Die ATR het 'n erfenisseminaar op 24 September 2019 te Eersterust aangebied. Die gesprek hier onder het spesifiek gehandel oor die herkoms van Afrikaans. Die ATR het die geleentheid in samewerking met die Erfenisstigting aangebied. Hier is Jac Conradie (UJ) se bydrae.
Dit het my opgeval dat daar ’n paar belangrike raakpunte is tussen Afrikaans – die gebruik van die taal en die plek daarvan onder die tale van die wêreld – aan die een kant, en die werk van die Morawiese Sendinggenootskap of Kerk, aan die ander kant.
Die Morawiese Kerk (in Duits: die Evangelische Brüdergemeine) het sy wortels in Midde-Europa, veral Tsjeggië, van die 15de eeu, en is die eerste Protestantse kerk wat hom wêreldwyd met sendingwerk besig gehou het. Vanaf die vroeë 18de eeu begin die kerk hom, onder leiding van die graaf Von Zinzendorf en met die dorpie Herrnhut as uitstralingskern, sterk toelê op die sending na die verste uithoeke van die aarde, byvoorbeeld die Maagde-eilande in die Karaïbiese gebied, Suriname in die noorde van Suid-Amerika, Groenland, Noord-Amerika, Labrador, Lapland en les bes verskillende gebiede in Suider-Afrika.
Die Maagde-eilande
Vanaf 1732 doen die Morawiërs sendingwerk op die suikerplantasies op die eilande St Thomas, St John en St Croix, die sogenaamde Maagde-eilande. Omdat die slawebevolking aanvanklik onder Nederlandse toesig was, het daar 'n kreoolse taal, ’n soort mengtaal, ontstaan, waarvan die woordeskat byna volledig Nederlands was, maar die grammatika baie sterk vereenvoudig en met kenmerke van die Afrikatale, want die meeste slawe was uit Afrika afkomstig. Hierdie proses van kreolisering het in die koloniale tydperk in verskeie wêrelddele voorgekom, maar dan meestal met tale soos Engels, Frans en Portugees as woordeskatbron. Hierdie taal, in Nederlands bekend as Negerhollands, is tot ’n paar dekades gelede op dié eilande gepraat, maar het toe uitgesterf. Vir die Afrikaanse taalgeskiedenis is die taalvorm van belang as vergelykingsbasis, want die kreoliseringsproses het hier einduit gegaan, en van Afrikaans het mense soos die Nederlandse professor D.C. Hesseling al aan die einde van die 19de eeu beweer dat dit “halverwege is blijven staan op de weg om Kreools te worden”. Hesseling het nie alleen ’n uitvoerige beskrywing van Negerhollands gegee nie, maar dit ook punt vir punt met Afrikaans vergelyk (vgl. Hesseling 1899, 1905). Ander taalkundiges, met name die Nederlandse taalhistorikus Hans den Besten, het hierdie benadering voortgesit (vgl. Van der Wouden 2012). Afrikaans het volgens hom veral ’n Khoi-Nederlandse pidgintaal (‘n soort handelstaal) wat aan die Kaap ontstaan het, as basis, met die Nederlandse pidgin van die slawe as belangrike bydrae. Benaderings soos hierdie werp baie lig op die belangrike – selfs essensiële – bydrae van Khoi-Khoin en slawe tot die vroeë vorming van Afrikaans. Fritz Ponelis (1988) gaan deur middel van 'n gedetailleerde vergelyking tussen Afrikaans en Negerhollands na in hoeverre ons die ontwikkeling van Afrikaans as kreolisering kan beskou al dan nie. Dit is dus duidelik dat hierdie variëteit van koloniale Nederlands indirek van groot hulp is in ons begrip van die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans.
