Afrikaans se taalvariasiespore

  • 0

1.

Frank Hendricks (2014) (LitNet Akademies 11(2)) se studie “Die verrekening van taalvariasie in die prosawerk van Elias P Nel” was die sneller vir die oorsigtelike kantaantekeninge wat hier volg. Hoe ver loop die spore van Afrikaans se streekstaalvariëteite terug, en, kan kennis daarvan ons help om meer oor die vorming en samehang van Afrikaans te begryp?

Met die eerste oogopslag illustreer die opvallende aantal publikasies waarin Afrikaans se streektale gebruik word, gedurende die afgelope jare, ’n toenemende bewuswording van Afrikaans se variëteite. Dit dui op dié taal se werklike reikwydte, vertel van ’n Afrikaans wat anders is as Standaardafrikaans, van ’n taal wat binne ’n groter, hartliker, wyer, Afrikaanstalige wêreld klink en welkom binne hierdie ruimer konteks geskryf en bestudeer word.

Afrikaans, en tale wat soortgelyke ontstaansgeskiedenisse deel, het variasie in hulle ontwerpplan ingebou. Sulke nuwe nedersettingstale is van hulle ontstaan af variasievorme van die tale wat hulle sprekers kommunikatief wou beheers, met baie onderlinge skakerings. Insig in die vorming van Afrikaans? Dit loop hand aan hand met ’n begrip van taalkontaksituasies en taalkontakprosesse. Met verloop van tyd is van die sprekersgroepe se nuwe Afrikaans bewustelik na Nederlandse administratiewe, Bybelse en juridiese voorbeelde gemodelleer. ’n Keurslyfproses wat nie die grondliggende verskille tussen Afrikaans en Nederlands kon gelykmaak nie.

Invloede van ander tale het steeds op die nuwe taal aan die Kaap afgevryf, waaronder Oosterse tale en Portugees. Soortgelyke prosesse het hulle ook elders in die Nederlandse kolonies voltrek. Pejoratiewe waardeoordele (Willemeyns 2013:181 ev) oor die andersheid van hierdie nuwe nedersettingstale het deel van die belewingswêreld daarvan geword.

Of Afrikaans dialekte het? Afrikaans is vroeër al meermale as ’n enkeldialektaal voorgehou. Afrikaans is van vroeg af deur te veel groeperings mense in te veel streke onder te veel verskillende omstandighede gepraat om ooit gelykvormig te wees. Dié eendialekpersepsie is in die afgelope paar dekades onomkeerbaar verander deurdat literêre bydraes, waarvan Elias P Nel se bundels voorbeelde is, toenemend in variëteite van Afrikaans geskryf word. Ontledings daarvan, soos hierdie studie van Hendricks, vorm meermale die fokus van ondersoeke na die taal van die bundels.

Loop die spore van Afrikaans se verskeidenheid in aanduibare rigtings? Ook daarvan wil variasieondersoeke aanduidings gee.

2.

Ilse Salzwedel (2012) praat van Afrikaans se “onvertelde stories”. In hierdie “onvertelde stories” van Afrikaans se halfontdekte wêrelde lê streekstaalspore van sy vroeëre polities gemarginaliseerde variëteitsprekers waarin meer as net hulle taalskatte koester. Hulle bewaar ook verhale van hulle lotgevalle, geargiveer in hulle Afrikaanse leefwêrelde, en vertel dit in hulle dialekte.

Hendricks onderstreep die besondere omstandighede van Afrikaans se variëteitsprekers wat aan die hand van die verhale (geskrewe taaldata) van Elias P Nel (uit Verneukpan in die Boesmanland) na vore kom. Hierdie verhale, uit Boesmanland en die aangrensende Noord-Kaapse streke (soos Hendricks uitwys), speel teen die middel van die vorige eeu af, in die egte taal van die sprekers (soos Hendricks dit gekontroleer het), en word weerspieël in die sitaat- sowel as vertelkodes (soos Hendricks dit onderskei) wat Nel aanwend. Dit is onder meer die verhale van werkersklasmense en hulle blootstelling aan uitbuiting. Daarin hoor mens van respek vir ouers en “grootmense”, en van rigtinggewende religieuse lewensbeskouings. Ook speel “bonatuurlike dinge soos toordery, spokery en insnyding” daarin ’n rol, asook stories van waterslange, koringkrieke, reënbooggoggatjies, langasemvoëls, trapsuutjies; die “mitteljatkat”, “koelie rooioog”, kruiesoorte en nog baie meer.

Ander skrywers hanteer hulle materiaal anders as Nel, en ander ondersoekers se klem lê anders as Hendricks s’n. Hoe ook al, sê variasioniste daarvan: hóór hoe klink hierdie stemme van die Afrikaanse dialeksprekers, volg dié spore op ’n Afrikaanse taalreis, en deel saam aan die voorreg van kennis uit hierdie halfbekende wêrelde.

3. Voortye se spore

Met die oopkrap van Afrikaans se oudste spore, van 1595 af, sal studente van taalvariasie uitwys dat daar genoeg bewaar gebly het om die misterie uit die ontstaan van Afrikaans te neem. Tóé het die Skiereilandse Khoi-Khoin al kontak met Nederlandse seevaarders gemaak. Optekenings van die kontaktaal wat daaruit gevolg het, is aantoonbaar Khoi-Afrikaans. In die spore wat Standaardafrikaans en Kaaps deesdae trap, is daardie óú kontaktaal nog herkenbaar. Die name van mense oor wie Elias P Nel skryf, soos Gonnoma en Dorha, is al meer as drie honderd jaar gelede ook in geskiedenisboeke neergeskryf, en die ou stamnaam Gariguriqua word nog steeds gehoor.

