016. Die vroegste Khoi-Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 56(2): 1-23.  

Van Rensburg, C. 2016. Twee betekenisvolle momente in die geskiedenis van Kaaps. In Hendricks, F en Dyers, C. (reds.) Kaaps in fokus. Stellenbosch: SUN MeDIA Stellenbosch.

Van Rensburg, C. 2018. Finding Afrikaans (Afr. Van Afrikaans gepraat). Pretoria: LAPA. 

ATR-komvandaan-seminaar 2019: Afrikaans, Nederlands en die Morawiese Kerk

Video: ATR-paneelbespreking oor Afrikaans se komvandaan

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Carina Stander

    Wat 'n interessante lees! Baie dankie vir die oopskryf van hierdie taalskat. Mag vele digters/ skrywers/ vertellers/ kletsrymers/ sangers 'n stem in die byna vergete dialek laat hoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top