Maar hoe het hierdie taal daaruit gesien? En hier kom die Morawiërs ons tot hulp, want ook daar het hulle gaan sendingwerk doen. Hulle, en die Deense sendelinge wat na hulle gekom het, en die bewindhebbers van die eilande het besef hulle moet hierdie taalvorm nie alleen mondelings gebruik nie, maar ookas skryftaal. En so het Bybelvertaling en uitgebreide kommunikasie in hierdie taalvorm tot stand gekom, waarvan baie spore vandag te vinde is in die kerkargief in Herrnhut. Taalkundige navorsing daaroor gaan steeds voort, soos ons onder meer kan sien in Van Rossem en Van der Voort (1996) se boek Die Kreol Taal.
Maar hoe sien dié gekreoliseerde Nederlands daar uit? Enersyds verskil dit duidelik van Afrikaans: van die fleksie wat Afrikaans nog behou het, is baie min oor. Andersyds duik daar verrassende ooreenkomste met Afrikaans op, dinge wat nie in gewone Nederlands so voorkom nie. Hier is enkele voorbeelde:
- Gebet for sei up fru fru = Gebed om vroeg-vroeg te bid (op te sê) (reduplikasie)
- Mie seg Ju groot Dankie = Ek sê jou (u) groot dankie
- Die man ben altoeveel stout = die man is alte stout
- Ons sal kom, vir Ndl. Wij zullen komen
- Wa gut ju sa due daso? = Watse goed sal jy daarso doen?
- Hem ben hieso = Hy is hierso
- Mie kan verloor altit = Ek kan altyd verloor (Ndl. verliezen)
- Ju no sa dief = Jy sal nie steel nie (naamwoord as werkwoord)
- Cocro no bang Slang; Slang no bang cocro. = Krokodil bang nie slang nie; slang bang nie krokodil nie (byvoeglike naamwoord as werkwoord)
- kamb-huis = kombuis (Ndl. keuken)
Genadendal
Van regstreekse belang vir Afrikaans is die stigting in 1737 van die eerste Morawiese sendingstasie in Baviaanskloof in die Overberg, later hernoem tot Genadendal, deur Georg Schmidt. Hy begin werk onder lede van die Hessekwastam. Hy bring ’n man met die naam Afrika of Afriko, “die goed Hollands verstond”, as tolk met hom saam van Kaapstad af, maar vind dit weldra te moeilik om die Khoitaal aan te leer “en daarom deed hij van ‘t begin af moeite hen in de Hollandsche taal te onderwijzen”. Hy keer egter later terug na Herrnhut nadat sy werk deur die Kaapse owerhede stopgesit word, maar toe toestemming weer gegee word en drie sendelinge na 47 jaar daar aankom, blyk dit dat die werk deur ’n klein groepie van die Khoi-Khoin voortgesit is en hulle nog uit die Nederlandse Bybel kon lees.
In die jare wat kom, gaan die sending sterk vooruit. Naas die sendingwerk word sterk klem gelê op onderwys, musiek en die aanleer van handwerkvaardighede, en ander sendingstasies word gestig (vgl. Carstens en Raidt 2019:902). Genadendal word op tegnologiese gebied ’n voorloper in die hele Kaapkolonie, met vroeg reeds ’n drukpers, waarop ook musiek gedruk kon word, een van die eerste kerkorrels in die Kaap, ‘n brug oor die Sonderendrivier sonder gelyke in die hele Kaap, ens. ’n Tydskrif, De Bode, word vanaf 1859 tot 1914 in Genadendal gedruk en uitgegee (later Die Huisvriend genoem, en die eerste Suid-Afrikaanse tydskrif wat van Nederlands na Afrikaans oorgaan). Naas gewone onderwys, word ook onderwysersopleiding gegee. Die eerste laerskool vir bruinmense word in 1814 geopen en die eerste opleidingskool vir onderwysers in die land in 1838.
Dit geskied alles in Nederlands, maar in ‘n vereenvoudigde vorm daarvan – die sogenaamde Genadendal-Nederlands. Die Engelse kerkamptenaar C.I. Latrobe wat die sendingstasies aan die Kaap vroeg in die 19de eeu (1815-16) besoek, sê in sy joernaal hy is bly om te hoor dat Nederlands goed verstaan word deur die Khoi-Khoin. Hy beskryf Genadendal-Nederlands as “a very convenient variety of that ancient language, and much to be recommended” (Koch 2015:297). Teen 1850 is daar nog net enkele inwoners van Genadendal wat Khoi kan praat (Balie 1988:103).