Nie alle taalhistorici beskou die rol wat streektaalvariasiegegewens kan speel om Afrikaans se geskiedenis op te klaar, as deurslaggewend nie. Afrikaans word dan teruggevoer na ander wortels toe, wat lei tot versugtings soos dié van Roberge: “Afrikaans: Might it be a little more ‘South Africa’?”. Argumente wat stamboekinskrywings uit Wes-Germaans, deur Wes-Nederfrankies, en hulle voor- en oerstadiums direk op Afrikaans van toepassing wil maak, oortuig variasieondersoekers nie. Vir hulle moet die spore van Afrikaans, van sy vroegste variëteite af, deur Afrika verdiskonteer word.

4. Hoe pas Afrikaans se variëteite by mekaar?

Taalhistorici dui meermale aan dat die 18de eeu die belangrikste eeu was vir die vorming van Afrikaans. Om hierdie opmerking goed te verstaan, moet streeksvariëteite, selfs soos dit tans nog gepraat word, in berekening gebring word. Die gebied waar hierdie belangrike prosesse toe, in die 18de eeu, afgespeel het, het noordoos van die Hottentots-Hollandberge en die berge ten noorde daarvan gelê. Die beide kante van die Oranjerivier het die noordgrens uitgemaak en die oosgrens is gevorm deur die Keirivier, anderkant Graaff-Reinet. Met die optel van die spore van Afrikaans in hierdie gebied, die Binnelandse Grensgebied (Van Rensburg 2013), pas die stukke van baie van Afrikaans se variëteite by mekaar.

Groot getalle ontheemde Khoi-Khoin het van die einde van die 17de eeu af oor die Hottentots-Hollandberge getrek en hulle in die Binnelandse Grensgebied gevestig, wat ook die tuiste van ander Khoi-groeperings was. Aanduidings is dat die verplasing van Khoi as die spreektaal van die intrekkende Khoi-Khoin deur Khoi-Afrikaans toe reeds byna voltooi was. Van die begin van die 18de eeu af het al hoe meer Veeboere hulle ook in dié gebied gevestig. Dit het ’n tydperk van sowat ’n eeu van taalkontak tussen die sprekers van Khoi-Afrikaans en Veeboerafrikaans ingelui, die twee hooftale van daardie gebied. Die Veeboere het hulle met Nederlands vereenselwig, maar min kon dit praat, lees en skryf. Hulle spreektaal was ver van Nederlands af, omdat hulle samestelling te veel diverse tale verteenwoordig het, en Nederlandssprekendes se aandeel aan en voorbeeld vir dié groepering te klein was.

Binnelandse Grensafrikaans is nie eenvormig gepraat nie, en ’n kontinuum van verskeie variëteite van Afrikaans kon onderskei word. Ondersoekers wys op die sosiale gelaagdheid wat onder die sprekers bestaan het. Taalstigmatisering het hand aan hand geloop met hierdie onderskeidings. Dié grense het mettertyd vervaag, en taalvorme wat eers grense aangedui het, is gaandeweg veralgemeen. Ons in onderwerpsposisie, byvoorbeeld, het Khoi-Afrikaans gestigmatiseer, maar het voor die einde van daardie eeu oor die hele gebied algemeen gebruiklik geword.

Verskillende splintergroepe het in daardie tyd vir hulle dele van die binnelandse grensgebied afgebaken. Die Kok-groep het in die loop van die 18de eeu aan die Oranjerivier, in die Klaarwateromgewing, gaan woon. Van 1813 af is hulle deur Campbell oorreed om as Griekwas bekend te staan. Daar was selfs sprake van ’n Griekwastaat. Hulle taal was die Binnelandse Grensafrikaans van die sosiale groep wat as Basters bekend was, én van die Khoi wat met hulle saamgetrek het. Klaarwater is ’n direkte vertaling uit Khoi: !Gatti = “helder” en kamma = “water”. Daardie ou taalspore loop nog steeds deur Griekwa-Afrikaans.

Die Afrikaner-groepering (Oorlams) se spore het ook in die Binnelandse Grensgebied begin. Hulle het hulle variëteit van Binnelandse Grensafrikaans weerskante van die noordwestelike deel van die Oranjerivier gevestig. Daarna het dié Afrikaans se spore verder noordwaarts geloop. In die omgewing van Graaff-Reinet is die Oosgrensafrikaans van die veeboere en die Khoi gehoor.

Die Binnelandse Grensgebied was ’n uitstralingsgebied. Trekke daaruit het skakerings van Grensgebiedafrikaans wyd uitgedra, soos na Griekwaland-Oos toe, in Namibië in en na die noorde toe.

En vandag? Net ’n bietjie afstof, soek en luister: Binnelandse Grensafrikaans se spore lê nóg daar, die taalspore van die nasate van die mense wat nie weggetrek het nie, dwarsoor daardie gebied ...


Lees nog ’n bydrae tot die gesprek:
Is Afrikaanse variëteite in die letterkunde regtig gestigmatiseer?

 

Bibliografie

Roberge, PT. 2012. Afrikaans. Might it be a little more “South Africa”? in T van der Wouden (red), Roots of Afrikaans. Selected writings of Hans den Besten, ble 389–98. John Benjamins Publishing Company, Amsterdam/Philadelphia.

Van Rensburg, C. 2013. ’n Perspektief op ’n periode van kontak tussen Khoi en Afrikaans, Literator 34(2), Art #413, 11 ble. http:// dx.doi.org/10.4102/lit. v34i2.413.

Willemeyns, RW. 2013. Dutch. Biography of a language. Oxford University Press, ble 181 ev.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top