Daar is ’n paar aanduidings hoe die Genadendalse variëteit van Nederlands daar uitgesien het. In die tydskrif De Bode verskyn daar gereeld rubrieke in die spreektaal, soos “Oom Louw gezels” en “Klaas Vertel aan Oom Koenraad”. Dit kan gaan oor plaaslike aangeleenthede, maar bevat ook oorsese nuusbrokkies. Oom Louw skryf onder meer in September 1873 die volgende (ek lig die modale bywoorde, soos mos (as moes geskryf), seker, darem, maar, tog spesiaal uit, want dit is juis sulke woorde wat ’n Afrikaanse kleur aan die vertelling gee):
Oom het moes zeker nou al klaar geploe, ni [nè?] oom wan t van die jaar het onzen lieven Heer moes de regens al te mooi laat val, tenminst in ons contrij, oom, maar ik geloof partij plekke is het daarom maar braf droog [darem maar bra droog] geblee. Baijan mensche, oom, werk moes nou aan de spoorweg, oom weet moes, die wat van Wellington naar Woester loop, en oom helle zee, helle krij nou een goeije betaal, zoo, dat helle kan bestaan, en ik is blij dat helle zoo maak, oom, want die geld, die blijf daarom toch in de land, en dan kan de mensche toch leve.
Vanselfsprekend is daar ook Duitse invloed te bespeur:
- onder de Jooden geeft het vele rijke menschen;
- het heeft hier en daar mooije regen gevallen;
- dat het menigten van menschen geeft;
- een zulke boot
’n Belangrike boekie wat ook in 1873 van die drukpers af kom, is Benigna van Groenekloof of Mamre, met die subtitel “een verhaal voor de Christen Kleurlingen van Zuid-Afrika.” Dit bevat die lewensgeskiedenis van Rosetta wat uiteindelik Benigna word en ’n godvrugtige lewe lei. Die skrywer word net aangedui as “een hunner leeraars” (d.w.s. een van hulle onderwysers). Prof. Jerzy Koch stel vas dat die skrywer Hermann Benno Marx (1827 – 1917) is wat in 1855 as musiekonderwyser Genadendal toe gekom het en daar gewerk het tot 1868. Hy skryf die boekie in Mamre toe hy siekteverlof moes neem, en maak gebruik van lewensketse van persone wat waarskynlik in baie gevalle werklik geleef het. Die bedoeling van die boekie is om ook nie-godsdienstige literatuur te verskaf, al handel dit in ’n hoë mate oor die karakters se geesteslewe. Al is die boek in Nederlands geskryf, is die dialoog dikwels na aan die Afrikaans van dié tyd, byvoorbeeld:
“Dat zel jou niks help nie,” zeide JONATHAN, … “jij zel die oue nie ompraat nie : hij wil niks van die kerk hoor nie en is nog nooit nie op Groenekloof geweest.”(Benigna 1873:33)
Ons sien hier dat die tipies Afrikaanse dubbele ontkenning meermale voorkom. In die volgende is die (en) toe-verteltrant (bywoord en voegwoord) van die spreektaal opvallend:
ELEONORA vertel (Benigna 1873:39): “Ik was meer eers 18 jaar, toe ons moet vlug voor die Bosjesmans, en toe mijn moeder daarbij in de rivier doodgeskiet is. Maar de Heer het ons wonderbaar gebestier. Naderhand het hulle een boer vermoor, en toe moet ons saam na die Kaap, en mijn man was ook schuldig; maar ik kom toe weer vrij. En toe ik naderhand op Stellenbosch geblij het, toe hoor ik van die leeraars, en ik het hier gekom.”
Oor die taalgebruik in Benigna, die rubrieke in Die Bode, ens. kan nog veel gesê word – die graderings tussen Nederlands en Afrikaans, die doel van die skrywers met die keuse van die een variant of die ander, of en hoe die Afrikaans van Genadendal verskil het van dié in die Paarl en Kaapstad, ens. Prof. Koch noem een belangrike saak wat ek hier wil uitlig (Koch 2015:241): As die Morawiese kerk nie in 1737 Nederlands (en later Afrikaans) gekies het vir sy sending- en onderwyswerksaamhede nie en in 1864 geswig het voor die regering van die Kaapkolonie se aandrang om na Engels oor te slaan, “most coloured South Africans – who today constitute over half of all native speakers of Afrikaans – would have succumbed to Anglicisation”.
Van die taalontwikkelinge het moontlik in die verskillende gemeenskappe gelyktydig plaasgevind, maar sonder dat mense van mekaar bewus was. Dit is ook nou nodig dat wyer kennis geneem word, deur al die sprekers van Afrikaans in die land, watter ontwikkelinge op Genadendal plaasgevind het, en dat die klem nie net op die sogenaamde Eerste en Tweede taalbewegings val nie.
Suriname
In 2008 woon ek ’n kongres by in Frans-Guyane, aan die noordkus van Suid-Amerika, en enkele grade van die ewenaar. Dié land grens aan Suriname, wat vroeër ’n Nederlandse kolonie was. Die Maronie-rivier maak die grens tussen die twee lande uit. Op ’n kongresuitstappie vaar ons diep in die Amasonebos in, slaap oor op ’n eiland, kom die volgende oggend, ’n Sondagoggend, op die eiland Langatabbetje aan wat onder Suriname ressorteer. Stap by die kerk verby; die gesange klink nogal bekend. Hoeka ’n Morawiese kerk, toe. Merk by die plaaslike kliniek dat kennisgewings hoofsaaklik in Nederlands is. Dit is mos nou Suriname, waar Nederlands ’n amptelike taal is. Kry die geleentheid om met ’n paar van die inwoners te gesels – in Nederlands! Afrikaans sou dalk ook gewerk het. ’n Groot taalbelewenis: om tienduisende kilometers van jou huis, op ’n ander kontinent, diep in die Amasonebos, met iemand te kan kommunikeer in ’n sustertaal van Afrikaans. Dit laat ’n mens net besef dat in wêreldverband Afrikaans, ondanks sy eiesoortige karakter, steeds deel uitmaak van ’n groter taaleenheid wat baie miljoene sterk is en wyd oor die aardbol verspreid lê.
Verwysings
Balie, Isaac (1988) Die geskiedenis van Genadendal, 1738 – 1988. Kaapstad en
Johannesburg: Perskor.
Carstens, W.A.M. en E.H. Raidt (2019) Die storie van Afrikaans, Deel 2.
Pretoria: Protea Boekehuis. (Vgl. veral hfst. 24, par. 2.8.2.3.)
Hesseling, D.C. (1899)(2de druk 1923) Het Afrikaans. Leiden: N.V. Boekhandel
en Drukkerij.
Hesseling, D.C. (1905) Het Negerhollands der Deense Antillen. Leiden: A.W.
Sijthoff.
Koch, Jerzy (2015) A History of South African Literature: Afrikaans Literature,
Part 1: 17th – 19th Centuries. Talatala Series 5, University of Pretoria (Vgl.
veral bl. 241 – 271, “The Moravian Brethren’ Mission Movement and
‘Genadendal Dutch’”).
Ponelis, F.A. (1988) Afrikaans en taalversteuring. Tydskrif vir Geestes-
wetenskappe, 28(2):119-149.
Van der Wouden, T. (2012) Roots of Afrikaans. Selected writings of Hans den
Besten. Amsterdam: John Benjamins.
Van Rossem, Cefas & Hein van der Voort, reds. (1996) Die Creol Taal.
Amsterdam: Amsterdam University Press.
-o0o-